Monteith
Verandering is ’n voorvereiste vir verbetering. Deur Anna Mouton
Die eerste drupbesproeide blok by Monteith se Transpalmietplaas in Grabouw was Rosy Glow op M.9 EMLA wat teen 3.0 x 1.0 meter in 2018 op nat, sanderige grond gevestig is. Die leerkurwe was vir die eerste drie jaar steil, onthou Ernst Heydenrych, algemene bestuurder by Monteith Trust.
“Dit was ook die eerste M.9-boord wat ons geplant het. Ons het daai eerste paar jaar gesukkel om die groeiwyse en die drupbesproeiing te verstaan,” sê hy. “In jaar vier het ons maar 15 ton per hektaar gepluk.”
In 2023 het die bome egter 91 ton per hektaar gelewer en Heydenrych is vol vertroue dat hulle 120 ton in 2024 sal behaal. “Ek weet van ’n M.9-boord hier in die Elginvallei wat dieselfde ouderdom is en in 2023 al 118 ton gedra het. Ons ander M.9-blokke wat nou drie jaar oud is, het 41 ton per hektaar in 2023 gedra.”
Read MoreWaterbesparende besproeiing
“Alles wat ons deesdae plant, plant ons met drupbesproeiing,” sê Heydenrych. “Ons sien 15 – 30% waterbesparing.” Alhoewel Monteith nie ’n tekort aan water het nie, is besparing steeds belangrik omdat waterbesparings gekoppel is aan energiebesparings. Met krag wat al duurder – en skaarser – raak, maak energiebesparing finansieel sin.
“Ons oorsese markte begin ook al meer vra hoeveel liter water ons gebruik vir elke kilogram vrugte wat ons produseer,” sê Heydenrych. “Dis net goeie praktyk om jou waterproduktiwiteit te meet om te weet, en om te kyk hoe jy die water beter kan benut en bestuur.”
By Monteith gebruik hulle laevloei-druppers – 0.7 liter per uur – wat 0.5 meter op elke lyn uitmekaar gespasieer is. Al hulle drupbesproeiing is dubbellyne. Alhoewel hulle probeer om die druppers in die twee lyne trapsgewys te rangskik, skuif die lyne mettertyd. Volgens Heydenrych maak dit nie ’n noemenswaardige verskil nie, omdat die drupper- en lynspasiëring effektief ’n strookbenatting verskaf.
Mense is gewoond om ’n klompie kere ’n week met mikrospuite te besproei, teenoor soveel as drie maal per dag met drupbesproeiing, verduidelik Heydenrych. “Met mikrospuite gee ons meer water op ’n slag. Ons besproei dieper, so daar’s ’n buffer vir môre as daar ’n hittegolf kom. Maar met drupbesproeiing is daar nie ’n buffer nie.”
Die gebrek aan ’n buffer stel bome aan meer risiko bloot tydens onderbrekings. “Jy kan nie sê jy gaan eers môre water gee nie. Mikro sal jou dit vergewe maar nie drup nie,” sê Heydenrych. Monteith het kragopwekkers om hulle pompe aan die loop te hou tydens beurtkrag.
Besproeiing word geskeduleer met behulp van gerekenariseerde stelsels wat sentraal en vanaf ’n selfoon beheer kan word. Data vanaf grondvogmoniteerders en watervloeimeters is ook intyds beskikbaar. Maar Heydenrych waarsku teen té gereelde aanpassings in skedulering. Hy het gevind dat dit beter is om enige wysigings eers vir ’n week te evalueer voordat daar verder verstel word.
Praktiese oplossings met drup
Drupbesproeiing gaan saam met fertigasie – die toediening van opgeloste kunsmis deur die besproeiingstelsel. “Dis duurder as korrelkunsmis,” sê Heydenrych, “maar jy kan dit beter bestuur. Jy kan elke week kunsmis gee eerder as drie of vier keer per jaar.”
Korrelkunsmis het wel ’n plek vroeg in die seisoen. “Jy kan nie optimaal drupbesproei as die grond klaar nat is nie, want dan oorbesproei jy,” verduidelik Heydenrych. “En in die lente begin die bome aktief raak maar ons kry te veel reën, so die grond bly nat.”
Hy reken dat die onderhoud met drupbesproeiing minder as met mikrospuite is. Dis belangrik om die filters en druppers gereeld te spoel om verstoppings te voorkom, veral indien die besproeiingswater baie organiese materiaal bevat.
Monteith se filters spoel hulself outomaties, maar gereelde handspoel word ook gedoen. Waar vloeimeters in drupblokke geïnstalleer is, word die vloei met elke besproeiing gemeet. Die maklikste manier om te moniteer is deur op verskeie plekke binne die blok die water wat deur een drupper gelewer word op te vang, meen Heydenrych.
Een vraag by sommige produsente is of drupbesproeiing geskik is vir die vestiging van jong bome wat in houers gekweek is. “Dis glad nie ’n probleem nie,” sê Heydenrych. “Ons sakkiebome wat ons met drup geplant het, het soos oopwortelbome goed gegroei.”
In die eerste jaar gebruik hulle ’n sogenaamde spinnekopdrupper wat die water direk by die jong boompie se wortels lewer. Die uitstekende prestasie van die bome regverdig die koste van die spinnekopdruppers.
Heydenrych vermoed dat een rede waarom drup nie meer algemeen is nie, is omdat produsente dit op té klein skaal beproef. “As jy iets wil laat werk, dan moet jy dit kommersieel doen. Ek dink drup kan op alle plase werk – of nie werk nie. Dit hang af van die kapasiteit om dit te bestuur, en of ons iets nuuts wil probeer.”
Koste-effektiewe
eenvoudige bome
Monteith plant tans ongeveer die helfte van hul nuwe boorde op M.9. Dit verg meer kapitaal omdat boomgetalle per hektaar meer en die opleistelsel duurder is, as by laerdigtheid-aanplantings. Drupbesproeiing is ook
ongeveer 25 – 30% duurder om te installeer as mikrospuite.
“Die aanvanklike koste is meer,” sê Heydenrych, “maar ons kom vroeër in produksie en ons produseer beter kwaliteit vrugte. En die boord se insette na vestiging is minder wat ons produksiekoste verlaag.”
Hy wil meer op takhernuwing en minder op snoei fokus. “As die boom gesond is en sy voeding, water en oeslading is reg, dan is sy balans reg.”
Gedurende die seisoen is die eenvoudiger blaardakke van die hoëdigtheid M.9-bome makliker en vinniger om te spuit, sê Heydenrych. Teoreties kan dit met ’n kleiner trekker en spuitkarwaaier gedoen word, maar in praktyk kan bestaande trekkers vinniger ry en minder diesel en tyd gebruik, en die kleiner boomryvolume benodig minder spuitmiddel.
Die platter, eenvoudiger boomstruktuur vergemaklik ook meganiese blaarbreek, wat ’n tydsame proses is, by rooibloskultivars. Die blare aan die oggendsonkant word vroeër verwyder as dié aan die warmer middagsonkant, wat ongeveer 10 – 15 dae voor oes gebreek word. Meganiese blaarbreek word wel met handearbeid opgevolg.
Heydenrych het rusbreekbehandeling in die lente toegedien om die blomtydperk te konsentreer en vrugrypheidvariasie te verminder. Dit als het bygedra dat die kleur soveel meer eweredig was dat hulle die Rosy Glow-appels eenmalig kon pluk, wat arbeid en koste spaar. Verder help die eenvoudiger boomstruktuur om plukspoed op te stoot.
“Ek sien net soveel voordele in eenvoudiger bome,” sê Heydenrych. “Maar dis nog vroeg – ons moet nog baie leer.”
Van een ding is hy egter seker, en dit is dat mense nie moet bang wees vir veranderinge nie, al kom dit soms met skoolgeld. “Ons is skrikkerig vir verandering en dis ’n ding wat ons terughou,” sê hy. “Maar jy kan net verbeter as jy iets anderste doen as gister.”
Hierdie boord is een van die deelnemers aan die Hortgro Science Konsepboord-program. Vir inligting oor die program, kyk gerus na die Augustus|September-uitgawe van die SAV. Daar is ook artikels oor spesifieke demo-boorde – Doornkraal en Chiltern – in elke uitgawe daarna.
Related Posts
Citrus biosecurity threats
This is the fourth instalment in our series on citrus biosecurity threats. By CRI Biosecurity…
Table-grape breeding in the genomic era
Genome editing has the power to revolutionise cultivar development, but South African growers are at…