Weltevrede
Sukses met drupbesproei-ing in die Koue Bokkeveld. Deur Anna Mouton
“In die laaste 10 jaar wat ek hier is, was daar nog nie een jaar of een blok waar ek kan sê droogte ’n effek op die produksie of kwaliteit van ons oes gehad het nie,” vertel Recardo Vrey, produksiebestuurder by Arborlane Landgoed se Weltevrede-plaas in die Koue Bokkeveld.
Weltevrede het ongeveer 86 hektaar appel- en peerboorde. “Een van die groot uitdagings hier is water,” sê Vrey. “Ons water kom bo uit die berg – ons is uit-en-uit afhanklik van reën.”
Arborlane het drupbesproeiing begin ondersoek na die 2004-droogte. Soos met enige nuwe praktyk was daar ’n leerkurwe maar dit was ongetwyfeld die moeite werd, geoordeel aan die indrukwekkende waterbesparings wat hulle tans met drupbesproeiing behaal.
“Ons is nou op ’n punt waar ons iets soos ’n Sundowner [kultivar Cripps Red] en ’n Rosy Glow maar tussen 5 200 en
5 700 kubieke meter per hektaar tydens die seisoen gee,” sê Vrey.
Hulle gemiddelde watertoediening met drupbesproeiing vir alle kultivars, van die vroeë Celina tot by die laat Cripps Red, is onder 5 500 kubieke meter per hektaar. Daarenteen is watertoediening met mikrospuitbesproeiing rondom 9 000 kubieke meter per hektaar.
Tydens die meer onlangse 2015 – 2017-droogte het Weltevrede sommige van hulle blokke nog minder water gegee. “Soos ek onthou het ons party van daai blokke op 4 000 – 4 200 kubieke meter per hektaar gehou,” sê Vrey. “Daar was nog steeds goeie oeste gewees.”
Bo en behalwe die waterbesparings is drupbesproeiing ook meer arbeidseffektief. Daar is beide drup- en mikrospuitblokke by Weltevrede, en Vrey reken een persoon kan die besproeiingstelsel vir min of meer vyf hektaar se mikrospuitbesproeiing onderhou, teenoor een persoon vir min of meer 12 hektaar se drupbesproeiing.
Hy het ’n spannetjie wat een maal per maand deur die drupblokke werk om al die lyne te spoel. “Dis basies al groot onderhoud wat daar is,” sê Vrey. “As jy my vra sou ek sê drup is baie makliker om mee te boer as mikrospuite.”
In teenstelling met sommige ander produsente, vind Vrey dit makliker om besproeiing rondom beurtkrag met drup- as met mikrospuitbesproeiing te bestuur. Hy gebruik ’n nuwe vierhektaar-aanplanting by Weltevrede as voorbeeld. Waar die blok voorheen mikrospuitbesproeiing met 10 sublyne gehad het, waarvan slegs twee op ’n slag kon loop, gaan hulle nou met drupbesproeiing die hele blok gelyk kan water gee.
“So ons is baie meer effektief in terme van pompkoste en energieverbruik,” sê Vrey. “Jy kan die som gaan maak.”
Dubbel en dwars bewys
Soos baie produsente het Arborlane met enkellyndrupbesproeiing afgeskop, maar gou gesien dat hulle bome sukkel. Hulle het dus binne ’n paar jaar oorgeskakel na dubbellyndrupbesproeiing.
“Een van die ander plekke waar ons skoolgelde betaal het, is dat jy nie net enige drup kan kies vir enige grond nie,” sê Vrey. “Jy moet eers weet watter grondtipe jy het en dan jou drupbehoefte daarby aanpas. Met die jare het ons nou al ’n goeie balans gevind.”
Weltevrede het ’n verskeidenheid gronde, van sanderig na klipperig, en van vlak na diep. Hulle lê hulle blokke uit en beplan die besproeiingstelsel volgens grondtipes.
Een van die gevare met drupbesproeiing is dat die leegloop van pype natter areas in die boord sal veroorsaak. Alhoewel dele van Weltevrede steil hellings het, rapporteer Vrey dat hulle nie probleme met oorbenatting as gevolg van leegloop het nie.
Hulle het wel gevind dat die drukreguleerders in die drupperlyne maklik verstop.
“Waterkwaliteit speel ’n groot rol by drup,” sê Vrey. “Jy moet skoon water kry, al is dit deur ’n filtreersisteem, anders gaan jy sukkel.”
’n Verstopte reguleerder kan ’n hele ry bome se water afsny, so Arborlane beplan nou hulle drupbesproeiingstelsels sodat die reguleerders nie nodig is nie.
“Ons het nie oneweredige waterverspreiding van bo na onder in die blok nie,” bevestig Vrey. “Ons het dit al baie gemeet.”
Meeste van die appels by Weltevrede is op M.7 en hulle plant heelwat pere op BA29. “My ervaring is dat jy die boom se groeiwyse makliker met drup kan bestuur,” reken Vrey. Hy behaal deurlopend goeie oeste en vrugkwaliteit, selfs met groeikragtige onderstamme soos MM.109 deur oordeelkundige drupbesproeiing.
Terselfdertyd het die drupbesproeide bome nog steeds uitstekende wortelontwikkeling, insluitende meer fyn wortels, selfs op onderstamme soos BP1. “Oral waar ons met graafmasjiene ordentlike gate in ons drupblokke gegrawe het, is daar massiewe wortelstelsels,” sê Vrey. “So die bome se enjins onder die grond is groot.”
Drup in bewaringslandbou
“Ons het nou die laaste twee jaar ’n regeneratiewe gedeelte in die boerdery wat deur Christoff van der Merwe bestuur word,” sê Vrey. “Ons is nog in die beginfase en dis vir ons op hierdie stadium ’n uitdaging.”
Arborlane mik om chemiese onkruidbeheer af te skaal en grondvrugbaarheid te verbeter deur die gebruik van onder andere dekgewasse en deklae. “Dit wat natuurlik gebeur is die gedeelte van landbou wat ons nie meer verstaan nie,” sê Vrey. “Alles het meer afhanklik van chemie geraak, so ons moet die natuurlike gedeelte nou weer leer ken.”
In die verlede het hulle ou boorde na houtspaanders verwerk en hulle eie hawer en kaf vanaf ongeveer 65 hektaar saailande geproduseer. Hulle het alreeds begin om met dié materiaal kompos te maak en eksperimenteer met die toediening van kompos-ekstrakte deur die besproeiingstelsel.
Hulle het ook van chemiese na meganiese onkruidbeheer in ouer blokke oorgeskakel, maar gevind dat onkruid in blokke jonger as derde of vierde blad te veel met die bome kompeteer. Hulle gebruik dus steeds skroeimiddels in jong boorde. In die ouer blokke probeer hulle om dekgewasse in die boomry te vestig.
Vrey erken dat dit aansienlik makliker is om dekgewasse met mikrospuit- as drupbesproeiing te vestig. Die afgelope winter was besonder nat met laat reëns wat gunstig vir dekgewasse is. Maar meer proewe gaan nodig wees om te leer hoe om dekgewasse lank genoeg aan die lewe te hou sodat dit in normale jare kan saadskiet voordat dit in die somer afsterf.
Druppers het darem die voordeel dat die dekgewasse in die boomry nie die waterverspreiding blokkeer nie. Meganiese onkruidbeheer in mikrospuitbesproeiingsblokke geniet dus ’n hoër prioriteit as in drupblokke.
Daarby is daar minder risiko van skade aan die besproeiingstelsel met meganiese onkruidbeheer in drup- as mikrospuitblokke. Weltevrede se mikrospuite is nog van dié wat op stokkies staan en is gevolglik meer as drupperlyne aan meganiese beheer uitgelewer.
Een bekommernis met dekgewasse is dat hulle waterverbruik sal verhoog. Resultate van Hortgro-befondsde navorsing het byvoorbeeld aangedui dat welige plantegroei op die boordvloer onder nette die waterbesparings as gevolg van die nette mag teenwerk. Dié proefblok was egter met mikrospuite besproei.
Weltevrede vestig tans al hulle nuwe boorde met drupbesproeiing sowel as onder nette. Vrey het nie waterbesparing onder nette gesien nie, waarskynlik omdat hulle al reeds soveel water met drupbesproeiing bespaar.
“Met drupbesproeiing is daar eerder ’n korrelasie tussen die aantal tonne wat op die boom sit en die waterverbruik,” sê hy. “Met mikrospuite varieer die hoeveelheid water nie, ongeag die tonnemaat.”
Arborlane se positiewe benadering tot nuwe moontlikhede soos bewaringslandbou het ongetwyfeld ook bygedra tot hulle sukses met drupbesproeiing. “Op die einde van die dag moet jy verander om aan te pas,” sê Vrey. “Jy moet ’n manier vind om dit te maak werk.”
Related Posts
Citrus biosecurity threats
This is the fourth instalment in our series on citrus biosecurity threats. By CRI Biosecurity…
Table-grape breeding in the genomic era
Genome editing has the power to revolutionise cultivar development, but South African growers are at…