
Giraffe Boerdery
Die Giraffe-boordstap leer ons oor nette.
Deur Anna Mouton
Tydens die mees onlangse Hortgro-seminaar en boordstap in die Langkloof is die praktiese aspekte van nette in drie uiteenlopende blokke in die Giraffe-boordstap verken. Giraffe Boerdery beslaan ongeveer 320 hektaar appels en pere waarvan bykans als onder nette is. Een rede hiervoor is die toenemende risiko van haelskade maar nette skep ook die geleentheid om Klas 1-uitpakke noemenswaardig te verhoog. “Ons bedryf het uitstekend gevorder in terme van produksies,” sê tegniese raadgewer Erik Conradie. “Maar ons is nog nie almal daar wat die kwaliteit aanbetref nie – dit sal ons as bedryf vorentoe vat as ons die Klas 1 vrugte per hektaar kan verbeter.”
Volgens Giraffe se Denné Strydom is dit presies wat hulle met nette regkry. “Ons het byvoorbeeld met Granny Smith voorheen 42–48% uitgepak. Ons Grannies staan nou onder swart nette en ons pak diep in die 90% Klas 1 uit.” Die swart nette verbeter uitpakke deurdat die Grannies goeie groen kleur en geen blos het nie. Ander kultivars baat ook weens beskerming teen sonbrand. Strydom berig dat Giraffe se uitpakke op alle kultivars tans meer as 80% is.
Read MoreLig is die kruks
“As jy nie met ’n oop boom gaan boer nie, dan moet jy maar eerder nie nette opsit nie,” sê Strydom. “Jou boom moet oper wees om sonlig te benut, anders gaan jy aan die binnekant swak vrugogies en dra-eenhede kry.” Hy vertel dat hulle in die verlede geneig was om die takke aan jong bome te los en eers te begin takke verwyder wanneer die bome in drag kom. Nou reken Strydom dit was ’n fout – hulle spasieer deesdae van kleintyd die takke om ligdistribusie te bevorder en oorskaduwing te voorkom. Een van die boordstapblokke is 3.6 hektaar Forelle op BP1 wat in 2001 teen 5 x 2 meter gevestig is. Die bome is vanaf 2021 onder wit drapeernette. “Die groot uitdaging is om hulle vrugbaarheid te behou,” sê Conradie. “Daarvoor moet daar lig wees. So, ons het die takke verminder.” Die bekommernis was dat minder takke gaan lei tot minder tonne maar dit het glad nie gebeur nie. Die boord het 52 ton in 2023 gelewer en die skatting vir 2024 is 57 ton. Uitpakke in die boord was 81% Klas 1 Forelle en 11% Klas 1 Vermont Beauty. Dieselfde geld vir die 6.2 hektaar Cripps Red-boordstapblok. Die bome is in 2016 op M.7 teen 4 x 1.5 meter gevestig. “Vier jaar gelede was dié bome boepens gewees en die leiers was onder druk,” berig Conradie. “Ons het geleidelik begin om takke uit te haal, totdat ons op ’n punt gekom het wat ons gewonder het of ons nie al te ver gaan nie.” Maar die uitpaksyfers bevestig dat hulle op die regte pad was. Opbrengste het vanaf 60 ton in 2021 na 92 ton in 2023 geklim. Die oesskatting vir 2024 is 100 ton. Rooi kleurontwikkeling is ’n voorvereiste vir sekere handelsmerke waaronder Cripps Red bemark word. Vantevore het oorskaduwing van takke swakker rooi kleur onder in die boom veroorsaak en ook knopontwikkeling op hout naby die leier belemmer. Gevolglik het die bome steeds kaal nekke teen die stam. Die jongste van die boordstapblokke word dus versigtig bestuur om seker te maak dat die hele tak gaan dra. Hierdie blok is 5.5 hektaar Louterwater Granny Smith op M.7 wat in 2021 teen 3.8 x 1.2 meter gevestig is. Die verwagting is dat hulle hierdie jaar hulle eerste oes van 30 ton per hektaar sal dra. In die verlede sou die eerste oes in vierde blad gewees het, maar dit het gelei tot takke wat té sterk raak. Nou word die leier in die eerste blad ontwikkel en dratakke in die tweede blad. Die doelwit is 18–20 takke per boom wat almal voldoende lig kry sodat hulle tot teen die leier dra. “Om 100 ton op hierdie boord te dra kan jy nie net op twee-derdes van jou tak dra nie,” sê Conradie. “Jy moet op 100% van jou tak dra.”



Hou groei in toom
“Wêreldwyd is dit so dat nette as gevolg van minder lig die vrugbaarheid van bome kan verlaag,” sê Conradie, “so ons moet alles nodig doen om die groei onder beheer te hou, veral by ons hoëdigtheidsaanplantings.” Groeibeheer begin natuurlik by onderstamkeuse. Van die eerste Suid-Afrikaanse netproewe het misluk omdat die bome op groeikragtige onderstamme soos M.793 geplant was. Maar heelwat produsente ervaar dat selfs dwergende onderstamme soos M.9 té geil kan raak onder nette. Strydom reken dat die groeireguleerder proheksadioon-kalsium onontbeerlik vir appelverbouing is. Hulle spuit byvoorbeeld die Cripps Red-boordstapblok wanneer sy lote ongeveer ’n sentimeter lank is en dan weer 3–4 weke later. Die eerste toediening is op die onderste derde van die boom sodat die takke bo nog bietjie meer kan groei. Die tweede toediening is op die hele boom. Hierdie strategie verminder die basale dominansie wat geneig is om as gevolg van onvoldoende winterkoue te ontwikkel. Conradie gebruik proheksadioon-kalsium op alle appelkultivars onder nette, insluitende Golden Delicious en Gala. Vir sterker kultivars soos Fuji en Granny Smith onder nette kan ’n derde proheksadioon-kalsiumspuit nodig wees. “Party mense sê proheksadioon-kalsium is duur,” sê Strydom. “Maar in my opinie gee dit vir ons ’n enorme voordeel.” Dit spaar onder andere arbeid op sy Cripps Red-blok omdat die bome bykans geen snoeiwerk benodig nie. Ongelukkig kan proheksadioon-kalsium nie vir pere gebruik word nie. So, dáár moet produsente op ander praktyke soos ringelering en manipulasie van die oeslading staatmaak. Verminderde voeding en besproeiing is addisionele opsies – die Langkloof kry egter somerreën, so laasgenoemde is minder effektief. Al hierdie tegnieke kan vir appels ook gebruik word. “Ek is van mening dat ’n boom teen einde November of begin Desember moet ophou groei, sodat hy sy knoppe kan begin vorm vir volgende jaar,” sê Conradie. Hy voel dat oormatige groei die enkele grootste probleem is wat hy in November 2023 in die Langkloof waargeneem het. “En as jy nette oor die boom trek, dan raak dié probleem net groter,” waarsku hy. “So as ons nie reg onder nette gaan boer nie, gaan ons probleme optel.”
Ander oorwegings met nette
Rooi kleurontwikkeling in appels en pere is van ligblootstelling afhanklik. Nette verminder lig, so dit volg dat hulle dalk ook rooi kleurontwikkeling kan belemmer. Die Cripps Red-blokke by Giraffe kry ’n weerkaatsende deklaag om rooi kleurontwikkeling ’n hupstootjie te gee. Aan die positiewe kant kan nette weer help om verlies aan kleur in kultivars soos Forelle te vertraag wanneer die ergste hitte voor oes deurkom. Strydom se voorkeur is swart 20%-skadunette vir Golden Delicious, Granny Smith en Packham’s Triumph en grys 15%-skadunette vir alle ander kultivars, moontlik met die uitsondering van wit 10%-skadunette vir Forelle. Hy het al gevind dat Packham’s Triumph en Forelle stadiger onder swart as grys of wit nette ryp word. In teenstelling hiermee lyk dit of appels wat té min lig kry dalk vinniger kan ryp word. Hierdie appels ontwikkel in werklikheid net minder stysel wat dan as groter styselafbraak en dus groter rypheid interpreteer word. Giraffe het beide vaste en drapeernette. Drapeernette is meer arbeidsintensief as vaste nette omdat hulle verwyder moet word wanneer daar aan die bome gewerk word. Dit beteken ekstra koste, maar vir Strydom is dit ’n maklike besluit. “As ons Forelle-boorde verlede jaar nie onder nette was nie, sou die hael die oes als weggeslaan het,” sê Strydom. “So, ek hoop nie ons wil daai som in detail maak nie. Ons moet vir mekaar sê, dis ’n bietjie duurder maar as hier nie nette was nie, was hier geen oes nie.” Die Cripps Red-boordstapblok is onder ’n vaste net wat nie oop- en toemaak nie. Dit het op ’n stadium probleme geskep met bestuiwing deurdat die bye nie ver genoeg in die boord inbeweeg het nie. Sedertdien word korwe binne die boord geplaas. Strydom beveel aan dat boomrye nie langer as 80 meter tussen korwe moet wees nie. Daar moet ook genoegsame spasie tussen die boomtoppe en die net wees vir die bye om vrylik te beweeg, anders is hulle geneig om in die net vas te sit. Giraffe is een van min kernvrugboerderye wat reeds feitlik ten volle onder nette is. Hulle opbrengste en uitpakke getuig dat hulle besig is om ’n sukses daarvan te maak. “Ek het ’n gesegde met my kliënte oor die drie R’e wat jy moet toepas – jy moet die regte ding op die regte tyd reg uitvoer,” sê Conradie. “Baie keer kom die probleem by die reg uitvoer en die regte tyd. Maar hier op Giraffe gebeur ’n ding op die regte tyd en hy word reg uitgevoer.”
Bedankings
Hortgro wil graag die volgende persone bedank vir hulle bydrae tot die sukses van die 2023 simposium en boordstap: Erik Conradie Johan Kotze Cheetah (Niël-Pierre) Strydom Denné Strydom Dewald Strydom.
Focus on the Langkloof
These Hortgro Science technical articles focus on the Langkloof. This region has more than 6 000 hectares of apples and pears — about 16% of the South African total. Discover how Langkloof producers are embracing nets and other technology to improve yields and quality in a relentlessly challenging environment. For similar content, visit www.freshquarterly.co.za to download your free copy of Fresh Quarterly, the Hortgro Science technical magazine.
Fokus op die Langkloof
Hierdie Hortgro Science tegniese artikels fokus op die Langkloof. Dié streek het meer as 6 000 hektaar appels en pere – ongeveer 16% van die Suid-Afrikaanse totaal. Leer hoe Langkloof-produsente nette en ander tegnologie benut om opbrengste en uitpakke ten spyte van konstante uitdagings te verbeter. Vir soortgelyke artikels, besoek www.freshquarterly.co.za om ’n gratis digitale eksemplaar van Fresh Quarterly, Hortgro Science se tegniese tydskrif, te bekom.
Related Posts
Improved control of sour rot on citrus
Exploring potential fungicide solutions for improved control of sour rot on citrus. By Meagan van…
Extension briefs for February and March 2025
By Hannes Bester, MC Pretorius, Wayne Mommsen, Coenraad Fraenkel, André Combrink, Natasha Jackson, Jan Landman,…