
Optimale spuitaanwending vir hoëdigtheidsaanplantings
Vyf fokuspunte om die beste oesbeskerming te verkry.
Deur Anna Mouton
Dr Gideon van Zyl van gewasbe- skermingsmaatskappy ProCrop het by die 2023 Hortgro-seminaar en boordstap in die Langkloof sy wenke vir effektiewe spuitaan-wendings in hoëdigtheidsaanplantings gedeel. Die onderliggende beginsel van al hierdie aanbevelings is dat spuittoedienings volgens die eienskappe van elke boord of boordgroep aangepas moet word. “As jy dieselfde spuitpomp, watervolumes, lugvolumes, en spoed gaan gebruik, gaan jy foute maak – jy gaan afblaas en deurblaas kry,” het Van Zyl gemaan. “Plase wat konvensionele en hoërdigtheidboorde het, sal ten minste vier of vyf spuitgroepe nodig hê.”
Volgens Van Zyl is daar vyf faktore waarop produsente kan let om beter spuitdeposisie te verkry.
- Spuitpompkeuse Die doel van die spuitpomp is om druppels in ’n lugstroom te laai wat hulle na die teiken gaan dra. Baie hoë luglewering verhoog spuitmiddelverliese as gevolg van deurblaas en afblaas. Deurblaas is druppels wat dwarsdeur die boom trek terwyl afblaas druppels is wat deur ’n té sterk lugstroom van blare en vrugte verwyder word. Beide is veral problematies wanneer hoë lugvolumes met lae trekkerspoed gepaard gaan. Spuitpompprofiele moet ook by boom- profiele pas. Deposisiekwaliteit en -kwanti-teit verswak hoe verder en meer vertikaal druppels moet trek om bo in die boom uit te kom. Die hoek waarteen die lugkolom vanuit die spuitpomp na die boomtop trek behoort minder as 40 grade te wees. Dit sal ook wegdryf van spuitstof verminder. “Die kort en die lank is dat laeprofiel-spuite met hoë lugvolumes – hier van 48 000 kubieke meter en op – nie in ons hoëdigtheidsaanplantings pas nie,” het Van Zyl gesê. “Die ou waaiergat is nie optimaal vir hoëdigtheidsaanplantings nie.”
- Loofaangepaste bespuiting Volgens Van Zyl is loofaangepaste bespui-ting waar die lugkolom en die trekker se vorentoespoed aangepas is volgens die boom wat bespuit word. “Ons wil nie in ’n situasie wees waar ons té stadig vorentoe ry en met té hoë lug- volume spuit nie, want dan gaan ons deur-blaas en afblaas kry,” het hy verduidelik. “Ons wil ook nie té vinnig ry en té min lug uitsit nie, want dan gaan ons nie effektiewe penetrasie kry nie. Ons wil die vorentoe-spoed en die lugvolume pas by die boom.” Die maklikste manier om te sien of ’n spuit-aanwending by ’n boord aangepas is, is om agter die spuitkar deur die boord te stap en die spuitmengsel in die ry langs die spuitkar waar te neem. As daar oormatige deurblaas is, behoort die vorentoespoed vinniger te wees. As geen spuitmengsel deur die boom beweeg nie behoort die vorentoespoed stadiger te wees. Benewens die interaksie tussen trekker-spoed en lugvolume word trekkerspoed ook deur faktore soos veiligheid (die toestand van die boordvloer en rywydte) en logistiek (beskikbaarheid van spuitpompe) beïnvloed. Indien moontlik is vinniger beter, reken Van Zyl. “Hoekom wil jy stadig ry? Stadig ry is tyd mors,” het hy gesê. “Hoe vinniger jy kan spuit, hoe meer materiaal dek jy af.”
- Lugvolume Indien aanpassings in vorentoespoed nie die gewenste uitwerking het nie kan lugvolume manipuleer word. Die trekker se kragaftakker – power takeoff of PTO in Engels – hoef nie teen 540 revolusies per minuut te loop nie. Laer revolusies kan gebruik word om laer lugvolumes te genereer solank lewering en vermenging deur die pomp nie benadeel word nie. “Die belangrike ding met laeprofielspuite is om nog steeds by die boomtoppe uit te kom soos wat jy vinniger ry en jou lugvolume met laer PTOs afbestuur,” het Van Zyl gewaarsku. “Jy het nog steeds genoegsame energie nodig om druppels bo in die boom te kry. Onder in die boom gaan jy egter die negatiewe effek van afblaas en deurblaas hê.”
- Watervolume Watervolume moet genoegsaam wees om goeie deposisiekwaliteit en -kwantiteit te kry. “As jy ’n sekere hoeveelheid plantmateriaal het, het jy ’n sekere hoeveelheid water nodig om optimale deposisie te kry,” het Van Zyl gesê. Té min water lei tot té min deposisie terwyl té veel water tot afloop lei. Lae watervolumes kan ook met vinniger afdroging gepaardgaan wat swakker opname van byvoorbeeld sekere plantgroeireguleerders kan veroorsaak. Die 3–4 x konsentrasieriglyn word gebruik om watervolumes vir gewasbeskerming in hoëdigtheidsaanplantings te bepaal. Té hoë konsentrasies van sekere plantgroeireguleerders kan egter newe-effekte tot gevolg hê. Produsente moet ook onthou dat dit wetlik verpligtend is om produketikette na te kom. Van Zyl het daarop gewys dat dosering nie onder 100% van boomryvolume moet wees nie, ongeag groeistadia. “Jy gaan onderdoseer as jy teen 60% van boomryvolume aan die begin van die seisoen doseer,” het hy gesê. Elke druppel wat op die boom land moet nog steeds ’n sekere hoeveelheid van die aktiewe bestanddeel bevat om effektief te wees. Dit is belangrik om hoër watervolumes tydens dormansie te gebruik. “Ek sien gereeld hoëdigtheidsaanplantings wat teen té lae watervolumes gespuit word. Hoe minder die plantmateriaal in ’n boord is, hoe moeiliker is onderskepping. Jy moet genoegsame druppels na die teiken toe skiet, want slegs hout wat in die vlugpad van die druppels is, gaan hulle onderskep.” Van Zyl het in proewe gevind dat spuitaanwendings in dormante hoëdigtheidsaanplantings bykans 1 800–2 200 liter per hektaar benodig. Dit is belangrik om nie deurblaas te kry nie omdat daar ’n groter risiko van fitotoksisiteit as gevolg van ooraanwending is. Winterspuite kan geëvalueer word deur seker te maak dat alle hout na toediening ’n film op het, maar dat die spuitstof nie oormatig drup of afloop nie.
- Spuitkopkeuse Van Zyl beveel aan dat dieselfde spuitkoppe van bo na onder in toringspuite gebruik word indien die toring se hoogte die boomhoogte pas. Indien die toring laer as die betrokke boord is, kan twee groter spuitkoppe bo in die toring gebruik word. Spuitkoppe behoort van betroubare vervaardigers verkry te word om te verseker dat hulle volgens spesifikasies presteer. Hulle moet ook soos nodig vervang word. Fyn tot baie fyn druppels moet vir alle spuitaanwendings gebruik word. Hierdie druppels se leeftyd is egter kort. So, dit is belangrik om alle toedienings onder optimale spuitkondisies te doen. Uiteindelik sal slegs aktiewe bestanddele wat op teikens – blare en vrugte – land enige uitwerking hê. Van Zyl het internasionale data gedeel wat gewys het dat slegs 20–55% van die aktiewes wat toegedien word hulle teikens bereik. “Hoe swakker jou toediening is, en hoe swakker dit aangepas is by die boord wat jy spuit, hoe swakker gaan daai waarde wees,” het hy gesê. “Dit is hoekom dit belangrik is om voor mens jou spuite gaan kalibreer eers vas te stel wat die regte parameters vir jou boorde is.”
Optimale spuitaanwending vir drapeernette
Van Zyl het die resultate van spuitproewe met drapeernette aangebied. Die proewe is in 2021 en 2022 op Oudrif en Helderwater in die Langkloof uitgevoer. In beide jare is spuitdeposisie en appelskurf tussen bome met en sonder drapeernette vergelyk. In 2021 was die proefboord Royal Gala met ’n boomryvolume van 2 332 liter per hektaar. Die boord is volgens die gewone praktyke vir die plaas met ’n laeprofielspuitpomp teen 762 liter per hektaar en 3.2 kilometer per uur bespuit. In 2022 was die proefboord Fuji Royal met ’n boomryvolume van 2 192 liter per hektaar. Die boord is volgens ProCrop-aanbevelings met ’n hoëprofielspuitpomp teen 645 liter per hektaar en 5.6 kilometer per uur bespuit. Appelskurf is in 2021 op blare en vrugte waargeneem. Van Zyl skryf dit toe aan intervalle van meer as sewe dae tussen spuitaanwendings en infeksieperiodes. Geen appelskurf is in 2022 waargeneem nie. Spuitdeposisie was in beide seisoene bo die minimum bedekking nodig vir appelskurfbeskerming, maar deposisie aan die binnekant van die bome onder drapeernette in 2022 was ongeveer dubbel die deposisie in 2021. Deposisie aan die buitekant van die bome onder drapeernette was soortgelyk in beide jare. “Die nette kanselleer ’n persentasie van die spuitstof uit, ongeag van die lugvolume of trekkerspoed,” het Van Zyl rapporteer. Een rede hiervoor is dat die lug teen die nette vasslaan. Hoë watervolumes en groot druppels kan ook deposisie onder drapeernette verswak omdat die water ’n film op die net maak in stede van om deur die net te beweeg. “Die beste wat jy kan doen is om seker te maak dat jy appelskurf en kodlingmot afdek voordat jy die bome toemaak,” was sy aanbeveling. “Indien jy gaan toemaak met ’n eerste generasie motbesmetting of met appelskurf, moet jy verstaan dat dit vir die res van die seisoen baie moeilik gaan wees om daai sekondêre infeksies te bestuur.”
Related Posts
Volhoubare swamdodergebrui
Botritis is een van die mees algemene oorsake van naoesbederf in vars groente en vrugte wêreldwyd.
Research Outputs
The main goal of SATI’s Research and Technical Transfer Programme is to generate credible, impactful knowledge by funding relevant and targeted projects that align with industry needs and opportunities.