Risikobestuur rondom hael
Die oordeelkundige gebruik van nette en versekering kan haelrisiko help afdek.
Deur Anna Mouton
Marius van der Westhuizen se loopbaan in die sagtevrugtebedryf het bykans 30 jaar gelede met verpakking en bemarking begin. Hy is sedert 2005 die hoof-uitvoerende beampte van Southern Fruit Farms en bestuur hulle ses kernvrugproduksie-eenhede in die Langkloof. Van der Westhuizen het vanaf 2003–2005 as ’n raadslid by die Suid-Afrikaanse Steenvrugprodusentevereniging en vanaf 2013–2015 as ’n raadslid by die Suid-Afrikaanse Appel- en Peerprodusentevereniging gedien. Hy verteenwoordig sedert 2018 die Langkloof by die Hortgro Kernvrugprodusenteraad. Hortgro het met Van der Westhuizen gesels oor die impak van hael en hoe produsente dié risiko strategies kan afdek.
Read MoreV Hoe het die bedryf en die klimaat van die Langkloof oor die laaste drie dekades verander?
A Die bedryf het nie in oppervlakte gegroei nie – ons boer inteen – deel dalk ’n paar hektaar minder. Maar die hoeveelheid uitvoerkartonne het meer as verdubbel. So ons skep beslis meer werks-geleenthede en ons het in omset gegroei. Die pakhuise hanteer baie meer produk en daar is ’n groter behoefte aan logistieke dienste. Die hele waardeketting skep meer geleenthede vir almal. Ons winsgewendheid het egter onder druk gekom, hoofsaaklik as gevolg van die skerp toename in insetkoste. Verder word ons deur institusionele verval bedreig. Ons tweede grootste bedreiging is egter klimaatsverandering. Dit is onomwonde so dat daar ’n skuif in weerpatrone is. Ons het vorige jare net hael gekry uit donderweer wat in die Karoo op warm dae opsteek. Deesdae kry ons dit ook saam met afsnylae en die insidensie van hael is baie meer. In die Langkloof hael dit elke jaar. Omdat ons so ’n uitgestrekte produksie-area is, het ons altyd gespot dat dit net afhang by wie. Maar verlede seisoen het ons ses insidensies van hael in een seisoen gehad. Ons groep het produksie-eenhede waar dit drie keer gehael het. Dit is ongekend – dit het nog nooit vantevore gebeur nie.
V Wat was die impak van verlede seisoen se hael op die bedryf en die streek?
A Die impak is baie wyer as wat ’n mens dink, want dit beïnvloed die hele waardeketting. Dit affekteer die boer en die pakhuis – van die instansie wat kommissie op verkope verdien tot by die werktuigkundige wat die koelkamers in stand hou. Alle diensverskaffers in die industrie word geraak. Dit was die ergste hael wat ek nog ooit gesien het. Die eerste hael was op 11 No- vember 2022 op Joubertina en Twee Riviere. Ongelukkig het ons drie produksie-eenhede daar. Toe was daar weer hael op 13 Januarie 2023 en daarna letterlik vier verskillende insidensies op verskillende plekke. Ons maatskappy se eenhede strek van Avontuur tot Joubertina en ons het nie een eenheid gehad wat die hael vrygespring het nie. Ons het jong bome wat stukkend geslaan is – ons moes van hulle afknip om hul heeltemal van vooraf te laat groei of ons moes die boord uittrek. Gelukkig was die sapprys uitstekend. Maar die hael wat ons nou in die afgelope twee of drie seisoene gesien het, sit die sapfabrieke onder soveel druk dat hulle eenvoudig net nie die volumes kan hanteer nie. Ons moes selfs van ons sapvrugte langtermyn in koelkamers opberg. Dit het ook ’n impak op ons besigheid gehad omdat van ons vragmotors partykeer heeldag in ’n tou by die sapfabriek moes staan net om af te laai. Jy sit met ’n baie duur belegging in ’n vragmotor wat jou vrugte vir jou aanry, maar nou staan hy net heeldag. In die verlede het produsente vrugte uit die Langkloof gery en by sapfabrieke in die Wes-Kaap gaan lewer omdat die Wes-Kaap tradisioneel ’n beter sapprys betaal het. In die afgelope paar jaar het ons kompeterende sappryse in die Langkloof, maar my verwagting is dat die sapprys van veral pere gaan afkom. Sapfabrieke sal tog nie meer betaal vir produk waarvan daar ’n ooraanbod is nie.
V Het die verhoogde risiko van hael ’n effek op oesversekering?
A Soos wat klimaatverandering aanskuif en die risiko vergroot, raak die premies al hoe hoër. Southern Fruit Farms boer nie in een lokaliteit nie en dus het ons tradisioneel gedink ons risiko is kleiner. Ons kan nie werklik al ons boorde verseker nie – sou net een of twee van ons eenhede hael kry, sal ons waarskynlik nie eens ons premie terugkry nie. Met haelversekering is die bybetaling van die eerste 30% altyd vir jou eie rekening. So as jy byvoorbeeld 40% skade het, kan jy maar 10% eis. As ons alles moet verseker moet ons amper 80% of 90% haelskade op minstens twee of drie van ons eenhede hê vir ’n versekeringseis om sinvol te wees. Vandat ons haelnette opsit, het die permutasie heeltemal verander, want skielik het ons in ’n posisie gekom waar ons op elke plaas ’n persentasie kan toemaak en ’n persentasie verseker. Ons het verlede jaar, ten spyte daarvan dat die helfte van die Royal Gala-oes deur hael vernietig is, beter as ooit met die kultivar gedoen. Ons Royal Gala was nie toe onder nette nie, maar hulle was goed verseker. So ons het die risiko mooi afgedek.
V Wat is julle strategie rondom oesversekering en nette?
A Almal het aanvanklik gesê maak die hoogste waarde kultivars toe, want dit klink mos logies. Maar ek het besluit ek gaan die produk toemaak waar die net die meeste waarde toevoeg en die res sal ek verseker. Ons verseker daarby net die Klas 1 gedeelte. Ek het van die laer-waarde kultivars eerste toegemaak omdat die net die grootste waarde toegevoeg het. Ons kry byvoorbeeld met Packham’s Triumph ’n groener peer met minder windskaaf en verruwing onder nette. So die net het ’n legio voordele gebring en nou is dié peer van my versekeringslys af. Ons spaar daardie premie. Daar is ander kultivars waar die net waarskynlik ’n bietjie van die waarde van die produk wegneem. Ek los byvoorbeeld my Royal Gala-blokke vir laaste omdat die meeste van hulle bietjie ouer en op minder dwergende onderstamme geplant is. So die bestuur van kleur en grootte is moeiliker. Ek verseker hulle eerder. Op hierdie stadium sit ons drapeernette op, want dis ’n vinniger manier om daar te kom as om permanente strukture op te sit. Ek maak eerder 30 hektaar vanjaar met drapeernette toe as wat ek vyf of 10 hektaar se permanente struktuur oprig. Ons het nog ’n lang pad om te gaan en ons leer en ons maak foute. Maar ons is vir die eerste keer in ’n posisie dat ons kan besluit wat maak ons toe en wat verseker ons. En nou maak ons versekering weer sin. Ek persoonlik dink oor 50 jaar van nou af gaan die meeste produksie van hoë-waarde voedsel onder ’n struktuur plaasvind om voorsiening vir klimaatsverandering te maak. Die voordeel is dat ons bedryf só is dat ons boere met mekaar informasie deel. En dan het ons bedryfsorganisasies soos Hortgro wat al vir ons ’n klomp netproewe gedoen het. So ons het al ’n klompie goedjies geleer, maar ons begin nou eers en dit gaan tyd vat. Maar boere is innoverend – ons maak planne, want ons moet oorleef.
Related Posts
Citrus biosecurity threats
This is the fourth instalment in our series on citrus biosecurity threats. By CRI Biosecurity…
Table-grape breeding in the genomic era
Genome editing has the power to revolutionise cultivar development, but South African growers are at…