Hoe algemeen is hulle in Suid-Afrikaanse tafeldruifwingerde?
Deur Anna Mouton
Aalwurms – oftewel nematodes – is wurmagtige organismes wat in alle gronde voorkom en waarvan sommige spesies op plantwortels voed. Aalwurms wat wingerde aanval is meestal te klein om met die blote oog te sien, maar hulle kan ’n merkbare impak op winsgewendheid hê.
“Daar is skattings van hoeveel oesverliese nematodes veroorsaak,” sê dr. Rinus Knoetze, nematoloog by die LNR Infruitec-Nietvoorbij. “Dis ongeveer 15%.”
Aalwurmskade aan wortels affekteer die wingerdstok se opname van water en voedingstowwe. Aangetaste wortels is ook meer vatbaar vir sekondêre infeksies deur bakterieë en swamme.
Benewens swak groei en lae opbrengste kan erg geïnfekteerde wingerdstokke meer gevoelig vir droogte wees en hul blare kan voedingstekorte wys ten spyte van aanvaarbare grondontledings. Knopwortelaalwurms veroorsaak galle terwyl ander aalwurms tot abnormale wortelontwikkeling aanleiding gee.
Die belangrikste aalwurms in Suid-Afrikaans wingerde word hieronder gelys.
“Knopwortelaalwurm was tradisioneel die groot probleem op wingerd, totdat hulle bestande onderstokke begin vrystel het,” sê Knoetze. “Ramsey is een van die weerstandbiedendes.”
Sedertdien het die gewildheid van Ramsey in tafeldruiwe ’n stokkie voor knopwortelaalwurms gesteek maar ongelukkig het ander plantpatogene-nematodes vinnig die leemte gevul.
Read MoreOp soek na letselaalwurms
Letselaalwurms kan beduidende verliese in gewasse veroorsaak – hulle is byvoorbeeld die belangrikste plantpatogene-nematodes van appels.
“Ons weet letselaalwurm kom op wingerd voor, maar ons weet nie hoe groot ’n probleem dit is in vergelyking met ander nematodes wat op wingerd voorkom nie,” sê Knoetze. “Ons het ’n redelike goeie idee van wat aangaan met die ander aalwurms want daar word baie grondontledings daarvoor gedoen.”
Grondontledings gee ’n goeie aanduiding van die getalle van meeste aalwurms. Maar omdat letselaalwurms binne-in die wortels voed kan akkurate letselaalwurmgetalle slegs deur wortelontledings bepaal word.
Knoetze en medewerkers het sopas ’n SATI- en Raisins South Africa-befondsde projek afgehandel waarin hulle die voorkoms van letselaalwurms in tafel- en droogdruifwingerde ondersoek het.
Die projek het die ontleding van grond- en wortelmonsters uit 78 tafel- en 31 droogdruifwingerde ingesluit. Verteenwoordigende wingerde in die Berg-, Hex-, Olifants- en Oranjerivierstreke sowel as die Noordelike Provinsie is gekies en hul aalwurmbevolkings gekwantifiseer. Enige letselaalwurms in die monsters is met behulp van molekulêre toetse tot op spesievlak geïdentifiseer.
Verder het Knoetze ook die vatbaarheid van verskillende onderstokke vir vier letselaalwurmspesies ondersoek. Hy het 14 bestaande wingerdonderstokke met die letselaalwurms geïnfekteer en vir ses maande in glashuise gegroei waarna die aalwurms se reproduksiefaktor en getalle per gram wingerdwortels gemeet is.
Die reproduksiefaktor is ’n maatstaf van hoe goed die aalwurms in ’n gasheer aanteel.
Laastens het Knoetze glashuisproewe gedoen waarin hy 14 dekgewasse met die twee mees algemene letselaalwurmspesies geïnfekteer het om te toets watter dekgewasse goeie gashere is. Hy het die reproduksiefaktor en aalwurmgetalle in die dekgewasse en twee goeie gashere vergelyk.
Voorlopige resultate
“Tot dusver kan ons sê dat letselaalwurm in 73% van die wingerde wat ons bemonster het, voorgekom het,” sê Knoetze. “Dis redelik hoog maar hulle was nooit in sulke hoë getalle soos die ander nematodes nie. Daar’s nie baie gevalle van rêrig hoë besmettings nie.”
Die oorgrote meerderheid van die letselaalwurms was Pratylenchus hippeastri, wat 83% van al die letselaalwurmbevolkings in die opname uitgemaak het.
- Tweede plek het aan P. thornei (6%) gegaan
- P. neglectus en P. parazeae gesamentlik in derde plek (3% elk)
- Die oorblywende 5% beslaan letselaalwurms wat nie tot op spesievlak identifiseer kon word nie
“Pratylenchus vulnus is die nematode wat wêreldwyd bekend is as die een wat op wingerd voorkom,” sê Knoetze. “Vir my as ’n wetenskaplike is dit interessant dat die spesie wat ons gekry het nie die een is wat algemeen in die wêreld aangemeld is nie.”
Knoetze het soortgelyke navorsing in appelboorde gedoen waar hy gevind het dat P. hippeastri die vernaamste probleem was. In kontras is P. penetrans die mees algemene spesies in Europese appelboorde. Dit wil dus lyk asof P. hippeastri tuis voel in die Suid-Afrikaanse vrugtebedryf.
Die werk op appels het ook dekgewasproewe ingesluit, so Knoetze het bestaande data oor die gasheerstatus van 17 dekgewasse vir letselaalwurms. Daardie resultate is aanlyn in Hortgro se Fresh Quarterly-tydskrif beskikbaar.
Die data van die nuwe dekgewasproewe word in Tabel 1 opgesom.

Praktiese implikasies
Ten spyte daarvan dat letselaalwurms baie algemeen in Suid-Afrikaanse tafel- en droogdruifwingerde is, is die bevolkings relatief klein en is letselaalwurms waarskynlik nie ’n ernstige probleem in meeste wingerde nie.
Dit is goeie nuus vir tafeldruifprodusente maar ongelukkig het hulle wel ander aalwurms om oor bekommerd te wees.
“Ringaalwurm is ’n groot probleem op wingerd sowel as steenvrugte,” sê Knoetze. “Wingerdgronde is deesdae almal hoogs besmet met ringaalwurm.”
Die toename in ringaalwurms is moontlik omdat weerstandbiedende onderstamme soos Ramsey ongunstige toestande vir knopwortelaalwurms in wingerde geskep het. Ringaalwurms kan egter ernstige skade aanrig.
“Jy kan die wortels van ’n wingerd wat swaar besmet is met ringaalwurm uitken,” sê Knoetze. “Daar is nie galle nie, maar die wortels is sommer so stompgevreet. Hulle maak ’n klomp klein vertakkings. Daar’s nie rêrig lang haarwortels nie.”
Hy was vantevore betrokke in navorsing wat geen onderstokke kon identifiseer wat weerstand teen ringaalwurms gehad het nie.
Geen van die onderstokke wat evalueer is, was weerstandbiedendheid teen letselaalwurms nie, maar die lae prevalensie van letselaalwurms beteken dat weerstand daarteen nie die belangrikste oorweging in onderstokkeuse sal wees nie.
Produsente se beste verweer teen aalwurms bly steeds om hulle grondvoorbereiding en aalwurmbestuur op die resultate van grond- en wortelanalises te baseer.
“Ek dink dis ’n goeie praktyk om die ontledings gereeld te doen sodat jy weet wat aangaan,” sê Knoetze. “Ek dink as jy dit betyds weet dan kan jy dit meer onderdruk as wanneer dit te laat is. Ek het al wingerde met ringaalwurm in die Noord-Kaap gesien waar niks meer gaan help nie. Daai stokke het omtrent nie meer wortels nie.”
BOX: Vernaamste aalwurms in Suid-Afrikaanse wingerde
- Dolkaalwurm (Xiphinema spp.)
- Knopwortelaalwurm (Meloidogyne spp.)
- Letselaalwurm (Pratylenchus spp.)
- Ringaalwurm (Criconemoides spp.)
- Sitrusaalwurm (Tylenchulus semipenetrans)
- Stompwortelaalwurm (Paratrichodorus spp.)