Wat vertel kouemodelle ons van bot? – Die antwoorde lê in die skepping van ’n fenofase-temperatuurdatabasis
Die doel van koue-modelle is om te voorspel hoe bome hulle rus gaan breek in die lente. Deur Anna Mouton
Gaan bome vinnig wakker skrik en ywerig aan die blom kom? Of gaan hulle traag bot en rusbreekmiddels benodig? Die hoeveelheid koue wat die bome deur die winter gehad het behoort vir mens te sê – in teorie.
“Ons kyk na die koue-eenhede en om eerlik te wees, weet ons nie altyd wat enigsins die waarde van die modelle is nie,” erken prof Wiehann Steyn, algemene bestuurder by Hortgro Science, “want ons weet nie of hulle regtig korreleer met die rusbreking wat ons kry nie.” Hortgro het in 2019 ’n nuwe projek geloods wat sal poog om hierdie onsekerheid aan te spreek.
Read MoreKwantifisering van koue
Die belangrikheid van koue temperature om dormansie teweeg te bring en weer op te hef word nie betwyfel nie. Meeste steenen kernvrugprodusente in areas met warm winters is deeglik bewus van die probleme wat deur té min koue veroorsaak word.
Produsente maak meestal op chemiese rusbrekers staat om hierdie situasie te bestuur. Maar die korrekte aanwending van rusbrekers is afhanklik van voorwete – hoe sterk gaan die bot wees in die lente?
“Jy moenie jou blind staar teen die hoeveelheid koue wat jy gekry het nie. Dit hang af wanneer jy daai koue gekry het – die herfs- en lente-temperature. Dit maak ook ‘n verskil, veral in ‘n warm area.”
“Jy verwag meer probleme in die jaar met min koue-eenhede teenoor die jaar met ’n klomp,” sê Steyn, “en breedweg gesien is dit so. Maar daar is party jare wat jy relatief min koue-eenhede het en dan is jou bot nie so swak as wat jy gedink het nie. En dan’s daar jare wat jou koue-eenhede eintlik relatief goed was, maar die bot is nie so goed as wat jy gedink het dit sal wees nie.”
“Jy moenie jou blind staar teen die hoeveelheid koue wat jy gekry het nie,” verduidelik dr Esmé Louw van die Departement Hortologie by Universiteit Stellenbosch. “Dit hang af wanneer jy daai koue gekry het – die herfs- en lentetemperature. Hierdie skouerseisoentjies maak ook ’n verskil, veral in ’n warm area.”
Louw is een van die leiers van die nuwe projek, saam met dr Iwan Labuschagne van die onafhanklike kultivar-evaluasiemaatskappy, Provar. Louw glo dat daar nie té veel klem gelê moet word op koue-modelle nie. “Wat belangrik is op die ou einde van die dag is of daar genoegsame, gesinkroniseerde bot is – dis die blomme en die oes wat jy gaan hê. Wat jy eintlik moet meet is die plant se respons. En jy moet dit probeer koppel aan dit wat gebeur het die vorige seisoen.”
Steyn stem saam. “Ons meet koueeenhede elke liewe jaar maar min mense hou tred van rusbreek. Met ’n goeie datastel vir rusbreking sou ons rusbreek kon korreleer met verskillende koue-modelle, en kyk in watter mate die modelle beskryf wat ons sien. Ons kon selfs potensieel die modelle probeer verbeter.”
Die fenofasetemperatuurdatabasisprojek
Die skepping van die databasis wat Steyn beskryf is presies dit wat die nuwe fenofase-temperatuurprojek ten doel het. Die projek het in 2019 begin, en sal loop tot 2025. Temperatuurdata sal vanaf herfs tot lente versamel word, saam met data oor die rusbreekgedrag van kommersiële appel- en pruimbome.
Een deel van die projek sal volwasse bome in bestaande boorde in areas met kontrasterende klimate moniteer. Vir pruime is daar ’n Laetitia- en ’n Angeleno-boord in beide Franschhoek en Robertson gekies. Vir appels is daar ’n Golden Delicious- en ’n Granny Smith-boord in beide Elgin en die Koue Bokkeveld gekies.
’n Ander deel van die projek sal jong bome volg wat geplant is vir aanpasbaarheidsproewe. Hierdie bome is in 2019 op die Pro-Hort-evaluasiepersele gevestig. Tien pruimkultivars wat die spektrum van vroeg- tot laatblom dek, is geplant op persele in Paarl, Robertson, en die Koue Bokkeveld. Tien appelkultivars wat die spektrum dek van lae tot hoë kouebehoefte is geplant op persele in Elgin, Robertson en die Koue Bokkeveld.
“Ek dink dis eintlik ’n reuse-oorsig dat daar nooit so ’n studie was nie.”
“Ons sal kan sien, was dit ’n uitgerekte bot, was die bot naby aan mekaar en wat was die persentasie bot,” sê Louw, “en ons gaan dan probeer om dit te verbind met temperatuur en met die modelle.” Die navorsers beplan om die fenologiese stadiums, soos knopvorming, blaarval, knopswel, bot en verskillende blomstadiums, insluitende die opening van die eerste bloeisel, volblom en die einde van blom aan te teken.
Die eerste jaar van die projek was ’n toetslopie om die verskillende metodes van dataversameling te beproef. Dataversameling begin in erns hierdie lente.
Modelle onder die loep
Temperatuurdata vanaf die verskillende proefpersele sal met behulp van bestaande koue-modelle – koue-ure, Utah, Infruitec, en dinamies – verwerk word, sodat die verwantskap tussen die voorspellings van die modelle en die gedrag van die bome ondersoek kan word.
“In watter mate beskryf dit die kouemodelle wat jy sien?” vra Steyn. “Watter een van hulle werk die beste vir watter streek? En vir watter kultivars?” Die projek gaan gebruik maak van die vakkennis van prof Eike Luedeling, leier van die Tuinboukundige Groep binne die Instituut vir Gewaswetenskappe en Hulpbronbewaring by die Universiteit van Bonn. Luedeling geniet internasionale aansien vir sy modellering van temperatuureffekte in vrugtebome.
Meeste Suid-Afrikaanse produsente gebruik tans óf die Utah-model, óf die Infruitec-model. “As die dinamiese-model beter is, dan moet ons daarnatoe beweeg,” sê Steyn. “En as van die nuwe aanpassings wat deur Luedeling-hulle gedoen is nog beter is, dan moet ons dit gebruik. Maar vir nou weet ons nie.”
Steyn waarsku dat ’n skielike verandering in die manier waarop koue-eenhede uitgewerk word dalk produsente kan verwar. Hulle sal nie die aantal koue-eenhede wat met verskillende modelle bereken is, direk met mekaar kan vergelyk nie. “Ons hoop om ’n klomp historiese klimaatsdata in die hande te kry en die modelle daarop te pas. Dan kan jy ’n tabel hê vir die verskillende streke, en dan kan produsente sien wat die verskille is teenoor die inligting wat hulle in die verlede gekry het.”
Die nuwe projek maak ook voorsiening vir die ontleding van historiese temperatuurdata met die verskillende koue-modelle, om verskillende scenarios van toekomstige koue-akkumulasie, gegrond op verskillende vooruitskattings van klimaatsverandering, te skep. Een doel is om ’n idee te vorm van toekomstige koue-akkumulasie in steen- en kernvrugproduksie-areas. Die ander doel is om te bepaal hoe goed bestaande kouemodelle in die toekoms sal werk.
“Ek dink dis eintlik ’n reuse-oorsig dat daar nooit so ’n studie was nie,” sê Steyn. “As iemand rekord gehou het, en ons het nou ’n 20–30 jaar rekord gehad van rusbreking, dan sou jy geweet het wat jou rusbreking dryf, en die vermoë gehad het om beter vooruitskattings te doen. Maar daar’s nooit ’n beter tyd as nou om te begin nie.”
Main image: Bome wat by die Pro-Hort perseel op Klipboschlaagte evalueer word.
Related Posts
Citrus biosecurity threats
This is the fourth instalment in our series on citrus biosecurity threats. By CRI Biosecurity…
Table-grape breeding in the genomic era
Genome editing has the power to revolutionise cultivar development, but South African growers are at…