Verpligte vereistes vir tafeldruifhantering het na deregulasie weggeval.
Deur Dawie Moelich (SATI Marktoegang en tegniese bestuurder).
Alhoewel verpligte vereistes vir tafeldruifhantering na deregulasie weggeval het, het die eertydse riglyne steeds waarde vir produsente.
Voor deregulasie was die Sagtevrugte-raad en Unifruco die alleenuitvoerders van Suid-Afrikaanse tafeldruiwe en het hulle dus die tegniese riglyne vir tafeldruifhantering voorgeskryf. Na deregulasie het verskillende rolspelers in die waardeketting mettertyd die historiese riglyne aangepas. Hedendaagse produsente volg dikwels riglyne wat deur uitvoeragentskappe voorsien word.
Daar is egter steeds waarde in die historiese riglyne. Die onderliggende natuurwette wat vrugkwaliteit beïnvloed het, het nie met deregulasie verander nie. Hierdie artikel poog om die eertydse riglyne op te som sodat produsente daarna kan verwys wanneer hulle hul eie praktyke wil evalueer.
Deur pulp- en lugtemperature gereeld te meet kan produsente hulle eie koueketting volgens die hanteringsnodes binne die uitvoerproses beter verstaan en swak hanteringspunte intyds identifiseer met die oog op verbetering. Sodoende kan produsente meer vertroue hê dat hulle verkoelings- en bewaringskettings wel die kwaliteit van hul tafeldruiwe sal handhaaf.
In die wingerd
Goeie produksiepraktyke lê die grondslag vir die kwaliteit en houvermoë van tafeldruiwe. Optimale hantering en verkoeling is uiters belangrik om goeie kwaliteit te handhaaf, maar dit kan nie die inherente kwaliteit of opbergingsvermoë van druiwe verbeter nie.
Produsente moet vroegtydig ’n geskikte program vir die beheer van bederforganismes implementeer. Siekte- en plaagbeheer moet alle marktoegangsvereistes in ag neem. Mitigeer fitosanitêre plae maar hou terselfdertyd by toelaatbare spuitmiddels en maksimum residuvlakke.
Indien nodig kan geregistreerde middels gebruik word om kleurontwikkeling te bevorder. Let egter daarop dat oorskryding van die geregistreerde voorskrifte soos op die etiket aangedui, die houvermoë van tafeldruiwe kan verlaag.
Read MoreOes
Optimale oesrypheid streef om die balans tussen voldoende houvermoë en aanvaarbare smaak en voorkoms vir die verbruiker te vind. Produsente moet die rypwordings-proses en -tempo van hulle druiwe moniteer deur byvoorbeeld suiker- en suurvlakke gereeld vanaf deurslaan te meet. Dit stel hulle in staat om die optimale oestyd te skat en dus oes- en bemarkingsprogramme te skeduleer.
Histories is die riglyne vir rypheidstan-daarde van onderskeie kultivars deur die bedryf voorgeskryf, op grond van die resultate van plaaslike evaluasies en opbergingsproewe. Tans word die rypheidstandaard deur plant-telers voorgeskryf en opgeneem in die DALRRD Uitvoerregulasies en Standaarde, wat deur PPECB gekontroleer word.
Voorheen is druiwe oor die algemeen gedurende die koelste deel van die dag – voor 11h00 – geoes. Dit het onder andere probeer verhoed dat druiwe geoes word wanneer pulptemperature 30 °C oorskry. Warmer vrugte het ’n vinniger metabolisme wat veroudering versnel. Verpakking van warmer vrugte tydens warmer periodes van die dag skep ook groter verkoelingsuitdagings en plaas daardeur addisionele druk op die beskikbare fasiliteite.
Skoon, gereeld gewaste plukkiste – verkieslik ligkleurig – verhoed dat stowwerige of klewerige vrugte by verbruikers beland. Druiwe moet na oes in die skaduwee gehou en binne 20 – 30 minute by die pakhuis afgelewer word.
Fisiese hantering van trosse moet vanaf oes deurgaans beperk word om skade te voorkom. Druiwetrosse moet nie bo-op mekaar gestapel word nie.
Die historiese aanbeveling was om oes-aktiwiteite te staak indien dit reën en die druiwe vir langer as 10 ure nat bly. Dit was om bederf en korrelbars wat deur die reën aangehelp is kans te gee om te ontwikkel, sodat aangetaste korrels verwyder kan word.
By die pakhuis
Hier kan druiwe óf direk op die paklyn gaan óf eers in ontvangskamers met veldhitteverwydering geplaas word. Hierdie ontvangs-kamers word gebruik wanneer die paklyn alreeds vol is óf die druiwe te warm is om dadelik te verpak.
Tydens veldhitteverwydering word vrugte deur sirkulerende lug tot net bo die doupunt afgekoel. Die lugspoed moet verkieslik verminder kan word sodra die vrugte op of naby temperatuur is.
Druiwe moet verkieslik teen ’n pulptempe-ratuur van 20 – 25 °C gepak word. Die hitte-uitruiling wat die druiwetrosse se temperatuur afbring is meer doeltreffend voordat die druiwe in verpakking geplaas word. Druiwe wat teen 25 – 30 °C by die pakstoor gelewer word moet eers veldhitteverwydering ondergaan voordat dit op die paklyn gaan.
Volgens die historiese riglyne moes druiwe wat by uitsondering noodgedwonge teen pulptemperature bo 30 °C geoes is, binne twee ure ná oes in geforseerde lugverkoeling geplaas word. Dit was egter selde haalbaar en hierdie riglyn het dus bykans vergete geraak binne die Suid-Afrikaanse konteks. Dié riglyn was egter nie vêr verwyder van hedendaagse Chileense riglyne nie. Hou dus altyd in gedagte dat pulptemperature bo 30 °C tydens oes die vrugkwaliteit en -houvermoë kan benadeel, veral indien die druiwe nie onmiddellik afgekoel word nie.
Temperature onder die heersende dou-punttemperatuur – gewoonlik ongeveer
16 – 18 °C verhoog die risiko van konden-sasie op die druiwetrosse, selfs oor die paklyn, en benadeel die kwaliteit van die druiwe.
Die heersende doupunt is ook onderworpe aan die humiditeit binne die pakhuis en die omgewing. Kondensasie op druiwe sal gouer plaasvind wanneer die humiditeit in die pakhuis hoër is.
Neem in ag dat wanneer die verdampingmetode vir veldhitte verwydering gebruik word – die “wet-wall” metode – die humi-diteit van die lug wat in die pakstore inblaas, verhoog. Dit raak soms veral problematies tydens donderweer, of selfs tydens koeler, meer humiede klimaatstoestande soos ge-reeld in die Wes-Kaap ondervind word.
Die historiese riglyne het gestipuleer dat geen druiwe oornag mag oorstaan totdat dit verpak word nie. ’n Langer vertraging vanaf oes tot verpakking sal ook tot meer vogverlies lei, wat ’n groter risiko van stingeluitdroging en korrelversagting veroorsaak.
Die historiese riglyne het maksimum pakhuistemperature van 25 °C aanbeveel en ook gewaarsku dat druiwe vinnig genoeg verpak moet word om opwarming te verhoed. Minimale fisiese hantering van trosse help om skade te voorkom.
Voor deregulasie was vasgestelde minimum sanitêre standaarde vir pakstore en pak-lyne deur die bedryf bepaal. Deesdae vorm soortgelyke pakstoorstandaarde deel van internasionale programme soos Global Gap.
SO2-penetrasie
Plastiekbakkies se deksels moet voldoende perforasies hê om SO2 deur te laat. Die oorspronklike Suid-Afrikaans-vervaardigde polipropileenbakkies was spesifiek ontwerp met ’n totale perforasie area van 15 cm2 per deksel per 500 gram bakkie en ’n relatief klein etiket.
Dit blyk dat verskeie ingevoerde bakkies se perforasies kleiner en minder is en eerder aangepas is volgens die voorkeure van Europese handelsmerkbestuurders. Die handelsvoorkeur vir etiketplasing bedek ook dikwels ’n gedeelte van die gaatjies. Dieselfde beginsel geld vir druiwe in verbrui-kersakkies. Daar is soms te min perforasies en die sakkies word só geplaas dat SO2-gas moeilik by die druiwe uitkom, of selfs totaal versper word.
SO2-gasvelle moet nie aan ’n oop omge-wing blootgestel word nie, maar direk vanuit die beskermende plastiek na die druiwekartonne oorgeplaas word. Produsente moet hulle verskaffers raadpleeg vir opgedateerde instruksies oor die hantering van SO2-gasvelle.
Meer oor perforasies
Die grootskaalse gebruik van ongeperforeerde plastieksakke het stelselmatig plek gemaak vir geperforeerde plastieksakke. Sommige uitvoergroeperings het gefokus op die hoogs geventileerde sakke – tipies 6–8 mm perfo-rasies. Ander groeperings het ’n verskeidenheid van minder of kleiner sakperforasies gebruik, om die gepaardgaande swakker bederfbeheer en verhoogde stingeluitdroging van die groter perforasieareas te mitigeer.
Evaluasies van verskillende sakperforasies het gelei tot die standaard van 4-mm-perforasies spesifiek vir ‘Thompson Seedless’ – destyds die belangrikste pitlose kultivar. Omvattende evaluasies het gewys dat 36 x 4-mm-sakke – soos ontwerp vir die 4.5 kg 400 x 300 mm-druiwekarton – die beste gekombineerde kwaliteitsuitkomste lewer. Die persentasie ventilasie-area van hierdie verpakkingskonfigurasie kan dus as ’n verwysingspunt vir perforering van nuwe verpakkingskonsepte dien.
Verskillende kultivarbehoeftes
Voor deregulasie was daar ’n beperkte aantal standaard kartonverpakkingskonfigurasies maar die aantal verpakkingskonfigurasies het daarna baie vinnig vermeerder. Produsente het die toenemende bestuursuitdaging van ’n verskeidenheid verpakkingstelsels en kultivars met verskillende naoestekortkominge.
Deregulasie het ook met ’n wêreldwye tendens na pitlose kultivars saamgeval. Die moderne pitlose kultivars is oor die algemeen meer sensitief vir gebreke in die koueketting as die ouer, gepitte staatmakerkultivars.
Produsente moet aandring op akkurate en konsekwente terugvoer oor die kwaliteit van druiwe by aankoms. Aanpassing van verpak-king sonder korrekte, objektiewe inligting kan lei tot swakker eerder as beter kwaliteit.
Palette
Die historiese riglyne het die plasing van ’n T-tipe termokoppel in elke paletstapel stipuleer. Vir die optimale bestuur van die palet moet die termokoppels in die warmste deel van die palet – die deel wat die stadigste afkoel – geplaas word. Die afwesigheid van termokoppels maak die optimale tempe-ratuurbestuur van druiwepalette binne ’n hoë-deurset-omgewing bykans onmoontlik.
Verkeerdelike plasing van die termokoppel kan daartoe lei dat druiwe vir twee tot drie weke teen suboptimale pulptemperature hanteer word – navorsing het gewys dat dit die risiko van bederf verhoog.
Verkoeling
Palette kan in produsente se eie koelkamers of in koöperatiewe koelkamers geberg word en moet so vinnig moontlik na die koelka-mers vervoer of verskuif word.
Die historiese riglyne het gestipuleer dat druiwe binne ses ure na oes in geforseerde lugverkoeling geplaas moet word. In teenstelling beveel Chileense raadgewers aan dat druiwe binne drie ure na oes verpak en in geforseerde lugverkoeling moet kom, sodat die verkoeling dan binne agt ure na die aanvang van gefor-seerde lugverkoeling voltooi kan word.
Waaiers behoort afgeskakel of, in die geval van verstelbare waaiers, die lugspoed verminder te word sodra die teikentemperatuur behaal is.
PPECB-dokumentasie stipuleer verder dat die lugleweringstemperatuur tydens die afkoeling en opberging van die druiwepa-lette nie onder -1.5 °C moet daal nie. Daarby moet die pulptemperatuur van die druiwe nie onder -1.2 °C daal nie.
Die riglyne voeg ’n klein veiligheidsbuffer by die gepubliseerde vriespunt van druiwe-stingels en -korrels. Die suikerinhoud van laasgenoemde is ook bydraend, maar nie presies gedefinieer nie. Die internasionaal aanvaarde teikentemperatuurband vir opberging van druiwe is -1 – 0 °C. Die globale standaard stelpunt van die verkoelingstelsel is dus gewoonlik -0.5 °C.
In die historiese riglyne was ’n maksimum pulptemperatuur van 1 °C by uitlaai voorgeskryf. Die vasstelling van uitlaaiteikentemperature word hedendaags grootliks deur fitosanitêre oorwegings beïnvloed en is intussen aangepas (raadpleeg PPECB).
Vervoer
Verkoelde palette kan verskeie hanterings- en vervoerprosesse ondergaan voordat hulle op ’n skip gelaai word. Druiwe wat vir spe-sifieke markte bestem is sal voorafkoeling by goedgekeurde terminale ondergaan, ter voorbereiding van in-transit kouebehandeling. Die meerderheid palette sal uiteindelik uit ’n koelkamer in ’n verskepingshouer vir laetemperatuurverskeping gelaai word.
Produsente het nie noodwendig beheer oor die verkoeling binne skeepshouers nie, maar hulle kan hul vrugte beskerm deur slegs verkoelde palette te laai.
Met die streng historiese riglyne moes houers byvoorbeeld van aanboordkragopwekkers voorsien word, indien die houers vir meer as twee ure met ’n vragmotor na die aflaaipunt buite of binne die hawesone vervoer sou word.
Soos tydens die verkoelingsfase, moet die inkomende lugtemperatuur vir houers nooit langdurig onder -1.5 °C en die pulptempe-ratuur nooit langdurig onder -1.2 °C val nie. Dienooreenkomstig, moet die pulptempe-ratuur verkieslik tussen -1 en 0 °C gehandhaaf word en gevolglik is die internasionale standaardstelpunt van die verkoelingstelsel gewoonlik -0.5 °C.
Ongelukkig is die realiteit dat druiwe dikwels saam met ander kommoditeite na aankoms by distribusiepunte by die teikenmark hanteer word, soms teen temperature van tot 5 °C. Die oorstaan by distribusiepunte verdien dus spesiale bestuursfokus.