
Uitzicht
Ruby Sun- en Tifany-boorde by Wilhelm Naudé in die Overhex word as toppresteerders deur land-bou-ekonomiese maatskappy FruData aangewys.
Deur Anna Mouton
Die Naudé-familie is al sedert 1819 op Oudewagendrift naby Worcester maar hulle het eers in 1990 hul eerste steenvrugboorde geplant. Die steenvrugboerdery heet Uitzicht Vrugteboerdery en beslaan tans 80 hektaar waarvan ongeveer 70% nektariens en perskes, en die res pruime is.
“Ons konsentreer meestal op die vroeë-nektarienmandjie omdat ons geografies van die vroeër areas is,” sê Wilhelm Naudé, direkteur van Uitzicht Vrugteboerdery. “Met pruime fokus ons op die goeie variëteite wat aard in die area en waarvoor ons goeie oorsese programme kan hê.”
Hy beskryf Oktober en November as hulle goue maande maar hulle het ook middel en later kultivars.
Read MoreUitblinker boorde

Volgens FruData se opname is Uitzicht se Ruby Sun- en Tifany-boorde uitnemende presteerders. Die drie-hektaar Ruby Sun-blok is in 2011 teen 3.5 x 1.5 meter gevestig. Die onderstam is Marianna.
Die Ruby Suns se gemiddelde jaarlikse produksies is rondom 45 ton per hektaar met 60% uitvoerkwaliteitvrugte. Die mees onlangse oes was 46 ton per hektaar met 70% uitvoerkwaliteitvrugte.
Naudé skryf die bogemiddelde uitpakke die afgelope seisoen aan relatiewe windstiltoestande toe. Die boord is nie onder nette nie en windskaafmerke benadeel meeste jare die uitpakke.
“Daai tyd wat dié boord geplant was, was daar nog nie navorsing op nette wat kan oop- en toemaak oor pruime nie,” sê produksiebestuurder Corné Strydom. Uitzicht beplan ’n Ruby Sun-aanplanting vir volgende jaar wat wel deur intrekbare nette beskerm sal word.
In die bestaande Ruby Sun-blok is elke tiende boom ’n Fortune of Harry Pickstone kruisbestuiwer. Die twee kruisbestuiwers is in afwisselende rye en Naudé het opgelet dat die rye met Harry Pickstone beter vrugset het.
Ongelukkig het die Ruby Suns die afgelope twee jaar merkbare gomsiekte as gevolg van Xanthomonas-infeksie begin toon. Volgens Naudé is Xanthomonas-infeksie ’n bedryfswye Ruby Sun-probleem wat die leeftyd van boorde aansienlik verkort.
Daar is twee Tifany-blokke by Uitzicht, een in 2018 en die ander in 2021 gevestig. Beide is min of meer twee hektaar met ’n 4.0 x 1.5 meter spasiëring.
Feitlik al Uitzicht se jonger nektariens is op GF-677. “Al nadeel van ons grond is dat daar bietjie kalk in party dele is en dan kry die bome ystertekorte,” sê Naudé. “Kakamas wys dit, maar met GF-677 is dit glad nie ’n probleem nie.”
Die Tifany-boorde lewer jaarliks ongeveer 40–50 ton per hektaar met uitvoeruitpakke van 80–85%. Hulle het in die mees onlangse seisoen bykans 10 000 uitvoerkartonne per hektaar geproduseer.
Ideale toestande
“Ek dink die sukses van baie van ons boorde is nie net die bestuur daarvan nie,” sê Naudé. “Dis die goeie ligging met goeie water en bogemiddelde grond.”

Hy verduidelik dat hulle ’n unieke mikroklimaat met minder reën en warmer lentes as naburige areas het. Jaarlikse reënval is slegs ongeveer 250 mm, maar daar is voldoende water vir besproeiing uit privaatdamme en die Worcester-Oos-pompskema.
In 2023 het Uitzicht 677 en in 2024 497 Infruitec koue-eenhede gehad. “Omdat ons grond redelik ver uitmekaar is, plant ons die hoër kouebehoefte-variëteite op die meer laerliggende dele,” sê Naudé.
Die boonste deel van die plaas is weer warmer en dus ideaal vir laer kouebehoefte-kultivars, wat vir Uitzicht Vrugteboerdery ’n geleentheid skep om vroeër in die mark te kom. Hulle het byvoorbeeld heelwat Royal Ruby en kan dit gewoonlik ’n week of selfs twee weke voor die meeste ander produsente oes.
Uitzicht het goedgedreineerde Karoo-leemgronde met ’n klei-inhoud van 20–25% en geen klippe nie. Dié grond het as spoelgrond uit die berge ontaard en is baie eenvormig, wat nogal ongewoon in Wes-Kaapse boorde is.
Toe Uitzicht se eerste steenvrugte in 1990 geplant is, is dit op ou saailande, weiding of ou wingerdgronde gevestig.
“As ons boorde uittrek, plant ons eers vir so drie tot vier jaar lusern voordat ons ’n boord hervestig,” sê Naudé. “Ek dink dit dra by tot die sukses omdat die gronde kans kry om te rus. Sodra jy begin boom op boom plant het jy maar pyne.”
Aalwurms is meestal tot die wingerdgronde beperk en selfs daar is dit nie ’n groot probleem nie. Ouer boorde word met behulp van jaarlikse grondmonsters ge-moniteer en aalwurmbehandelings toege-dien indien getalle dit regverdig.
Met plant word daar 40 m3 kompos per hektaar op die bankies geplaas wat met 40 m3 houtspaanders bedek word. Dit word elke drie tot vier jaar vervang wanneer dit verweer het. Die houtspaanders beskerm die mikrobes in die kompos wat weer tot grondgesondheid bydra.
“Vroeër jare het die bankies toegeslaan,” onthou Naudé. Die grond het kliphard geword terwyl dit nou sag bly en sigbare organiese materiaal bevat. “Hoe minder jy woel in daai grond, en hoe beter jy dit bestuur, hoe beter raak die grond, maar dit vat ongelukkig baie tyd.”

Noodsaaklike nette
Uitzicht het in 2018 begin om nette op te rig. Waar hulle uitvoeruitpakke van nektariens 60–65% sonder nette was, is dit nou 85–90% met nette. Alle nektariens wat hulle sedert 2018 geplant het, is onder vaste nette en alle pruime wat huidig geplant word, is onder intrekbare nette.
“Die nette is nie mooi nie, maar vir winsgewendheid het ons nie ’n ander keuse nie,” sê Naudé. “Die som wat ons destyds gemaak het, is dat die nette hulself binne vyf jaar betaal maar dis eintlik binne drie tot vier jaar.”
Die hoofrede vir nette is om wind-skaafmerke te voorkom, maar die nette help ook vir sonbrand tydens hittegolwe. Alhoewel dit warmer onder die nette is, blyk die hoër temperature om nie vrugkwaliteit te benadeel nie.
Alle nette oor die nektariens is wit 20%-skadunette. Die kante is met groen 40%-skadunette toe. Die nette is 4.8 meter bo die grond sodat daar ongeveer ’n meter oop spasie tussen die bome en die nette is om lugvloei toe te laat. Dit keer ook dat die bome in die nette vasgroei en die nette beskadig.
Bome onder nette groei geiler. Uitzicht het byvoorbeeld twee laat nektarienkultivars wat min of meer dieselfde tyd geoes word, een onder nette en een nie. Dié onder nette het vir die afgelope twee jaar geen stikstof gekry nie omdat hulle te geil is. Hulle het ook drie keer somersnoei gehad teenoor die normale twee keer.
Die kultivar onder net het egter 85% uitvoeruitpakke teenoor 70% vir die kultivar wat nie ’n net het nie.
Naudé waarsku dat nette kleurontwikkeling kan benadeel. “Jy moet ’n vroeë somersnoei en so twee tot drie weke voor oes weer ’n somersnoei doen,” sê hy. “Dis ook goed dat sonlig inkom om die hout ryp te maak.”
Optimale oeslading
“Ons doen baie moeite met die bestuur van oeslading,” sê Strydom. “Jy leer jou kultivars oor die jare ken sodat jy weet wat die tonne vir ’n optimum vruggrootte is.”
Oesladingbestuur begin reeds met wintersnoei, verduidelik Naudé. “Meeste van ons blokke is V-stelsels. Ons het 30 lote per kant – 60–70 goeie lote – nodig. Dié wat te veel is sny ons tot vier vingers en dié wat die 3:1-dikteverhouding oorskry haal ons heeltemal uit.”
Wanneer Tifany begin bot, sny hulle die voorste derde van die lote af om die draposisies te verminder. Die agterste deel van die loot gee dan ook goeie breke wat weer draposisies vir die volgende seisoen skep. Hierdie strategie werk egter nie vir alle perske- en nektarienkultivars nie.
Uitzicht dun slegs met die hand uit. Die dag voordat vruguitdunning begin sal hulle die vrugte op 10–12 bome in ’n boord tel om sodoende die optimale aantal vrugte per loot te bereken. Daarna word opvolgtellings gedoen om seker te maak die uitdunners bly binne daardie norm.
“Dis gewoonlik nie ’n probleem dat jy te veel afgooi nie,” sê Naudé. “Jy los eerder gewoonlik te veel vrugte.” Uitzicht doen twee uitdunnings op alle boorde. Die tweede uitdunning is 10–12 dae na die normale vroeë uitdunning. Vrugte wat te veel is of kosmetiese defekte het, word met die tweede uitdunning verwyder.
“Dis krities belangrik om daai tweede uitdun te doen, want die mense maak maar foute,” sê Naudé. “En ons sit eerder met ’n bietjie laer tonne en groter vrugte, want jou markgeleentheid is soveel beter met ’n groter vrug.”
Druppers teenoor mikros
Uitzicht se ouer blokke soos die Ruby Suns is op mikrospuitbesproeiing, maar al die nuwer blokke soos die Tifanys is op drupbesproeiing. Die drupbesproeiing is dubbellyne met 600 mm tussen druppers. Die vloei is 2.3 liter per uur.
Die gronde by Uitzicht is ideaal vir drupbesproeiing omdat dit sywaartse beweging van water toelaat maar ook goed gedreineer is.
“Die mikros het voordele,” sê Naudé. “As jy hittegolwe kry, kan jy vinniger met die mikros natmaak en jy maak ’n groter oppervlakte nat, so jy kan die boord bietjie afkoel. Met drie of vier dae se hittegolwe kan jy impulse gee en die humiditeit in die boord beter bestuur.”
Met die druppers kan mens nie wag totdat die hittegolf gebeur om te besproei nie, sê hy. Vir langer siklusse begin Uitzicht dus reeds twee dae voor hittegolwe hul boorde met drupbesproeiing besproei, sodat die grond deeglik nat is.
Mikros het ook nadele. Naudé vind dat hulle meer arbeidsintensief is omdat die spuitjies gereeld nagegaan moet word teenoor drup waar die stelsel slegs elke drie tot vier weke gespoel moet word.
Boorde met mikrospuite, soos die Ruby Suns, het ook aansienlik meer onkruid as boorde met druppers. Daar is byvoorbeeld in die laatsomer geen onkruid in die Tifany-blokke nie. Naudé sien egter nie noodwendig die onkruid as ’n nadeel van mikros nie.
“Daardie té kaal boorde is nie eintlik goed nie,” sê hy. “Die voordeel van mikros is meer lewe in die grond. Jy wil materiaal op die boordvloer hê.”
Ongeag die besproeiingstelsel word kunsmis in alle boorde met fertigasie toegedien. “Dit is meer koste-effektief,” sê Strydom. “En jy is seker van hoeveel kunsmis jy toedien.”
Elke ding op sy tyd
Alhoewel Uitzicht se uitstekende groeitoestande definitief tot die sukses van hulle boorde bydra, speel hulle benadering tot bestuur ongetwyfeld net so ’n groot rol.
“Pas praktyke toe op die tyd wat dit toegepas moet word, en moenie dit los vir ’n week of twee later nie,” sê Strydom. “Doen die ding op sy tyd – dis die kort en die lank daarvan.”
Somersnoei is ’n goeie voorbeeld hiervan. Dit bots dikwels met ander aktiwiteite soos uitdun en oes. “Maar jy het net ’n week of wat om dit te doen. As mens dit te laat doen, dan raak die lote te sterk en jy verloor groei,” sê Naudé. “Jy moet die lote teen laatste die eerste week in Desember na vier vingers terugsny om hergroei vir volgende jaar te kry.”
Hy sal dus ekstra mense inkry of Saterdae snoei indien nodig. Op warm dae sal Uitzicht ook slegs tot 12h00 oes en die werkers sal in die middae somersnoei of boordsanitasie doen. Om in die koeler deel van die dag te oes help natuurlik met vrugkwaliteit en terselfdertyd kry noodsaaklike praktyke aandag.
Uitzicht het ’n groot span permanente personeel wat op die plaas woon. Dieselfde persoon sal dikwels dieselfde rye bome jaar na jaar snoei en kan dus die effek van hul aksies direk waarneem.
Werkers kan ook sien hoe praktyke soos uitdunning iets soos vruggrootte affekteer, omdat die vrugte op die plaas gepak word. “As jou mense op grondvlak verstaan waaroor dit gaan, dan weet hulle daar’s nie kortpaaie nie,” sê Naudé. “As almal inkoop is dit soveel makliker om suksesvol te wees.”
Goeie mense, sorgvuldige bestuur, ideale groeitoestande – Uitzicht het al hierdie dinge. Naudé beklemtoon egter nog ’n noodsaaklike bestanddeel vir sukses. “Met steenvrugte moet jy passievol wees,” sê hy.
Related Posts
CRI Postharvest Workshops 2025
This year, the regional CRI Postharvest Workshops had a packed venue at each of the six locations visited across the country during January and February. A total of 1 200 delegates attended, representing a wide range of sectors within the citrus industry, from packhouse managers and staff to exporters and agrochemical representatives.
Notably, there’s a rise in attendance by the young demographic. This and the overall upward growth trajectory of the citrus industry of Southern Africa make for a promising future.
Extension briefs June and July 2025
Orchard sanitation must continue diligently during the harvesting period. All fruit that remains on trees after harvest must be removed and destroyed two weeks after completion of harvesting, at most. This is because false codling moth (FCM) activity does not cease during winter, and any remaining fruit could serve to facilitate this activity.
Plus, this winter fruit creates a reservoir of inoculum of FCM for the following spring. Conversely, removal of all fruit after harvest could dramatically reduce FCM levels in the following season. Fruit fly numbers can also build up on unharvested fruit.