
Berekende bespuiting. Ken jou somme as dit kom by spuittoedienings
Effektiewe bespuiting is deurslaggewend vir suksesvolle vrugteproduksie – alles van siekte- en plaagbeheer tot chemiese rusbreek en uitdun is afhanklik van korrekte spuittoediening. Deur Anna Mouton met tegniese insette deur Dr Gideon van Zyl
Sukses met bespuiting begin met goeie spuitwa-wiskunde. Leer ken jou somme rondom toedienings bietjie beter.
Read MoreHoeveel water is nodig?
Spuittoedienings begin by boomhoogte, boomdiepte, rywydte, en die wet. Die eerste drie word gebruik om die boomry-volume vir ‘n boord te bepaal – ons praat later oor die wet.
Voorbeeld 1 wys boomry-volumes vir verskillende tipes boorde. Hierdie boomry-volumes staan bekend as die hoëvolume-behoefte – dit is tipies bedoel vir aanwendings waar bome hulle volle lower het. Vroeër in die seisoen of wanneer bome dormant is word die hoëvolume-behoefte aangepas na ‘n laer volume deur dit met ‘n persentasie te maal.
Daar is ‘n paar probleme met die gebruik van die boomry-volume om spuitvolumes vir moderne boorde te bepaal. Watervolumes neig om te hoog te wees, so bespuiting neem langer, en daar is die risiko van afloop. Die boomry-volume kan ook te laag wees, veral in moderne pruimboorde met opgeleide bome.
Meeste bespuitings word deesdae teen ’n konstante watervolume van 400 –1 000 liter per hektaar regdeur die seisoen gedoen.
Selfs al is die boomry-volume sinvol vir ‘n spesifieke boord, is dit steeds makliker om teen ‘n konstante volume per hektaar te spuit, eerder as om die boomry-volume aan te pas deur die loop van die seisoen, omdat elke aanpassing gepaard gaan met ‘n herkalibrasie van die spuittoerusting.
Gevolglik word meeste bespuitings deesdae teen ‘n konstante watervolume van 400 – 1 000 liter per hektaar regdeur die seisoen gedoen.
Die konsentraatfaktor
As die boomry-volume nie die volume water is waarteen moderne boorde bespuit word nie, waarom is dit nog steeds nodig om dit te bepaal? Dit is waar die wet inkom. Gebruikers van produkte wat onder Wet 36 van 1947 geregistreer is, is verplig om die middels toe te dien volgens die spesifikasies op die etiket. Etikette lys aanwendings as ‘n hoeveelheid produk per 100 liter water – hierdie hoeveelheid is bepaal met watervolumes wat uitgewerk is met die boomry-volume-model.
Goeie bespuitingspraktyke kan met die wet vereenselwig word deur konsentraatspuite te gebruik waar die registrasie van die produk dit toelaat. Konsentraatspuite verg gewoonlik rondom ‘n derde na ‘n kwart van die watervolume soos bepaal deur die boomry-volume-model.
Dit volg natuurlik dat ‘n verlaging in die watervolume gepaard moet gaan met ‘n groter hoeveelheid van die produk – dus die aktiewe bestanddeel – per liter water. Die idee is om minder water te gebruik maar dieselfde hoeveelheid aktiewe bestanddeel op die boom te land.
Hoe kry mens die tenkmengsel korrek gespuit?
Bepaling van die volume en konsentrasie van die tenkmengsel is een ding. Dis ‘n ander ding om goeie deposisie van daai mengsel op die bome te kry. Goeie deposisie vereis dat elke teiken egalig bedek word met genoeg van die aktiewe bestanddeel.
Die eerste besluit, nadat spuitvolume bereken is, is die toelaatbare grondspoed van die trekker, in kilometer per uur.
Die lugvolume in kubieke meter per uur gaan afhang van die spuitmasjien. Uiteindelik moet die lugstroomprofiel en lugmomentum by die boom en by die teiken pas – kies dus ‘n spuitmasjien wat pas by die boord.
Trekkergrondspoed gaan ook bepaal word deur die boordvloer. Die beste kombinasie van lugvolume en trekkergrondspoed sal dus wissel na gelang van omstandighede. Kies die trekkerrat wat ‘n vorentoe-spoed so na as moontlik aan die berekende spoed gee wanneer die trekker se kragaftakker – “power takeoff” – teen 540 revolusies per minuut loop.
Hoe vinnig die trekker ry en hoeveel water die spuitmasjien moet lewer, gaan vasstel hoeveel water per minuut gespuit moet word.
Met hierdie antwoord is dit maklik om die spuitkoplewering uit te werk – dis eenvoudig die totale spuittempo in liter per minuut gedeel deur die aantal oop spuitkoppe. Hierdie inligting kan dan gebruik word om jou spuitkopkeuse te maak.
Van berekeninge na die boord
Soos reeds genoem, is trekkergrondspoed ‘n funksie van verskeie veranderlikes, insluitende lugmomentum en boord-oppervlak. Boomvorm, lowerdigtheid, en die tipe toediening sal ook die keuse van trekkerspoed be’nvloed. Wanneer daar besluit is op die optimale trekkerspoed, moet die werklike trekkerspoed in die boord gemeet word, onder dieselfde toestande waarin die trekker sal spuit – dus met ‘n spuitwa gehaak wat ‘n derde vol water is en met kragaftakker gestel teen 540 revolusies per minuut.
Die berekening van spuittempo en spuitkoplewering moet met die werklike trekkerspoed gedoen word. Spuitkoplewering word gebruik om die regte kombinasie van spuitkoppe en druk te kies vir die aanwending. Die werklike lewering moet gemeet word, sodat spuitkoppe daarvolgens aangepas kan word om korrekte lewering te verseker.
Die beste kombinasie van lugvolume en trekkergrondspoed sal wissel na gelang van omstandighede.
In praktyk kan boorde volgens boomry-volume in groepe verdeel word. Boorde met soortgelyke boomry-volumes en rywydtes kan dan met dieselfde spuitmasjiene bespuit word. Dit bly egter nodig om elke masjien te kalibreer, en om deur die loop van die seisoen opvolgmetings te doen om te bevestig dat trekkerspoed en spuitmasjienkalibrasie nog steeds korrek is.
Uit die aard van die saak moet kalibrasies oorgedoen word elke keer wat die toedieningsvolume verander.
Wat is die MABO-model?
Die MABO-model is ‘n manier om spuitvolumes tussen boorde aan te pas sonder dat dit nodig is om elke keer die spuitmasjien te kalibreer. Alhoewel die model ingewikkeld kan lyk, berus dit op ‘n baie eenvoudige beginsel.
Gegewe die konstante afmetings van ‘n bepaalde boord wat bespuit word, beteken dit dat die watervolume per area afneem soos wat die trekkerspoed toeneem.
Die MABO-model is spesififiek ontwikkel vir hoëdigtheidaanplantings.
Dit behoort dus moontlik te wees om trekkergrondspoed te manipuleer om sodoende dieselfde spuitmasjien in verskillende boorde te gebruik, en verskillende volumes toe te dien, sonder om elke keer die spuitmasjien te herkalibreer.
Let wel dat die hoeveelheid produk wat bespuit word, nog steeds berus op die spesifikasies soos aangedui op die etiket. Die tenkdosis word bepaal en aangemaak slegs vir die verwysingsboord, oftewel die boord met die grootste filter-area – sien Voorbeeld 4 vir ‘n verduideliking van filter-area.
Die hoeveelheid produk wat per hektaar gespuit word in die verskeie boorde word aangepas in verhouding tot hul boomry-volume net soos vir enige ander konsentraatspuit, as gevolg van die verandering in spuitvolume tussen boorde.
Die MABO-model is spesifiek ontwikkel vir hoëdigtheid-aanplantings en kan nie vir boorde met rywydtes van meer as 4 meter gebruik word nie.
Uiteindelik gaan bespuitingspraktyke nie veel verskil tussen die MABO-model en die boomry-volume-model wanneer daar loweraangepaste toediening gebruik word nie. Met loweraangepaste toediening word die trekkergrondspoed en die lugkolom aangepas by die vorm van die bome, en die waardes vir spuittyd, watervolume, en spuitkoplewering volg daaruit.
Related Posts
Improved control of sour rot on citrus
Exploring potential fungicide solutions for improved control of sour rot on citrus. By Meagan van…
Extension briefs for February and March 2025
By Hannes Bester, MC Pretorius, Wayne Mommsen, Coenraad Fraenkel, André Combrink, Natasha Jackson, Jan Landman,…