
Uitvoerkartonne per hektaar
Deskundiges meen dat uitvoerkartonne per hektaar die deurslaggewende faktor is wat die winsgewendheid van steenvrugboorde bepaal.
Deur Anna Mouton
Die Hortgro Konsepboordprogram mik om die winsgewendheid van steen- en kernvrugboorde te verhoog deur onder andere bestaande innoverende en suksesvolle boorde te identifiseer waaruit alle produsente kan leer. Die steen- en kernvrugprogramme word elk deur ’n komitee van kundiges gelei.
Lede van die Steenvrugprogramkomitee het onlangs bymekaargekom om die eienskappe van winsgewende steenvrugboorde te bespreek. Hulle gevolgtrekking? Dit kom als terug na die aantal kartonne uitvoervrugte per hektaar.
Read MoreUitvoerkartonne eerder as tonne
“Ek dink die klem het in die laaste paar jaar verander,” sê Pierre Rossouw, tegniese bestuurder by Stems Fruit. “Waar steenvrugprodusente in die verlede altyd net tonne per hektaar gejaag het, het die fokus nou geskuif na kartonne per hektaar.”
Andrew Hacking, tegniese raadgewer by Ad Lucem Agricultural Services, stem saam. “Ons het die afgelope 20 jaar besef dat dit kartonne is wat die lone en al die onkostes dek.” Die aantal uitvoerkartonne per hektaar is hoofsaaklik ’n funksie van vruggrootte en -kwaliteit. “As jy groter vrugte en ’n hoë uitpakpersentasie het, dan het jy minder vrugte nodig om ’n karton vol te maak,” verduidelik Charl Stander, tegniese raadgewer by Freshness First.
Groter vrugte verdien ook gewoonlik ’n beter prys as kleiner vrugte van dieselfde kultivar en kwaliteit – verskillende vrugsoorte en kultivars se gemiddelde vruggroottes verskil natuurlik. Oor die algemeen is vroeë kultivars se vrugte kleiner as laat kultivars omdat daar minder tyd is vir die vrugte om te groei.
“Jy kan byvoorbeeld nie ’n African Rose wat vroeg ryp raak se kartonne per hektaar vergelyk met ’n African Delight wat laat ryp is nie,” sê Petru du Plessis, steenvrugprodusent en tegniese raadgewer. “Die vroeë pruimkultivars gee egter gewoonlik hoër pryse. Die later pruimkultivars het hoër kartonne maar laer pryse.”
Die bespreking rondom winsgewendheid sal nie volledig wees sonder om gehalte te noem nie. “Gehalte is eintlik wat winsgewendheid bepaal,” sê Rossouw. “Jy kan die meeste kartonne per hektaar en die beste vruggrootte hê, maar as jy nie die regte gehalte het nie, gaan jy nie geld maak nie.”
In teenstelling met uitvoerkartonne per hektaar het vrugpryse volgens die deskundiges ’n relatiewe klein invloed op die winsgewendheid van steenvrugboorde. Produsente het in elk geval geen beheer oor die wind in Kaapstad of die finansies van Europese verbruikers nie. Maar hulle kan wel vruggroottes en uitpakpersentasies bestuur.
Skiet vir grootte
Genetika is die nommer een faktor wat tot vruggrootte bydra. Goeie bestuur van ’n kultivar wat die genetiese potensiaal het om groot vrugte te produseer gaan meer uitvoerkartonne per hektaar tot gevolg hê as dieselfde bestuur van ’n kultivar sonder daardie potensiaal.
“Nette is vir my nommer twee,” sê Du Plessis. “Bome onder nette het meer energie vir vegetatiewe en vruggroei. Die vrugte onder nette is bietjie groter en daar’s minder kosmetiese defekte, so jy’t hoër uitpakke en uiteindelik meer kartonne per hektaar.”
Hy beklemtoon ook voeding en besproeiing, veral mikrospuite. “Ek is nie teen druppers nie,” sê hy. “Maar in my opinie gee mikrospuite by pruime ’n bietjie groter vrugte as druppers.” Stander beaam dit. “Mikrospuite by pruime is ongetwyfeld beter as drup. Vir my is dit meer oor die skedulering as die hoeveelheid water, want jy kan ’n klomp water gee met die verkeerde skedulering en dan kry jy ook nie resultate nie.”
Nieteenstaande die belangrikheid van vruggrootte, is die grootste nie altyd die beste nie.
“’n Goeie punt vir die algemene leser is om met sy bemarkingspan te praat oor watter vruggrootte hulle soek, veral met nektariens,” sê Rudolph Cronjé, tegniese steenvrugraadgewer by Dutoit Agri. “Dan kan hy dit saam met sy bemestingspan en tegniese adviseur vorentoe vat.”
Rossouw is dit eens dat, alhoewel uitvoerkartonne per hektaar kritiek is, moet vruggrootte ook gepas wees. Byvoorbeeld sal die ideale grootte vir vroeë en laat kultivars verskil. “As mens wil veralgemeen, dan kan jy sê dat die voor-Kersfeespruime ten minste rondom ’n A of ’n AA moet piek, afhangende van watter markte jy in is,” sê Rossouw. “Na-Kersfeespruime moet nader aan ’n AA of AAA piek.”
Reg begin is half gewin
Wat is die mees algemene rede waarom boorde nie winsgewend is nie? Stander reken dit is kultivars of vrugsoorte wat geplant word waar dit nie aard nie.
“Pruime was so 15–20 jaar terug op ’n verskriklike hoogtepunt gewees en daar’s plase aangeplant wat nie genoeg water of koue-eenhede het nie, of wat brakgronde het,” sê hy. “Toe kom die droogte, en daarna die probleme eers met tekort aan houers en toe met logistiek in die hawens.”
Die produsente wat na al hierdie uitdagings oorgebly het, is oorwegend dié met winsgewende boorde. Maar selfs suksesvolle produsente plant soms kultivars wat hulle uiteindelik duur te staan kom.
“Wat my aangaan, is dit baie belangrik om werklikwaar die koue-eenhede op jou perseel te bepaal voordat jy jou boorde vestig,” sê Hacking. “Jy moet sorg dat jy die regte kouebehoefte-kultivar op die regte plek plant.”
Die prestasie van sekere kultivars verskil dramaties tussen verskillende areas, en selfs tussen mikroklimate in dieselfde distrik. Ander is weer meer aanpasbaar.
Verder is ’n bestendige kultivar wat elke jaar min of meer dieselfde oes lewer oor die algemeen ’n beter keuse as een met onvoorspelbare of wisselvallige produksie. Konstante produksies vergemaklik beplanning rondom verpakking en bemarking, veral as produsente programme moet diens.
Cronjé raai produsente aan om hulle eie plase deeglik te leer ken. “Baie mense maak die fout om op die buurman se plaas te boer. Hulle plant kultivars omdat dit werk op daai ou se plaas. Maar hulle eie plaas het ander mikroklimate.”
Die regte plant op die regte plek gaan nie net beter presteer nie. Dit gaan ook makliker boer en minder bestuursinsette verg, wat sal help om produksiekostes in toom te hou. “En dan is daar ook die wegtrek. As jy ’n boord met swak bome vestig dan gaan jy altyd ’n jaar agter wees,” sê Cronjé. “Dit gaan ook jou winsgewendheid beïnvloed. So maak seker jy plant die sterkste bome wat jy kan.”
Hy waarsku ook teen die onoordeelkundige aanplant van nuwe kultivars. Die geweldige toename in beskikbare steenvrugkultivars beteken ekstra werk vir produsente om te bepaal of ’n kultivar vir ’n spesifieke plaas geskik is.
“Die produsent en sy raadgewer is verantwoordelik om die huiswerk te doen oor wat om te plant,” sê Rossouw. “En dit moet natuurlik ’n produk wees waarby jou uitvoerder of bemarker maksimum waarde kan voeg.”
Die regte ding op die regte tyd
Die regte kultivar is net die begin van ’n suksesvolle boord. “Om winsgewend te wees is dit belangrik om die korrekte praktyke op die regte tyd in die jaar uit te voer,” sê Cronjé. Du Plessis beaam dit. “Dit help nie om net uit te dun nie. Jy moet betyds uitdun. Of dit help nie om net te spuit nie. Jy moet dit betyds doen. Die tydsberekening is net so belangrik soos die aksies self.”
Korrekte en tydige aksies soos snoei en uitdun bepaal nie alleen vruggrootte en -kleur vir die huidige seisoen nie, maar ook blomknopkwaliteit vir die komende seisoen. Konsekwente aandag aan aspekte soos besproeiingskedulering en gewasbeskerming is noodsaaklik om ’n boord se volle potensiaal te ontsluit.
Voldoende kruisbestuiwing is vir Du Plessis ’n onmisbare deel van suksesvolle pruimproduksie. “Dis nie van toepassing op perskes en nektariens wat selfbestuiwend is nie,” sê hy. “Gebrekkige kruisbestuiwing is egter een van die heel belangrikste redes hoekom pruime nie winsgewend is nie.”
Hacking voeg by dat hy al gesien het hoe die prestasie van dieselfde kultivar op aangrensende plase met soortgelyke toestande wesenlik kan verskil. Hy skryf dit aan die jokkie – die bestuurder – toe. “Die jokkie bepaal tot ’n baie groot mate hoe goed die boord doen,” sê hy.
Gegewe dat daar steeds ’n betekenisvolle aantal vrugte is wat as gevolg van faktore soos onvoldoende grootte of kleur en voor- en naoesdefekte afgradeer word, is daar ongetwyfeld geleenthede vir produsente om winsgewendheid te verbeter deur uitpakke te verhoog.
“In ’n produksieketting is daar soveel stappe,” sê Cronjé. “As jy letterlik net een persent op elke produksiestap verbeter, maak jy op die einde van die dag ’n 5–10% skuif in die regte rigting.”
Byvoorbeeld is oesrypheid ’n beslissende faktor vir naoeskwaliteit. Die oes kan deur faktore buite ’n produsent se beheer ontwrig word, maar gebrekkige beplanning veroorsaak ook dikwels probleme. Dieselfde geld vir hantering gedurende en na oes.
“Die een ding wat ek altyd sê is, ’n pakhuis is nie ’n hospitaal nie,” wys Stander uit. “Die pakhuis kan nie die foute wat op die plaas gebeur regmaak nie.”
Bankrot spaar
Daar word deesdae baie na die krisis in lewenskostes verwys. Du Plessis meen produsente ervaar die laaste 10 jaar ’n krisis in produksiekostes. Nietemin speel kostes ’n relatiewe klein rol in winsgewendheid.
“Al ons insette het geweldig duur geraak,” sê hy. “Maar in my opinie is die kostes minder belangrik vir die eenvoudige rede dat ek nog nie eintlik ’n produsent gesien het wat mors met geld nie.”
Geen van die deskundiges is van mening dat besparing die sleutel tot winsgewendheid is nie. “Baie van jou veranderlike kostes is in wese eintlik vaste koste,” sê Stander. “Byvoorbeeld, jou trekker met ’n spuitpomp kos dieselfde of daar nou ’n klein of ’n groot oes is. So jy kan baie min spaar op koste.”
Daarby kan relatiewe goedkoop aksies ’n massiewe invloed op winsgewendheid hê. Du Plessis gebruik besproeiing as ’n voorbeeld. Dit verteenwoordig slegs rondom R10 000–R15 000 van die ongeveer R260 000–R270 000 per hektaar se produksiekoste maar goeie besproeiing kan die uitvoerkartonne per hektaar met soveel as 25% verhoog.
“Jy gaan jouself net bankrot spaar as jy produksie-uitgawes probeer sny,” sê Hacking. “Dis sinneloos. Die vaste kostes is daar en met ’n goeie oes is die addisionele arbeid om te pluk en te pak al addisionele onkostes.”
’n Boord se winsgewendheid word dus deur sy inkomste – nie sy uitgawes nie – gedryf. “Produsente kan nie meer bekostig om lae produksies te handhaaf nie,” sê Du Plessis. “En ons kan nie 100% van die produksiekoste betaal en as gevolg van kosmetiese defekte, net 72% van ons produk uitvoer nie.”
Hy is egter positief dat produsente kan verbeter deur te fokus op maniere om uitvoerkartonne te vermeerder. “Ek kom terug na nette toe omdat dit uitpakke maksimaliseer en vruggrootte bevorder, wat ’n baie groot drywer van winsgewendheid is.”
’n Boer maak ’n plan
Winsgewende boorde begin by goeie beplanning. Uiteindelik moet ’n winsgewende boord wegspring met ’n vrugsoort en kultivar wat pas by die omgewing, die boerdery, en die mark. “Beplanning is krities,” sê Stander. “Jy moet jou area, kommoditeit, kultivar, produksiemetodes en die ekonomie ken. Op ’n plaas moet jy maar oor tyd jou swart boekie vat en neerskryf watter kultivars presteer die beste by jou.”
Rossouw raai produsente aan om altyd te vra wat die rede is waarom hulle iets wil doen. “Byvoorbeeld, as iemand wat al die jare met pruime boer nou nektariens wil plant, moet hy homself vra hoekom,” sê hy. “Daar moet ’n spesifieke rede wees. Is daar byvoorbeeld ’n uitvoer- of lokale markgeleentheid? Dit moenie net wees omdat sy buurman dit doen nie.”
Rossouw waarsku ook teen te vinnig uitbrei. “Jy moet beheersd groei. Jy kan jouself in ’n groot probleem in aanplant omdat jy bietjie te haastig is.”
Hy wys egter daarop dat produsente tot uitstekende tegniese raadgewers toegang het, sowel as goeie inligting oor watter nuwe kultivars om in hulle area te plant.
“Omring jouself met die regte uitvoerders en lokale bemarkers,” voeg hy by. “’n Groot persentasie van die oes word wel lokaal bemark, so produsente moet die regte persoon vind om by daai komponent ook waarde toe te voeg.”
BOX
Die Steenvrug-programkomitee Rudolph Cronjé | Tegniese raadgewer: steenvrugte. Dutoit Agri. Petru du Plessis | Steenvrugprodusent en tegniese raadgewer. Andrew Hacking | Tegniese raadgewer. Ad Lucem Agricultural Services. Pierre Rossouw | Tegniese bestuurder. Stems Fruit. André Smit | Tegniese raadgewer. Voorsitter Hortgro Stone. Charl Stander | Tegniese raadgewer. Freshness First. Wiehann Steyn | Algemene bestuurder. Hortgro Science. Marno van der Westhuizen | Navorsingsimplementeringsbestuurder. Hortgro Science.
Related Posts
CRI Postharvest Workshops 2025
This year, the regional CRI Postharvest Workshops had a packed venue at each of the six locations visited across the country during January and February. A total of 1 200 delegates attended, representing a wide range of sectors within the citrus industry, from packhouse managers and staff to exporters and agrochemical representatives.
Notably, there’s a rise in attendance by the young demographic. This and the overall upward growth trajectory of the citrus industry of Southern Africa make for a promising future.
Extension briefs June and July 2025
Orchard sanitation must continue diligently during the harvesting period. All fruit that remains on trees after harvest must be removed and destroyed two weeks after completion of harvesting, at most. This is because false codling moth (FCM) activity does not cease during winter, and any remaining fruit could serve to facilitate this activity.
Plus, this winter fruit creates a reservoir of inoculum of FCM for the following spring. Conversely, removal of all fruit after harvest could dramatically reduce FCM levels in the following season. Fruit fly numbers can also build up on unharvested fruit.