Meet om te weet
Dutoit Agri het die hulp van konsultant Henco Smit van Prima Defensio ingeroep om te probeer om kneusings hok te slaan. Smit het 'n spesifieke belangstelling in appelkneusings ontwikkel gedurende sy betrokkenheid by die implementering van voorafsortering by Novo pakhuis in 2006.
Smit was destyds getaak om die voorkoms van kneusings tydens elke stap vanaf lewering by die pakhuis te kwantifiseer. "Ek het gesien dat tegnologie in die pakhuis in die afgelope paar jare soveel verbeter het dat daar eintlik baie min kneusings – enigiets tussen 1.0 – 2.5% – met voorafsortering bygevoeg word," onthou hy.
Hy het wel opgemerk dat vrugte reeds heelwat kneusings het wanneer dit by die pakhuis aankom. Gevolglik het Smit sy fokus na die verskillende stappe van vrugtehantering voor lewering verskuif.
By Dutoit Agri het hy die hele proses vanaf pluk tot by die koelkamer ontleed om te sien hoe kneusings beter ondersoek kan word. Een tekortkoming was dat vrugkwaliteit-evaluasies die skade tydens meer as een stap in die ketting reflekteer.
"Teen die tyd wat ons die eerste monster op die plaas trek, is die krat deur die kratstel en 'n vurkhyser gehanteer," sê Kotze. "Maar dan gee ons vir die arme plukker die skuld vir kneusings."
Nog 'n komplikasie is dat die eerste vrugkwaliteit-evaluasie die hoeveelheid kneusings kan onderskat. "As ek die deursnee vrug vat – gegewe die verskille tussen kultivars en pluktoestande – dan is 90% van die kneusings na 24 uur sigbaar," sê Smit. "Meeste van die bedryf en pakhuise soek die kneusings te vinnig nadat hulle die monsters getrek het."
Kotze het dus kratte onversteurd oornag in die boord laat staan om presies te bepaal hoeveel kneusings deur plukkers veroorsaak word. "Daar was amper geen kneusings in daai kratte nie," rapporteer hy.
Hoe meer data Smit en Kotze ingesamel het, hoe minder het die vinger na die plukkers gewys. Dit het al duideliker geword dat kneusing hoofsaaklik plaasvind terwyl die appels ná pluk in kratte hanteer en vervoer word.
Vurkhysers en vragmotors
Kneusings ontstaan wanneer oormatige kragte vrugvleesselle breek. Twee hooftipes kragte – staties en dinamies – werk op appels in 'n krat in. Appels ervaar statiese kragte as gevolg van die gewig van ander appels terwyl dinamiese kragte deur stampe en vibrasies veroorsaak word.
Appels wat met die kratbodem en -kante kontak maak is meer geneig om te kneus omdat hulle die meeste skok absorbeer wanneer daar enige eksterne krag op die krat uitgeoefen word. Sulke appels sal ook van die kragte aan naburige appels oordra – die effek is soortgelyk aan 'n kettingbotsing. Appels nader aan die bodem is boonop ook onder druk van al die appels wat bo-op hulle lê.
Deur sensors in van die kratte by Dutoit Agri te plaas kon Smit die kragte op die appels deurlopend vanaf die boord tot by die pakhuis meet. Hy het gevind dat insidente tydens vurkhyserhantering en vragmotorvervoer die kragte tot drie tot vier keer kan verhoog.
"Teen die tyd dat ons die vrugte by die pakhuis tip, is die krat 16 – 24 keer deur 'n vurkhyser hanteer," sê Smit. "Buitelandse navorsers het gevind dat sodra 'n vurkhyser aan die krat raak, is tussen 15 – 47.5% van die vrugte op die kratbodem gekneus."
Die verhoogde kragte op die vrugte word hoofsaaklik deur die optel van die krat veroorsaak. 'n Appel op die bodem ondervind terselfdertyd opwaartse druk van die vurkhyser en afwaartse druk van die appels bo hom. Hoe vinniger die vurkhyser die krat lig, hoe groter is die druk en dus, hoe groter die risiko van kneusing.
"Ons sê heeltyd dis die plukker of die trekkerdrywer wat die kneusings veroorsaak," sê Kotze. "Maar die trekkerdrywer kruip met die kratstel vanaf die boord na die laaiblad, en dan is daar 'n vurkhyser wat met die krat jaag."
Die sensors het ook gewys dat die kragte op vrugte noemenswaardig verhoog tydens vragmotorvervoer oor slegte paaie. Alhoewel Dutoit Agri reeds die snelheid van hulle vragmotors beperk, het die ondersoek saam met Smit gedemonstreer dat nog laer snelhede op sekere stukke pad nodig is.
"Ons het ons paaie klaar gemerk," sê Kotze. "Ons het net een seisoen se data maar ek dink ons is 100 keer beter as wat ons in die verlede was. Nou gaan ons terug plaas toe om die hantering daar te evalueer."
Terug na die plaas
Kotze werk tans verder saam met Smit om die kragte in elke stap van die hanteringsproses te kwantifiseer. "Vandat jy begin pluk tot die appel in 'n karton is, voeg elke stap in die proses tot 'n mindere of meerdere mate kneusings by," sê Smit. "Ons moet net bepaal waar 80% van die oorsaak lê."
Vurkhysers en kratstelle bly 'n fokuspunt en gaan vorentoe verder gemoniteer word. Installering van vurkhyserreguleerders is 'n opsie. Smit beklemtoon egter dat dit belangrik is om 'n kultuur te skep waarin kratstel- en vurkhyserdrywers altyd stadig ry, selfs al het hulle nie 'n vrag nie.
Daarby het Dutoit Agri reeds ander veranderings begin maak om kneusings te verminder. Kotze is opgewonde oor die resultate wat hulle met skokabsorberende kratvoerings behaal het. Die herbruikbare kratvoerings, wat deur Smit ontwerp en gepatenteer is, verminder die oordrag van kragte vanaf die kratbodem en -kante na die vrugte.
Die gebruik van kratvoerings word ook deur buitelandse navorsing ondersteun wat gevind het dat voerings die aantal kneusings per vrug met 35 – 40% kan verminder. Smit het gedurende sy tyd by Novo gesien dat die laai van kratte op skokabsorberende materiaal in die vragmotor kneusings met
4 – 6% kan verminder.
Kotze is optimisties dat hulle in samewerking met Smit vir die eerste keer werklik vordering maak in die stryd teen kneusings. "Ewe skielik het ons met sensors en tegnologie prosesse geïdentifi seer waarop ons in die verlede nooit so baie klem geplaas het nie," sê hy. "Daarsonder sou ons waarskynlik die skuld vir die verkeerde mense of die verkeerde stap in die proses gegee het."