
Wat leer die Langkloofons oor nette? – Drie produsente deel hulle ervarings
Verlede Desember het die Langkloof tussen Krakeel en Joubertina erge hael ervaar. “En die tweede rondte was vroeg in Januarie gewees,” vertel Johan Kotze, Oos-Kaap direkteur van Dutoit Agri, “van die oostekant van Haarlem tot by Misgund. Op Misgund het twee van ons plase onder die hael deurgeloop.” Deur Anna Mouton.
Nog hael het gevolg in Februarie, in die Louterwater-area. “Dit hael maar basies elke seisoen in een of ander deel van die Langkloof. Nie net in Desember nie – dit kan tot einde Maart kom,” sê André Kritzinger, sagtevrugteprodusent by Tulpieskraal Boerdery in die Joubertina-distrik.
Die risiko van haelskade het heelwat produsente lank reeds oortuig dat nette noodsaaklik is. Maar daar is verskillende menings oor die beste tipe nette.
Read More
Wat werk vir hael?
“Ons het in Desember hael gehad op die plaas Diepkloof,” sê Kritzinger. “Ek het nou al twee boorde gepak van daar, een met drapenette en een sonder. Ons het vir die boord onder die nette omtrent 80% uitvoer en 5% lokaal gepak, en daar was 15% sap. Ek sou sê net ongeveer 1% – 2% van die sap is haelskade. Die Packham-boord wat letterlik langsaan staan, en nie ‘n net het nie, het ‘n 37% uitpak gehad, en dit was net lokale vrugte gewees – die skade op die Packhams is als haelskade.”
Kotze rapporteer skade van 50% – 80% in boorde sonder nette op die twee plase waar hulle erge hael ervaar het. “Ons het hoofsaaklik drapenette op daardie twee plase, en die skade onder die nette was maar net 2%.” Die vrugte wat beskadig is, is dié aan die buitekant van die boom wat teen die net druk.
Daarby het Dutoit Agri ook hael gehad oor boorde onder vaste nette. Daar was geen haelskade op die vrugte onder die vaste nette nie. Dié hael was egter ligter as wat hulle elders gehad het.
Denne Strydom, produksiebestuurder by Giraffe Boerdery op Krakeelrivier, het die effek van verskillende tipes nette op dieselfde plaas waargeneem. “Ons het byvoorbeeld ‘n struktuurnet wat in die middel bietjie oop is en wat ‘n effense dakkie het. Ons het die 19de Desember ‘n redelike kwaai haelstorm gekry met winde, en die appels is onder daardie nette geslaan. Die hael het deur die gaping in die middel van die werkrye deurgekom.”
Strydom het egter geen skade gehad in ‘n boord wat heeltemal bedek is met ‘n vaste net nie. Hy reken die persentasie skade in boorde onder gedrapeerde nette was minder as 1%, en ook slegs in die vrugte wat teen die net sit.

Vaste nette vorentoe
Beide vaste en gedrapeerde nette verhoed sonbrand. Kritzinger skat hulle kry op kultivars soos Granny Smith en Golden Delicious ten minste 20% beter uitpakke mét nette as daarsonder, as gevolg van minder sonbrand. Uitpakke is ook beter op ander kultivars, sowel as op pere.
“Daar is baie minder windskawe, en jou groen pere is baie mooier,” sê Kritzinger. “Die intensiteit van die groen kleur is baie hoër onder die swart net. Veral vir die Verre-Ooste, het jy ‘n baie mooier gladde skil op veral groen pere onder ‘n net. Ons sit groen pere onder ‘n swart net en bi-colour pere onder wit nette.”
Kritzinger is vasbeslote om so gou as moontlik al hulle boorde onder nette te kry. “Ek sal nie weer ‘n boord plant sonder nette nie, of sonder konstruksie vir nette nie. Op nuwe aanplantings gaan ek vir vaste nette, en op my ouer aanplantings wat reeds gevestig is, drapenette.”
Kotze stem saam met Kritzinger. “Strategies het ons gesê ons moet ons nuwe aanplantings van hoë-waarde appelvariëteite onder vaste nette vestig. En ons is in die proses om stelselmatig die ouer boorde wat dit regverdig onder drapenette te sit.”
Die praktiese probleme verbonde aan ‘n struktuur oprig in ‘n bestaande boord tel teen vaste nette. Maar die koste van vaste nette is nog ‘n rede waarom produsente hulle eerder nie in ouer boorde wil gebruik nie.
Kotze voel dat, in die geval van nuwe boorde, die vaste nette nie regtig soveel duurder is nie. “As jy ‘n nuwe boord vestig, gaan jy ‘n opleistelsel moet opsit vir jou bome, of jy nou drapenette of permanente nette opsit.”
Kotze verkies vaste nette omdat dit makliker is om onder hulle te werk – veral belangrik in kultivars wat meer insette soos loofbestuur benodig en meermalig gepluk word. Hy wys ook op die gevare van ysreën rondom die blomperiode, wanneer gedrapeerde nette gewoonlik oop is.
Gedrapeerde nette is maklik om oop te maak vanaf oes tot na die vrugte die volgende seisoen uitgedun is.

Die saak vir gedrapeerde nette
Strydom is weer ‘n voorstander van gedrapeerde nette. Hulle het reeds vir ongeveer 10 jaar vaste nette op die plaas, maar het in die laaste twee jaar in erns begin gedrapeerde nette oprig. “Die pad vorentoe vir ons is definitief nie meer baie struktuurnette nie.”
Een argument ten gunste van gedrapeerde nette is dat dit maklik is om hulle oop te maak vanaf oes tot ná die vrugte die volgende seisoen uitgedun is.
Strydom verduidelik dat hulle pale plant en ‘n kabel span bo elke ry. Hulle hang die gedrapeerde net oor die kabel en rol die net op wanneer hulle dit wil oopmaak.
“Die hele omtrek van die net is dan seker maar omtrent 15 sentimeter. Ons maak hom vas om die kabel sodat die winde hom nie losmaak nie. Dis ‘n kwessie van ‘n dag, dan maak ek vier hektaar oop, baie maklik.”
Met die nette oop, kan die bome na.oes voordeel trek uit beide sterk sonlig vir die res van die seisoen, en volle koue deur die winter. Strydom beklemtoon die belangrikheid van oop nette vir bestuiwing in die lente. “Bye werk nie regtig onder nette nie. Hulle gaan slegs op die punte in -jy kan maar gaan kyk hoeveel swakker is jou vrugset in die middel van die boord.”
Volgens Strydom moet vaste nette voldoende openinge hé vir bye, en moet ook ten minste 1.2 meter hoër wees as die boomhoogte, sodat bye oor die rye kan beweeg.
Strydom gee toe dat hael voor uitdun skade kan veroorsaak, maar dink nie dit is genoegsame rede om vaste nette te verkies nie. “‘n Boer met vrugte moet ook maar hier en daar ‘n risiko vat. Jy moet die pros en cons baie mooi teen mekaar opweeg, wat is voordelig en nadelig.”
Alhoewel produsente in die Langkloof nie 100% saamstem oor watter tipe net die beste is nie, is hulle eens dat nette ‘n moet is. “Ons het vir die volgende seisoen nog 40 hektaar nette by aangekoop,” sê Strydom, “en ‘n ander vriend van ons het nog 60 hektaar bygekoop. Al sy draende boorde gaan toe wees met nette – drapenette.”
Nog iets waaroor niemand stry nie, is dat gedrapeerde nette vrugte effektief teen hael beskerm. “‘n Drapenet werk net so goed soos ‘n vaste net vir hael. Ons het vantevore ook hael gehad op drapenette en ons het toe ook gesien dat dit werk,” sê Kritzinger. “Ek glo verseker dat nette die toekoms van vrugteboerdery is.”
Related Posts
Improved control of sour rot on citrus
Exploring potential fungicide solutions for improved control of sour rot on citrus. By Meagan van…
Extension briefs for February and March 2025
By Hannes Bester, MC Pretorius, Wayne Mommsen, Coenraad Fraenkel, André Combrink, Natasha Jackson, Jan Landman,…