PHYLA fokus op fitosanitêre navorsing
'n Nuwe Hortgro-befondsde fasiliteit beskerm en bevorder marktoegang vir Suid-Afrikaanse steen- en kernvrugte. Deur Anna Mouton
Om marktoegang te bekom en te behou is dikwels 'n kwessie van fitosanitêre risikobestuur. Ons moet bewyse kan lewer dat ons Suid-Afrikaanse vrugte kan uitvoer sonder om ongewenste peste en plae saam te stuur. En ons moet dit doen sonder om vrugkwaliteit of voedselveiligheid te benadeel.
In praktyk vereis dit deurlopende navorsing om naoesbehandelings te ontwikkel en te valideer sodat peste doodgemaak kan word sonder om vrugte te beskadig of residu's te laat. Hortgro het voorheen baie van hierdie werk uitgekontrakteer, maar sedert 27 Januarie 2023 kan dit by PHYLA, die steen- en kernvrugbedryf se eie fitosanitêre laboratorium, gedoen word.
fitosanitêre entomoloog en marktoegangspesialis dr. Shelley Johnson en PHYLA-bestuurder en -navorser dr. Renate Smit is entoesiastiese gidse vir 'n toer van PHYLA.
Read MoreIn die insektarium
Die ontwikkeling van metodes om insekte dood te maak benodig 'n konstante voorraad van insekte, so 'n ry klimaatbeheerde kamers by PHYLA is spesiaal toegerus om berugte fitosanitêre peste soos kodlingmotte en valskodlingmotte te teel.
In een van hierdie kamers is PHYLA-werknemer Ricardo Daniels besig om valskodlingmotpapies uit 'n bak vermikuliet te versamel. Hy plaas hulle in 'n swart houer vanwaar hulle as volwassenes te voorskyn sal kom.
Die volwasse motte voed nie – hulle het ander prioriteite. Larwes, daarenteen, word op 'n dieet grootgemaak wat deur entomoloog dr. Daleen Stenekamp en tegniese assistent Terence Asia ontwerp is.
Benewens motte huisves die insektarium ook ander peste, byvoorbeeld kalanders. Die kalanders woon in 'n stapel deurskynende houers en hulle larwes eet wortels.
"Wortels is beskryf as een van hulle gasheerplante," sê Johnson. "Ons het probeer om vir hulle verskillende diëte te ontwikkel wat wortels en ander bestanddele bevat."
Maar die kalanders het die beste op net gewone wortels gevaar, so nou is dit wat hulle kry, soms met 'n paar wortelblare by.
Insekkolonies benodig nie net die korrekte dieet nie, maar ook die regte temperature, humiditeit, lig, en skuiling.
"Die idee is om die getalle te produseer wat ons vir ons proewe benodig," sê Smit.
"Ons wil weet dat ons insekte van die hoogste gehalte gebruik, wat so na as moontlik aan natuurlike insekte is, omdat versameling van natuurlike insekte nie prakties is nie."
Hoëvlaktegnologie in werking
Naoesfitosanitêre-behandelings gebruik gewoonlik beroking of manipulasie van die temperatuur of atmosfeer. In die verlede is vrugte met metielbromied berook, maar dit word nie meer deur meeste markte aanvaar nie, so die ontwikkeling van alternatiewe metodes is 'n navorsingsprioriteit.
Die PHYLA-span ondersoek tans vier tipes behandeling: kouesterilisasie, osoon, ultralae-suurstofvlakke met en sonder stikstofmonoksied, en etielformiaat.
"Die lekker ding van hierdie fasiliteit is dat ons kan opskaal," sê Smit. Sy demonstreer 'n gewysigde twee-liter houer met twee kleppe en 'n poort om monsters te trek. "Hierdie is 'n kleiner weergawe van die ultralae-suurstofstelsel waarin ek voorlopige studies kan doen."
As 'n behandeling op die kleinste skaal werk, is die volgende stap 'n kubieke meter boks, gevolg deur 'n koelkamer. PHYLA het vier koelkamers wat elk vier palette vrugte onder beheerde atmosfeer kan hou. Die temperatuur en humiditeit word deurlopend gemoniteer en Smit kan koelkamertoestande op haar foon volg.
"Hierdie fasiliteit het nogal hoëvlaktegnologie," sê sy. "Ek kan inbel en presies sien wat aangaan. As enigiets verander, kry ek 'n waarskuwing. As ek 'n alarm vir temperatuur of suurstof kry, kan ek inbel en dikwels die stelsel sommer op 'n afstand weer regstel."
Een van die koelkamers is vir berokingsproewe aangepas. Sommige berokingsmiddels, soos etielformiaat, word as plofbaar beskou, so berokingskamers moet aan streng maatreëls, insluitende installasie van vonkvaste waaiers en ligte deur 'n meesterelektrisiën, voldoen. Die berokingskamer handhaaf egter baie lae suurstofvlakke, so daar is geen werklike gevaar dat PHYLA mag ontplof nie.
Johnson en Smit het alreeds gewys dat etielformiaatberoking teen peste soos graanstinkluis effektief is. Maar eerder as om koelkamers of verskepingshouers te berook, wil hulle velle wat etielformiaat bevat ontwikkel, soortgelyk aan die swaeldioksiedvelle wat vir tafeldruiwe gebruik word.
"As jy kratte vrugte berook, dan moet daardie vrugte nog verpak word, so daar is 'n risiko van herinfestasie," sê Johnson. "Maar as die velle in die kartonne gaan wanneer die vrugte gepak word, is die risiko van herinfestasie baie laer – soortgelyk aan kouebehandeling – omdat die behandeling op klaarverpakte vrugte toegepas word."
Probit verskaf sekerheid
Wanneer navorsers 'n nuwe behandeling ontwikkel, moet hulle bewys lewer dat dit werk voordat invoerlande dit sal aanvaar. Hierdie bewys word met behulp van probit-analise, 'n statistiese metode om 'n behandelingsrespons te skat, genereer. In die geval van fitosanitêre peste demonstreer probit-analise dat behandelings aan die gespesifiseerde vlakke van beheer voldoen.
"Daar is internasionale standaarde en riglyne wat die aantal monsters vir verskillende fases van die analise voorskryf," verduidelik Johnson. "Byvoorbeeld, as jy kouebehandelings doen moet jy begin deur die mees koue-tolerante lewenstadium van die insek te bepaal, want dit is die een waarmee jy die proewe gaan doen."
Vir die finale probit-analise moet die PHYLA-span individuele vrugte met die korrekte inseklewenstadium inokuleer. "Jy kan teoreties meer as een motlarwe in 'n vrug plaas," sê Johnson, "maar aangesien hulle mekaar eet, gebruik ons eerder net een per vrug."
Die aantal inokulasies per proef is verstommend: drie herhalings van 10 000 vrugte per behandeling, plus vrugte vir die onbehandelde kontrole. Vrugtevliegproewe is ekstra moeite omdat die vrugte met eiers inokuleer word, en dié moet vir elke vrug uitgetel word. Na behandeling word die vrugte geberg om vervoer te simuleer, waarna elkeen oopgesny word om te sien hoeveel larwes gevrek het.
Probit-analises word gewoonlik slegs vir nuwe behandelingsprotokolle vereis, maar invoerlande kan enige tyd addisionele data ter ondersteuning van bestaande protokolle aanvra. Boonop probeer PHYLA om een stap voor te bly deur toekomstige markvereistes te voorsien en moontlike behandelings te toets voordat hulle verpligtend word.
"As 'n mark ons vra hoe ons 'n spesifieke pes of nuwe uitdaging gaan hanteer, dan wil ons proaktief wees en die data hê om hulle te antwoord," sê Johnson.
"Die visie van PHYLA is om behandelings te ontwikkel wat insekte doodmaak maar vrugkwaliteit behou," is Smit se opsomming. Sodoende is PHYLA 'n onontbeerlike skakel in die ketting tussen boord en verbruiker.
Featured Image: Ricardo Daniels versamel valskodlingmotpapies (Credit: ANNA MOUTON)
Related Posts
Citrus biosecurity threats
This is the fourth instalment in our series on citrus biosecurity threats. By CRI Biosecurity…
Table-grape breeding in the genomic era
Genome editing has the power to revolutionise cultivar development, but South African growers are at…