Die ervaring van sommige produsente in die afgelope seisoen het weereens gewys hoe selfs relatief geringe naoes defekte kan lei tot groot finansiële verliese wanneer uitvoervrugte by hulle bestemming afgekeur word.
"Dit is verliese wat op die duurste moontlike plek plaasvind," sê Henk Griessel, gehaltebeheerbestuurder by Tru-Cape. "Jy het al die produksiekoste aangegaan, en die stoorkoste, en die pakkoste, en die vervoerkoste, en belasting, en versekering."
Griessel verduidelik dat 'n warm seisoen kan bydra tot interne verbruining indien produsente vrugte later oes in die hoop om beter kleurontwikkeling of groter vrugte te kry. "Pink Lady se standaard is nie 100% kleur nie, maar elke produsent wil graag hê dat sy vrugte 100% kleur moet hê – dis ook maar menslik."
Ongelukkig kan rypheid te ver vorder terwyl daar op kleur gewag word. Oorrypheid en verhoogde styselafbraak is een van die belangrike drywers van interne verbruining in beide Cripps Pink en Fuji. "Plukrypheid is super-belangrik in Pink Ladies," beklemtoon Griessel, "Mens kan nie daarmee rondspeel nie."
Volgens Griessel is dit deesdae 'n groter uitdaging om vrugte by optimale rypheid te oes, omdat hoë arbeidskoste produsente aanspoor om vrugte so goedkoop moontlik te pluk. Produsente moet die koste van addisionele hantering van vrugte wat dalk verskillende ryphede mag hê opweeg teen die risiko van verliese, as gevolg van verbruining en ander naoes defekte.
Benewens plukrypheid, is die toestande waaronder Cripps Pink geberg en vervoer word krities. Navorsing het bewys dat dié vrugte nooit onder 0°C gehou moet word nie. "Dit is belangrike navorsing wat nie altyd bekend is aan logistieke mense nie," sê Griessel. "Ons moet meer tyd daaraan bestee om daardie ouens te bereik."
Kyk anders na Fuji
Verbruining in Cripps Pink en Fuji verskil wesenlik, verduidelik Jaco Moelich, algemene bestuurder van tegniese dienste by Fruitways. "My ervaring is dat verbruining in Fuji deur hoë CO2-vlakke in die vrug veroorsaak word. Cripps Pink kan ook CO2-verbruining kry, maar die frekwensie daarvan in Cripps Pink is laag."
Boordfaktore speel 'n rol by beide Fuji en Cripps Pink, maar Fuji-verbruining is volgens Moelich baie meer boordspesifiek as Cripps Pink-verbruining. "Waar ons in 'n slegte seisoen redelik wydverspreid verbruining in Cripps Pink kan kry, en dan die volgende jaar glad nie, is verbruining in Fuji baie meer herhalend in dieselfde boorde oor seisoene," sê Moelich.
Sekere faktore soos groot vrugte, geil groei, lae oeslading, hoë stikstof en nat toestande kort voor oes kan progressiewe interne defekte oor die algemeen vererger. Sandgronde verhoog soms die risiko, veral as besproeiing onvoldoende is tydens hittegolwe. Omdat veral diffuse verbruining in Cripps Pink gekoppel is aan rypheid, kan klimaatsfaktore, mikroklimate en boordfaktore wat rypwording versnel die kans van verbruining vergroot.
Alhoewel bykans enige kondisies wat stres veroorsaak die risiko van interne verbruining kan verhoog, wys Moelich daarop dat nat gronde kort voor oes bekend is daarvoor dat dit dikwels gepaard gaan met interne verbruining in Fuji.
"Ons het naoes protokolle wat baie help, maar in sommige boorde is die risiko so hoog dat jy nie die probleem heeltemal kan vermy met goeie naoes praktyke nie," sê Moelich.
Dit is nie moontlik om hoërisiko Fuji-appels in die buiteland te bemark nie, omdat CO2-verbruining binne agt tot 12 weke na die oes ontwikkel. Moderne pakhuise maak staat op nie-destruktiewe interne sorteringstegnologie om vrugte met verbruining op die paklyn uit te haal.
Gelukkig kan goeie naoes praktyke in meeste gevalle 'n wesenlike verskil maak aan vrugkwaliteit. Nieteenstaande die diverse oorsake van interne verbruining in Fuji en Cripps Pink, is trapsgewyse verkoeling noodsaaklik om die probleem in beide kultivars te bestuur.
Die pad vorentoe
"Ek wil graag sê dat die navorsing wat oor die jare gedoen is, ons bedryf baie gehelp het om ons protokolle te verfyn rondom hierdie kwessies," meen Moelich. Alhoewel nie alles wat in SA toegepas word hier ontdek is nie, het plaaslike navorsers die internasionale resultate getoets en aangepas vir Suid-Afrikaanse kondisies.
"Ons kan met ons kennis van die navorsing, met van ons naoes praktyke, en deur goeie boordkennis ons risiko's al redelik goed bestuur," sê Moelich. "Meeste jare is interne verbruining op baie lae vlakke – dis die minderheid van boorde wat herhaal met die probleem."
Daar is egter natuurlik altyd ruimte vir verbetering. Moelich dink dat daar baie naoes probleme is wat beter opgelos sou kon word met 'n geïntegreerde benadering tussen voor- en na oes. Hy gebruik die voorbeeld van interne verbruining in Fuji om sy punt te illustreer.
"Die antwoord om interne verbruining in Fuji te bestuur lê 25% by na oes, maar 75% by voor-oes. Maar kyk ons geïntegreerd genoeg na die hele proses om die verband te kry tussen die twee? Om daardie oplossing te soek is moeilik, maar ek dink ons kan as 'n bedryf probeer om dit beter te doen."
"Toe ek destyds in die bedryf ingekom het was produsente verskriklik geïnteresseerd in na oes, en in hoe hulle die beste produk kan land," onthou Griessel. "Al die produsente was vreeslik betrokke by verskillende naoes komitees. Nou is daar niks meer produsente op die naoes navorsingskomitees nie – dis nie reg nie."
Griessel maak die punt dat meeste appels meer tyd in koelkamers en op skepe spandeer as aan bome. Alhoewel pakhuise en koelkamers miskien nie die lekkerste plekke is nie, en probleme met vertragings en verskeping 'n bron van irritasie kan wees, het naoes prosesse 'n reuse impak op inkomste.
"Na oes is tans die veld van ingenieurs – jy praat van beheerde-atmosfeer kamers en masjinerie – maar dit moet eintlik die veld van produsente wees," sê Griessel. "Want op die ou end is dit hulle vrugte. Hulle is die ouens wat die risiko neem, so ek sou wou sien dat hulle meer betrokke raak."
In die vroeë dae van beheerde-atmosfeer tegnologie was SA 'n wêreldleier in hierdie veld, en volgens Griessel was dit hoofsaaklik gedryf deur produsente. In die laat 70's en vroeë 80's het produsente selfs hulle eie beheerde-atmosfeer kamers gebou. "Hulle wou die beste gewees het, en hulle appels lank gestoor het, sodat hulle meer geld kon maak."
Met nuwe appelkultivars wat al hoe meer geplant word, gaan naoes bestuur al hoe meer kompleks raak. Unieke Suid-Afrikaanse klimaatstoestande beteken dat die produk hier verskil van dieselfde kultivar in, byvoorbeeld Europa of Nieu-Seeland.
"Ons groeikondisies is anderste, daarom is die vrugte intern anderste – selstruktuur, suikers, respirasie is alles anderste," sê Griessel. "Jy kan nie net 'n Europese of Amerikaanse naoes protokol toepas nie."
Gelukkig is daar darem reeds goeie naoes protokolle vir baie kultivars beskikbaar op die Hortgro-webwerf. Maar, sê Griessel, daar's baie vrae wat nog gevra en beantwoord kan word. Hy hoop dus dat produsente se belangstelling in naoes praktyke sal toeneem, tot voordeel van die hele bedryf.