
Bring die Klein Karoo weer op die been
Na agt jaar se droogte het die Klein Karoo uiteindelik weer goeie reëns gehad. Maar die streek kort meer as een nat winter om te herstel.
Deur Anna Mouton
Die Klein Karoo loop van wes na oos tussen die Swartberge in die noorde en die Lange- en Outeniquaberge in die suide. Laasgenoemde bergreekse keer heelwat reënval met gevolg dat die Klein Karoo gewoonlik minder as 400 mm reën per jaar kry. Maar teen 2019 was die Klein Karoo diep in die greep van die ergste droogte in menseheugenis. Reënval het van 350 mm in 2015 na 200–225 mm per jaar in 2016–2018 geval. In 2015 was gemiddeld byna 7 500 m3 water per hektaar vir besproeiing beskikbaar. Teen 2018 was dit minder as 4 000 m3 per hektaar. “My pa is 85 – ons het nog nooit in sy leeftyd ’n droogte soos hierdie gehad nie,” sê steenvrug- en wyndruifprodusent Niël Joubert. Hy is die vierde geslag op Warmwater naby Barrydale. Die plaas was vir ’n tyd buite die familie totdat hy dit in 1999 teruggekoop het. “My plaas sou in 2021 afbetaal gewees het,” sê hy. “Maar op hierdie stadium begin ons basies van voor af. Hier is baie mense in dieselfde situasie, alhoewel mens dit nie sommer wil erken nie – dit laat mens amper voel asof jy misluk het.”
Read MoreSyfers vertel ’n storie
Die Klein Karoo se vrugte- en wynbedrywe het voorheen meer as 5 700 permanente werksgeleenthede geskep wat meer as 22 800 mense onderhou het. Dié bedrywe se totale omset was R804 miljoen. Hortgro het in 2019 ’n opname in die area van die Klein Karoo tussen Ashton en Prins Albert gedoen waarin min of meer twee-derdes van dié area se sowat 5 000 sagtevrugtehektare verteenwoordig was. Hulle het gevind dat totale steen- en kernvrugproduksie as gevolg van die droogte met 25% tussen 2017 en 2019 afgeneem het. Alhoewel meeste plase probeer het om nie permanente werknemers af te dank nie, was daar nie werksgeleenthede vir seisoenale werkers nie. In totaal is ongeveer 600 mense werkloos en 2 400 afhanklikes behoeftig gelaat. Teen 2019 het daar reeds bykans 300 hektaar sagtevrugtebome gevrek. Voldraende boorde is in baie gevalle slegs aan die lewe gehou met gevolg dat produksiekostes plaasinkomstes vinnig verbygeskiet het. Heelwat produsente het ouer boorde vroegtydig vervang met die idee dat jong boompies minder water gebruik. Vele ander het nie kapitaal of water gehad om boorde te hervestig nie. Joubert het twee hektaar Ruby Sun-pruime in 2019 geplant omdat hy gedink het hy sal genoeg water hê om hulle deur te trek. Die reëns het egter nie gekom nie en hy moes later in dieselfde seisoen hulle krane weer toedraai. Syfers is een manier om die impak van die droogte te meet, maar daar is ook die onmeetbare emosionele tol. “Ek dink die droogte maak dat jy later begin twyfel in jouself en jou vermoë,” sê Joubert. “Jy bevraagteken jouself met alles.” Teen die einde van 2019 het meeste Wes-Kaaplanders reeds van Kaapstad se droogtekrisis vergeet en hulself oor berigte van ’n nuwe virussiekte begin bekommer. Min het aan die Klein Karoo gedink. Intussen het daar nog vier jaar se droogte vir dié streek voorgelê.
Die Klein Karoo raak elkeen
“Hierdie winter wat ons nou gehad het was weer die eerste normale winter,” sê Joubert. “So ons het water.” Dit beteken egter geensins dat alles andersins terug na normaal is nie. Produsente het nie noodwendig kapitaal om boorde te hervestig nie. En daar is ’n groter vraag oor die lewensvatbaarheid van sagtevrugteproduksie in die Klein Karoo. ’n 2021 Hortgro-befondsde gids tot klimaatsverandering vir steen- en kernvrugprodusente berig dat die warmer dele van die Klein Karoo meer marginaal vir steenvrugproduksie gaan raak en dat waterbehoeftes as gevolg van hoër temperature in alle produksie-areas gaan vergroot. Permanente gewasse kwalifiseer nie vir droogtehulp soos sommige ander landbousektore nie. In 2019 het die Klein Karoo finansiële hulp van die Wes-Kaapse Departement Landbou ontvang, maar sedertdien voel dit vir Joubert asof sy streek agterweë gelaat word. “Almal praat van klimaatsverandering, en hoe ons aanpasbaar moet wees,” sê hy. “Maar wie se verantwoordelikheid is dit? Is dit net myne, as primêre produsent?” Sommige mense sal dalk ja antwoord en wonder hoe die voortbestaan van landbou in die Klein Karoo enigiemand buite daardie streek raak. Joubert som dit in een woord op: verstedeliking. “Die platteland kry reeds swaar,” sê hy. “So as ons hierdie streek gaan laat val, dan gaan Kaapstad en die omliggende dorpe soos Stellenbosch net al swaarder en swaarder gebuk gaan onder verstedeliking.” Dr Ilse Trautmann, Adjunk-direkteur-generaal: Landbounavorsing en Regulatoriese Dienste by die Wes-Kaapse Departement Landbou, beaam die gevare van verstedeli-king. “Menige jongmens verhuis na die stad om blinkoog onder moeilike omstandighede werk te soek, maar kompetisie om beskikbare werksgeleenthede is dikwels groter in stedelike gebiede, en hulle raak uiteindelik deel van die werkloosheidstatistiek.” Plattelandse areas speel ’n sentrale rol in die Wes-Kaapse ekonomie. Hulle skep werk deur tradisionele ekonomiese aktiwiteite soos landbou, maar ook deur innovering met byvoorbeeld agri-toerisme. Die Wes-Kaapse Departement Landbou is toegewyd tot landelike ontwikkeling, volgens Trautmann. Samewerking tussen die landbou- en privaatsektor en plaaslike owerhede kan ’n oplewing in die platteland bewerkstellig. “’n Gesonde platteland is die sleutel tot ’n gesonde ekonomie, en nuwe en volhoubare werksgeleenthede,” beklemtoon sy.
Hoop vir die toekoms

Joubert het ’n plan om landbou in die Klein Karoo weer op die been te bring. Hy het saam met grondkundige Nico Wasserfall en rekenmeester Maderi Fourie die Route 62 Growth Initiative gestig, ’n organisasie sonder winsbejag wat poog om produsente en gemeenskappe te ondersteun. Een van hulle projekte is om produsente te bemagtig om die regte gewasse te plant. “Ons moet gaan kyk wat ons waar kan plant sodat ons met die bietjie water wat ons het die hoogste opbrengs kan kry,” sê Joubert. Hy werk tans saam met Dr Tara Southey van TerraClim, ’n aanlyn terrein- en klimaatmodelapp wat vir produsente presiese inligting oor hulle eie mikroklimate kan gee. ’n Produsent kan byvoorbeeld fynskaalse evapotranspirasie- of temperatuurdata vir hulle plaas sien, en spesifieke gewasse op grond daarvan by geskikte areas pas. Southey verduidelik dat die Klein Karoo ’n baie komplekse topografie het wat tot ’n groot diversiteit in mikroklimate lei. “Klimaat en terrein is die basis van elke biologiese stelsel,” sê Southey. “Maar ons het nie genoeg weerstasies in die Klein Karoo om daardie omgewingsfaktore te kwantifiseer nie.” Joubert en die Route 62 Growth Initiative het reeds befondsing vir 16 nuwe weerstasies vanaf die Wes-Kaapse Departement Landbou en ander donateurs ontsluit. Die langtermynvisie is ’n volledige weerstasienetwerk wat data in TerraClim invoer sodat bruikbare inligting aan produsente beskikbaar kan wees. “Die Klein Karoo word gesien as ’n hopelose droogtegebied. Maar daar is eintlik nog soveel hoop, want daar is gewasse wat mense daar kan plant,” sê Southey, wat self van ’n Karooplaas afkomstig is. “Ek dink daar is baie sulke areas met aansienlike potensiaal vir landbou – om gewasse te plant en ’n gemeenskap te ondersteun.” Joubert se onmiddellike doelwit is wel om deur middel van Route 62 Growth Initiative die Klein Karoo weer op die been te bring, maar hy sou graag wou hê dat die lesse wat hulle leer ook ander plattelandse gebiede moet help. “Die droogte moet my nooit definieer nie,” sê Joubert. “Dit gaan nooit net oor jou nie. Mens moet altyd perspektief behou oor waar jy en jou plaas inpas – in die Klein Karoo, die Wes-Kaap en SA. Wat is die rol wat jy speel binne daai groter ketting?”
Vir meer inligting oor die Route 62 Growth Initiative en hoe om betrokke te raak by die heropbou van die Klein Karoo, besoek www.r62growth.org.za of kontak Niël Joubert by r62g@r62growth.org.za. TerraClim is aanlyn beskikbaar by www.terraclim.co.za.
Related Posts
Hoe reageer tafeldruiwe op klimaatsveranderinge?
Wingerdkundige dr. Janéne Strydom van die LNR Infruitec-Nietvoorbij het onlangs ’n SATI-befondsde projek voltooi waarin sy verskillende besproeiingsbehandelings in wingerde met en sonder oorhoofse plastiek getoets het.
“Die weerpatrone in die areas waar mense met tafeldruiwe boer is besig om te verander,” sê Strydom. “Die doel van hierdie projek was om te kyk hoe wingerdstokke op verskillende klimaatskondisies reageer.”
From problems to solutions
On the first Tuesday in June 2025, more than 300 members of the deciduous-fruit industry gathered at the Lord Charles Hotel in Somerset West for the opening of the Hortgro Science Research Showcase. The impressive growth of this event testifies to the value that growers, technical advisers, and other stakeholders place on industry-funded research.

