skip to Main Content
Sultana H5 Proefwingerd Newgro
February / March 2024

Watergebruik Van Tafeldruif-wingerd Onder Nette Oranjeriviergebied

SA Fruit Journal: February / March 2024

SA is ʼn waterskaars land, met ʼn langtermyn gemiddelde jaarlikse reënval van 470 mm.

Deur Eunice Avenant (SU) en Jan Avenant (voorheen van LNR Infruitec-Nietvoorbij)

Alle kommersiële tafeldruifwingerde in SA word besproei, omdat die gemiddelde jaarlikse reënval te laag is vir tafeldruifverbouing sonder aanvullende besproeiing. Gegewe die toenemende druk op beperkte waterbronne, sal praktyke wat watergebruik verminder die bedryf bevoordeel. Jaarlikse besproeiingswatergebruiksyfers gepubliseer vir tafeldruifwingerde in SA varieer, afhangend van die gebied (klimaat), besproeiingspraktyke, prieelstelsel, wingerdlowereienskappe en -groeikrag: vanaf 256 mm met lae frekwensie drup in die Bergriviergebied, tot 1 840 mm met mikrospuite in die Oranjeriviergebied.
In SA word tafeldruiwe toenemend onder nette verbou, maar beperkte navorsingsresultate is beskikbaar rakende watergebruik van tafeldruifwingerde onder nette. Die hoofdoelwit van hierdie studie was om die effek van nette op watergebruik van tafeldruifwingerde in die semi-ariede Benede-Oranjerivierstreek te bepaal.

Materiaal en metodes

Die studie is oor twee seisoene uitgevoer op ‘n 10 ha ‘Sultanina H5’-blok op die kommersiële plaas Newgro, Kanoneiland (Tabel 1).
Wingerdboupraktyke is toegepas vir produksie van uitvoergehalte ‘Sultanina’-tafeldruiwe. Die eksperimentele blok het bestaan uit twee 5 ha subpersele, een sonder nette (onbedek) en een met nette (oorhoofs en aan die kante bedek met wit net met ‘n 20% skadu-effek).
Standaardbesproeiingspraktyke van die plaas is toegepas, gemik op optimale watervoorsiening, met toegediende besproeiingsvolumes gebaseer op 100% van beraamde evapotranspirasie, bereken vanaf ETo-waardes verkry vanaf ‘n outomatiese weerstasie (AWS) 100 m vanaf die proefperseel en gepubliseerde gewaskoëffisiënte vir die streek.
Sentraal in elke subperseel, is vyf aan-grensende rye gebruik as proefrye. Tien eks-perimentele eenhede met twee datastokke per eenheid is ewekansig gekies en gebruik as herhalings vir plantgebaseerde metings. In die middelste ry van elke subperseel is die volgende geïnstalleer: ‘n outomatiese weerstasie (AWS), vier grondvogsensors en sapvloeimetingsapparaat (in drie datastokke). Watergebruikmetings/-berekenings het ingesluit: besproeiingsvolume (gemeet met watermeters in die besproeiingstelsel) en transpirasie-/sapvloeimetings, bepaal met behulp van die hittepulssnelheidmetode en beraamde evapotranspirasie, bereken met AWS-data en gewaskoëffisiënte. Om plantwaterstatus te evalueer, is middag-stamwaterpotensiaal (“midday stem water potential”) gemeet met ’n drukbom, tydens deurslaan, oes en een maand na oes.

Read More
Back To Top