Die net-effek op bye
Hoe pruim- en kernvrugprodusente die bes moontlike bestuiwing in boorde onder nette kan kry.
Deur Anna Mouton
“Bestuiwing is super-belangrik by pruime,” sê steenvrugprodusent en tegniese raadgewer Petru du Plessis. “As jy goeie bestuiwing in September het, kan jy uitsien na ’n fantastiese en winsgewende oes. Maar as jou bestuiwing misluk het, het jy die verskriklike vooruitsig om vir die res van die seisoen in ’n nie-winsgewende boord vas te kyk.” Du Plessis is ’n groot voorstander van nette om pruimopbrengste en -uitpakke te verbeter. Hy het sy eie boorde by Bon Esperance in Stellenbosch reeds ses jaar gelede met vaste nette begin bedek. Ongelukkig het hy vinnig ’n probleem ondervind. “Ek dink ek het ongeveer 15 ton per hektaar in die eerste twee jaar opgeoffer,” sê hy, “omdat die nette die bye belemmer en bestuiwing verminder het.”
Read More
Nette verbyster bye “Gewoonlik sal bye wat na hulle korwe wil terugkeer, op en uit die boord uit vlieg,” sê appelprodusent Mike Leslie. “Maar onder nette stamp hulle teen die onderkant van die net en sit vas soos hulle probeer uitkom. Sodoende verloor jy van die bye.” Leslie produseer al vir byna drie dekades appels onder nette by Clan Leslie in die Vrystaat. Hulle nette dien hoofsaaklik as haelbeskerming en is aan die kante oop. Hy noem dat bye ook vassit wanneer hulle uitvlieg en dan weer na die boord wil terugkeer om hulle korwe te probeer vind. “As bye binne die nette is, kan hulle gapings sien om uit te kom omdat die son van bo af skyn,” sê derde-generasie byeboer Trevor Pye. “As hulle eers uitvlieg, kan hulle nie meer die korf onder die net sien nie, en hulle kan nie weer die gapings vind om terug onder die net in te kom nie, so hulle vrek aan die buitekant van die net.” Du Plessis voeg by dat bye geneig is om in die hoeke van geslote netstrukture vas te sit, veral indien areas onder nette relatief klein is. Dit verminder die aantal werkende bye. “Ek reken bye werk nader aan die korwe onder vaste nette,” sê Du Plessis. “Hulle bestee meer tyd aan oriëntering. So ek voel dat jy meer korwe en langer bestuiwingsperiodes benodig om dieselfde vrugset onder nette te kry.” Maar produsente het nie noodwendig langer kans wanneer dit by bestuiwing kom nie. Die effektiewe bestuiwingsperiode van baie kultivars is alreeds kort en ongunstige weer kan dit nog verder laat krimp. Die weer beïnvloed ook bestuiwers se aktiwiteit – bye wil nie in baie warm, koue, nat of winderige toestande werk nie. Daarby word die eerste blomme wat oopmaak in baie kultivars uiteindelik die grootste vrugte as gevolg van beter knopkwaliteit en langer vrugontwikkeling. Produsente wil nie hierdie blomme laat verlore gaan omdat bye swaar trek nie.
Die oop opsie Du Plessis het sy bestuiwingsprobleme opgelos deur van vaste na intrekbare nette oor te skakel. “Sodra ons klaar die vrugte geoes het, rol ons die nette op, en ons rol hulle weer in die lente oop sodra die byekorwe verwyder is.” Sy nette is aan kabels bo elke boomry vasgemaak. Die middel van elke netpaneel is permanent aan ’n kabel bo elke tweede boomry vas en met hakies aan die kabels aan weerskante geheg. Du Plessis het hakies van nommer vier staaldraad laat buig, maar plastiekknippies is ook beskikbaar. Twee spanne van ’n paar mense elk bo-op ’n platform trek die nette terug terwyl die platform stadig deur ’n trekker beweeg word. Die een span haak die nette van die sykabels af en die ander span rol die nette op en maak hulle aan die sentrale kabel vas. Die nette word met die teenoorgestelde proses in die lente oopgesprei. “Om die nette oop en toe te maak kos omtrent R5 000 per hektaar,” sê Du Plessis. “Jou pruimboord kan potensieel ’n inkomste van R600 000 of R700 000 per hektaar genereer – dit maak nie sin om nie R5 000 per hektaar uit te gee om daardie inkomste te beskerm nie.” Du Plessis se nette is hoofsaaklik vir windbeskerming. Hy verduidelik dat pruimvruggies ongeveer drie weke na set vir windskade vatbaar word. Aangesien nie alle pruimkultivars gelyk blom nie, en sy spanne meer as ’n hektaar nette in ’n dag kan oopsprei, is daar genoeg tyd om die bome na bestuiwing te bedek. Leslie volg ’n soortgelyke benadering vir sy appels. “Ons het altyd die appels bedek soos wat hulle begin blom omdat die nette die boorde effens warm gehou het. Maar die laaste paar jaar hou ons terug totdat die bye klaar bestuif het, en ons dink ons kry beter bestuiwing en vrugset.”
’n L-vormige alternatief By Sandrivier in Wellington eksperimenteer landgoedbestuurder Stephan Strauss met L-vormige nette oor pruime. “Ons grootste redes vir nette is om sonbrand en windskade te voorkom,” sê hy. “En ons grootste probleemson is middagson – van die westekant – en dis ook die rigting van ons probleemwind.” As mens in die boomry afkyk, het die L-vormige nette ’n kort gedeelte oor die toppe en ’n langer gedeelte wat van bo na onder aan die westelike kant van die boomry strek. Die oostelike kant en die werksry is nie bedek nie. Kultivars wat nie sonbrand ontwikkel nie, het L-vormige nette oor elke tweede boomry. L-vormige nette het nie ’n ingewikkelde struktuur nodig nie – ’n standaard opleistelsel met effens langer regop pale is voldoende. Dit spaar materiaal en arbeid in vergelyking met vol-oppervlak nette. Alhoewel hulle dit nog nie lank gebruik nie, berig Strauss belowende resultate met die L-vormige nette. Beter bestuiwing was nie die rede vir hierdie nette nie, maar die oop werksrye gee bye kans om natuurlik te oriënteer en effektief te werk.
Bye onder vaste nette Die optimale strategie vir die bestuur van bye onder vaste nette word bepaal deur die grootte van die area en of die kante oop of toe is. Du Plessis dink dat intrekbare nette die beste opsie vir pruime is, veral in kleiner boorde. “Ek sou sê dat ’n blok ten minste 15–20 hektaar moet wees voordat jy dit heeltemal met ’n vaste struktuur kan toemaak,” reken hy. “Andersins sal die bye in die hoeke of aan die buitekant van die net vassit.” In Strauss se ervaring is die volledige toemaak – kante en bokant – van groter netstrukture nie net moontlik nie, maar verkieslik om te keer dat bye verlore raak of in die nette vassit. Daarenteen sou Pye eerder ’n oop gedeelte direk bo korwe wou hê sodat bye hul pad huis toe kan vind. Vir areas van minder as 10–15 hektaar onder nette waarvan die kante oop is, is dit die beste om die korwe buite die nette te plaas. Bye sal wel onder nette invlieg. “Ons sit ons korwe aan die noordelike kant van die blok, op motorbande, sodat hulle van die grond af is, want dit kan nogal koud wees daardie tyd van die jaar,” sê Leslie. “Die bye werk dan vroeër en het vol sonlig vir navigasie.” Volgens Leslie het hulle aanvaarbare bestuiwing onder nette gehad selfs toe die bome gedurende die blomtyd bedek was, maar Clan Leslie se areas onder nette is meestal ongeveer twee hektaar. Produsente wat korwe buite groter bedekte areas sit mag vind dat bestuiwing na die middel van die blok verswak omdat bye dit nie té ver onder die nette wil waag nie. Nog ’n probleem met korwe buite nette is alternatiewe kosbronne. Aangesien Clan Leslie in die Vrystaat is, bied hulle boorde die enigste blomme – en die enigste water – gedurende Augustus en September. Maar produsente in ander areas kan dalk vind dat bye hulle neuse vir vrugtebome optrek omdat daar ander gewasse of veldblomme beskikbaar is. By Sandrivier in die Boland moet onaantreklike pruimbloeisels soms met kanola kompeteer. Strauss plaas korwe ten minste 50 meter diep onder nette met oop kante, in die hoop dat bye nie die lekkerder kos sal ontdek voordat hulle bestuiwingswerk voltooi is nie.
Wenke om bye te help “Bye is soos mense,” sê Du Plessis. “Hulle het kos en water nodig. As jy nie vir hulle water gee nie, kan hulle nie funksioneer nie.” Sy voorstel is om ’n drupperlyn tussen ongeveer 11h00 en 15h00 op warm dae oop te maak om vir bye vog te verskaf. Bye sal water uit nat grond opsuig. Clan Leslie het mikrospuite, en die Vrystaat is gewoonlik kurkdroog in die lente, so Leslie sit emmers of ander houers met water uit. “Ons sit stokkies of drywende materiaal in die water sodat die bye daarop kan land om water te drink, sonder om in te val en te versuip,” sê hy. “As hulle water naby het, hoef hulle nie baie energie te spandeer om dit te kry nie.” Leslie glo dat wilde blomme soos botterblomme help om bye na die boorde te lok aan die einde van die winter wanneer daar niks anders in die omgewing is nie. Hy oorweeg dit om dekgewasse te plant om by hierdie effek te baat. Wes-Kaapse navorsing ondersteun sy plan. Wanneer korwe ingebring word, beklemtoon Du Plessis dat dit noodsaaklik is om bye kans te gee om hulself te oriënteer. Hy beveel aan dat korwe snags eerder as soggens ingebring word, of om korwe op koue dae in te bring wanneer bye stadiger aan die gang kom. As bye opgewerk is, en dalk uit hulle nuutgeplaasde korf gaan ontplof en verdwaal, sit hy ’n takkie voor die ingang om hulle spoed te breek. Takkies of ander merkers help ook die bye om hulle eie korf uit te ken. Korwe behoort gerangskik te word sodat al die ingange nie in dieselfde rigting wys nie. Almal stem nie saam oor die voordele van dekgewasse of wilde blomme in boorde, of die beste tyd om korwe in te bring nie. Lees meer oor ander sienswyses in “Ten tips for pollination success” in die Fresh Quarterly.
Getalle en tydsberekening “Ek dink ons gebruik waarskynlik meer korwe per hektaar – vier tot 12 – as die gemiddelde pruimprodusent,” sê Strauss. “As jy weet ’n kultivar is goed, maar jy het 12 korwe nodig om vrugte te set, dan is dit deel van die produksiekoste.” Du Plessis wysig die aantal korwe volgens kultivar en weerstoestande maar hy beveel ongeveer dubbel soveel korwe onder nette as oop boorde aan. “Oor die algemeen probeer ons so vier korwe per hektaar gebruik,” sê Leslie. “Ons venster vir bestuiwing is dikwels baie klein as gevolg van sterk winde en lae humiditeit wat die appelbloeisels vinnig uitdroog. So as die toestande gunstig is, wil ons baie korwe hê om die bestuiwing klaar te kry.” Vir bye is appelbloeisels meer aanloklik as pere of pruime. En sommige pruime is meer aanloklik as ander. By Sandrivier, wat tot 45 hektaar onder aaneenlopende nette het, het Strauss al gesien hoe bye eerder op sekere pruimkultivars sal werk en dus ander afskeep. “Wanneer bye eers inkom, sal hulle aanvanklik naby aan die korf werk en dan verder weg beweeg,” sê hy. “So ons gebruik dieselfde strategie as toe ons korwe buite die nette gehad het en moes kompeteer met kanola – ons gebruik golwe.” By pruime word die eerste golf korwe ti-pies by 35% en die tweede by 85% volblom ingesit. Golwe kan natuurlik ook by ander vrugsoorte gebruik word as die bye moontlik deur beter kosbronne weggelok kan word. Volgens Pye sal bye wat werk vanaf korwe buitekant nette sterk bly. “Ons het selfs gevind dat die korwe bietjie sterker word,” sê hy. “Waarteen ek gekant is, is om die korwe binne-in die nette te plaas.” Die konsensus is dat byekolonies agteruit gaan wanneer korwe onder nette is, al is die kante oop. Dit blyk dat twee weke die langste is wat korwe onder nette kan bly voordat kolonies noemenswaardige verliese lei. “Onthou, dit gaan nie oor ek wat bye verloor nie,” sê Pye. “Die produsent betaal vir die diens en kry nie bestuiwing nie omdat die bye nie werk nie – hulle is dood.” Alhoewel Sandrivier meestal vaste nette het, voel Strauss nie dat dit bestuiwing benadeel nie. “Ek dink nie ons het swakker set nie, maar ons het definitief nog baie om te leer.” Soos wat al meer produsente die voordele van beskermende nette ontdek gaan die druk om bye se prestasie onder nette te optimaliseer net verhoog. “In my rol as tegniese raadgewer het ek geleer dat, gegewe goeie weer tydens blom, swak vrugset ’n direkte resultaat van swak kruisbestuiwing of byebestuur is,” sê Du Plessis. “Alles kom neer op bestuiwing.”
Related Posts
Citrus biosecurity threats
This is the fourth instalment in our series on citrus biosecurity threats. By CRI Biosecurity…
Table-grape breeding in the genomic era
Genome editing has the power to revolutionise cultivar development, but South African growers are at…