Is nette noodsaaklik? – Bedryfkenners deel hulle insigte
Die produksie van steen- en kernvrugte onder nette neem vinnig toe – maar is nette die antwoord vir alle boorde? Ses bedryfskenners vertel meer oor hulle praktiese ervarings met nette. Deur Anna Mouton
Wie benodig nette?
“Jy moet bepaal wat is die kommoditeit en wat is die doel. Jy kan nette opsit vir hael of ysreën, of vir sonbrand, of vir windskade,” sê Charl Stander, landboukundige raadgewer by Franschhoek Marketing. “Die pionierswerk op nette is in die noorde van die land gedoen, hoofsaaklik vir hael op perskes en nektariens.”
Meeste mense stem saam dat nette onmisbaar is in areas waar hael en ysreën gereeld voorkom. “As jy nie haelnette opsit nie, kan jy maar ophou,” beaam Daan Brink, tegniese raadgewer by Fruitmax Agri.
Haelnette is tipies vaste nette wat deur permanente strukture ondersteun word. Haelnette word gewoonlik in gewels opgerig waarvan die hoogste punt bo-oor die ry is, sodat die hael kan grond toe val in stede daarvan om op die net te versamel.
Brink kontrasteer nette vir hael met nette vir sonbrand. “Vir hael soek jy ‘n net wat so lig van kleur as moontlik is, want hy moet so lank as moontlik oor die boom wees, en hy gaan gewoonlik jou hoë-waarde gewasse bedek – jy soek so min as moontlik invloed op rooi kleur. Vir sonbrand op groen variëteite soek jy ‘n donkerder net om soveel as moontlik sonbrand te keer.”
Read MoreSonbrand kan die opbrengs van uitvoergehalte vrugte afbring na so min as 40% in vatbare kultivars soos Granny Smith. “Sit ‘n net op, dan skuif ons die uitpakke na 85% – ons het al 95% uitpakke gehad,” së Brink. “En jou vrugkwaliteit verbeter ook dramaties. Die vrugte is groener.”
Nette vir sonbrand kan vaste of gedrapeerde nette wees. Gedrapeerde nette – soos die naam aandui – word oor die boom gehang in plaas daarvan om deur pale en draad ondersteun te word.
Sonbrand raak ook pruime, maar die hoofsaaklike rede vir nette by pruime is eerder windskade. “Ek het so 15 hektaar nette laat opsit om windskade te keer, want ons kan net nie meer bekostig om vrugte te produseer wat ons nie kan bemark nie,” vertel landboukundige raadgewer Petru du Plessis oor sy eie boorde in Stellenbosch. Nette het sy opbrengs van uitvoergehalte vrugte met 10% – 12% verhoog.
Wat is die uitdagings?
Koste is duidelik ‘n nadeel. Maar die kenners is dit eens dat nette vir hulself betaal indien dit reg gebruik word. Landboukundige raadgewer Anton Mler staaf dit met data van proewe wat hy met gedrapeerde nette op Granny Smith gedoen het.
“As jou opbrengs by 60 ton lê, dan kan jy R100 000 ekstra maak per hektaar met jou net, en jou gedrapeerde net kos jou ook ongeveer R100 000. In een jaar betaal jy die net klaar, en hy hou 12 – 15 jaar. Dis ‘n fenomenale belegging,” sê Mler. “So jou vraag is nie hoeveel kos dit nie, maar hoeveel geld kry ek terug daarmee.”
Boorde onder vaste nette moet versigtig bestuur word, aangesien die bome meer geil groei. Dit is egter ’n pluspunt wanneer nuwe boorde onder nette gevestig word.
“Die groei wat jy uit jou bome kry is soveelbeter,” sê Brink. “Die voordeel is dat, die dag as jy in produksie kom, het jy hoër produksie, want jou boom is groter.”
Die gevaar van te veel vegetatiewe groei in ouer bome is verminderde produksie. “Iemand wat nette oor pruime oorweeg moet baie skerper wees op sy somersnoei,” meen Du Plessis. “Ek dink iemand wat nette gebruik, maar wat nie hulle somerloofbeheer optimaal doen nie, se bome gaan later onvrugbaarheid ontwikkel.”
Die uitwerking van nette op ontwikkeling van kleur kan positief – byvoorbeeld groener Grannies – of negatief wees. Brink wys daarop dat produsente rooi kleur in appels prysgee onder nette, maar dat die effek kleiner is onder wit of deurskynende nette. “Dit wat jy wen moet groot genoeg wees om daai kleurverlies te regverdig,” sê Brink. “Maar die nuwe kultivars se kleur is so ongelooflik dat jy al baie meer wegkom met die bietjie kleur wat jy verloor.”
Sommige produsente reken ook dat appels effens kleiner is onder gedrapeerde nette. Brink glo dat dit moontlik veroorsaak word deur te veel besproeiing, te min vrug.uitdunning, of te geil vegetatiewe groei.
Die ontwikkeling van kleur in pruime kan ook swakker wees onder nette. Pruime is egter geneig om groter, eerder as kleiner, te wees onder vaste nette.
Sonbrand kan die opbrengs van uitvoergehalte vrugte afbring na so min as 4O% in vatbare kultivars.
Los of vas?
Daar was in die verlede ‘n siening dat vaste nette beter is vir beskerming teen hael- en windskade. Dit blyk egter dat gedrapeerde nette ook baie goed werk hiervoor – lees meer oor die ervarings van produsente in die Langkloof in ons artikel op bladsy 62.Beide vaste en gedrapeerde nette is bruikbaar vir die beheer van sonbrand.
Vaste nette is beskikbaar as sogenaamde intrekbare nette, wat oopgemaak kan word sodat bome ten volle aan lig blootgestel is. Intrekbare nette is duurder as nie.intrekbare nette.
Intrekbare nette word aanbeveel vir bestuiwingsdoeleindes in pruime. “Jou nette en jou bye is nie versoenbaar nie,” sê Stander. Blomknopontwikkeling is swakker onder nette wat kan lei tot verminderde vrugbaarheid en kleiner oeste oor die loop van verskeie seisoene.
Stander is ten gunste van intrekbare nette wat oopgemaak word sodra die oes af is, en oop bly tot ná bestuiwing voltooi is. “As dit ‘n net is wat nie kan oopmaak nie, moet jy redelike hoogte hê, sodat die bye oor die rye kan beweeg,” sê Stander.
Produsente in areas met sneeu behoort ook eerder intrekbare nette op te rig. “Dis ‘n fout wat ons al gemaak het,” vertel Willie Kotze, tegniese raadgewer by Dutoit Agri. “As jy in ‘n sneeu-area is moet jy maar kyk dat jou nette kan oop- en toemaak, anders het jy die risiko dat die hele ding platval. Dis nou nie so lekker nie.”
Gedrapeerde nette word deur die boom ondersteun, so ‘n duur struktuur is nie nodig nie. Is dit nie dalk ‘n beter opsie as vaste nette vir sonbrand nie? Dit hang af, volgens Mler. “Waar boer ek? As ek in die Grabouw.omgewing boer is daar nie regtig ‘n rede vir ‘n vaste struktuur nie – sonbrand is net sekere tye van die jaar ‘n risiko. Maar as ek hael het, is die risiko vir ‘n baie langer tydperk.”
Gedrapeerde nette is veral nuttig vir ouer bome. Mler se oorspronklike navorsing oor gedrapeerde nette was juis na aanleiding van ou Granny Smith-bome. “Hulle oes was daarmee heen as gevolg van sonbrand en almal sê jy moet hulle uithaal. Maar die mark skree vir Grannies. As ‘n net kan help om die vrugte te red, kan ons daai boorde vir baie jare nog hou.”
Is die net se kleur belangrik?
Wiehann Steyn, algemene bestuurder van Hortgro Science, beveel aan dat produsente bly by eenkleurige nette .swart, grys, wit, en deurskynend. Die verskil tussen hierdie skakerings is die hoeveelheid lig wat elkeen deurlaat.
Steyn beklemtoon dat produsente duidelikheid moet hê oor wat die probleem is wat die net moet oplos. Is dit sonbrand op Grannies? Oorweeg ‘n swart of grys net. Bekommerd dat ‘n swart net die produktiwiteit van Goldens gaan benadeel? Dan is ‘n grys net dalk ‘n beter opsie. En vir skade wat nie deur lig veroorsaak word nie – byvoorbeeld hael – kyk na wit of deurskynende nette.
“Die een ding wat ons in die toekoms in ag gaan moet neem is die impak op die omgewing,” meen Steyn. “Die visuele impak. Kyk na ander wêrelddele waar kleur van nette ‘n groot ding is, byvoorbeeld Suid-Tirool, Italië. Swart nette is al wat hulle toelaat vir die visuele impak op die omgewing.”
Steyn voel dat swart dalk te veel lig sou keer in die geval van bloskultivars, maar hy dink dat grys ‘n goeie middelweg bied. “Dit is miskien minder visueel steurend as ‘n wit net, maar gee nie te veel skaduwee nie.”
Plaagbeheer onder nette
“As daar ‘n pes is en jy maak hom toe onder ‘n net dan gee hy vir jou probleme,” waarsku Brink. “Jou monitering moet meer wees. Ek verwag meer peste en plae onder nette, maar dit wat ons waargeneem het is dat spuitkondisies onder vaste nette beter is, sodat dat ons beter beheer kry.” Dit is ook moontlik om met behulp van hoër lugvolumes doeltreffend te spuit deur gedrapeerde nette.
Vrugtevlieë en valskodlingmotte blyk minder talryk te wees onder nette.
Produsente moet bedag wees daarop dat chemiese middels stadiger afbreek onder nette. “Die markte is fanaties oor residu’s,” sê Stander. “So jy moet jou aanpassing maak dat jy betyds ophou om ‘n sekere produk te spuit. Jy moet dalk ‘n paar dae vroeër ophou met jou program.”
Stander wys ook op die gevaar van residu’s in gedrapeerde nette. “Die spuit akkumuleer in die nette en nou raak hy aan ‘n vrug en dra ‘n residu oor.” Stander het al soortgelyke probleme gesien in die verlede met chemiese middels wat vanaf kratte na vrugte oorgedra is.
Jou vraag is nie hoeveel kos dit nie, maar hoeveel geld kry ek terug daarmee.
Wat lê voor vir nette?
Dit blyk seker te wees dat die aantal boorde onder nette verder sal toeneem. Maar volgens Kotze kan sekere tekorte die uitbreiding strem. “Dis ‘n groeiende industrie en ons het nie altyd genoeg kontrakteurs wat die nette kan opsit nie. En die ander beperking is onderstamme.”
Kotze verduidelik dat die sukses van appelbome onder nette afhanklik is van dwergende onderstamme. “As jy op die verkeerde onderstam is, dan kry jy te veel groei, en as jy te veel groei kry, dan verloor jy jou vrugbaarheid. Ons het nou maar eers onlangs begin om meer dwergende onderstamme te plant. Omdat ons nou op die regte onderstamme is, kan ons die bome onder nette sit sonder om die vrugbaarheid van die bome te verloor.”
Die uitdaging is om genoeg bome op dwergende onderstamme in die hande te kry om nuwe boorde onder nette te kan plant. “As ons 10% van ons boorde onder nette wil hê, dan moet ons elke jaar daai 240 hektaar onder nette plant. Ons kwekerye het nog nie soveel dwergende onderstamme nie.”
Klimaatsverandering gaan waarskynlik vir nette ‘n verdere hupstoot gee. Nette verlaag die waterbehoefte van bome, maar dis nie duidelik met hoeveel nie. Navorsing wat in Australië gedoen is, het verminderings van tot 25% gevind, maar ‘n studie wat deur Hortgro en die Waternavorsingsraad befonds is, het besparings van slegs 15% berig.
“Die studie was in die matige Witzenbergvallei,” sê Steyn. Die waterbesparings gaan meer wees onder meer uiterste klimaatstoestande.
Stander is positief oor die uitbreiding van nette. “Gegewe die newe-effekte van die droogte in die Klein Karoo, en die produsente wat nou alles moet doen om weer inkomste te genereer, gaan nette ‘n baie meer prominente rol begin speel. As water ‘n beperking is op nuwe aanplantings, dan moet jy dit wat jy het opstoot. Jy gaan moet sorg dat jou uitpakke verhoog en hoe doen jy dit? Deur jou windmerke en sonbrand te verminder.”
Related Posts
Predatory Mites Not All Mites Are Equal
Knowing your mites protects your crop. By Davina Saccaggi (CRI), Edward A. Ueckermann (NWU), Elleunorah…