’n Produsent se perspektief op pruimset
Grant Smuts van Smuts Brothers Agri deel sy insigte
Verlede seisoen was weereens ’n moeilike een vir pruimprodusente. Ons gesels met Grant Smuts van Smuts Brothers Agri oor die swak pruimset sowel as praktyke om bestuiwing te verbeter. Smuts Brothers Agri besit verskeie plase in hoofsaaklik die Breederiviervallei. Hulle verbou steenvrugte, wyndruiwe, sitrus, groente en avokado’s. Deur Anna Mouton
V
Wat is na jou mening die hoofrede vir swak set in sekere
A
Dit staan duidelik uit dat dit gegaan het oor weersomstandighede gedurende laas jaar se setperiode. Ons het vir vier dae abnormale warm weer gehad. Die kultivars wat in daai warmte geblom het, het die swakste geset. En ander kultivars wat buite daai vensters geblom het, het eintlik redelik goed gedoen. Maar daar’s soveel veranderlikes
as dit gaan oor wat ‘n suksesvolle set bepaal. ‘n Mens moet teruggaan na die droogtetydperk toe, want ek dink baie min mense kon die ideale waterhuishouding handhaaf met die beperkte water wat ons gehad het. As jy vanjaar nie goeie water het nie gaan jou oes daaronder ly – maar hy gaan vir ‘n tydperk daarna ook ly. So, moenie dink dis ‘n af-jaar vanjaar as gevolg van ‘n watertekort nie, maar dat volgende jaar weer ‘n aan-jaar gaan wees nie. Daar is nagevolge. Ek glo dit kan ook ‘n faktor wees.
V
Was swak bestuiwing dalk nog ’n faktor?
A
Volgens my was die bye nie aktief genoeg op die pruime nie. Dit help nie die korwe staan op die ent van jou rye nie, en jy kyk as jy in die bakkie verby ry en sien dat die bye buitekant daai korwe aktief is nie. Jy moet in die boord instap en gaan waarneem of die bye op die blomme is. Die bye kan aktief wees, maar hulle werk op ‘n ander plek. Ons het al in die verlede die volle volume bye ingebring en dan kry ons nie bye op die bome nie – oor al die ander aanloklike blomme soos bloekombome, portjacksonbome en veldblomme in die omgewing. Jy moet mooi kies wanneer jy bye inbring. Dit help nie jy raak te haastig en daar is nie genoeg volume blomme in die boord om die bye daarheen te trek en daar te hou nie. Sekere boorde blom vroeër as ander en selfs binne ‘n boord sal jy dele kry wat bietjie vroeër is. So, ons bring nie net een keer ‘n lading in nie. Ons bring die helfte van die volume bye in en dan oor vier of vyf dae bring ons die tweede sarsie in.
Jy moet mooi kies wanneer jy bye inbring
V
Wat is julle praktyke rondom kruisbestuiwers?
A
Ons plant tot drie kruisbestuiwingkultivars in ’n kommersiële boord. Die seisoene verskil
– een jaar gaan een miskien bietjie vroeër blom, maar as jy drie het waar een vandag begin blom en die volgende een oor vyf dae en die ander een nog vyf dae later, dan dek jy daai hele venster. Ons plant nou partykeer tot elke agste boom as ’n kruisbestuiwingsboom. Dis ’n bestuursuitdaging, veral oor die chemiese middels wat ons gebruik, indien ons die kruisbestuiwer se vrugte wil oes en bemark. As jy byvoorbeeld ’n sekere middel gaan gebruik en een van daai kruisbestuiwers is baie vroeg, dan gaan jy ’n residu-probleem hê.
V
Sien jy klimaatsverandering as ’n bedreiging vir julle boerdery?
A
Ons is ’n bietjie bekommerd daaroor. As mens na statistieke kyk dan sien jy hoe temperature op ’n jaarlikse basis verander en dit warmer raak. Wat vir my baie bemoedigend is, is dat ons temperature vanjaar baie beter is. Ons is baie opgewonde, want as jy kyk na die winter wat ons nou beleef het, is dit soos ons hom onthou. So, moenie ‘n fout maak nie, ek glo dis aardverwarming en ek weet ons verniel baie dinge wat nie so moet wees nie, maar ek dink nie ons gaan in my leeftyd van ‘n tyd van oorvloed met water en ‘n tyd van ideale temperature na ‘n tydperk waar dit ‘n woestyn is nie.
Ons moet kultivars plant wat aangepas is
Wat ons moet doen is om seker te maak dat ons kultivars plant wat aangepas is. Ek glo ons is absoluut as bedryf op die regte pad met die Pro-Hort program, dat ons ’n baie beter siftingsproses toepas sodat produsente nie vingers verbrand nie. Ek dink hoe gouer alle invoerders of propageerders van ingevoerde plantmateriaal die konsep van ’n Provar gebruik, hoe beter vir ons hele bedryf. Dis kardinaal dat ons as produsente eers bewys het van wat die prestasie van daai nuwe kultivar is onder verskillende omstandighede, en so ook in verskillende plekke.
V
Hoe het julle die ontwrigting as gevolg van COVID-19 ervaar?
A
Dankie tog dat ons eerstens ‘n noodsaaklike diens is, so ons kon aangaan. Ons het nou wel ons permanente mense vir drie weke op verlof gesit maar ons kon met kontrakteurspanne aangaan. So ons kon klaar oes. Maar wat ek ook wil sê is, dankie tog vir ons bedryfstrukture soos Hortgro, CGA, Vinpro en andere. Want die strukture is in plek en word beheer deur produsente. Daar kon gedurig onderhandelinge plaasvind, probleemkolle is onmiddellik geïdentifi seer en daar’s alternatiewe reëlings getref om die vloei aan die gang te hou. En ek dink ons het eintlik baie goed daardeur gekom.