
Winterdormansie 101 – Hoe werk dit en hoekom maak dit saak?
Die voorvaders van moderne appels is waarskynlik afkomstig van een of ander snerpende helling op die grense van Kazakstan – nie uit die tuin van Eden nie. Hulle het winterdormansie ontwikkel om ysige koue te oorleef. Deur Anna Mouton
Baie bladwisselende plante maak staat op dormansie om ongunstige seisoenale toestande te trotseer. Maar wat gebeur wanneer ons hulle in ander klimate wil vestig?
Alle steen- en kernvrugte wat kommersieel in Suid-Afrika verbou word, is bladwisselende bome uit die noordelike halfrond. Hulle ondergaan almal winterdormansie, en vereis winterkoue in ’n mindere of meerdere mate. Dit is dus belangrik om te verstaan hoe winterdormansie werk – en wat gebeur wanneer dit nie so goed werk nie. Lees verder vir ’n oorsig van die kernpunte.
Read MoreWat is dormansie?
Dit is die tydelike staking van groei van enige deel van ’n plant wat ’n meristeem het. ’n Meristeem is ’n groep selle wat kan verdeel om nuwe weefsels en organe te vorm. Groeipunte bevat meristeme.
Bladwisselende bome beskerm die dormante meristeme in hulle lote deur knoppe te vorm. Verskillende knoppe, op dieselfde boom en op dieselfde tyd, kan in verskillende vlakke van dormansie verkeer.
Die rusperiode van bladwisselende vrugtebome tydens die winter staan bekend as endodormansie, en word deur groei-inhibeerders binne die knoppe self veroorsaak. Endodormansie word deur spesifieke seine in die knop aangevoer en opgehef. ’n Endodormante knop sal nie weer begin groei tensy dit die regte stimulus ontvang om die endodormansie te lig nie.
Dit kan partymaal moeilik wees om te oordeel of bome reeds ten volle endodormant is.
Koue gee dikwels aanleiding tot endodormansie. Verdere koue is daarna noodsaaklik om die endodormansie weer op te hef. Kortstondige warm weer sal nie ’n endodormante knop laat uitloop nie. Hierdie strategie beskerm plante – dit is beter om rustend te bly tydens ’n paar warm dae as om gevoelige nuwe bloeisels en blare aan daaropvolgende koue bloot te stel.
Die verloop van winterdormansie
Koeler herfsweer spoor bome aan om te begin gereed maak vir die kans van lewensgevaarlike koue in die winter. Korter dae mag moontlik ook deels aanleiding gee tot dormansie in steenvrugte. Bome hou op groei, en begin reserwes stoor om hulle deur die winter te onderhou en in die lente aan die gang te kry. Skubblare vorm om die sensitiewe meristeme teen lae temperature te beveilig.
Winter breek relatief vinnig aan in die areas waar steen- en kernvrugbome vandaan kom. Daar raak die bome spoedig dormant, en die begin van dormansie val grootliks saam met blaarval. Hier in Suid-Afrika is die warmer herfs en winter problematies – die bome neem langer om ten volle tot rus te kom, vanwaar koue hulle weer uit endodormansie sal bring. Sommige vorder nooit eens so ver as om al hulle blare af te gooi nie. Dit kan partymaal moeilik wees om te oordeel of bome reeds ten volle endodormant is.
Bome wat ten volle endodormant is, moet ’n sekere hoeveelheid koue – gemeet in koue-eenhede – ervaar voordat hulle knoppe sal reageer op omgewingsfaktore wat groei stimuleer. Die optimale temperatuur vir die akkumulasie van koue in appelbome is 7.2 °C. Geen koue akkumuleer by temperature benede vriespunt óf bo 16.5 °C nie. Hoër temperature kan selfs die effek van koue wat reeds aangesamel het, tot niet maak.
Koue-behoefte verskil tussen spesies en kultivars. Appels het meestal ’n hoër koue-behoefte as steenvrugte, met die uitsondering van kersies. Bome moet ten volle endodormant wees om koue-eenhede te akkumuleer. Koue voor volle endodormansie dra niks by tot die voorsiening van koue-behoefte nie. Die probleem is dat daar geen maklike manier is om te weet of ’n boom heeltemal endodormant is nie. Hoe dan gemaak om te bepaal hoeveel koue-eenhede die boom geakkumuleer het?
EndormansieEndormansie is veris veronderstelonderstel om knoppe teom knoppe te beskbeskerm deur teerm deur te verhoed daverhoed dat hullet hulle te gou bot – somste gou bot – soms werk dit niewerk dit nie
Knoppe kan uitloop sodra temperature gunstig is nadat hulle koue-behoefte bevredig is. Bot en blom word deur hitte bevorder. ’n Warm lente gee bome wat nie genoeg winterkoue gehad het nie ’n hupstootjie. Daarteen sal bome wat voldoende koue geakkumuleer het aan die groei kom selfs in ’n triestige lente.
Te min teenoor genoeg koue
Die bladwisselende vrugtebome wat in SuidAfrika geplant word, kan sonder winterkoue oorleef. Ongeag die omgewingstemperature sal hulle nog steeds die kringloop van aktiewe groei en dormansie voltooi, maar dit sal ’n langsame proses wees. Sulke bome sal nie hulle natuurlike groeiwyse kan volg sonder bestuursinsette nie, want hulle knoppe sal nooit sinkroniseer nie.
Normale winterdormansie wat deur genoegsame koue opgehef word, sinkroniseer die knoppe op die boom. Byvoorbeeld, die terminale knop is dominant in ’n appelboom wat genoegsame koue akkumuleer het, en die groeipotensiaal van die ander knoppe aan die loot neem af van die punt tot by die basis. Na ’n normale rusperiode in die winter is die bot sterk en geskied binne ’n kort tydperk.
Die hoof korttermyn-effek van onvoldoende winterkoue is verminderde vrugproduksie en gemengde ryphede.
Onvoldoende winterkoue lei tot vertraagde en uitgerekte bot. Minder knoppe loop uit as normaal. Dié knoppe wat wel uitloop vestig sommer vinnig dominansie oor die stadiger knoppe. Dit het implikasies vir beide vrugset en boom-argitektuur.
In die meer gematigde steen- en kernvrugproduksie-areas van Suid-Afrika is daar gewoonlik genoeg koue in die herfs en winter vir bome om ten volle endodormant te raak, maar nie altyd genoeg vir die opheffing daarvan nie. Sommige knoppe sal verder uit endodormansie gevorder het as ander teen die tyd wat omgewingstoestande begin om groei te stimuleer. Die knoppe kry nooit die voordeel van ’n herset nie.
Gebrekkige winterkoue kan die differensiasie van blomme negatief beïnvloed, met abnormale blomme wat op verskillende stadiums van ontwikkeling mag aborteer. Maar die hoof korttermyn-effek van onvoldoende winterkoue is verminderde vrugproduksie en gemengde ryphede in die navolgende seisoen.
Vrugproduksie is eerstens minder as gevolg van minder blomknoppe van swakker kwaliteit. Daarby onderdruk dominante strukture wat uit knoppe ontwikkel wat vroeër bot die vrugte wat later set – meer vrugte kan ook val. Die vrugte wat agterbly gaan verdere frustrasies veroorsaak deur op verskillende tye plukryp te word. Probleme met na-oes defekte is bykans verseker.
Bome met vertraagde en uitgerekte bot is ook moeilik om te bestuur omdat die blomme en vrugte nie almal gelyk op dieselfde stadium van ontwikkeling is nie. Hoe besluit mens byvoorbeeld wanneer om chemiese uitdunners te spuit?
Onvoldoende winterkoue beïnvloed boonop die produktiwiteit en argitektuur van bome oor die langer termyn. Minder knoppe wat uitloop lei tot kaal nekke en minder spore – dus minder posisies waar die boom kan vrugte dra. Wanneer minder knoppe uitloop kan die laterale lote sterker groei, wat dan die dominansie en groei van die leier inkort. Die boom gedra hom soos ’n struik – hy toon sogenaamde basale dominansie – en sukkel om sy spasie in die boord te vul.
Uiteindelik boer vrugteprodusente met lig. Boomhoogtes moet 80%–100% van rywydtes wees om soveel lig as moontlik te onderskep en optimale produktiwiteit te behaal. Bome wat nie hierdie hoogte bereik nie verteenwoordig verlore inkomste.
Laastens kan die verskillende kouebehoeftes en reaksies tot koue van verskillende kultivars daartoe lei dat blomtye van kruisbestuiwers nie oorvleuel nie. Dit kan een van die redes wees vir die swak vrugset in Japanese pruime in die laaste paar jaar.
Wat om te doen oor warm winters
Die klimaat in van Suid-Afrika se vrugte-areas is nie heeltemal koud genoeg vir sommige steenen meeste kernvrugkultivars nie. Produsente kan van die uitdagings met vertraagde en swak bot aanspreek deur rusbreekmiddels te gebruik. Rusbreekmiddels is reeds onmisbaar in baie areas, en produsente sal waarskynlik ál meer daarop steun soos wat die impak van klimaatsverandering toeneem.
Rusbreekmiddels werk deur die boom te stres – die boom se oorlewing word bedreig en sy reaksie is om wakker te skrik. Die risiko is dat sterk rusbreekbehandelings die boom kan beskadig. Ongelukkig is dit nie altyd so eenvoudig om te oordeel wat die ideale aanwending is vir ’n bepaalde seisoen nie.
Produsente bestuur ook die effek van warm winters op boomargitektuur deur verbouingspraktyke soos snoei en buig. Die bykomende bestuurspraktyke wat toegepas word in warmer gebiede verhoog produksiekoste. Dit kan uiteindelik laer winsgewendheid van boorde in areas met onvoldoende koue meebring.
Die teel van kultivars met laer kouebehoeftes is die mees belowende oplossing vir warmer areas. Koue-behoeftes van steen- en kernvrugte is oorerflik – dit kan die grondslag wees vir seleksie in teelprogramme. Daar is reeds kultivars beskikbaar wat laer koue-behoeftes het. Dit is egter belangrik dat die kultivars met laer koue-behoeftes moet kan kers vashou by gevestigde kultivars as dit kom by vrugkwaliteit en bergingsvermoë.
Onvoldoende koue gaan ’n ál groter probleem raak danksy klimaatsverandering. Produsente sal winterkoue in ag moet neem wanneer daar besluit word oor kultivarkeuses en boordbestuur. Die volgende artikel in hierdie reeks bespreek die voor- en nadele van die verskillende modelle vir die bepaling van koue-eenhede.
Related Posts
Volhoubare swamdodergebrui
Botritis is een van die mees algemene oorsake van naoesbederf in vars groente en vrugte wêreldwyd.
Research Outputs
The main goal of SATI’s Research and Technical Transfer Programme is to generate credible, impactful knowledge by funding relevant and targeted projects that align with industry needs and opportunities.