Hortgro het navorsing befonds om te leer hoe nuwe en gewilde appelonderstamme op watertekorte reageer. Deur Anna Mouton
Dwergende onderstamme is letterlik die grondslag van hoëdigtheid-appelboorde. Hoëdigtheid-aanplantings bied die geleentheid vir beter en meer uniforme vrugkwaliteit. Daarby begin bome op dwergende onderstamme gewoonlik vroeër dra en kom dus vinniger in volproduksie wat hoër kumulatiewe oeste oor die leeftyd van die boord bevorder. Maar is dwergende onderstamme geskik vir Suid-Afrikaanse toestande?
"Na die groot droogte van 2015 – 2017 was die bedryf bekommerd dat hoër-digtheidboorde op meer dwergende onderstamme dalk meer negatief geaffekteer sou wees," sê dr. Stephanie Midgley, Klimaatsverandering- en Risikobepalingswetenskaplike by die Wes-Kaapse Departement van Landbou.
Midgley het 'n onlangs-voltooide projek gelei om waterstres in potbome en voldraende boorde te ondersoek. Meeste van die navorsing is deur dr. Lindsay Muchena vir haar PhD gedoen.
Muchena verduidelik dat bome op meer dwergende onderstamme neig om kleiner en vlakker wortelstelsels en kleiner blaardakke as bome op meer groeikragtige onderstamme te hê. Onderstamme verskil ook in hulle vermoë om water te gelei as gevolg van verskille in die deursnee van hulle geleidingsvate.
Daarby beïnvloed die entlas hoe maklik water van die wortels na die lote vloei, waarskynlik as gevolg van verskille in verenigbaarheid tussen die onderstam en die bostam.
"Die verwagting was dat dwergende onderstamme meer weerstand teen water-vloei sou bied en die bostam dus meer stres sou ervaar as op 'n meer groeikragtige onderstam," sê Muchena. Die kleiner wortelstelsels van dwergende onderstamme ontgin ook 'n kleiner grondvolume wat moontlik hulle toegang tot water kan beperk.
Verskillende onderstamme produseer verskillende vlakke van planthormone soos absisiensuur. Wortels onder droogtestres maak absisiensuur wat reaksies soos huidmondjiesluiting in blare stimuleer. Navorsing het gewys dat sommige onderstamme meer absisiensuur as ander produseer.
Die genetika van 'n onderstam sal bepaal watter benadering die boom volg om droogtes te hanteer. Buitelandse navorsers het gevind dat bome op sekere onderstamme hulle huidmondjies sluit, terwyl ander groter wortelstelsels ontwikkel.
Midgley en Muchena het die reaksie van vyf appelonderstamme op watertekorte vergelyk met die doel om produsente se vrae oor dwergende onderstamme se moontlike gevoeligheid vir droogtestres te beantwoord. Hulle het ook die watergebruik van goedbenatte bome op die verskillende onderstamme ondersoek.
Studies van voldraende bome is in die Koue Bokkeveld in 'n kommersiële Rosy Glow-boord gedoen wat oorspronklik vir onderstamproewe uitgelê is. Die boord was beskikbaar omdat die onderstamproewe reeds afgehandel was.
"Dit was 'n goeie geleentheid om die bestaande proefbome te benut," onthou Midgley. "Dit het nie saak gemaak as ons hulle gestres het nie. In 'n normale boord sou boere nie graag droogteproewe wil doen nie."
Die bome is in 2010 teen 4.0 x 1.25 m in diep, sanderige gronde geplant. Die semigroeikragtige M.793, semidwergende G.222, M.7 en MM.109 met 'n M.9 EMLA tussenstam, en die dwergende M.9 RN.29 is in die watertekortproef ingesluit. Laasgenoemde word gewoonlik onder die handelsnaam M.9 Nic29 bemark.
Bome is in twee groepe verdeel. Een groep het te min water gekry terwyl die ander groep dieselfde as die res van die blok besproei is. Midgley en Muchena het besproeiingsraadgewer Louis Reynolds van Fruitful Crop Advice en landgoedbestuurder Johan Visser van Dutoit Agri geraadpleeg oor die toepaslike implementering van die watertekort.
Gedurende die 2017/18-seisoen het die tekort twee naastenby drieweekperiodes sonder besproeiing behels. Die eerste periode was van 20 Januarie – 8 Februarie, en die tweede was van 8 – 30 Maart. Geen noemenswaardige reën het in hierdie tye geval nie.
Data oor omgewingstoestande en boomfisiologie is versamel, en transpirasie, waterstres, blaargaswisseling, waterpotensiaal, hidrouliese eienskappe, wortelgroei, opbrengs, vrugkwaliteit, en waterproduktiwiteit is bepaal.
Benewens die evaluasie van onderstam-effekte op waterstres het Midgley ook saam met dr. Elke Crouch, Navorsingsleerstoel in Naoesfisiologie van Sagtevrugte by Universiteit Stellenbosch, vrugkwaliteit na berging ondersoek.
"Ons het nie baie duidelike resultate in die eerste seisoen gekry nie, so ons het die bome meer gestres in die tweede seisoen," sê Midgley. Gedurende die 2019/20-seisoen is besproeiing vir bykans 10 weke weerhou in die watertekortbehandeling van 17 Januarie – 23 Maart. Daar was weereens geen noemenswaardige reën gedurende hierdie tyd nie.
Die pot-weergawe
In 2018 – 2019 het Midgley en Muchena proewe met een- en tweejarige Rosy Glow-bome by Welgevallen Proefplaas in Stellenbosch gedoen. Hulle het die semigroeikragtige M.793, semidwergende G.202, G.222, en M.7, en die dwergende M.9 RN.29 getoets.
"Dit vat baie om 'n volwasse voldraende appelboom te stres," reken Midgley. "Natuurlik sal die reaksie op watertekorte baie sterker wees in klein boompies in die beperkte omgewing van 'n pot."
Die watertekortbehandeling het uit twee naastenby tiendae-periodes sonder besproeiing bestaan. Die eerste periode was van 23 Februarie – 3 Maart, en die tweede van 23 Maart – 1 April. Daar het bykans geen reën gedurende hierdie tye geval nie.
Soortgelyke data aan die boordproewe oor omgewingstoestande en boomfisiologie is versamel, behalwe dat die potbome nog nie in drag was nie. Droëmassa-akkumulasie en wortel:loot-verhoudings is aan die einde van die proef bepaal.
Wat het ons geleer?
Fisiologiese waardes – soos blaarwaterpotensiaal en huidmondjiegaswisseling – het gewys dat die watertekorte in die eerste seisoen se proewe die bome suksesvol gestres het. Die reaksie van die verskillende onderstamme het egter die navorsers verbaas.
"In ons studie het dit nie gelyk asof die bome op die dwergende M.9 RN.29 onderstamme meer vatbaar vir waterstres as die bome op meer groeikragtige onderstamme was nie," sê Muchena.
"Ons het ook 'n verhoogde watergebruik na blootstelling aan waterstres gesien, wat moontlik aan 'n toename in wortelontwikkeling gekoppel kon wees. Op hierdie wyse het M.9 RN.29 nie opgetree soos wat ons verwag het nie."
Bome op die verskillende onderstamme het groot verskille in transpirasietempo en watergebruik onder normale besproeiing gewys. Dié op M.793 het die hoogste transpirasietempo – ongeveer 25 ℓ per dag – en dié op M.9 RN.29 die laagste transpirasietempo – ongeveer 12 ℓ per dag – gehad.
Tydens die watertekort het M.9 RN.29 nog steeds die laagste transpirasietempo – ongeveer 7 ℓ per dag – gehad teenoor 14 – 17 ℓ per dag vir die ander vier onderstamme.
Muchena het uitgewerk dat die totale seisoenale transpirasie per boom onder waterryke toestande 4 255 ℓ vir M.793, 3 171 ℓ vir G.222, 3 131 ℓ vir MM.109 met 'n M.9 EMLA tussenstam, en 1641 ℓ vir M.9 RN.29 is.
In praktyk stel produsente egter meer in watergebruik per hektaar belang. Bome op dwergende onderstamme word teen hoër digthede geplant – kan dit dalk die laer transpirasie per boom uitkanselleer?
Om hierdie vraag te beantwoord het Midgley en Muchena uitgewerk wat die watergebruik per hektaar teen standaardbedryfsplantafstande sou wees. Hulle het die totale seisoenale watergebruik per hektaar onder waterryke toestande as 4 689 m3 vir M.9 RN.29, 7 249 m3 vir G.222, 7 260 m3 vir M.793, en 8 946 m3 vir MM.109 op 'n M.9 tussenstam bereken.
Alhoewel die totale opbrengs per hektaar die hoogste vir bome op MM.109 met 'n M.9 EMLA tussenstam en die laagste vir M.9 RN.29 was, is die geskatte waterproduktiwiteit vir bome op M.9 RN.29 – 15.7 kg per m3 – die hoogste wanneer standaardplantafstande in ag geneem word.
In vergelyking is die geskatte waterproduktiwiteit 14.8 kg per m3 vir MM.109 met 'n M.9 EMLA tussenstam, 14.1 kg per m3 vir G.222, en 11.8 kg per m3 vir M.793. Midgley wys egter daarop dat hierdie syfers slegs die transpirasie van die bome in ag neem. Dit sluit nie die bydra van verdamping vanaf die boordvloer in nie.
Nietemin dui die resultate daarop dat M.9 RN.29 nie net nie noodwendig meer sensitief vir droogtestres as meer groeikragtige onderstamme is nie, maar ook meer waarde kan lewer onder toestande waar water beperk is.
Die rol van hidrouliese geleiding
Die dwergende effek van sekere onderstamme is as gevolg van lae hidrouliese geleiding – die entlas is 'n bottelnek wat die vloei tussen die onder- en die bostam beperk. Tesame met nouer xileemvate in die onderstam verklaar dit hoekom dwergende onderstamme minder water gebruik.
Wanneer grondvog vrylik beskikbaar is en atmosferiese toestande hoë transpirasie-tempo's bevorder, kan bome op semigroei-kragtige onderstamme soos M.793 reageer deur huidmondjiegeleiding te verhoog omdat die boom se vate vrylike waterbeweging van die wortels na die blare toelaat.
Wanneer grondvog opdroog sal die boom sy huidmondjies sluit om waterverlies te beperk.
Daarenteen sal 'n boom op 'n onderstam soos M.9 RN.29 minder wisselvallige trans-pirasietempo's hê omdat hoë hidrouliese weerstand dit moeilik maak om die water-vloei tussen die wortels en die blare te wysig. So 'n boom sal eerder interne waterreserwes gebruik om verliese aan te vul.
"Die literatuur wys dat bome op die meer dwergende onderstamme minder en kleiner xileemvate het," sê Muchena. "Die meer groeikragtige onderstamme het meer en groter xileemvate."
Die potproewe het getoon dat beide M.793 en M.9 RN.29 hulle transpirasietempo's beter tydens en na die eerste watertekortperiode kon handhaaf, maar hulle het groter afnames in transpirasietempo's gedurende die tweede watertekortperiode in vergelyking met die ander onderstamme gehad.
Beide M.793 en M.9 RN.29 het egter beter herstel na die tweede watertekortperiode.
Waarskynlik gebruik M.793 gewoonlik baie water en hanteer waterstres deur die huidmondjies toe te maak. Die vaatbeperkings van M.9 RN.29 beperk altyd sy watergebruik, so bome op dié onderstam moet konserwatief wees en interne waterreserwes gebruik.
"MM.109 met 'n M.9 onderstam het geblyk 'n baie interessante onderstamkombinasie vanuit 'n fisiologiese perspektief te wees," sê Midgley. "MM.109 is 'n groei-kragtige onderstam, so mens kry hierdie interessante kombinasie van 'n groter wortelstelsel met 'n dwergende onderstam wat in sommige aspekte soos 'n dwergende onderstam maar in ander soos 'n groei-kragtige onderstam optree."
Ter opsomming het hierdie navorsing bevestig dat dwergende onderstamme nie noodwendig meer vatbaar is vir droogtestres as meer groeikragtige onderstamme nie. Produsente moet egter in gedagte hou dat nie alle dwergende onderstamme soos M.9 RN.29 sal reageer nie. Ander dwergende onderstamme mag dalk meer sensitief vir watertekorte wees.
Die voortreflike waterproduktiwiteit van M.9 RN.29 is egter 'n bonus, volgens Midgley. "Selfs teen die baie hoër boomdigthede vir boorde op dwergende onderstamme sal jy nog steeds laer watergebruik per hektaar kry," sê sy. "Ek dink hierdie is baie goeie nuus vir die bedryf."
In hierdie proewe het M.9 RN.29 ongeveer twee-derdes soveel water as G.222 en ongeveer die helfte soveel water as MM.109 op 'n M.9 tussenstam gebruik wanneer watergebruik per hektaar volgens standaardbedryfsplantafstande bereken is.
Produsente moet egter kennis neem dat hierdie resultate spesifiek van toepassing is op die onderstamme wat getoets is. Ander onderstamme mag dalk anders reageer, veral in strawwer omgewings as
die Witzenbergvallei.
Featured Image: Die proefboord van Rosy Glow op verskillende onderstamme (VERSKAF DEUR LINDSAY MUCHENA | UNIVERSITEIT STELLENBOSCH)
“Ons doel is die konsekwente produksie van vrugte wat die beste pryse sal behaal,” het Craig Hornblow gesê. Hy is ’n stigterslid van AgFirst en het byna 40 jaar se ervaring in hortologie met ’n spesifieke belangstelling in hoëdigtheidappelboorde. Die uitdaging is dat vrugkwaliteit en opbrengste beide binne ’n blok en binne individuele bome varieer.
We use cookies on our website to give you the most relevant experience by remembering your preferences and repeat visits. By clicking “Accept All”, you consent to the use of ALL the cookies. However, you may visit "Cookie Settings" to provide a controlled consent.
This website uses cookies to improve your experience while you navigate through the website. Out of these, the cookies that are categorized as necessary are stored on your browser as they are essential for the working of basic functionalities of the website. We also use third-party cookies that help us analyze and understand how you use this website. These cookies will be stored in your browser only with your consent. You also have the option to opt-out of these cookies. But opting out of some of these cookies may affect your browsing experience.
Necessary cookies are absolutely essential for the website to function properly. These cookies ensure basic functionalities and security features of the website, anonymously.
Cookie
Duration
Description
cookielawinfo-checkbox-analytics
11 months
This cookie is set by GDPR Cookie Consent plugin. The cookie is used to store the user consent for the cookies in the category "Analytics".
cookielawinfo-checkbox-functional
11 months
The cookie is set by GDPR cookie consent to record the user consent for the cookies in the category "Functional".
cookielawinfo-checkbox-necessary
11 months
This cookie is set by GDPR Cookie Consent plugin. The cookies is used to store the user consent for the cookies in the category "Necessary".
cookielawinfo-checkbox-others
11 months
This cookie is set by GDPR Cookie Consent plugin. The cookie is used to store the user consent for the cookies in the category "Other.
cookielawinfo-checkbox-performance
11 months
This cookie is set by GDPR Cookie Consent plugin. The cookie is used to store the user consent for the cookies in the category "Performance".
viewed_cookie_policy
11 months
The cookie is set by the GDPR Cookie Consent plugin and is used to store whether or not user has consented to the use of cookies. It does not store any personal data.
Functional cookies help to perform certain functionalities like sharing the content of the website on social media platforms, collect feedbacks, and other third-party features.
Performance cookies are used to understand and analyze the key performance indexes of the website which helps in delivering a better user experience for the visitors.
Analytical cookies are used to understand how visitors interact with the website. These cookies help provide information on metrics the number of visitors, bounce rate, traffic source, etc.
Advertisement cookies are used to provide visitors with relevant ads and marketing campaigns. These cookies track visitors across websites and collect information to provide customized ads.