Pruimedantbome wat soos pruime hanteer word lewer ’n winsgewende uitvoerproduk. Deur Anna Mouton
Pruimedante – Europese pruime – is tradisioneel vir droog gekweek en is deesdae skaars in SA in vergelyking met Japanese pruime. “Pruimedante is ’n ou ding, maar daar het nuwe deure daarvoor oopgegaan,” sê Jan-Stephan Lombard. Hy is die vyfde generasie vrugteprodusent op die plaas Roodezand net buite Tulbagh.
Roodezand het twee hektaar Van der Merwe-pruimedante op Kakamas saailingonderstamme wat in 2017 teen 4.0 x 1.5 meter geplant en op ’n palmetstelsel opgelei is. “Ek dink dis die eerste hoëdigtheidpruimedant-aanplanting,”
sê Lombard. “Ons lei hom soos ’n pruim
op omdat ons die vruggehalte vir uitvoere wil hê.”
Jan Lombard – Jan-Stephan se pa – was van die eerste pruimedantprodusente om hoër digtheidaanplantings te beproef. Hy het in die 1980s geslote-kelkboorde teen
4.9 x 3.7 meter gevestig. Na ’n 1994 besoek aan Australië saam met prof. Daantjie Strydom het Roodezand ook begin om steenvrugte op die V-stelsel op te lei.
Vroeër jare het Roodezand se gedroogte pruimedante toekennings by die Droëvrugteraad verwerf maar deesdae het hulle fokus na vars pere en steenvrugte vir die uitvoermark verskuif.
Read More
Supersoet pruimedante
Volgens Jan-Stephan Lombard is pruimedante soortgelyk aan pruime maar baie kleiner en soeter. Uitvoerpruimedante moet 30–40 mm in omtrek met ’n minimum 19 °Brix wees. Die minimum vir meeste pruime is rondom 12 °Brix.
“Pruimedante se °Brix kan tot 22–24 gaan,” sê Lombard. Roodezand oes die pruimedante wanneer hulle nog ’n effense groen kleur het omdat die mark nie sagte vrugte wil hê nie. Die pruimedante word in kassies eerder as mini-bins gepluk.
“Ons probeer die stingel aanhou om verrimpeling te bekamp,” verduidelik Lombard. “Verrimpeling is die grootste kwaliteitsdefek wat jy oorsee kry.”
Pruimedante is nie sensitief vir interne defekte as gevolg van hoë temperature voor oes nie. Hulle kry glad nie sonbrand nie en is nie baie gevoelig vir windskade nie. Na oes is hulle houvermoë soortgelyk aan pruime.
Roodezand maak van spesiale verpakking gebruik om die houvermoë van hulle pruimedante te maksimeer. “Dis soortgelyk aan die beheerde atmosfeersak vir tafeldruiwe,” sê Lombard. “Dis baie duur maar ons kliënte wil slegs die produk hê as dit in só ’n sak is omdat dit baie lank vars bly.”
Die mark vir vars pruimedante is grootliks tot die Midde-Ooste beperk maar Lombard sien pruimedante as ’n aanvulling om hulle pruimpakkie te diversifiseer. Hy vind dat pruimedante ’n goeie prys behaal, selfs in jare wat daar ’n ooraanbod van pruime is.
Hy beklemtoon egter dat die oes en verpakking van pruimedante arbeidsintensief is. “Jy sal twee hektaar met 50 mense oes en 50 mense pak, omdat die vrugte so klein is. Dis hoekom dit so ’n hoëwaardeproduk
is en jy ’n goeie opbrengs moet kry om dit die moeite werd te maak.”
Vestiging en opleiding
Die pruimedantboord is gevestig op grond wat vir 10 jaar lank oopgestaan het nadat ’n ou Kakamasboord uitgetrek is. “Ons het weggetrek met die regte plantmateriaal – dit was baie mooi bome,” onthou Lombard.
“Ons het hulle na plant afgesny en die twee leiers was klaar in die eerste jaar teen die boonste draad. Toe het ons die takke met toutjies platgetrek en ons kon in die derde jaar al oes.”
Op aanbeveling van Piet Nieuwoudt, Roodezand se tegniese raadgewer vir die pruimedante, het Lombard van die begin af tidiasuroon in mineraalolie vir rusbreek aangewend. “Ons het gedink ons gaan sukkel met breke,” sê Lombard, “maar hier is nie ’n tekort aan breke nie.”
Tans word die bome in die somer, herfs, en winter gesnoei, hoofsaaklik om takke wat té dik is te verwyder en om goeie lighuishouding te handhaaf. Nes pruime, benodig pruimedante genoegsame lig vir kleurontwikkeling en suikervorming, asook die vorming van sterk blomknoppe.
Lombard verkry ’n gemiddelde opbrengs van 25–35 ton per hektaar – ongeveer dubbel wat die ouer geslote-kelk boorde in die 1980’s gelewer het. “Met daardie ou bome het jy baie vrugte afgestamp en jy kon nie in die middel uitkom nie,” sê hy. “En aan die binne- en onderkant van die boom was die vrugte vaal.”
Solank goeie opbrengste behaal word, bevestig Lombard dat die gemiddelde inkomste van pruimedante dié van Japanese pruime kan oortref.
Bestuur deur die jaar
Die pruimedantblok is op klipperige kleigrond. Lombard gebruik ’n kafdeklaag in die boomry wat elke drie jaar hernu word en sit jaarliks hoender- of beesmis neer. Hy vind dat die ekstra aandag aan grondgesondheid die gebruik van chemiese aalwurmbeheer in volwasse boorde onnodig maak.
“Ek sal ’n jong boom help met aalwurmbehandeling,” sê hy, “maar vandaar af wil ek nie weer chemie gebruik nie, want dit voel vir my jy boer dan agteruit – jy maak al die goeie grondorganismes dood.”
Pruimedante het nie kruisbestuiwers nodig nie. Roodezand plaas wel bye in die blok as ekstra versekering vir voldoende vrugset. Meeste jare set die pruimedante na wense en word met die hand uitgedun om die korrekte vruggroottes en -suikers te behaal. “Ek sal liewers uitdun as om nie ’n groot genoeg oes te hê nie,” sê Lombard.
Die bome is oor die algemeen sterk en gesonde groeiers. Behalwe vir ekstra arbeid rondom die hantering van die kleiner vrugte, is pruimedante se insetkoste nie meer as dié van die meer algemene Japanese pruime nie.
“Ek is ’n groot voorstander van nie marginale vrugte boer nie, want as daar skielik iets soos ’n Eskom-skok of ’n loonskok kom, dan is jy in ’n harwar want daardie boorde is nie winsgewend nie,” beaam Lombard. “Ek sê, boer eerder winsgewend en volhoubaar as om hektare na te jaag.”