Daar is ’n toenemende konsensus onder tegniese raadgewers dat beskermende nette noodsaaklik raak om Klas-1 uitpakke van sommige pruimkultivars te maksimeer. Meeste produsente het tans permanente of intrekbare oorhoofse nette maar dit is ’n duur opsie en moeilik om in bestaande boorde te implementeer.
Drapeernette mag moontlik ’n koste-effektiewe alternatief tot oorhoofse nette wees en leen hulself tot gebruik in gevestigde boorde. Daar is egter min inligting beskikbaar oor die gebruik van drapeernette in pruime. Om hierdie leemte aan te spreek, ondersoek ’n Hortgro-befondsde studie die eksterne en interne vrugkwaliteit in twee pruimkultivars onder drapeernette.
Die driejaarprojek word deur Handré Viljoen, Steenvrug Portefeuljebestuurder by ExperiCo Agri-Research Solutions, gelei. Hy en sy span het dieselfde bome in twee voldraende kommersiële boorde met wit 20%-drapeernette bedek en met onbedekte bome vergelyk.
Een van die boorde was ’n Laetitia-blok in Montagu en die ander ’n African Delight-blok in Simondium. Beide areas het hoë somertemperature en heelwat wind. Die Laetitia-blok het druppers en die African Delight-blok mikrospuitbesproeiing.
Die drapeernette is na uitdun opgesit en met oes verwyder. Temperature en relatiewe humiditeit onder en buite die nette is deurlopend elektronies aangeteken. Die navorsers het ook data oor lootgroei, opbrengste, en vrugkwaliteit in die boord versamel, en ’n monster vrugte na die laboratorium geneem vir ’n volledige eksterne en interne kwaliteitsbepaling. Verdere vrugmonsters is ses weke na koue-opberging sowel as na ’n addisionele vyf dae raklewe geëvalueer.
Data-analise vir die eerste twee seisoene is afgehandel, maar die data vir die derde seisoen word nog verwerk.
Drapeernette en mikroklimaat
Produsente rapporteer oorwegend geiler groei onder oorhoofse nette, maar dit is nie in Viljoen se drapeernetproewe gesien nie. Sy span het in elke seisoen gemerkte lote gemeet voor hulle die nette opgesit en na hulle die nette verwyder het.
Lootgroei en opbrengste van bome met en sonder nette was soortgelyk in die eerste twee seisoene behalwe vir ’n betekenisvolle hoër opbrengs in Laetitia onder drapeernette in 2024. Die bome onder nette het gemiddeld 38.8 ton per hektaar gelewer teenoor 23.2 ton per hektaar in die onbedekte bome.
“Die skadufaktor is nie so groot dat jy groot verskille in vrugbaarheid of vegetatiewe groei sou verwag nie,” sê Viljoen. Heelwat produsente neem egter verhoogde geilheid en opbrengste onder oorhoofse nette waar, so die derde seisoen se groei- en opbrengsdata gaan interessant wees.
Die effek van die drapeernette op temperature en relatiewe humiditeit in die blaredak was nie dieselfde in die verskillende seisoene nie, en die weer was ook wisselvallig tussen seisoene. Volgens Viljoen was die eerste seisoen besonders warm, maar die daaropvolgende twee seisoene was meer gematig. Oesdatums (Tabel 1) het ook aansienlik varieer.
Uit Viljoen se ervaring is dagtemperature oor die algemeen hoër onder nette. “Ons het dit met ander proewe ook gesien, waar temperature onder permanente oorhoofse nette 1–3 °C hoër as buite die nette was,” sê hy.
“Ek dink die ryrigting speel ’n rol in die temperature onder die drapeernette,” spekuleer hy. Wanneer die ry- en windrig-tings dieselfde is, waai die wind in die rye af, wat die boord meer afkoel as wanneer die wind net bo-oor die bome waai.
Eksterne en interne vrugkwaliteit
Vrugte van bome onder drapeernette was geneig om minder skaafmerke te hê as dié van bome wat onbeskermd was, gegrond op evaluasies na ses weke koue-opberging en na vyf dae raklewe.
In die eerste seisoen het ongeveer 29% van Laetitia-pruime in onbeskermde bome skaafmerke gehad, teenoor slegs 14% van Laetitia-pruime in bome met drapeernette. Die syfers vir die tweede seisoen is 10% in onbeskermde bome en 6% in drapeernetbome.
Ongeveer 27% van onbeskermde African Delight-pruime het na ses weke in koue-opberging in die eerste seisoen skaafmerke gewys, teenoor slegs 9% van African Delight-pruime onder drapeernette. Daar was geen skaafmerke in African Delight-pruime met of sonder nette in die tweede seisoen nie.
“Wanneer vrugte aan die buitekant van die boom sit, skaaf die net teen hulle en dit los merke,” sê Viljoen. Die nette het egter minder as 1% van die Laetitia-pruime en geen African Delight-pruime in sy proewe beskadig nie, wat daarop dui dat wind ’n veel groter probleem is.
“Daar is definitief minder sonbrand onder nette,” voeg Viljoen by. Hy waarsku egter dat nette nie noodwendig die vrugte teen hitteskade sal beskerm nie.
Viljoen se indruk van die eerste twee seisoene se data is dat drapeernette geen nadelige uitwerking op vrugkleur of -kwaliteit in Laetitia en African Delight het nie.
“Ons data sover wys dat drapeernette nie skadelik is nie,” sê hy. “As hierdie seisoen se data soortgelyk is, dan moet ons ’n groter proef doen op ’n plaas waar ons die vrugte op ’n paklyn kan sit, groot monsters kan evalueer, en die uitpakke bepaal.”