
Mikrobesproeiing in kort
’n Inleiding tot stelsels en skedulering met druppers en mikrospuite. Deur Anna Mouton
Hierdie artikel is ’n samevatting van tegniese inligting wat deur besproeiingspesialis Karen van der Westhuizen van Agrimotion verskaf is. Dr Johan van Zyl van die Departement Grondkunde aan Universiteit Stellenbosch het ook bygedra.
Mense praat dikwels van mikro wanneer hulle na mikrospuite verwys, maar beide mikrospuite en druppers is vorms van mikrobesproeiing. Die doel is om waterverbruik te verminder deur die benatte area te beheer en afloop en diep dreinering te beperk.
Die hardeware
Mikrospuite het twee dele: die een affekteer die leweringstempo en die ander die verspreidingspatroon. Beide word deur stelseldruk beïnvloed. Mikrospuitstelsels word ontwerp om 10 – 15% drukvariasie binne ’n blok te hanteer maar hierdie drukvariasie sal nietemin tot 10 – 15% variasie in watertoediening binne die blok lei.
Té hoë druk kan waasvorming – fyn druppels wat verdamp of wegwaai – of afloop vermeerder, terwyl té lae druk onvoldoende waterlewering kan veroorsaak. Beide is nadelig vir waterdistribusie in die boord.
Druppers is integraal tot druplyne. Moderne druppers is drukgekompenseerd sodat hulle ’n konstante watervolume lewer solank as wat die stelseldruk binne die druppertoleransie bly.
Druplyne dreineer na elke besproeiing. Gevolglik kan laerliggende dele van die boord té nat raak, veral wanneer besproeiings korter is en meer dikwels plaasvind. Onnodige besproeiingspulse moet daarom vermy word.
Drupbesproeiingstelsels funksioneer teen laer drukke en benodig kleiner pompe en dunner pype as mikrospuitstelsels. Installasie en lopende kostes van drupbesproeiing mag dus goedkoper wees. Drupstelsels gebruik ook minder krag per hektaar om te besproei, maar besproeiing neem langer as met mikrospuitstelsels – produsente moet die implikasies vir beurtkrag in hulle eie konteks evalueer.
Indien produsente toegang tot kragopwekkers of alternatiewe kragbronne het, het drupbesproeiingstelsels die voordeel dat hulle minder krag benodig. Maar indien produsente op Eskom aangewese is, mag hulle dit moeilik vind om tydens gereelde beurtkragonderbrekings deur hulle drupbesproeiing te kom.
Die besproeiingstelselontwerp moet grondeienskappe in ag neem. Mikrospuitlewering moet op grondinfiltrasie gebaseer wees. Té hoë lewering sal lei tot afloop of diep dreinering. Mikrospuitspasiëring word deur boomspasiëring bepaal. Mikrospuite is minder geskik vir hoë-digtheidaanplantings omdat spuite óf te naby aan mekaar is óf die waterverspreiding deur boomstamme versper word.
In die geval van drupbesproeiingstelsels word die aantal druppers, lewering, en drupperspasiëring deur die hidrouliese geleiding – hoe water beweeg – van die grond bepaal. Druppers moet nader aan mekaar en laër lewerend wees in gronde wat vinnig dreineer en swakker sywaartse beweging van water het.
Indien die druppers lank genoeg loop om die waterinhoud van die ondergrond te verhoog, behoort die waterinhoud van die grond tussen die druppers ook te verhoog. Indien die grond tussen druppers droog bly, is die druppers of druplyne té ver uitmekaar uit.
Let wel dat dit nie ’n goeie idee is om drup- en mikrospuitstelsels op dieselfde lyn te hê nie. Die twee stelsels vereis verskillende benaderings tot skedulering en bemesting – meer besonderhede hieronder.
Die skedule
Mikrospuite lewer dubbelsyfer liters per uur terwyl druppers enkelsyfer liters per uur lewer. Die mees algemene leweringstempo vir druppers is 1.6 liters per uur. Lae-vloeidruppers lewer minder as 1.0 liter per uur. Dit is dus logies dat dit langer neem om dieselfde hoeveelheid water met druppers as mikrospuite toe te dien.
Stadiger waterlewering gee meer tyd vir infiltrasie en verminder afloop. Stadiger lewering kan ook diep dreinering verminder omdat die bome die water kan gebruik soos dit gegee word, en die besproeiingstelsel kan afgeskakel word voordat die water verby die wortelsone beweeg. Druppers het ook die voordeel dat verliese weens wind en verdamping beperk word.
Korrekte drupperspasiëring sal waterlewering tot die wortelsone beperk, terwyl mikrospuite dikwels water wyer versprei. Die nadeel van drupbesproeiing is dat produsen-te kan sukkel om dekgewasse in die werksry tydens droë tye aan die lewe te hou. Aan die ander kant kan mikrospuite die werksry op veral swaar gronde té nat maak, hetsy as gevolg van afloop of té wye benatting.
Skedulering met mikrospuite mik gewoonlik om die grondwaterinhoud na veldkapasiteit – die hoeveelheid water wat die grond teen swaartekrag kan hou – te lig nadat dit tot die hervulpunt – die laagste aanvaarbare grondwaterinhoud – geval het. Langer besproeiing met mikrospuite sal die benatte diepte vermeerder, terwyl langer besproeiing met druppers beide benatte diepte en wydte sal vermeerder.
In praktyk is daar gewoonlik dae tussen mikrospuitbesproeiings, en bome ondervind dus fluktuasies in waterbeskikbaarheid soos wat die grondwaterinhoud tussen veldkapasiteit en die hervulpunt beweeg. Drupbesproeiing is geneig om meer konstante grondvog te handhaaf. Die grond onder die druppers moet egter nie vir lang tye versadig bly nie – wortels het suurstof nodig.
Die spyskaart
Fertigasie is die toediening van kunsmis deur die besproeiingstelsel. Dit word gewoonlik met drup geassosieer, maar kan ook met mikrospuite gedoen word. Drupfertigasie word met elke besproeiing of weekliks toegedien, terwyl mikrospuitfertigasie geneig is om weekliks of selfs minder dikwels te wees.
Die voordeel van fertigasie is die konstante voorsiening van voedingstowwe aan die wortelsone, wat beter opname en minder vermorsing bevorder. Daar is egter ’n risiko dat voedingstowwe oneweredig versprei word indien daar droë kolle tussen druppers is. Deurlopende fertigasie benodig gevorderde toerusting en monitering maar laat fyn verstelling van voeding toe en kan arbeid bespaar.
Voedingstofvlakke in die grond wissel meer oor tyd met oppervlaktoediening van korrelkunsmis as met fertigasie omdat oppervlaktoediening minder gereeld plaasvind. Korrelkunsmisprogramme is gevolglik minder aanpasbaar tot intydse boombehoeftes.
Korrelkunsmis kan deur óf reën óf mikrospuite in die grond ingewas word en kan dus gedurende nat of droë tye toegedien word. Fertigasie tydens nat weer kan lei tot oorbesproeiing wat bome op koue, nat gronde mag stres.
Die bestuur van grond pH en voeding in verskillende boordsones is met veranderlike verspreiding van korrelkunsmis moontlik, maar nie met fertigasie nie. Produsente sou oppervlakverspreiding voor reën moes doen indien veranderlike toediening in drupbesproeide blokke nodig is. Sommige
produsente fertigeer met kalsiumnitraat om grondversuring onder druppers teen te werk.
Die bestuur
Beide drup- en mikrospuitstelsels verg onderhoud. Die risiko van verstoppings as gevolg van swak waterkwaliteit is groter met druppers, en gereelde lyn- en filteronderhoud is noodsaaklik. Drupstelsels benodig chemiese behandelings om verstoppings te verhoed, terwyl verstopte mikrospuite met die hand skoongemaak of vervang moet word. Dis moeiliker om verstopte druppers as mikrospuite raak te sien.
Drupperlyne moet sekuur geplaas word, en weer in plek gesit word wanneer hulle versteur word. Mikrospuite word minder geredelik versteur solank as wat hulle hangend is. Dis nie ideaal om drupperlyne te hang nie, want die water is geneig om teen die draad af te loop en vanaf die laagste punt te drup. Druppels wat van bo val spat en verdamp ook meer. Drup het die voordeel dat besproeiing nie boordaktiwiteite onderbreek nie, en onkruid en lae takke nie waterverspreiding versper nie.
Die bestuur van verbrakking verskil met drup- en mikrospuitbesproeiing. Dis makliker om soute uit die grond te loog met mikro-spuite, maar makliker om soute uit die wortelsone te hou met druppers. Ongelukkig sal druppers die soute tot net buite die wortelsone dryf, waar die soute dan versamel en met reëns teruggewas kan word. Produsente in droë gebiede kan gedurende die groeiseisoen soute uit die wortelsone hou deur tydens reën te besproei.
Drupbesproeiing het ’n slegte reputasie in veral die appelbedryf gekry omdat daar in die verlede mislukkings was. Maar drup neem nou al meer toe danksy beter tegnologie, meer ervaring, en verhoogde druk om waterproduktiwiteit te verhoog.
Drupbesproeiing gebruik oor die algemeen 20 – 40% minder water as mikrospuitbesproeiing, alhoewel resultate sal wissel vir elke produsent en boord. Hortgro befonds tans ’n projek wat verskillende besproeiingstelsels, insluitende lae-vloeidrup, in ’n kommersiële appelboord evalueer. Die projek is tans in sy tweede jaar – lees meer daaroor in die nuutste Fresh Quarterly, Hortgro Science se tegniese tydskrif vir produsente.
Related Posts
Improved control of sour rot on citrus
Exploring potential fungicide solutions for improved control of sour rot on citrus. By Meagan van…
Extension briefs for February and March 2025
By Hannes Bester, MC Pretorius, Wayne Mommsen, Coenraad Fraenkel, André Combrink, Natasha Jackson, Jan Landman,…