
Die bye en die blommetjies: Deel 1
In die eerste van twee artikels wat die paneelbespreking by die Hortgro Steenvrugvelddag opsom gesels prof. emer. Karen Theron oor faktore wat bestuiwing en vrugset in pruime beïnvloed.
Deur Anna Mouton
Vrugset in pruime
Dit begin by kruisbestuiwing Theron: Die eerste ding wat mens by pruime moet besef is dat die meeste kultivars kruisbestuiwers nodig het omdat hulle self-onverenigbaar is.
En kruisbestuiwing moet aanleiding gee tot bevrugting want ons het ’n saad nodig in ’n steenvrug.
Daar is wel uitsonderings wat self-verenigbaar is. Ek dink almal weet ons het nie ’n probleem met vrugset by African Rose en ’n paar ander kultivars nie. Appelkose is meestal self-verenigbaar. Daar is van die nuwe kultivars waar ons so ’n bietjie versigtig moet wees omdat hulle moontlik kruisbestuiwing nodig het.
Vir meer oor kruisbestuiwers, verwys na “Cross-pollinator considerations” in Fresh Quarterly uitgawe 25.
Read MoreVereistes vir bevrugting
Theron: In die eerste plek moet die blomtyd van die kruisbestuiwer oorvleuel met dié van die hoofkultivar.
Dit is makliker gesê as gedaan. As mens gelukkig is om die kultivars reeds in jou omgewing te hê, dan kan jy gaan kyk of hulle saam blom.
As kultivars dieselfde kouebehoefte en reaksie op hitte-eenhede in die lente het, dan behoort hulle elke seisoen saam te blom. Maar ons weet eintlik nie presies wat die koue-behoefte van die verskillende kultivars is en hoe hulle op hitte-eenhede reageer nie.
So daar is gevalle waar kultivars in sommige seisoene saam blom en nie in ander seisoene nie. Die tweede ding is dat mens moet sorg dat die kultivars wat jy saam plant verskillende S-allele het. Die S-alleel beheer of daar verenigbaarheid is al dan nie.
Vir ’n volledige verduideliking van S-allele en ’n tabel van pruim S-allele, verwys na “Vyf faktore wat vrugset beïnvloed” in die Desember 2020|Januarie 2021 SA Vrugtejoernaal.
Effektiewe bestuiwingsperiode
Theron: Die effektiewe bestuiwingsperiode verwys na die periode waar bestuiwing aanleiding kan gee tot bevrugting.
As die effektiewe bestuiwingsperiode byvoorbeeld vyf dae is, beteken dit dat bestuiwing in die eerste vyf dae vandat die blomme oopgegaan het aanleiding tot bevrugting sal gee.
As jy na ses of sewe dae die blom bestuif gaan dit nie meer aanleiding gee tot bevrugting nie. Die rede daarvoor is dat die eisel ’n beperkte lewensduur – byvoorbeeld 10 dae – het, maar die stuifmeelbuis het vyf dae nodig om tot onder te groei.
So om bevrugting te kry moet jy binne die eerste vyf dae van die blom se oopmaak bestuiwing hê.
Daar is groot verskille tussen kultivars. Ons moet vir Hortgro dankie sê dat hulle ’n studie hieroor befonds het. Louisa Blomerus en haar span by die Landbounavorsingsraad het oor drie seisoene gekyk na die belangrikste pruimkultivars se effektiewe bestuiwingsperiodes. Laetitia se effektiewe bestuiwingsperiode is 10 dae of langer.
So ’n Laetitia-blom kan oor ’n baie lang periode bestuif word en dit gaan nog steeds vir jou bevrugting gee. Songold is een dag.
Dit beteken dat op die dag wat die blom oopmaak moet die stuifmeel by hom uitkom, anders gaan dit nie vir jou bevrugting gee nie.
In die geval van Songold moet ons sorg vir meer kruisbestuiwers en byekorwe. Ons moet ’n groter druk van stuifmeel hê om aanleiding tot bevrugting te gee, terwyl Laetitia minder kruisbestuiwing benodig. Die ander kultivars lê hierso by vier na vyf dae en daar is van hulle wat ook gewissel het tussen die drie seisoene wat Louisa die werk gedoen het.
Louisa Blomerus se navorsing word in Fresh Quarterly uitgawe 25 bespreek.
Klimaat en bestuiwing
Theron: Die insekte wat die kruisbestuiwing doen word deur die klimaat geaffekteer. Die boom self en spesifiek die blomme, word egter ook deur die klimaat – hoofsaaklik temperatuur en humiditeit – beïnvloed.
As ons soos in die afgelope seisoen baie hoë temperature in die herfs en winter het wanneer bome al blaarloos is, is respirasietempo hoog en koolhidrate word verbrand. Die boom se reserwes word uitgeput. Dis ook die tyd wanneer blomdifferensiasie nog besig is om te gebeur.
Hoë temperature kan vir jou hoë gibberellienvlakke gee wat negatief vir blomdifferensiasie is. So hoë temperature in die herfs en vroeë winter het ’n negatiewe effek op blomkwaliteit.
Blomkwaliteit word gewoonlik weerspieël in die lewensduur van die eisel. So waar die eisel miskien normaalweg ’n lewensduur van 10 dae het, het hy nou skielik ’n lewensduur van net sewe dae wat beteken die effektiewe bestuiwingsperiode verkort met drie dae. Jy het dus ’n korter periode waarin bevrugting suksesvol kan wees.
As ons kyk na die paar weke waarin die finale blomontwikkeling voor blom plaasvind, is die blomme baie sensitief vir temperatuur. Ekstreme soos ryp net voor of tydens blom, kan blomme of die saadknop doodmaak. Ons het ook die verskynsel dat baie hoë temperature voor blom ’n negatiewe impak op blomontwikkeling kan hê.
Ongelukkig kan ek nie vir julle sê wat baie hoë temperature is nie, maar ons praat van bo 30 °C, moontlik selfs nader aan 35 °C. Die impak van hoë temperature voor blom kan so ekstreem wees dat blomme sonder geslagsdele ontwikkel. Jy kan ’n blommetjie kry wat nie ’n stempel het nie en om daai rede glad nie bevrug kan word nie.
Hoë temperature tydens blom is gewoonlik gekoppel aan lae humiditeit wat die stempel uitdroog en die kiemkrag van die stuifmeel benadeel, wat ook ’n nadelige effek op die bevrugting gaan hê. Baie hoë temperature in die periode net na volblom is ook nadelig.
Al het jy goeie blomkwaliteit gehad om mee te begin en ’n eisel wat eintlik ’n lang lewensduur behoort te hê, as jy baie hoë temperature in die blomtyd het degenereer die eisel vinniger. Dit maak die effektiewe bestuiwingsperiode korter. Ons praat hier selfs van temperature bo 25 °C, maar ek dink om veilig te speel sal ons sê bo 30 °C.
Onthou die effektiewe bestuiwingsperiode is die lewensduur van die eisel minus die tyd wat die stuifmeelbuis nodig het om tot by die eisel te groei. By hoë temperature versnel die stuifmeelbuisgroei maar ongelukkig nie tot dieselfde mate as wat die lewensduur van die eisel afneem nie.
BOX:
Die paneel Die paneelbespreking by die onlangse Hortgro Steenvrugvelddag het op bestuiwing en die interaksie tussen bye en dekgewasse gefokus.
- Herman Brink. Byeboer en Wes-Kaapse Byebedryfsvereniging. pollination@wcba.co.za.
- Bennie Diedericks. Grondkundige verbonde aan Resalt. bennie@resalt.co.za. 082 452 7263.
- Hendrik Pohl. Holistic Horticulture. hendrik@holistichorticulture.co.za. 082 948 8558.
- Wilhelm Naudé. Oudewagendrift (Uitzicht) Boerdery. wilhelm@uitzichtfruit.co.za. 023 004 1370.
- Prof. emer. Karen Theron. Hortoloog verbonde aan Universiteit Stellenbosch. kit@sun.ac.za.
- Die bespreking is deur prof. Wiehann Steyn, algemene bestuurder van Hortgro Science, gelei. wiehann@hortgro.co.za.
Related Posts
CRI Postharvest Workshops 2025
This year, the regional CRI Postharvest Workshops had a packed venue at each of the six locations visited across the country during January and February. A total of 1 200 delegates attended, representing a wide range of sectors within the citrus industry, from packhouse managers and staff to exporters and agrochemical representatives.
Notably, there’s a rise in attendance by the young demographic. This and the overall upward growth trajectory of the citrus industry of Southern Africa make for a promising future.
Extension briefs June and July 2025
Orchard sanitation must continue diligently during the harvesting period. All fruit that remains on trees after harvest must be removed and destroyed two weeks after completion of harvesting, at most. This is because false codling moth (FCM) activity does not cease during winter, and any remaining fruit could serve to facilitate this activity.
Plus, this winter fruit creates a reservoir of inoculum of FCM for the following spring. Conversely, removal of all fruit after harvest could dramatically reduce FCM levels in the following season. Fruit fly numbers can also build up on unharvested fruit.