Hitte-uit putting
Die swak Japanese pruimoes in 2019/20
Die Japanese pruimoes vir die 2019/20 seisoen was teleurstellend. Uitvoere was ongeveer ‘n kwart minder as wat mens sou verwag, gegewe die produksie-potensiaal. “Ek het een van die plaasbestuurders gevra hoe die Angeleno-oes toe was,” vertel Wiehann Steyn, assistent algemene bestuurder van Hortgro Science. “Hy het gesê hy sou waarskynlik al hulle Angeleno-boorde se vrugte in sy een sak kon druk en wegloop daarmee.” Deur Anna Mouton
Angeleno was tot onlangs die tweede grootste kultivar gemeet aan uitvoervolumes – en Angeleno was nie die enigste kultivar wat kortgekom het nie. Wat het skeef geloop? En hoe kan produsente verhoed dat dit weer gebeur?
Lentekoors
Verskeie faktore het bygedra tot die gebrekkige pruimoes, maar swak vrugset blyk die belangrikste te wees. Probleme met set was die ergste in warmer areas. Die Boland het relatief lig daarvan afgekom terwyl die Klein-Karoo beduidende verliese gelei het. Temperatuurdata vir die Robertson-omgewing wys dat die lente van 2019 snikheet was. Die vroegste dag met temperature bo 30 °C was 21 Augustus – in 2018 was dit eers ’n maand later op
24 September. Op 8 Augustus 2019 het temperature 35.5 °C bereik en op 26 September 2019 het temperature gestyg na 37.8 °C. Benewens hierdie spitstemperature was daar ook verskeie hittegolwe waartydens temperature buitengewoon hoog was vir meer as twee opeenvolgende dae. Meeste deskundiges glo dat hoë temperature tesame met lae humiditeit gedurende blom die hoofoorsaak was van swak vrugset. Lae humiditeit benadeel bestuiwing deur die stuifmeel en stempels uit te droog. Hoë temperature verminder die kanse vir bevrugting deur die lewensduur van die eiselle te verkort. Prof. Karen Theron hou die Hortgro Leerstoel vir Toegepaste Vooroes Sagtevrugtenavorsing by Universiteit Stellenbosch. Sy verwag dat die lewensduur van eiselle sal begin afneem by temperature bo 25 °C. Hoë temperature het ook ’n negatiewe uitwerking op ontkieming van stuifmeel.
Volgens Theron kan ’n hittegolf voor volblom ook skade berokken. “Van die belangrikste differensiasie van ’n blom vind plaas in daai twee na drie weke voor volblom, want dan vorm die stuifmeel en die eisel eers.”
Die lente van 2O19 was snikheet
“Sommige kultivars het hulle blomme gemaak, maar as jy van nader gaan kyk
het dan was daar geen vroulike organe in daai blomme gewees nie,” bevestig Charl Hörstmann, steenvrug-evalueerder by Provar. “Die vrugbeginsel was heeltemal afwesig. Daar’s nie ’n kans dat daar ’n vrug uit daai blom uit gaan kom nie.” Warm weer kan probleme veroorsaak, selfs na volblom. Sommige produsente
het berig dat blare en blomme gelyktydig ontwikkel het – ’n sogenaamde groen blom. Die gevolg van ’n groen blom is dat jong vruggies kompeteer met geil vegetatiewe groei in die warm dae na volblom. Sterk kompetisie verhoog die risiko dat die boom vruggies afgooi.
Die blomme en die bye
Die herfs en winter van 2019 was ook warmer as gewoonlik. “As jy in die
herfs stres het terwyl die blomknoppe differensieer, kan dit ook ’n negatiewe effek op hulle kwaliteit hê,” verduidelik Theron. “En as jy ’n baie warm winter het, brand die boom sy reserwes op en eindig op met minder reserwes as na ’n koue winter,” sê Steyn. “In party gevalle mag dit dalk net te min wees. Veral as jy nog ’n boord gehad het wat droogtestres gekry het die laaste paar jaar.”
Gebrekkige winterkoue kan die blomtyd van sekere kultivars verander
Gebrekkige winterkoue kan daarby veroorsaak dat die blomtyd van sekere kultivars verander. Kultivars wat gewoonlik saam sou blom mag dalk eindig met geen oorvleueling na ’n warm winter nie. “Van ons oorsese kultivars met ’n hoë koue-behoefte gaan meer geneig wees om te skuif, terwyl kultivars wat ’n laer koue-behoefte het, minder geneig gaan wees om te skuif,” sê Theron. Verandering in blomtyd kon bygedra het tot swak kruisbestuiwing in 2019. Theron stel voor dat produsente dit oorweeg om drie kultivars per boord te plant as versekering teen wispelturige blomtye. Swak bestuiwing word ook toegeskryf aan onvoldoende bye-aktiwiteit. “Elke paar jaar, veral in die Robertson-area, kla produsente dat die bye nie op die pruime wil werk nie,” vertel byekenner Mike Allsopp van die Landbounavorsingsraad. Allsopp het van byeboere en produsente verneem dat die bye wel minder aktief was op sekere pruimkultivars in 2019.
Hy glo dit is omdat die bye meer lonende voedselbronne elders kon vind. Pruimkultivars word nie geteel om bestuiwers te lok nie en sommige kultivars verskaf weinig nektar. “Die warm weer sou ook die nektar in die blomme vinniger laat uitdroog het wat die pruimbloeisels nog minder aantreklik maak vir die bye.”
Ander faktore wat tot die mislukte vrugset kon bygedra het, sluit oormatige gebruik van rusbreekmiddels in. Maar nie almal wat swak set ervaar het, het rusbreekmiddels gespuit nie. Steyn is oortuig dat die hitte in laat winter en vroeë lente die dryfveer was van die swak set in die 2019/20 seisoen. “Die langtermyn oplossing is natuurlik om kultivars te hê wat minder sensitief is,” beklemtoon hy. “Die aanpasbaarheid van die kultivar is baie belangrik en dit is inligting wat mens moet begin beskikbaar maak aan produsente.”
Swak vrugset in sekere Japanese pruimkultivars tydens die 2019/20 seisoen was kommerwekkend vir baie produsente. Hierdie artikel, sowel as die volgende een, oor vrugset in Japanese pruime
het oorspronklik in Engels verskyn in die September 2020 uitgawe van Fresh Quarterly, Hortgro Science se tegniese tydskrif, as deel van ’n pakket oor vrugset. Vir meer oor vrugset, insluitende in kernvrugte, besoek ons webwerf by www. hortgro-science.co.za/fresh-quarterly/ en laai die Fresh Quarterly gratis af.