Nette in die boord van die toekoms
Lesse geleer uit Oak Valley en Paardekloof
Hortgro Science het onlangs die eerste Boord-van-die-Toekoms-projek voltooi. Die projek het die ontwikkeling van vier innoverende appelboorde – op Bokveldskloof, Graymead, Oak Valley en Paardekloof – vir ‘n dekade gevolg. Al hierdie boorde is teen hoë digthede geplant met bome op semi.dwergende of dwergende onderstamme. Deur Anna Mouton.
Die bevindinge van die Boord-van-die-Toekoms-projek word uiteengesitin die mees onlangse uitgawe van Fresh Quarterly, Hortgro Science se tegniese tydskrif. Hieronder volg ‘n samevatting van inligting ten opsigte van die gebruik van nette. Vir die volledige resultate, laai die Maart 2021 uitgawe gratis af by www.hortgro-science.co.za/fresh-quarterly/.
Read MoreOak Valley
Groener Grannies onder nette
“Granny Smith is ‘n baie hoë waarde-appel,” sê Graeme Krige, tegniese raadgewer by Fruitmax Agri, “maar hy’s grasgroen, hy’s uit. Dis nie die geval dat ligte sonbrand aanvaarbaar is nie.”
Dit is moontlik om sonbrand met skadunette te verminder – maar nette bevorder ook vegetatiewe groei ten koste van vrugproduksie.
“Daar was baie net-proewe op Grannies in die verlede, op ouer onderstamme, en daai proewe was ‘n mislukking,” sê Krige. “Die bome raak te geil. So ons het geweet ons het ‘n onderstam nodig wat meer reproduktiewe gedrag lewer en vegetatiewe groei beheer.”
Sukses met Granny Smith onder nette was moontlik danksy die semi.dwergende G.222.onderstam.
Die Boord van die Toekoms by Oak Valley, Elgin, het twee doelwitte gehad, volgens Krige. “Die een was om te sien of ons Granny Smith kommersieel onder nette kan verbou. Die ander een was om te sien of ons ‘n boord teen hoër digthede as normaal kan vestig.”
Om hierdie vrae te beantwoord is ‘n hektaar Granny Smith in 2012 op die semi.dwergende onderstam G.222 gevestig. Die bome is teen 3.5 x 1.2 meter geplant.
Die boord is aanvanklik met wit 20%-skadunet bedek, en die kante is met wit 40%-skadunet toegemaak. Die hoop was dat toe kante peste soos kodlingmot sou uithou. Alhoewel dit in ‘n mate suksesvol was, het die gebrek aan ventilasie ander probleme geskep. Die temperatuur en humiditeit binne die nette was aansienlik hoër as buite.
“Die eerste drie oeste het baie swak uitpakke gelewer,” onthou Neville van Buuren, kernvrug-produksiebestuurder by Oak Valley Estate. “Dit was teleurstellend.”
Die vrugte was geel eerder as groen, en het erg deurgeloop onder sonbrand. Gelyklopende droogte en hitte het nie gehelp nie. Gevolglik, ná die swak vrugkwaliteit van die 2017 oes, is die nette aan die kante van die boord verwyder.
Daarna het vrugkwaliteit noemenswaardig verbeter, en die boord-uitskot persentasie het meer as halveer met die volgende oes.
Krige wys daarop dat vorige net-proewe gedoen is op bestaande boorde wat reeds hulle volle volume bereik het. “Ons het wit nette verkies, want dit hou lekker lank en dis goedkoper. Maar toe kom ons agter, met bome wat nog hulle spasie vul, keer die wit net nie genoeg son vir ‘n Granny nie.” In die toekoms sou Krige eerder met ‘n grys net begin, en dit dalk met wit vervang wanneer dit uitgedien is.
Die skadunette in dié Boord van die Toekoms was vaste nette. Krige en Van Buuren is dit eens dat hulle vorentoe eerder intrekbare nette wil oprig. Intrekbare nette het baie voordele, insluitende dat dit beter toestande vir bye skep – nie dat bestuiwing ‘n probleem was in hierdie proef nie.
Intrekbare nette kan oopgemaak word ná oes sodat die bome maksimum sonlig kry vir die res van die seisoen. “Die bome baat ook by blootstelling aan ordentlike winterkoue,” sê Van Buuren. “Want dit bly maar altyd warmer onder die net, selfs in die middel van die winter.”
Sukses met Granny Smith onder nette was moontlik danksy die semi-dwergende G.222.onderstam. Die bome het van krag tot krag gegaan, volgens Krige. “Daar was nog nie . jaar – hou duim vas – waar ons hulle gesien oorslaan het nie. Hulle’s vol blomme elke jaar, selfs met ‘n net wat nie oopmaak nie.”
Paardekloof
Nette verseker die beste opbrengs
“Hoe meer appels jy in die uitvoermark sit, hoe meer geld verdien jy,” sê Willie Kotze, tegniese raadgewer by Dutoit Agri. “Jy gaan dit nooit wen deur jou produksiekoste te verlaag nie. En jy kan net eenkeer goedkoper plant.” Die vestiging van ‘n boord is ‘n eenmalige koste. Daarna kan mens verwag dat produksiekoste elke jaar net meer raak.
Die Boord van die Toekoms by Paardekloof het gemik om Klas 1-uitpakke te verhoog deur op dwergende onderstamme teen hoë digthede te plant. Die boord is in 2010 gevestig met Rosy Glow op MM.109.onderstamme en M.9 EMLA-tussenstamme. Bome is teen 3.5 x 1.25 meter geplant.
Produksie by Paardekloof word deur beide sonbrand en ysreën benadeel. Die Boord van die Toekoms het in derde blad onder ysreën deurgeloop. ‘n Net was duidelik nodig om die bome en die vrugte te beskerm.
In 2014 is die boord in drie verdeel. Een deel is bedek met wit 20%-skadunet en een deel met natuurlike 40%-skadunet. Die derde deel is oop gelos om te dien as kontrole. Kotze wys daarop dat beide tipes skadunet in realiteit ongeveer 10% skadu verskaf.
Vanaf 2017, toe die boord in vol produksie gekom het, is daar elke seisoen minder sonbrand op appels onder die nette as dié in die onbedekte kontrole. Daar is ook minder sonbrand as in ‘n vergelykbare konvensionele boord wat teen 4 x 1.5 meter geplant is. Daarby beskerm die nette die vrugte teen ysreën.
“Ons was altyd bang dat die vrugte nie gaan kleur onder die nette nie,” sê Kotze. “Maar ek dink daai hekkie het ons gespring. Die vrugte gaan nie kleur as die boom te dig is nie, maar as die boom oop is gaan jy meer as genoeg sonlig hê onder ‘n wit net. En baie min skade as gevolg van sonbrand óf ysreën óf wind.”
Data van 2017 wys dat 73% van die vrugte uit die Boord van die Toekoms onder wit 20%-skadunet in die Klas 1 Pink Lady.kategorie geval het, teenoor slegs 53% van die vrugte uit die onbedekte deel van die boord, en slegs 47% van die vrugte uit die konvensionele boord. Sedertdien het hierdie verskille kleiner geraak, maar daar kom nog steeds meer Klas 1 vrugte onder die nette uit as onder die onbedekte deel van die boord, en uit die konvensionele boord.
“Baie mense sê hulle wil nie met ‘n net plant nie, want dis te duur,” sê Kotze. “Ek sê dis te duur as jy sonder ‘n net plant, want jy’t met ‘n duur stelsel begin, en as jy nie beter uitpakke kry nie, omdat jy nie jou vrugte beskerm het nie, dan is jy eintlik baie slegter af as wat jy was.”
Lesse uit die Boord van die Toekoms het die span by Dutoit in staat gestel om ‘n finansiële model te skep waarin hulle die opbrengs van hoë-digtheid-aanplantings vergelyk met konvensionele boorde, met en sonder skadunette.
Langtermyn, indien ;n Rosy Glow boord in die Witzenberg nie onder nette is nie, en nooit deur ysreën getref word nie, is die kumulatiewe wins van ‘n konvensionele boord ongeveer R450 000 meer as dié van ‘n hoë-digtheid-aanplanting oor ‘n leeftyd van 25 jaar. Maar sit die hoë-digtheid-boord onder nette, en hy klop die konvensionele boord met omtrent R800 000, danksy beter uitpakke.
Hierdie is slegs sekere van die insigte uit die Boord van die Toekoms-projek. Vir volledige besonderhede oor Paardekloof se finansiële model en baie meer oor al die Boorde van die Toekoms, verwys na die Maart 2021 uitgawe van Fresh Quarterly.
Related Posts
Citrus biosecurity threats
This is the fourth instalment in our series on citrus biosecurity threats. By CRI Biosecurity…
Table-grape breeding in the genomic era
Genome editing has the power to revolutionise cultivar development, but South African growers are at…