Skip to content
Kruisbestywing
December 2020 / January 2021

Vyf faktore wat vrugset beïnvloed

SA Fruit Journal: December 2020 / January 2021

Die rampspoedige set in sekere Japanese pruimkultivars in die 2019/20 seisoen was buitengewoon, maar swak set kos die bedryf elke jaar. Vier deskundiges gee raad oor hoe produsente volgehoue goeie set kan behaal: Mike Allsopp, bestuiwingspesialis by die Landbounavorsingsraad; Petru du Plessis, landboukundige en steenvrugprodusent; Prof. Wiehann Steyn, assistent algemene bestuurder by Hortgro Science; en Prof. Karen Theron, Hortgro Leerstoel vir Toegepaste Vooroes Sagtevrugtenavorsing by die Universiteit Stellenbosch. Deur Anna Mouton

1. Kruisbestuiwing

Japanese pruime benodig kruisbestuiwing. Die kruisbestuiwer en die hoofkultivar moet terselfdertyd blom. Hou in gedagte dat die blomtyd kan wissel na gelang van temperature in die winter en lente. Kultivars moet dus verkieslik dieselfde koue- en hitte-behoefte hê vir goeie kruisbestuiwing. Die risiko van wisselvallige blomperiodes kan verder verskans word deur twee kruisbestuiwers in plaas van een te plant. Sommige pruimkultivars is nie verenigbaar nie, as gevolg van hulle genetika. Onafhanklike kultivar-evaluasie-maatskappy Provar het saam met molekulêre-genetika-diensverskaffers CenGen gewerk om te bepaal watter kultivars mekaar kan kruisbestuif. Die tabelle in hierdie artikel is te danke aan hulle navorsing. Produsente word aangeraai om sover moontlik kultivars te plant wat ten volle verenigbaar is. Die verhouding tussen kruisbestuiwers en die hoofkultivar is belangrik. Te min kruisbestuiwers sal lei tot teleurstellende vrugset. Sommige kultivars set makliker as ander, so wees versigtig vir ’n vaste persentasie kruisbestuiwers in elke boord. Een kruisbestuiwer tot elke nege hoofkultivarbome is die standaard in die bedryf, maar sommige deskundiges beveel ’n minimum van een kruisbestuiwer tot elke drie hoofkultivarbome aan. Gebruik die hoër getal vir kultivars wat traag is om te set. Beter bestuiwing mag ook behaal word deur kruisbestuiwers in elke ry te plant. Bye is geneig om in die ry af eerder as tussen rye te beweeg.

2. Bye

Bloeisels van Japanese pruime is wit en bevat relatief min nektar. Bye verkies ander lente-blomme soos fynbos en selfs onkruid. Bye verken die area binne ’n drie-kilometer-radius van die korf en bepaal waar die mees lonende voedselbronne is – dikwels is pruime nie hulle gunsteling nie. Die suikerkonsentrasie in die nektar van verskillende pruimkultivars kan soveel as tienvoud verskil. Pruimstuifmeel is ook nie baie aantreklik vir bye nie. Bye sal goedgelowig op pruime werk wanneer die korwe aanvanklik in die boorde geplaas word. Maar hulle sal ophou daarop werk sodra hulle ’n beter voedselbron identifiseer. Produsente is geneig om korwe te vroeg in te bring – teen 10% volblom – wat die bye noodsaak om ander blomme te soek. Bring eerder die helfte van die korwe teen 30% volblom in en die res teen 90%. Dit is ook ’n goeie plan om korwe in sarsies elke sewe tot 10 dae in te bring, veral vir kultivars waarop bye swak werk. Om groot getalle korwe eenmalig in die boord te plaas is minder effektief as om nuwe bye in sarsies in te bring. Nette benadeel bye omdat die nette ultrvioletlig uitskakel wat bye gebruik om hulle pad te vind. Gevolglik verdwaal bye onder nette. Die ideaal is om die nette oop te maak terwyl die bye werk. Windskade behoort nie ’n probleem te wees nie indien die nette toegemaak word sodra vrugset plaasvind. Moenie korwe onder permanente nette plaas nie. Sit eerder die korwe ongeveer ’n 100 meter weg en laat die bye vanself na binne vlieg. Korwe moet in lyn met die openinge in die net wees. Bye sal nie ver onder nette invlieg nie. So aaneenlopende nette behoort verkieslik nie wyer as 300 meter te wees nie, met toegang vir die bye aan beide kante. Rig nette so hoog moontlik op om die impak op die bye te versag. Bye werk beter wanneer hulle nie onder stres verkeer nie. Vind ’n warm, beskutte plek vir hul korwe waar mense en masjinerie hulle nie gaan pla nie. Onthou dat bye nie lief is vir wind of reën nie en minder produktief raak by uiterste temperature.

3. Blomkrag

Die grootte en kwaliteit van die oes is direk verwant aan blomkwaliteit. Die eiselle van beter kwaliteit bloeisels leef langer en het dus ’n langer tydperk waarin bevrugting kan plaasvind. Daarby is beter kwaliteit bloeisels geneig om in groter vrugte te ontwikkel. Blomme begin vorm in die somer van die vorige jaar. Enigiets wat die boom se reserwes uitput tydens die maande waarin die blomme ontwikkel sal blomkwaliteit benadeel. Bome wat swak blom in een seisoen mag so geil groei dat knopvorming en gevolglik blom in die volgende seisoen ook swak is. Uitputting van reserwes kan op hierdie wyse lei tot meer as een jaar se swak set. Wees versigtig vir oeste wat te swaar
is, veral in jong bome. Bemesting en besproeiing na oes is belangrik – voldoende stikstof sal die boom aanmoedig om so lank moontlik sy blare te hou en reserwes op te bou. Beheer peste en siektes sodat die boom nie sy blare vroeg afgooi en sodoende blomkwaliteit in die lente prysgee nie. Die eiselle en stuifmeel is die laaste blomdele wat ontwikkel. Hittegolwe rondom blomtyd kan voorkom dat die bloeisels vrugbaar is en kan lei tot mislukte vrugset. Sommige produsente het al sukses behaal met verdampingsverkoeling om die impak van hitte op knoppe en bloeisels te versag. Hierdie tegnologie benodig egter groot volumes hoë kwaliteit water.

Pruimkultivars en moontlike kruisbestuiwers in volgorde van blomtyd van vroeg tot laat

Logo South African Table Grape Industry

4. Boordbestuur

Pruimbloeisels gaan gewoonlik oop voordat blare begin groei. Kultivars met
’n hoë koue-behoefte is meer geneig tot gelyktydige blom en vegetatiewe groei – die sogenaamde groen blom. Dit verhoog kompetisie tussen vruggies en vegetatiewe groei en kan set verminder. Hierdie probleem kan deur rusbreekmiddels vererger word. Eenjarige hout kan met die ringsnit verwyder word om vrugset te verbeter. Ringsnitte moet voor blom gemaak word. Die punte van nuwe lote kan ook uitgeknip word om kompetisie met vruggies te verminder. Bome onder nette sal voordeel trek uit die verwydering van die nette na oes. Meer lig bevorder die ontwikkeling van knoppe en die opbou van reserwes.

5. Kultivarseleksie

Genetika beïnvloed blomkwaliteit en hoe maklik ’n kultivar bestuif kan word. Bestuur kan die volle potensiaal van ’n kultivar ontsluit, maar selfs die beste bestuur in die wêreld kan nie die genetiese beperkinge van ’n kultivar oorkom nie. Kultivarseleksie is dus die sleutel tot sukses met vrugset. Kultivars met hoë koue-behoeftes kan sukkel met vrugset in warmer areas as gevolg van wisselende en uitgerekte blomtye, sowel as vroeë blaargroei relatief tot blom. Kultivars wat vroeër blom het ’n beter kans om hittegolwe in die lente vry te spring. Japanese pruime – veral sekere kultivars – is nie aanloklik vir bye nie. Bye sal beter werk op kultivars wat baie nektar en nektar met meer suiker produseer. Dit sal help om bestuiwing en vrugset te verbeter. Vir die meeste Japanese pruime is die effektiewe bestuiwingsperiode en die aanpasbaarheid van verskillende kultivars onbekend. Dit is noodsaaklik dat seleksie en evaluasie van toekomstige kultivars ag slaan op hierdie eienskappe sodat produsente ingeligte besluite kan neem oor watter kultivars om aan te plant.

Wat is ʼn effektiewe bestuiwingsperiode?

Bestuiwing is die oordraging van stuifmeel vanaf die helmknop na die stempel. Die stuifmeel ontwikkel hierna ’n stuifmeelbuis wat afgroei na die eisel. Bevrugting vind plaas indien die stuifmeelbuis die eisel bereik terwyl daardie eisel nog lewensvatbaar is. Die effektiewe bestuiwingsperiode is die verskil in die lewensduur van die eisel en die tyd wat dit neem vir die stuifmeelbuis om af te groei. Eiselle met kort lewensduurte het gevolglik ook korter effektiewe bestuiwingsperiodes as eiselle met lang lewensduurte.

Back To Top