Waarvan slegs ’n klein aantal spesies plantwortels aanval. Plantpatogeniese aalwurms is meestal minder as ’n millimeter lank en dunner as ’n menslike haar. Hulle moet dus met behulp van ’n mikroskoop geïdentifiseer word.
Erdwurms en aalwurms is nie naby familie nie – erdwurms is nader verwant aan slakke en seekatte as aan aalwurms. Plantpatogeniese aalwurms vreet nie aan wortels nie.
Hulle voed deur ’n stekel – ’n hol buis – in plantselle in te druk en óf plantsap te onttrek óf, in die geval van knopwortelaalwurms, ’n toksien in te spuit wat die plantsel na ’n reusesel laat verander.
“Die reuseselle gee aanleiding tot galle op wortels in die geval van die knopwor- telaalwurm,” verduidelik nematoloog Sheila Storey.
“Die letselaalwurm veroorsaak nie skadesimptome op wortels nie.” Storey is die stigter en direkteur van Nemlab, ’n diagnostiese laboratorium wat onder andere aalwurm-analises op grond en wortels doen. Sy het ’n voorlegging oor steenvrugaalwurms by die mees onlangse Hortgro Steenvrugvelddag aangebied.
Bogronds en ondergronds
Ring- en knopwortelaalwurms is die belangrikste plantpatogeniese aalwurms in steenvrugte. Letsel- en dolkaalwurms veroorsaak ook probleme, terwyl stompwortelaalwurms minder algemeen is. Knopwortel- en letselaalwurms kom binne-in plantwortels sowel as in die grond voor.
Ring-, dolk- en stompwortelaalwurms kom aan die buitekant van wortels voor. Akkurate aalwurmdiagnose vereis dus monsters van plantwortels sowel as grond. Knopwortel- en letselaalwurms is redelik vlak – tot omtrent 25 cm diep – in die grond teenwoordig. Ring- en dolkaalwurms kom tot 60 cm diep voor en stompwortelaalwurms kan tot 80–120 cm diep voorkom.
In teenstelling met die galle wat knopwortelaalwurms veroorsaak, vernietig ring- en dolkaalwurms die haarwortels en stimuleer hulle die vorming van wortelklos- sies. Plante kan reeds in die kwekery ernstige aalwurminfeksies ontwikkel. “Bogrondse simptome van aalwurms is glad nie spesifiek nie,” sê Storey. “Enig-iets wat die wortels aanval, hetsy bakte-rieë, swamme, of aalwurms, kan dieselfde bogrondse simptome veroorsaak.” Dit sluit ’n geleidelike afname in produksie, afsterf van enkele lote, en gesukkel met vruggrootte in.
Wortelskade lei tot onvoldoende kalium-opname in appels en wingerdstokke. “Ek vermoed dit gebeur ook in steenvrugte,” sê Storey. Bome lyk dikwels trietsig – Storey vergelyk hulle met nat hoenders – met effens gekrulde blare as gevolg van die wortels wat nie voldoende water opneem nie.
Geaffekteerde bome is in kolle deur die boord versprei. “Onthou dat aalwurms nie self beweeg nie,” sê Storey. “Hulle is mikroskopies klein. So hulle versprei maar net effentjies van daar waar ons hulle neergesit het.”
Aalwurms in perskes en pruime
Onderstamkeuse gaan in ’n mate bepaal watter aalwurms probleme in ’n gegewe perske- of pruimboord veroorsaak.
Marianna en Maridon is immuun teen knopwortelaalwurms, terwyl verskeie ander onderstamme weerstandbiedend is (Tabel 1). “Guardian het ingekom met die voorneme dat dit weerstandbiedend is teen ringaalwurm,” sê Storey. “Maar ringaalwurm in Suid-Afrika is anders, so Guardian is nie hier weerstandbiedend nie, maar wel tolerant.”
Immune onderstamme word glad nie deur die patogeniese organismes geïnfekteer nie, terwyl weerstandbiedende onderstamme wel geïnfekteer kan word, maar swak gashere is en gewoonlik nie negatief geaffekteer word nie. Tolerante onderstamme is aalwurm- gashere, maar infeksie benadeel die bome se prestasie minder.
Vatbare onderstamme, daarenteen, word negatief deur aalwurminfeksies beïnvloed. “Knopwortelaalwurms kan lei tot die dood van veral jong perskebome,” waarsku Storey. “Daar’s min goed wat vrek van aalwurms, maar wel perskes, veral Kakamas. Dit is baie belangrik dat jy ontslae raak van knopwortel- aalwurms voordat jy perskes plant.” Sy raai produsente aan om te toets, vernaam indien ou wingerde en steenvruggronde herplant word. “En ongelukkig is dit so, as jy Kakamas gaan plant en jy het knopwortelaalwurms dan moet jy berook,” beklemtoon sy.
Meeste pruime is op Marianna en Maridon, en dus immuun teen knopwortelaalwurms, maar wel vatbaar vir ringaalwurms. Ringaalwurms kan as een van die snellers vir bakte-riese kanker en pruimvreksindroom dien. “Pruimvreksindroom is ’n naam wat ek vir Suid-Afrika geskep het,” sê Storey. Dié wêreldwye probleem staan elders as “peach tree short life disease” of “bacterial canker” bekend. Aangetaste bome se bloeisels verbruin vroeg en hulle blare is klein en vorm klein trossies wat met onkruiddoderskade verwar kan word.
Die boom kan tot op die entlas af- sterf en later vanaf die onderstam weer uitloop. Ander tekens is stamkrake, waterdeurdrenkte bas met onderliggende bruin verkleuring, onwelriekende sap, en gom wat uitlek. Storey wys daarop dat bome dalk net een of twee tekens van infeksie kan wys. Drie of meer dae bo 25 °C teen einde Augustus en nat somers blyk aanleiding tot pruimvreksindroom te gee. Geaffekteerde bome vrek uiteindelik op twee tot sewe jaar aan bakteriese kanker.

Beheeropsies by steenvrugte
Produsente behoort wortel- en grondmonsters te laat toets voordat ’n beheerstrategie bepaal word. Aalwurmbevolkings word deur temperature beïnvloed. Indien produsente een of twee keer jaarliks monsters trek, behoort hulle dit op dieselfde stadium in die seisoen te doen.
Wanneer diagnostiese monsters getrek word, neem Storey die seisoen in ag met die interpretasie van die resultate. Aalwurmbeheeropsies sluit beroking, chemie, onderstamkeuse, en grondgesondheid in. Daar is tans slegs vier aktiewe bestanddele vir chemiese aalwurmbeheer in steenvrugte geregistreer, waarvan een nie in pruime geregistreer is nie.
Die beste tyd vir chemiese beheer is in die herfs en lente voor aktiewe nuwe wortelgroei plaasvind.
Chemiese aalwurmmiddels beweeg nie baie goed deur die grond nie en moet dus deeglik ingewas word. Middels moet afgewissel word omdat die grondmikrobes mettertyd die vermoë ontwikkel om spesifieke middels ál vinniger af te breek.
“Daar is tans geen biologiese middels teen aalwurms geregistreer nie,” sê Storey. “Daar is wel baie bakterieë en swamme beskikbaar, maar hulle maak nie aalwurms dood nie – hulle is wortelstimulante.”
Ses beginsels van grondgesondheid
Die nommer een beginsel van grondgesondheid is om die grond te beskerm, hetsy met kompos, deklae of dekgewasse. Gunstige grondmikrobes kan nie in songebakte grond oorleef nie, maar ringaalwurms floreer in die hitte. “As jy nie jou grond bedek nie gaan ringaalwurms rojaal daar lewe,” sê Storey.
Die tweede beginsel is diversiteit en die derde is dat lewendige wortels altyd teenwoordig moet wees. Verskillende wortels skei verskillende eksudate af wat weer verskillende grondmikrobes voed. Dit als dra tot ’n meer komplekse ekostelsel by wat wortels ondersteun en plantpatogene onderdruk.
Minimale of geen versteuring is die vierde beginsel. Dit sluit fisiese, chemiese en biologiese versteuring in. Storey erken dat die vyfde beginsel, die gebruik van diere, nog nie by die vrugtebedryf inslag gevind het nie. “Dit verg baie moed, ek weet,” sê sy. “Maar daar is boere wat diere in hulle boorde het.” Laastens wil sy die beginsel van konteks benadruk.
Elke plaas en elke boord is uniek, met sy eie mikroklimaat en grondtipe, en produsente se praktyke verskil ook. Daar is gevolglik geen resep vir grondgesondheid nie, maar Storey moedig elke produsent aan om in hulle boorde te begin eksperimenteer.
Sy herinner steenvrugprodusente dat aalwurms strespatogene is, en dat gesonde wortels die begin van effektiewe beheer is. “Kry vir jou ’n sterk wortelstelsel,” sê sy. “Ons boer tog almal om dit te doen.”