
Gesiene entomoloog tree af
Dr Elleunorah Allsopp het vir byna 43 jaar die vrugtebedryf met navorsing in toegepaste entomologie ondersteun.
Deur Anna Mouton
Meeste tafeldruifprodusente is vertroud met dr. Elleunorah Allsopp se navorsing uit die artikels, praatjies en werkswinkels waar sy oor die afgelope vier dekades gereeld haar kennis gedeel het.
Allsopp het op onder andere blaarspringers, blaaspootjies, filloksera, knoppies- blaarmyte, grondpêrels, olyfsaadwespe en witluis by die LNR Infruitec-Nietvoorbij gewerk. Sy het ook gehelp om die Skema vir Geïntegreerde Wynproduksie tot stand te bring en dien op hulle tegniese komitee.
Sy het voor haar aftrede op 30 November 2024 met SATI oor haar loopbaan gesels en haar insigte oor die uitdagings in hedendaagse plaagbeheer gedeel.
Read More’n Klas van drie
Allsopp is in Kaapstad gebore en het in 1977 by die Hoërskool Jan van Riebeeck gematrikuleer waar haar pa ’n biologie-onderwyser was.
Allsopp het sy belangstelling gedeel, maar wou nie onderwys gee nie en meisies kon destyds nie vir staatsdiensbeurse vir ’n BSc aansoek doen nie. “Vir een of ander rede kon meisies wel aansoek doen vir beurse vir ’n BScAgric. Ons kon boerdery-wetenskap studeer, maar nie ander wetenskap nie,” onthou sy.
“Ek weet nie of dit ’n oorsig was en of hulle gedink het dis nie relevant nie.” Haar beursaansoek was suksesvol en Allsopp het in 1978 haar eerste jaar by die Universiteit van die Vrystaat begin. Die universiteit het destyds die grootste landbou-fakulteit in die suidelike halfrond gehad.
Allsopp was een van minder as 50 vrouens uit ’n totaal van ongeveer 700 landboustudente en haar entomologie-klas het slegs uit drie vrouens bestaan. “Bloemfontein in daai jare was ’n kultuurskok,” sê sy. “In my eerste jaar kon meisies op die kampus ’n langbroek klas toe gedra het, maar jou top moes tot onder jou heupe bo-oor die broek hang.”
Sy was ook onbeïndruk toe die koshuis souskluitjies sonder brandewynsous vir nagereg bedien het. “Ek het uit die Boland gekom en souskluitjies sonder brandewynsous is tog nie eintlik souskluitjies nie. Net soos trifle sonder sjerrie in die koek nie regtig trifle is nie.” Die Bloemfonteiners het ontsteld gevra waarom Allsopp drank in kos wou sit. “Want ek kom van ’n beskaafde plek af,” was haar antwoord. Sy het egter slegs lof vir die akademieseprogram wat sy as uitstekend beskryf.Dit het vir haar ’n baie breë basis gegee, maar was ook gegrond in toegepaste plaagbeheer.
Die Russiese koringluis het gedurende haar voorgraadse jare in SA begin opslae maak en haar studenteprakties het proewe vir beheermaatreëls ingesluit. Allsopp het in 1981 haar BScAgric-graad voltooi. “Ek het ’n entomoloog geword danksy die ou staatsdienskommissie se diskriminasie teen vroue,” sê sy. Die LNR het nog nie bestaan toe Allsopp in 1982 haar staatsdiensbeurs by Nietvoorbij begin terugwerk het nie. Sy was dus in diens van die Departement Landbou. Omdat Allsopp reeds ’n vierjaar-BScAgric gehad het kon sy dadelik met haar MSc begin.
Sy het by Rhodes Universiteit ingeskryf en 1983 in Grahamstad deurgebring waar sy sekere van die honneurskursusse voltooi het. “My MSc-studie was op blaarspringers wat ’n probleem op wingerd in die Wes-Kaap was,” sê sy. “So, my heel eerste navorsingsprojek was op blaarspringers en nou, 42 jaar later, is my laaste projek weer op blaarspringers.” Na haar MSc het Allsopp op alles van kalanders tot witluis gewerk. Die aard van haar pos was sulks dat haar navorsingsfokus deur die behoeftes van die wingerd- en vrugtebedrywe bepaal is.
“Mens kry party mense wat baie analities is. Hulle wil op een ding inzoem en hom tot by sy oumagrootjie en die Big Bang terugvat,” sê sy. “My neiging was altyd meer om dinge in ’n konteks te sien – om nie in te zoem op een deeltjie van die prentjie nie, maar om eerder die groter prentjie te sien.” Suid-Afrikaanse wetenskaplikes was in daardie jare as gevolg van apartheid grootliks geïsoleer van die internasionale gemeenskap. Gevolglik was die plaaslike entomologie-verenigings baie aktief en het gereeld kongresse en vergaderings gehou.
Dit was by die 1993-kongres by die Universiteit van die Witwatersrand wat Allsopp haar toekomstige man, Mike, ontmoet het. Mike is ’n deskundige op heuningbye en bestuiwing. Hy was in 1993 reeds werksaam by die Plantbeskermingsinstituut op Stellenbosch en het na die kongres begin om die Kaapse entomoloë se vergaderings by te woon.
In 1992 is die LNR gestig en in 1994/5 het die instituut by Infruitec en Nietvoorbij saamgesmelt. Die entomoloë het na Infruitec getrek en voortaan op ’n wyer verskeidenheid vrugte as net druiwe gewerk.
Geïntegreerde plaagbeheer
Allsopp het haar PhD in 2016 op die moontlike gebruik van afwerende essensiële olies vir die beheer van blaaspootjies in pruimboorde voltooi.
Sy het oor die jare aan verskeie ander projekte deelgeneem wat relevant tot geïntegreerde plaagbeheer is, insluitende die gebruik van entomopatogeniese nematode vir blomblaaspootjiebeheer en die gebruik van entomopatogeniese swamme om margarodes te beheer. Alhoewel Allsopp ’n voorstander van geïntegreerde plaagbeheer is, is sy ook rea-listies oor die rol van chemiese plaagdoders.
“My oupa was ’n plaasbestuurder in Ceres en hulle het grotendeels organies geboer, maar organies boer was nie so maklik as wat mense dink nie,” vertel sy. “Die wynbedryf is eintlik ’n baie goeie verwysingspunt omdat kelders en wynplase se rekords baie goed is.
As jy gaan kyk na al die groot wynkelders in Europa deur die 1800s sien jy in hoeveel jare daar nie ’n oes was nie,” sê sy. “En daar was groot probleme met voedselsekuriteit en -veiligheid in die jare toe swam- en insekdoders nie beskikbaar was nie.” Sy beskou grootskaalse landbou as die enigste opsie om die enorme wêreldbevolking te voed.
“Die vraag is hoe ons dit doen op ’n manier wat ons die minste skade aanrig en die mees volhoubare boerdery beoefen.” Volgens Allsopp is die antwoord geïntegreerde plaagbeheer. Sy is egter bekommerd dat produsente té gewoond geraak het aan spuitprogramme en boer volgens ’n resep. In kontras vereis geïntegreerde plaagbeheer dat produsente meer dinkwerk moet doen.
“Maar nou raak die druk vanaf verbruikers om minder chemie te gebruik al groter, en dit forseer produsente om na alternatiewe te kyk,” sê sy. “Daar is egter ’n groot behoefte aan mense wat hulle kan help, want produsente is nooit opgelei of geleer om dinge so te doen nie. So dis krities dat ons in die toekoms adviseurs sowel as boere oplei.”
Allsopp dink verbruikers kort eweneens opleiding. “Die verbruiker wil ’n vlekvrye vrug hê, maar jy mag niks spuit nie. Hulle moet besluit wat hulle nou eintlik wil hê.” Volgens Allsopp is blootstelling aan ander produsente wat reeds geïntegreerde plaagbeheer suksesvol toepas die beste manier om produsente te oorreed om dit te probeer.
Sy sou graag wou sien dat produsente wat sukses met geïntegreerde plaagbeheer behaal het hul ervarings eerder in ’n informele as formele forum met ander produsente deel – sy stel voor dat hulle almal rustig om ’n braaivleisvuur met ’n drankie sit. Die rol van navorsers soos Allsopp se werk is om daarna diegene wat wel besluit om geïnte- greerde plaagbeheer te implementeer te ondersteun.
Sy beplan nie om heeltemal op te hou werk na haar aftrede nie, en is steeds bereid om haar kennis en ondervinding te deel.
Related Posts
Volhoubare swamdodergebrui
Botritis is een van die mees algemene oorsake van naoesbederf in vars groente en vrugte wêreldwyd.
Research Outputs
The main goal of SATI’s Research and Technical Transfer Programme is to generate credible, impactful knowledge by funding relevant and targeted projects that align with industry needs and opportunities.