Dutoit Agri beproef twee opleistelsels vir drupbesproeide Lady in Red op M.9 onder nette. Deur Anna Mouton
Volgens Willie Kotze, tegniese raadgewer by Dutoit Agri, is Lindeshof in die Koue Bokkeveld nie die maklikste plek om appels te produseer nie. “Lindeshof is ’n warmer plaas met ’n harder somerklimaat,” sê hy. “Ons was nie seker of ons met dwerg-
ende onderstamme hier kan boer nie.”
Hulle Lady in Red op M.9 het egter teen derde blad hul spasie gevul en die skatting vir hulle eerste oes was ongeveer vier ton per hektaar. Kotze reken die bome is al amper te geil en hy begin praat van die nodigheid vir die groeireguleerder proheksadioon-kalsium vir volgende seisoen.
“Toe ons hierdie blok beplan het, was ons bereid om ’n risiko te neem om iets te leer,” onthou Kotze. “Ons het gesê, kom ons probeer iets anders as M.9, en op daai stadium het G.969 baie belowend gelyk.”
Tydens die maak van die bome het daar egter nuwe inligting oor G.969 vorendag gekom wat Dutoit Agri laat besluit het om eerder M.9 te gebruik. Hulle het wel vier rye G.969 geplant – dié bome is merkbaar swakker as hulle tydgenote op M.9.
Die M.9 kwekeryboompies was in Ellepots gekweek en redelik dun by aankoms op Lindeshof. Hulle is in die lente van 2021 teen 3.0 x 1.0 meter geplant en die boomry is met ’n laag houtspaanders bedek. Die boomry is nie opgeërd nie.
“Dit is die nouste wat ons nog in ons groep geplant het,” sê Kotze. “Ons wil bietjie nader plant om meer van ’n vrugmuur te hê.”
In hulle eerste seisoen is die boompies nie getop nie. Té sterk takke is verwyder en verder is hulle gelos om te groei. Teen die tweede seisoen het Lindeshof begin takke buig. Vorentoe is die plan om die bome op twee verskillende maniere op te lei.
Read MoreVrugmuur teenoor spindels
Dutoit Agri gaan ’n formele vrugmuurstelsel in ’n gedeelte van die blok implementeer. Die bome se dratakke gaan teen horisontale drade vasgetrek word. Daar sal uiteindelik agt drade wees wat elk ongeveer 45 sentimeter uitmekaar is.
“Ons wil op die drade soos in ’n pruimstelsel produseer,” verduidelik Kotze. “Ons gaan die bome oor die volgende jaar of twee heeltemal tweedimensioneel maak.”
Sy mikpunt is bome wat slegs 30–40 sentimeter diep is. Al die draposisies sal ewe veel lig kry om sodoende eenvormige vrugte te lewer. Ligblootstelling beïnvloed eerstens die aantal en kwaliteit van vrugknoppe. Tweedens is ligblootstelling van die blare wat elke vrug voed noodsaaklik vir neerlegging van droëmassa in die vrug. En natuurlik moet blos-appels genoegsame lig vir rooi kleurontwikkeling ontvang.
“Dit gaan vir ons op die einde van die dag nie net oor tonne nie, maar oor uniforme goeie kwaliteit, grootte en kleur,” sê Kotze. “Ons het ouer boorde wat ons omgeswaai het na hierdie konsep en die kleur en uitpakke is beter, en die hoeveelheid pluk baie minder, as met ons driedimensionele boorde.”
Nog ’n voordeel van die tweedimen-sionele bome is makliker oesskattings omdat al die vrugte op die boom sigbaar is. Daarby leen die vrugmuur hom tot meganiese aksies soos snoei en blarebreek solank die boordvloer gelyk is.
Die ander gedeelte van die boord word volgens die bewese spindelstelsel opgelei. Waar die dratakke van die vrugmuur feitlik permanent is, word die dratakke van die spindels gereeld vervang sodat die bome altyd op jong hout dra. Gereelde hernuwing help voorkom ook oorskaduwing wat lei tot swakker spore en blinde hout naby die leier.
“Die risiko met die spindels is dat jy nog steeds vrugte naby die leier kan produseer wat nie so homogeen soos dié in die vrugmuur is nie,” sê Kotze.
Besproeiing met dubbellyndrup
“Op Lindeshof is water eerder as grond die beperking,” sê Kotze. “Hier is tydens die droogte ongeveer 80–90 hektaar appels uitgetrek waarvoor ons nie water gehad het nie, en dis nog nie teruggeplant nie.”
Die Lady in Red-blok is Lindeshof se eerste drupbesproeide boord. Die 1.6 liter-per-uur druppers is 50 sentimeter uitmekaar op elkeen van twee lyne.
“Wat lekker is van die druppers is dat dit maklik is om die areatjie in die pot van potbome nat te kry,” sê Kotze. “Ons het die een drupperlyn eers toegemaak en die ander lyn tot teen die bome geskuif sodat hulle binne in die potjie water gee. Soos wat die wortels ontwikkel het ons die ander lyn oopgemaak en die lyne wyer geskuif.”
Die stelsel is ontwerp vir strookbenatting in die boomry en daar was reeds in die eerste jaar uitstekende wortelontwikkeling. Dit is te vroeg om gevolgtrekkings oor waterverbruik te maak, maar Dutoit Agri het vier jaar se data uit boorde op hulle Vastrapplaas wat waterbesparings van tot 28% met drupbesproeiing wys. Ten spyte hiervan is van die Vastrapboorde onder drup so geil dat wortelsnoei nodig is.
Lindeshof kry ryp, so die waterleweringstelsel moet ook vir rypbestryding geskik wees. Hulle het vir dié doel pulserende oorhoofse sproeiers en mikrospuite installeer wat slegs die boomry benat en op lae drukke funksioneer. Dit voorkom rypskade sonder om water te vermors of die werksry oormatig te benat.
Die blok is wel onder grys 15% skadunet, maar die bome is nie met nette bedek in die lente wanneer dit gewoonlik ryp nie. Kotze is ’n groot voorstander van reflektiewe deklae om rooi kleurontwikkeling onder nette te bevorder. Hy vind dat ’n kombinasie van reflektiewe deklae en blarebreek selfs onder swart drapeernette goeie rooi kleur in Cripps Red gee.
Met sy eerste oes op pad is dit nog vroeë dae vir die Lady in Red-blok maar sover lyk dit asof hierdie boord ’n blink toekoms gaan hê.
“Ons aanvanklike vrees was dat ons nie die bome op ’n drupstelsel gegroei gaan kry nie,” sê Kotze. “Hierdie boord was ’n bewys van konsep – dat ons M.9 Ellepotbome met druppers kan grootmaak. En as ons drie of vier jaar terug geweet het wat ons nou weet, sou ons definitief in al ons nuwe ontwikkelings alreeds na drup oorgegaan het.”
Hierdie boord is een van die deelnemers aan die Hortgro Science Konsepboord-program.
BOX
Die boord in kort
Kultivar: Lady in Red
Onderstam: M.9
Gevestig: 2021
Plantafstand 3.0 x 1.0. meter
Area: 1 hektaar