Innoverende en volhoubare boorde is die sleutel tot beter nettoboerdery-inkomste.
Deur Anna Mouton
Die bedryf spog reeds met heelwat innoverende en volhoubare boorde en Hortgro Science het die Konsepboordprogram geloods as ’n platform om produsente aan dié boorde bloot te stel.
Die Konsepboordprogram vir Steenvrugte word deur ’n komitee gelei wat tegniese raadgewers Rudolph Cronjé, Petru du Plessis, Andrew Hacking, Pierre Rossouw en Charl Stander insluit. In die gepaardgaande artikel op bl. 56 bespreek hulle die faktore wat ’n steenvrugboord winsgewend maak.
Read MoreHortgro Stone direkteur André Smit, Hortgro Science algemene bestuurder prof. Wiehann Steyn, en Hortgro Science navorsingsimplementeringsbestuurder Marno van der Westhuizen dien ook op die komitee.
Demonstrasieboorde is die kern van die Konsepboordprogram. Hierdie is kommersiële boorde wat as gevolg van suksesvolle praktyke deurlopend uitstekende produksies van Klas een-vrugte lewer.
Die industrie se top pruim- en nektarienboorde is met behulp van landbou-ekonomiese maatskappy FruData op grond van tegniese drywers soos uitpakpersentasies en tonnemate geïdentifiseer en genooi om deel te neem as demonstrasieboorde. Boorde moes vir ten minste vyf jaar reeds in drag wees. Die projek fokus op standaard kultivars (Tabel 1).
Produsente sal van die boorde op velddae kan besoek en sal ook artikels oor die boorde kan lees. Die eerste twee artikels – oor top-presterende boorde by Excelsior in Villiersdorp en Uitzicht (Oudewagendrift) in Worcester – verskyn reeds in hierdie uitgawe van die SA Vrugtejoernaal.