Skip to content
Hortgro Goeie Buurmanskap
April / May 2026

Goeie buurmanskap in ’n klein wêreld

SA Fruit Journal: April / May 2026

Die evolusie van die regulatoriese omgewing word gedryf deur nouer bande tussen mense. Deur Anna Mouton

Die Suid-Afrikaanse vrugtebedryf word al gereguleer sedert daar ’n Suid-Afrika is: ons parlement het reeds in 1910, dieselfde jaar as wat die Unie van die Suid-Afrikaanse Kolonies gevestig is, wetgewing aangeneem om vruguitvoere te reguleer.

Hierdie was die eerste wet in die wêreld wat daarop gemik was om die kwaliteit van uitvoervrugte te verseker.

Soos ons bedryf gegroei het, het die regulasies rondom vrugkwaliteit toegeneem. Die Raad vir Uitvoerbeheer van Bederfbare Produkte (afgekort as PPECB in Engels) is in 1925 en die Sagtevrugteraad in 1939 gestig, en vanaf 1966 is alle steen- en kernvrugte onder die Cape handelsnaam uitgevoer.

Die hoofrede vir hierdie vroeë regulasies was om te verseker dat slegs topgehalte produkte uitgevoer word en sodoende die reputasie van Suid-Afrikaanse vrugte te beskerm.

Vandag betwyfel niemand die waarde van minimumprodukstandaarde nie. Dis voor die hand liggend dat verbruikers slegs sal aanhou verbruik indien hulle ’n positiewe eetervaring het. Maar supermarkte stel ook hulle eie standaarde, met hoë vereistes vir, byvoorbeeld, die intensiteit en omvang van rooi kleur in tweekleurige appels.

Alhoewel dit moeilik is om deurlopend hoë Klas 1-uitpakke te behaal, is dit absoluut noodsaaklik vir ons produsente om in besigheid te bly. Noodsaaklik – maar nie voldoende nie.

“As jy slegs aan die basiese kwaliteitvereistes voldoen, is jou bemarkingsgeleenthede baie beperk,” sê Mariette Kotzé, Algemene Bestuurder van Bedryfsondersteuningsdienste by Hortgro. “Jy sal nie Suid-Afrikaanse of oorsese supermarkte kan voorsien nie.”

Back To Top