TerraClim omskep klimaatsdata in inligting
Wes-Kaapse kernvrugprodusente kan beter ingeligte besluite met behulp van die TerraClim-toepassing neem. Deur Anna Mouton
Dit is algemene kennis dat omge-wingsfaktore soos temperatuur deurslaggewend is vir sagtevrugproduksie en -kwaliteit. Mens sou dus aanneem dat produsente geredelik omgewingsdata vir probleemoplossing en beplanning kan gebruik. In praktyk is dinge egter bietjie meer ingewikkeld.
Om meer te leer oor die uitdagings en hoe die TerraClim-toepassing produsente kan help, het Hortgro gesels met Dr Tara Southey, navorser in die Departement Geografie en Omgewingstudie aan Universiteit Stellenbosch, en met Angelique Pretorius, tegniese bestuurder by Kromco.
Read MoreOorbrug die datagapings
Die eerste probleem met klimaatsdata is dat dit nie altyd vir alle plekke beskikbaar is nie. In die ergste gevalle is daar nie 'n weerstasie of data-aantekenaar op of naby 'n plaas nie. Maar selfs indien produsente hulle eie weerstasies het, mag hulle nietemin vind dat die data te grof of onvolledig vir besluitneming oor individuele boorde is. Daarby is daar gevalle waar nuwe weerstasie opgerig word nie vergelykbare geskiedkundige data beskikbaar nie. TerraClim los hierdie probleem op deur aaneenlopende temperatuurdata vir 'n area te verskaf.
TerraClim integreer klimaatsdata vanaf 'n netwerk van weerstasies, insluitende iLeaf, SAEON, en MetosSA, met GeoSmart digitale modelle van hoogte bo seespieël, en skep sodoende hoëresolusie temperatuurkaarte. Gebruikers van die TerraClim-toepassing kan 'n spesifieke land, boord of wingerd vergroot en dan die instrumentbord gebruik om kaarte van verskillende temperatuur, terrein, en bioklimatiese oorlegsels te sien. Voorbeelde sluit onder andere in: langtermyn gemiddelde maandelikse temperature; hoogte bo seespieël; helling; daagliks-positiewe koue-eenhede; en Utah koue-eenhede.
"Ons het spesifiek vir Hortgro die Elgin-Grabouw-Vyeboom-Villiersdorp-area teen 'n vyfmeterresolusie karteer," sê Southey. "Dit raak 'n baie kragtige toepassing wanneer jy na temperatuuranalises oor 'n vyfjaarperiode begin kyk, en jy dan begin sien hoe verandering oor tyd en area plaasvind."
Volgens Southey is noukeurige seleksie van weerstasies belangrik om die komplekse terrein van die Wes-Kaap korrek te verteenwoordig. "Ons het 200 weerstasies identifiseer wat ons benodig om klimaatsverandering beter te kan kwantifiseer. Ons seleksie is gegrond op faktore soos topografie, hoogte bo seespieël, en sonstraling."
Een van TerraClim se sterk punte is dat dit data van vele bronne kan intrek. Southey sê dat hulle heeltyd nuwe data probeer insluit, maar dit is afhanklik van onderhandelinge met die bewaarders van die data.
Maak sin van die syfers
Dis een ding om goeie data te hê. Dis iets heeltemal anders om te weet wat die data beteken. Volgens Southey het haar eie navorsing haar die waarde van korrelasies tussen temperature en gewasrespons oor tyd geleer, sodat oorsake en gevolge gekoppel kan word.
"Jy kan begin om masjienleer te gebruik om nuwe tendense te identifiseer, en dan kan jy na die klimaatsvoorspellers gaan om vir hulle te sê wat hulle moet karteer."
Pretorius sê dat TerraClim na haar mening 'n manier is om vrae te beantwoord. "Byvoorbeeld, die afwerking – skil verruwing – op Packhams in die Elgin-Grabouw-Vyeboom-Villiersdorp-area het oor die afgelope klompie jare vererger.
Packhams op 'n BP1-onderstam word dikwels op marginale gronde geplant – my indruk is dat daardie gestresde bome die ergste aangetas word. Maar ek wil data – soos uitpakke en primêre defekte – neem en TerraClim gebruik om te sien of daar 'n verwantskap is tussen afwerking, temperatuur en topografie. As daar nie is nie, kan ons na ander faktore begin kyk."
TerraClim modelleer tans slegs temperatuur, maar sal binnekort ook re'nval, relatiewe humiditeit en wind dek. Die doel, volgens Southey, is nie om toekomstige veranderinge te voorspel nie, maar om van bestaande data te leer. "Ek verkies retrospektiewe analise. Deel van die waarde van TerraClim is om te verstaan hoe 'n gewas op die klimaat reageer."
Navorsers het vertroue dat temperatuur vele fenologiese prosesse dryf, maar hulle is nie seker wat presies gemeet moet word om risiko te bestuur en besluite te neem nie. Dit kan dus vir 'n produsent moeilik wees om te weet wat die beste parameters vir besluitneming oor die vestiging van nuwe, of die bestuur van bestaande boorde is. Minimum, maksimum, of gemiddelde temperatuur? Ure bo of onder 'n sekere drumpelwaarde? En wat is die kritieke tyd van die jaar?
"Ek het TerraClim aan kernvrugprodusente demonstreer," sê Southey, "en hulle is opgewonde om hulle eie boorddata te neem, en dan masjienleer te gebruik om te identifiseer hoekom hulle peerproduksie in sekere areas geval het, of hoekom die kleur van Pink Ladies wonderlik in sekere areas is, maar nie in ander nie."
Pretorius is definitief een van die tegniese raadgewers wat die moontlikhede sien. "As jy byvoorbeeld Pink Ladies neem, dan plant ons beter seleksies van Cripps Pink omdat ons mededingend wil bly in buitelandse markte. Die waarde van TerraClim lê daarin dat dit ons kan lei na die beste plekke om ons verbeterde Cripps Pink te plant sodat ons die maksimum kleurontwikkeling op die vrugte kan kry."
Groot besluite benodig grootdata
TerraClim is een van die maniere waarop landbou die voordele van die inligtingsrevolusie kan ontgin, reken Pretorius. "Die voordeel van hierdie stelsel is dat die hele kernvrugbedryf kan inkoop en die databasis voer, sodat hierdie grootdata ons kan help om algoritmes te ontwikkel wat vir ons antwoorde gee."
Pretorius wys op die vordering wat die wynbedryf reeds met TerraClim gemaak het. "Hulle kan 'n area identifiseer en sê watter kultivar op watter onderstok die beste gaan wees vir daardie gronde. Ek reken ons kan dieselfde doen vir kern- en steenvrugte."
Die wynbedryf was die aanvanklike borge van TerraClim. Hortgro het in 2019 aan boord gekom met 'n projek om die Elgin-Grabouw-Vyeboom-Villiersdorp-area te karteer. Hortgro befonds ook 'n nuwe projek wat TerraClim uitbrei om die Langkloof- en Ceres-areas in te sluit. Om die stelsel aan die gang te hou sal egter afhang van befondsing om kostes soos dataverkryging en webwerfonderhoud te dek, om nie te praat van die tyd en kundigheid van die klimaatkundiges wat die sagteware ontwikkel nie.
Wat Pretorius aan betref, is TerraClim 'n goeie belegging. "Ek dink die bedryf moet die inisiatief neem om saam te staan en bekostigbare tegnologie vir voor-oesbesluitneming te ontwikkel. Ek hoop dat ons die hele bedryf in hierdie databasis kan betrek, sodat almal data kan bydra, en sodat ons iets kan ontwikkel wat ons almal help om meer volhoubaar te wees."
Related Posts
Restricted spring growth syndrome
Research reveals the impact of stressors on vascular tissues in young grapevines. By Anna Mouton…
Grapevine trunk diseases
What management strategies are available to table-grape growers and nurseries? By Anna Mouton “Grapevine trunk…