Sukses in die lente word deur kundige bestuur van byekorwe gedurende die res van die jaar bepaal.
Deur Anna Mouton
Dis maklik om van bye te vergeet wanneer die kort blomtyd van selfonver-enigbare vrugtebome verby is. Maar die aflewering van korwe volg op maande se voorbereiding van kolonies wat daarop gemik is om bestuiwers se prestasie te optimaliseer. Effektiewe bestuiwing vereis kolonies met die korrekte bevolkingstruktuur en reserwes. Werkerbye soek meestal kos om hulself en groeiende larwes te voed. Ekstra kos word in die korf gestoor. Die koningin sal aanhou eiers lê solank kos volop en spasie beskikbaar is. Die ideale bestuiwingskorf het hordes honger larwes – werkers voer elkeen van die veeleisende jonger geslag ongeveer 2 500 keer daagliks. Larwes gebruik nektar vir energie en stuifmeel vir proteïen, so baie larwes beteken baie bestuiwing. Bestuiwingskorwe benodig ’n pyplyn van ontwikkelende bye om afgeleefde werkers te vervang. Larwes verteenwoordig die volgende generasie. Werkerbye leef minder as ses weke, en kossoekende werkers word byna heeltemal tydens hulle verblyf in die boord vervang. Werkers versamel kos, voer larwes, en verskaf instandhouding en lugversorging vir die korf. Korwe funksioneer op hulle beste met ongeveer twee rame werkers vir elke raam ontwikkelende bye – lees verder vir meer oor rame. ’n Florerende kolonie maak uiteindelik hulle korf vol en die koningin hou op om eiers te lê. Sy en ’n gedeelte van haar werkers mag selfs wegtrek om ’n nuwe kolonie elders te begin. Die ou kolonie sal ’n nuwe koningin genereer om haar te vervang.
Read More
Wat doen byeboere? Meeste byeboere gebruik Langstroth-korwe met 10–11 verwyderbare rame wat vertikaal in die broeikas hang. Sommige korwe het ’n tweede kas met kleiner rame – die super – bo-op die broeikas. Die bye bou koeke van selle in die rame. Die koningin lê tot 2 000 eiers per dag, een per sel, en die werkers stoor ook heuning en stuifmeel in selle. Byeboere kan die koningin uit die super uithou, wat dit tot stoorspasie beperk. Byeboere streef vir bestuiwingskorwe met ten minste vier rame jongbye – eiers, larwes en papies binne-in selle – en genoeg werkers om die oppervlak van ten minste agt rame te bedek. Nie meer as vyf van die oorblywende ses tot sewe broeikasrame moet gestoorde kos bevat nie. Korwe met ’n super moet nie meer as twee rame heuning in die super hê nie. Hierdie bevolkingstruktuur verseker genoeg honger larwes om die werkers te laat skarrel vir kos en genoeg ontwikkelende bye om die bestuiwingswerksmag sterk te hou. Deur gestoorde kos te beperk word bye geforseer om kos in die boord te gaan soek. Spasie en kos is die hefbome wat byeboere trek om die bevolkingstruktuur te manipuleer. Hulle vervang vol met leë rame sodat die koningin altyd plek het om eiers te lê. Surplus rame jongbye of kos kan gebruik word om swakker korwe aan te vul of nuwe kolonies te begin. Teen die spoed waarteen die koninginne eiers lê, moet byeboere korwe elke twee tot drie weke moniteer en manipuleer in die twee tot drie maande voor die bestuiwingseisoen. ’n Deurlopende voedselvoorraad stimuleer die koningin om eiers te lê. Byeboere beheer kos deur hulle korwe rond te skuif en hulle bye te voer. Hulle skuif dus nie net korwe vir bestuiwing nie.
Van seisoen tot seisoen Gewasbestuiwing eis gewoonlik ’n swaar tol op byekolonies omdat bye teen hoë digthede ingebring word om vrugset te maksimeer, en boorde normaalweg nie genoegsame voedsel het nie. Onaantreklike blomme en beskermende nette verswak kolonies verder. Byeboere het dus spesiale plekke waar hulle hul korwe na die bestuiwingsperiode neem om te rus en te herstel. Korwe kan vir die res van die somer tot en met kanola-blomtyd in die winter in hierdie veilige plekke bly. Die koningin lê minder eiers soos wat die kolonie van ’n reproduktiewe na ’n heuningproduksie-fase skuif. Werkers versamel minder stuifmeel maar moet steeds toegang tot baie nektar hê. Die volgende besige periode vir byeboere begin sodra kanola blom. Kanola is die nommer een voedselbron om kolonies te herbou voor die Wes-Kaapse bestuiwingseisoen. Die hektare stuifmeel- en nektarryke blomme stimuleer die koningin om eiers te lê. Kanola blom slegs vir agt tot 10 weke, so byeboere moet jaag om hulle korwe te skuif. Soms blom daar nie genoeg kanola wanneer die korwe afgelaai word nie, en byeboere voer die bye totdat blomme toeneem. Die eerste week in kanola is wanneer byeboere al hulle korwe vir siektes nagaan en die rame aanpas. Rame kos word verwyder om plek te maak vir eiers. Rame jongbye word vanaf sterker na swakker korwe oorgedra – bye is gemaklik daarmee om ander korwe se jongbye groot te maak. Verwydering van rame jongbye motiveer die sterk korwe om nog broeirame te vul. Gedurende kanola-blomtyd sal byeboere hulle korwe elke twee tot drie weke diens. Hulle pas deurlopend die korwe aan om bestuiwingsgereedheid te bereik. Uiteindelik breek die lente aan en bestuiwing skop af. Byeboere doen finale korfmanipulasies om gestoorde kos te verwyder en leë rame by te sit. Hulle laai hulle korwe op en lewer hulle aan gewasse wat dwarsoor die provinsie blom. Die noodsaaklike eerste stap in die produksie van die seisoen se oes berus nou by die bye.
Agter die skerms Vrugteproduksie het ten minste een groot voordeel bo byeboerdery: vrugtebome hoef nie verskeie kere elke jaar geskuif te word nie. Om gepaste buite-seisoenplekke vir korwe te vind is ’n uitdaging, veral aangesien baie byeboere nie grond waar bye veilig is besit of beheer nie. Goeie plekke vir korwe moet kos bied. As mens daaroor dink, besef jy vinnig dat daar maar min blomme gedurende die somer in die Wes-Kaap is. Ons somergewasse blom in die lente, en wintergewasse en natuurlike veld wag vir winterreëns. Bloekombome word as uitheemse indringers sleggemaak, maar hulle is vir alle praktiese doeleindes die enigste voedselbron vir bye in Desember en Januarie, en gevolglik onontbeerlik vir gesonde korwe. Die aggressiewe verwydering van alle bloekoms bedreig heuningbye en dus, die produksie van die meeste steen- en kernvrugte. Heuningbye is verder onder druk van klimaatsveranderingverwante verwarming en herhaalde droogtes, vloede, en vure. Hulle word ook deur direkte mensgemaakte aksies soos vandalisme en plaagdodergebruik bedreig. Die gevolg is dat byeboere al harder moet soek en verder moet ry vir geskikte buite-seisoen plekke vir korwe. Hulle reis ook honderde kilometers terwyl hulle korwe tussen hierdie plekke, kanola, en ander gewasse rondskuif. Dis buiten die honderde kilometers wat hulle daarby ry om die korwe te diens. ’n Byeboer sal tipies 10 reise hê vandat korwe in kanola ingaan totdat hulle uit hul finale bestuiwingsgewas kom. Vrugteprodusente is baie bewus van die koste van diesel en arbeid, so hulle behoort dadelik die finansiële implikasies van al hierdie rondry- en korfmanipulasie-man-ure te verstaan. Reken die prys van toerusting en kunsmatige voer in, en skielik lyk bestuiwingsfooie heel billik. Produsente herinner mense graag daaraan dat die vrugte vir alles betaal, maar vir baie kultivars is daar geen vrugte sonder bye en byeboere nie. So dis goed om te onthou dat die belegging van tyd en geld buite die boord die sukses van bestuiwing bepaal.