
Helder-water
Nuwe tegnologie ondersteun die presisie-bestuur van Fuji Fubrax op M.9 Nic29 by Dutoit Agri in die Langkloof.
Deur Anna Mouton
Dutoit Agri het in 2014 die eerste kommersiële M.9 blokke in die Langkloof gevestig. “Ons het gesê die pad vorentoe is baie hoër digtheid – ons wil bome meer soos die Europese model plant,” onthou Johan Kotze, hoofbestuurder van Dutoit Agri: Oos-Kaap. In 2015 het hulle hul tweede M.9-aanplanting gedoen: Fuji Fubrax op M.9 teen 3.5 x 0.8 meter onder nette. Die boord het 80 ton per hektaar in 2023 gelewer en Kotze reken hulle sal weer 80–90 ton in 2024 behaal. “In terme van hierdie spesifieke kultivar op hierdie digtheid wil ons darem ’n gemiddeld van 90 ton per hektaar per jaar met ’n gemiddelde vruggewig van so 160 gram handhaaf,” sê Kotze. “En dan wil ons 75% van die boom af in ’n uitvoerkarton kan sit. Ek dink daardie 75% uitvoervrugte is nodig om winsgewend te wees.”
Read More’n Fantastiese onderstam
Dutoit Agri se aanvanklike benadering tot M.9 was om dit slegs op goeie gronde en onder nette te vestig. “Ons het gesê ons moet ’n mikroklimaat skep wat gunstig vir M.9 se groei is,” vertel Kotze. “Maar ek dink dis veilig om te sê dat ons M.9 kan uitbrei na medium-potensiaal gronde toe, op voorwaarde dat ons ’n sterk groeiende bostam plant.” Alhoewel M.9 geensins nuut is nie, was baie produsente in die verlede bekommerd dat dié onderstam nie genoegsaam groeikragtig vir Suid-Afrikaanse toestande is nie. Die M.9 blok op Helderwater is egter inteendeel hierdie seisoen ten spyte van twee toedienings van proheksadioon-kalsium te geil. “M.9 is ’n fantastiese onderstam, maar dis nie ’n towerstokkie wat jy swaai en nou’s alles reg nie,” sê Erik Conradie, tegniese kernvrugkonsultant. “Dit het nog steeds baie aandag en onderhoud nodig, en vanjaar is ’n besonderse goeie jaar vir groei.” Die Fuji-bome word volgens ’n vervangingsmodel bestuur waarby van die ouer takke elke jaar verwyder of teruggesny word sodat nuwe drahout kan ontwikkel. Dit help ook om oorskaduwing in die blaredak te voorkom. “Ek dink die skuif is dat ons met al hoe minder takke en al hoe oper bome boer,” sê Conradie. “Maar ons produseer nog eintlik maar dieselfde tonne – goeie tonne.” Rooi kleurontwikkeling is krities vir Fuji en die bome se loof sal dienooreenkomstig vir die res van die seisoen bestuur word. Kotze oorweeg ook reflektiewe materiaal op die boordvloer. “Ons gebruik dit reeds op ander kultivars,” sê hy.
Hommeltuie hou ’n oog
Sedert 2017 werk Dutoit Agri saam met plaaslike landboutegnologiemaatskappy Aerobotics om gedetailleerde boordinligting met behulp van hommeltuie te bekom. Volgens Kotze is data vanaf die hommeltuie meer akkuraat as satellietdata wanneer boorde onder nette is. Die hommeltuie vlieg bo die net in die ry af en versamel hoëresolusiebeelde van individuele bome. Hulle meet verskillende golflengtes lig om die gesondheid en digtheid van die loof te bepaal. Inligting soos boomoppervlakte, boomgesondheid en transpirasietempo word gekarteer en in ’n selfoonapp beskikbaar gemaak. Tans gooi die hommeltuie eenmaal per jaar ’n oog oor al die Helderwater-boorde. Dit neem ’n enkele hommeltuig ongeveer ’n halwe dag om al 70 hektaar te bekyk – maar dit moet windstil en wolklose dae wees. So het Dutoit Agri byvoorbeeld op een plaas ’n ontwerpfout in ’n besproeiingsblok identifiseer. “Jy kon dit duidelik op die hommeltuigbeeld sien,” vertel Kotze. “Ons kon dit regstel en nou is daai probleem uitgesorteer.” Hommeltuigbeelde is ook onontbeerlik vir presisie-bemesting by Helderwater. Die inligting wat die hommeltuig genereer word aan ’n veranderlike kunsmisverspreider deurgegee wat bemesting daarvolgens variërend toedien. Swakker areas kry dus meer kunsmis terwyl sterk groeiende bome dalk niks kry nie. Tot dusver het presisie-bemesting tot aansienlike besparings gelei en dra by tot verlaagde insetkostes sowel as verbeterde volhoubaarheid. “Die hommeltuie het presisie-uitspreiding van kunsmis vir ons moontlik gemaak,” sê Kotze. “Maar jy moet nog altyd die tegnologie hê om dit in die boord toe te pas.” Hy gee erkenning aan James Reid van landbou-ingenieursmaatskappy Red Ant Agri Engineering vir die ontwikkeling van ’n bekostigbare plaaslike kunsmisverspreider wat data vanaf ’n hommeltuig of satelliet kan benut.
Vrugte op die foon
Gedurende die afgelope seisoen het Dutoit Agri eksperimenteer met ’n selfoonapp wat deur Aerobotics ontwikkel is om vruggroottebepalings te doen. Dit was die eerste keer wat die app in SA gebruik is, maar dit is wel in die teenseisoen in die Verenigde State getoets en verfyn. Die app identifiseer, met behulp van die hommeltuigdata, verteenwoordigende bome in elke blok. Iemand gaan dan fisies na die bome om die vrugte daarop te tel en 50 vrugte met hulle selfoon af te neem. Die app werk daarvolgens die oesskatting en vruggrootteverspreiding vir elke boord uit. Dutoit Agri samel weekliks hierdie data in. “Teen die einde van die seisoen was die vruggrootteverspreiding wat die app gegee het binne 2–3 millimeter van dit wat die boord gerealiseer het,” rapporteer Kotze. Behalwe dat die data beplanning ondersteun, help dit ook om moontlike probleme tydens die seisoen dadelik uit te lig. ’n Skielike afplatting in vruggroei kan byvoorbeeld wys op ’n besproeiingsprobleem.
Die toekoms vir tegnologie
As dit kom by meganisasie is eenvoudiger boomstrukture noodsaaklik, maar die Fuji-boord op Helderwater is nie ontwerp vir byvoorbeeld meganiese snoei nie. Dutoit Agri se tegniese span is reeds besig om nuwe opleistelsels te beproef wat onder andere meganisasie sal vergemaklik. Die Fuji-bome leen hulself wel tot vinniger en makliker spuitaanwendings. “Ons spuit huidig teen gemiddeld ongeveer 5.5 kilometer per uur teenoor die ou norm van 3 kilometer per uur,” sê Kotze. “En op hierdie spesifieke boord spuit ons rondom 500 liter water per hektaar. In die verlede het ons 750 liter water per hektaar gespuit.” Dit als bespaar kostes, maar dit beteken ook dat boorde vinniger die nodige spuitaanwendings kan kry – ’n belangrike oorweging wanneer daar byvoorbeeld risiko van appelskurf is. In die toekoms sal daar dalk outonome voertuie wees wat dag en nag die boorde kan patrolleer en enige peste en siektes dadelik aan bande lê. Kotze is skepties dat robotte binnekort sy vrugte gaan oes, maar hy sal verseker al die tegnologie wat reeds tot sy beskikking is gebruik om meer presies te boer. “Presisie-boerdery beteken ons moet in die boord kan staan en presies ’n besluit kan neem,” sê hy. “Ons moenie bang wees vir kunsmatige intelligensie nie – omvou hierdie goed en kyk wat werk vir jou. Want op die einde van die dag gaan dit oor hoe jy tegnologie kan aanwend om die beste resultate in die boord te kry.”

Boordbesonderhede
Gevestig: 2015
Kultivar: Fuji Fubrax
Onderstam: M.9 Nic29
Plantafstand: 3.5 x 0.8 meter
Grootte: 1.65 hektaar
Related Posts
Improved control of sour rot on citrus
Exploring potential fungicide solutions for improved control of sour rot on citrus. By Meagan van…
Extension briefs for February and March 2025
By Hannes Bester, MC Pretorius, Wayne Mommsen, Coenraad Fraenkel, André Combrink, Natasha Jackson, Jan Landman,…