
Die bye en die blommetjies: Deel 2
Die fokus in die tweede artikel wat die paneelbespreking by die Hortgro Steenvrugvelddag opsom, is op bye en dekgewasse.
Deur Anna Mouton
Verwys na die eerste artikel vir die paneelbesonderhede.
Beginsels van bye
Tydsberekening
Pohl: Ek dink een van die grootste foute wat ek al gesien het is dat produsente die bye te vroeg insit. Hulle raak op hul senuwees. Hulle sien drie blomme in ’n boord en oorskat die blompersentasie in die boord. Dan sit hulle die bye in op blomme wat nie aanloklik vir bye is nie.
Jy het net drie of vier dae vir bestuiwing. As jy die bye op 10% blom insit het hulle padgegee op 30% blom. Sit eerder die bye op 40% blom in. Naudé: As ons sien ons het baie slegte weer op 30% blom wanneer ons die bye insit, dan sit ons net die helfte van die bye in die boord. Ons wag vier of vyf dae tot ons miskien bietjie beter weer het en sit dan die ander helfte by. Brink:
Ek dink dis belangrik om jou tydsberekening en hoeveel blomme jy het in ag te neem wanneer jy die korwe neersit.Ons manipuleer die bye om honger te wees wanneer ons hulle in die boord sit. So as daar nie vir hulle ’n voedselbron is nie, dan is hulle weg wanneer die blomme oopgaan.
Mens moet ook nie die krag van daai “honeymoon phase” mis nie – daai eerste drie tot vyf dae van bestuiwing nadat jy die bye neergesit het. Jy kan vyf dae na jou eerste bye vars bye insit, ongeag die weer. Dan gaan jy weer ’n nuwe “honeymoon phase” met daai nuwe vlaag hê.
Read More
Plasing van korwe
Brink: Ons moet ook die plasing van die bye in ag neem. Sit hulle op ’n plek wat warm genoeg is dat hulle so vroeg as moontlik in die oggend begin werk.
Jy gaan heel moontlik ’n beter reaksie kry as wat jy die bye iewers onder ’n boom in die skaduwee gaan wegsteek, want dan gaan hulle eers heelwat later in die dag aan die gang kom.
Bestuiwing gebeur in die korf
Brink: Min mense besef dit, maar jou bestuiwing vind eintlik binne-in die korf plaas. Bye is baie lojaal.
’n By wat op ’n dekgewas werk gaan nie op iets anders werk nie en ’n by wat op ’n kruisbestuiwer werk gaan ook nie op die teikengewas werk nie.
Maar bye volg ’n gebalanseerde dieet so party bye gaan water haal en party gaan op klawer, of die teikengewas, of die kruisbestuiwer werk. Wanneer ’n by binne-in die korf kom en op die rame heen en weer loop, dan word die stuifmeelkorreltjies op sy haartjies oorgeplaas op die by langsaan wat dan weer teruggaan na die teikengewas toe.
Ek het al gehoor mense sê die bye vlieg in die ry af, maar hulle gaan nie van die een boom na die volgende boom nie. ’n By gaan die heeltyd op dieselfde blomme op dieselfde bome werk totdat hy dit heeltemal uitgeput het. Dan gaan hy na iets anders toe.
Is steenvrugbloeisels onaantreklik?
Brink: Ek dink ons moet versigtig wees om te veralgemeen met steenvrugte want daar is steenvrugte waarvan die bye hou. Bye werk baie graag op kersies.
My ondervinding met pruime is dat dit nie noodwendig so gewild is nie en die bye glad nie daarop wil werk nie. Die weer en die omgewing het ’n groot invloed.
Pruime is redelik aanloklik maar die suiker of nektarvlak sowel as die stuifmeel in die pruimblommetjies is partykeer baie minder as in baie ander gewasse wat dalk in die omgewing is. Die bye sal dus moontlik na daai ander gewasse toe gaan. Mens moet ook in gedagte hou dat die pruime gewoonlik in ’n koue tyd van die jaar blom.
Jy sal daarom moontlik minder bye in die pruime sien wanneer hulle blom. Naudé: Soos almal weet, laas jaar het ons in die laaste week in Augustusmaand en die hele September baie slegte weer gehad. Ons het baie wind en koue gehad. Ek dink dit het ’n groot aandeel gehad in die swak vrugset wat ons gehad het.
Nette
Brink: Nette is oor die algemeen glad nie goed vir bye nie. Die bye sukkel met oriëntasie. Jy moet verkieslik jou tydsberekening so hê dat jy hulle nie veel langer as twee weke onder die net moet hou nie. Op hierdie stadium ruil ek die bye na 14 dae onder nette om.
Dit het maar ’n koste-implikasie maar as jy dit nie so doen nie raak daai swerm so swak dat hy nie vir jou bestuiwing kan doen nie. Die beste resultate is met nette wat oopmaak sodat die bome in die bestuiwingstyd oop is. Die bye werk dan normaal en die nette word toegemaak sodra ons klaar is met bestuiwing.
Vir ’n bespreking van bye en nette in pruimboorde, verwys na “Die net-effek op bye” in die Augustus|September 2024 SA Vrugtejoernaal (SAV).
Fresh Quarterly uitgawe 25 het ’n reeks artikels oor alle aspekte van die bestuur van bye en bestuiwing.
Klawers verhoog produksie
Diedericks: Ek wil ’n storie vertel van my waarnemings by Gertjie van Deventer op Robertson. Hy het twee blokke Ruby Sun langs mekaar. Hulle is dieselfde ouderdom en het dieselfde besproeiing, bemesting en bestuur. Die enigste verskil tussen die twee blokke is die dekgewasse in die boomry.
Die een blok het medicks en die ander blok het witklawer. Die medicks vrek in die somer en vorm ’n ongelooflike deklaag. Die witklawer groei heeljaar en blom gedurende die vroeë lente en later in die seisoen. In 2020 het die een blok agt ton per hektaar meer gedra as die ander blok.
Ek het grondmonsters geneem. Daar was geen verskil in die grondchemie en -biologie tussen die twee blokke nie. Die tweede jaar is ek toevallig in die boord rondom volblom en ek sien die bye is baie aktief op die witklawer. En ek maak toe die afleiding dat dit is hoekom dié blok beter doen as die medick-blok. Die witklawer lok die bye. In die proses besoek hulle die bome. Hulle bestuif die bome en daar is beter set en meer vrugte. En daai jaar is dit so.
Daar is ’n sewe ton per hektaar verskil tussen die twee boorde. Maar in die derde jaar was daar geen verskil nie. Twee ton ’n hektaar – dit is nie noemenswaardig nie. Nou is ek moedeloos want niks werk uit soos ek gedink het nie. Die vierde jaar – 2023 – is die verskil 17 ton per hektaar. Toe gaan trek ons uurlikse klimaatsdata van die 10 dae rondom volblom vir die vier jaar en ek gaan kyk na wat die ideale werkstoestande vir bye is. Dis temperature bokant 14 °C maar onder 40 °C en wind nie sterker as 24 kilometer per uur nie. En dit moenie reën nie.
Toe ek kyk na daai data vir die 10 dae rond- om volblom, wat in die vier jaar gewissel het van week 35 tot week 38, toe raak die prentjie vir my duidelik. Hoe minder ure met ideale werksomstandighede daar vir die bye was, hoe beter het die blok gedoen wat die witklawer het.
In die jaar wat daar geen verskil was nie, was daar baie werksure wat geskik was vir die bye en was daar genoeg tyd om die werk te doen. Verlede jaar was daar slegs 11 ideale werksure in daai 10 dae en sewe daarvan was in een dag.
Dekgewasse hou swerms in die boord
Brink: Ek dink baie mense kan dalk met my verskil, want as jy gaan kyk na die navorsing dan sê die ouens gewoonlik sorg dat daar niks kompetisie in die boord is nie. As daar niks kompetisie is nie dan moet die bye mos werk op die blomme wat daar wel is. My ondervinding is eintlik bietjie anderste.
As die boord aanloklik vir die bye en bestuiwers is dan gaan hulle daarbinne wees. Maar as die boord nie noodwendig so aanloklik is nie kan jy dalk agterkom dat die bye nie meer in die boord is na die eerste drie tot vyf dae van bestuiwing nie. Pohl: Ek wil sommer by Herman [Brink] aansluit met ’n analogie. As ons gaan inkopies doen dan gaan ons “mall” toe, want daar’s baie winkels daarbinne.
Ons gaan nie meer na die bakker op die hoek toe nie, want hy het net brood. So, die blommediversiteit binne-in die boord, insluitende van die blomme op die dekgewasse, lok meer bye. Ons het ’n boerestudie gedoen waar ons dekgewasse met blomme gehad het en die bye-aktiwiteit in die boord waar ons die blomme gelos het was hoër.
Maar dit was nie net hoër in die dekgewasse nie. Die bye-aktiwiteit was ook hoër in die peerbome, wat nie baie aantreklik vir bye is nie. As mens net die bye in die boord kan kry dan sal hulle op beide die dekgewas en die vrugtebome werk. En jy kry die bye in die boord met ’n verskeidenheid van blomme.
Lees meer in die Fresh Quarterly oor ’n nuwe Hortgro-befondsde projek wat die verwantskap tussen dekgewasse en bestuiwing ondersoek in “Pollination efficiency in deciduous fruit”.
Die regte tyd vir grassny
Pohl: Met die byetellingproef wat ons en Matthew [Addison] gedoen het, was daar definitief ’n afname in die bye-aktiwiteit binne-in die boord waar ons die gras en die dekgewas weggesny het. Die afname was nie net op die dekgewas of die gras nie, maar ook binne-in die bome.
Uit daai ervaring kan ek sê, moet eerder nie in die bestuiwingstyd sny nie. Doen dit twee of drie weke voor die tyd en wag tot bestuiwing of driekwartblomblaarval verby is voor jy weer jou dekgewasse sny.
Ek kan nie dink dat om destruktief binne die omgewing op te tree ’n positiewe effek op die bye sal hê op ’n tyd wat ons eintlik ’n gunstige klimaat vir hulle in die boord wil skep nie.
Die Desember 2021|Januarie 2022 SAV en Fresh Quarterly uitgawe 14 het elkeen ’n reeks artikels oor dekgewasse en grondgesondheid.
Lees meer oor Matthew Addison se dekgewasproewe in “Dekgewasse in boorde” (Jan/Dec ‘22) en “Cover crop trials” (Jun/Jul ‘21) in die SAV.
Grondgesondheid
Onkruide teenoor dekgewasse
Pohl: Die natuurlike dekgewasse se naam is onkruid vir ’n baie goeie rede. Ons kan nie net toelaat dat enige ding in die boord groei nie. Ons moet die boordvloer begin bestuur om nog steeds ons doelwit te dryf. En die doelwit waarmee ons besig is, is ons groei nektariens of kersies of ander vrugte.
Die gewas maak nie rêrig vir my saak nie, maar ons wil gefokus bly op dit wat ons doen. Die natuurlike dekgewasse kan ’n bydrae lewer, maar in my wêreld is hulle meer ’n indikasie van wat binne-in daai grond aangaan. Ons probeer die ekologie bestuur deur dekgewasse in die boord in te bring en ons kan nie net met ’n haelgeweer skiet nie. Die sleutel lê in diversiteit. Ons moet aanvaar dat ons die dekgewasse moet versorg. Daar is van die natuurlike dekgewasse, soos voëlduisendknoop of koperdraad wat ons weet allopaties vir bome is.
Dit strem die groei van die bome. En Rinus [Knoetze] het baie goeie werk gedoen met dekgewasse in potproewe om te kyk na gasheerstatus vir spesifiek aalwurms. So leer ken jou dekgewas wat jy in die boord wil plant sodat jy nie pestilensies aandra nie. En maak seker dat die dekgewas wat jy in jou boord plant bydra tot die sukses van jou gewas. Ons moet verstaan wat ons doen. Ons kan nie net doen wat vanself gebeur nie. Diedericks: Vir my gaan dit in die eerste plek oor diversiteit. Maar dit gaan ook oor bestuur.
Die oomblik wat jy regeneratief gaan en jy begin met diere in jou stelsels werk dan kyk jy bietjie anderste na onkruid. Goed soos koperdraad, turknaels en tongblaar is absoluut poeding vir beeste. Hulle los medicks om dit te eet. So jy kan jou diere gebruik om die onkruid te bestuur, maar dit maak alles net bietjie meer kompleks. En ek dink dis waarmee ons toenemend gaan werk, met komplekse stelsels wat vir ons diversiteit gee.
Lees meer oor Dr. Rinus Knoetze se navorsing oor dekgewasse as aalwurmgashere in Fresh Quarterly uitgawe 21.
Kompos en deklae by Oudewagendrift Boerdery
Naudé: Met plant meng ons so twee grawe kompos met die grond in die plantgat. Dit moet klaar 100% gekomposteer en glad nie warm wees nie.
Na jaar een gooi ons 40 kubiek kompos op die bankie en dan 40 kubiek chips daarop. Die deklaag van kompos en chips hou vir vyf tot ses jaar en dan kan jy weer kompos gooi en die proses herhaal. Ek weet baie mense reken jy moet meer gereeld gooi, maar ons het oor die jare gevind dis ’n goeie resep.
Ons doen dit al vir meer as 20 jaar en ons kan sien dat die bome baie gelukkiger lyk. Ons sit eintlik met ’n probleem dat die bome te geil is. Party van die boorde gee ons vir twee jaar niks stikstof nie. Na ons bome uitgehaal het, is dit maar ons beginsel op die plaas dat ons die grond laat rus. Ons saai hawer en maak kuilvoer daarvan.
En dan na jaar twee of drie hervestig ons nuwe boorde. Vandat ons die kompos en chips toedien, het ons so 15–20% waterbesparing. Dit help geweldig baie.
Organiese materiaal en voeding
Pohl: Die chemiese plantvoedingsprogram moet na my opinie aangepas word. Ons kan nie die organiese materiaal toedien en nie die bydra wat ons ten opsigte van plantvoeding maak in ag neem nie.
Of jy nou eenkeer in vier jaar baie kompos en deklaag neersit, en of jy dit elke jaar optop dink ek nie is relevant nie, want daar’s ’n konstante toevoeging uit daai bron in terme van die plantvoeding. Dis ’n baie moeilike som om te maak om te bepaal hoeveel stikstof of kalium jy so gee.
Maar dit verwoord na die blaarontledings toe en nie noodwendig na die grondontledings toe nie. Want ons sien dit nie in die grond op ons normale chemiese ontleding nie, maar as mens na die blaarontleding kyk dan sien jy die kalium of die stikstof is hoog. In die appelboerdery waar ek betrokke was, het ek later die kaf weggestuur vir ontleding om te kyk hoeveel kalium daarin is, en dit van die chemiese program afgetrek.
Elke bietjie maak ’n bydrae en dit mineraliseer vinniger soos wat die biologiese aktiwiteit in die grond toeneem.
Die drie pilare van grondgesondheid is fisies, chemies en biologies, maar ons vergeet van die komponent van energie wat ons in die grond bysit. Ek weet nie hoe mens dit moet kwantifiseer nie, maar daar is ’n vermoë in die grond en binne-in daai ekosisteem om te kan aanpas by dit wat ons doen.
Hendrik Pohl het van sy ervarings met grondgesondheid by die 2024 Hortgro Tegniese Simposium gedeel. Sy voorlegging is op die Hortgro YouTube-kanaal en in Fresh Quarterly uitgawe 26.
Related Posts
Volhoubare swamdodergebrui
Botritis is een van die mees algemene oorsake van naoesbederf in vars groente en vrugte wêreldwyd.
Research Outputs
The main goal of SATI’s Research and Technical Transfer Programme is to generate credible, impactful knowledge by funding relevant and targeted projects that align with industry needs and opportunities.