
Bestuur van blaaspootjies
Dit is onmoontlik om blaaspootjies uit te wis.
Deur Anna Mouton
Groot bevolkings is wydverspreid op talle gewasse en natuurlike plantegroei in alle tafeldruifproduksieareas. Die beste strategie is om die wingerd tydens kritieke stadiums so goed moontlik te beskerm. Produsente se chemiese arsenaal raak stelselmatig al kleiner terwyl baie markte se standaarde vir vrugkwaliteit en -voorkoms al strenger raak. Teikenmarkte se vereistes ten opsigte van toelaatbare chemie en maksimum residuvlakke is belangrike oorwegings wanneer spuitprogramme beplan word. Laatseisoenblaaspootjiebeheer is veral problematies omdat daar weinig chemiese opsies is wat naby aan oes gebruik kan word. Daarby kan blaaspootjies weerstand teen plaagdoders ontwikkel en dit mag wees dat nie alle geregistreerde produkte in alle wingerde huidig goeie beheer bied nie. Suksesvolle blaaspootjiebeheer steun derhalwe op geïntegreerde plaagbestuur. Tafeldruifprodusente moet die geskiedenis van elke blok oorweeg en hulle gewasbeskermingspesialis raadpleeg om die beste oplossing vir hulle eie situasie te vind.
Read MoreMonitering
Dis die grondslag van enige geïntegreerde plaagbestuurprogram. Kalenderspuite sonder monitering is ’n resep om pesprobleme oor die langtermyn te vererger. Hang blou of geel taai lokvalle uit sodra die blomtrossies sigbaar raak. ’n Algemene riglyn is om twee na drie lokvalle per hektaar te gebruik. Plaas een naby die kant en een in die middel van ’n blok. Dit is noodsaaklik om lokvalle in die son te hang. Blaaspootjies is nie tot lokvalle in die skaduwee aangetrokke nie. Blou lokvalle is veronderstel om meer aantreklik vir Westelikeblomblaaspootjies te wees maar alle blaaspootjies hou van geel lokvalle. Daar is ongelukkig nie ’n spesifieke lokmiddel vir blaaspootjies nie. Sogenaamde blaaspootjielokmiddels bevat suikers wat voeding stimuleer maar nie blaaspootjies van naburige plantegroei aantrek nie. Alhoewel lokmiddels wat vlugtige plantstowwe bevat in glashuise werk, is dit nie in wingerde effektief nie. Ondersoek die lokvalle weekliks. Daar is geen drumpelwaarde vir lokvalvangste nie. Die lokvalle dui slegs die teenwoordigheid van blaaspootjies aan – blaaspootjies is swak vlieërs en lokvalle kan hulle getalle of teenwoordigheid onderskat. Let daarop dat nie alle blaaspootjies skadelik is nie. Party is selfs voordelig. Blaaspootjies moet verkieslik deur ’n kundige persoon met behulp van ’n mikroskoop geïdentifiseer word. Daar is privaat ondernemings wat hierdie diens bied. Moniteerders kan ook vroegseisoen deur die wingerd stap en blomtrossies en groeipunte oor ’n horisontale oppervlak soos ’n wit plastiekbakkie skud. Hulle kan ’n bietjie water of alkohol in die bakkie sit om blaaspootjies makliker te vang. Hierdie monsters moet ook deur kundiges geïdentifiseer word om seker te maak dat daar wel skadelike blaaspootjies teenwoordig is. Indien dit vermoed word dat omliggende plantegroei ’n bron van blaaspootjies is, kan moniteerders dit ook skud soos vroeër vir wingerde beskryf.



Chemiese beheer
Daar is verskeie chemiese produkte vir blaaspootjiebeheer op tafeldruiwe geregistreer. Soos reeds genoem moet produsente hulle produkte met die hulp van ’n gewasbeskermingspesialis en in die konteks van hulle teikenmark kies. As ’n algemene riglyn kan harder chemie tot en met 30% blom gebruik word om blomblaaspootjieskade aan vrugte te voorkom. Let daarop dat geregistreerde blaaspootjieprodukte almal kontakplaagdoders is. Wyfies moet dus gestop word voordat hulle onder die veiligheid van die kappies inbeweeg om eiers te lê. Sagter middels word vanaf 80% blom aanbeveel en kan help om voedingskade deur blaaspootjielarwes te keer. Druiwe is gewoonlik vanaf ertjiekorrelgrootte nie meer vatbaar vir vroeë blaaspootjieskade nie. Chemiese beheer vir laatseisoen sitrus- blaaspootjies is uitdagend. Vroeë plaagdodertoedienings het weinig effek omdat die meeste van die sitrusblaaspootjies dan nog in die veld of op ander gewasse is. Teen die tyd dat die alternatiewe gashere opdroog is dit te laat om meeste chemiese middels te gebruik sonder om die onthoudingsperiode te oorskry of ’n residu te laat. Bespuitings kan wel direk na oes gedoen word om lootgroei te beskerm sodat die opbou van reserwes nie te ernstig benadeel word nie. Chemie is ongunstig vir voordelige orga- nismes soos predatore en parasiete. Chemiese blaaspootjiebeheer kan byvoorbeeld tot uitbrake van rooispinnekopmyte lei.
Biologiese beheer
Entomopatogeniese swamme maak insekte dood. Daar is kommersiële entomopatogeniese swamme vir blaaspootjiebeheer beskikbaar. Metarhizium spesies en Beauveria bassiana help om onvolwasse sitrusblaaspootjies te beheer en vars spore kan elke twee weke saam met swamdoders gespuit word. Aanwending kan reeds by set of ertjiekorrelgrootte begin in blokke wat ’n geskiedenis van blaaspootjieskade het. Entomopatogeniese nematodes is aalwurms wat insekte doodmaak. Hulle kom natuurlik in grond voor. Kommersieel beskikbare produkte mag blaaspootjiegetalle verminder deur papies aan te val. Verskeie blaaspootjiepredatore is kommersieel beskikbaar. Hulle is sensitief vir baie plaagdoders en die tydsberekening van spuitaanwendings en vrylatings is belangrik. Een oordeelkundige vrylating kan egter voldoende wees vir die hele seisoen. Beskikbare predatore sluit Cryptolaemus montrouzieri in. Hierdie kewertjie word hoofsaaklik vir witluise aangewend maar sal ook ander insekpeste soos blaaspootjies en myte vreet. Amblyseius swirskii en Transeius montdorensis is predatoriese myte wat rooispinnekopmyte sowel as blaaspootjies vreet. Orius-besies maak ook jag op blaaspootjies en spinnekopmyte. Produsente moet in gedagte hou dat sommige biologiese produkte nie op kort kennisgewing beskikbaar is nie. Predatore moet byvoorbeeld geteel word – dit kan dus twee weke neem voor ’n bestelling gereed is. Biologiese beheer gaan ook nie ’n blaaspootjiebevolkingsontploffing ontlont nie. Biologiese agente moet voor die seisoen as deel van die geïntegreerde plaagbestuurprogram beplan en vroegtydig aangewend word. Die res van die spuitprogram moet ook nie nadelige middels vir die biologiese agente insluit nie.


Ander bestuurspraktyke
Blaaspootjiebevolkings bou buite die wingerd op. Die insekte val dikwels die wingerd binne omdat hulle ander gasheerplante nie meer beskikbaar of geskik is nie. Dekgewasse het heelwat voordele maar die interaksie tussen dekgewasse en blaaspootjies moet in elke wingerd beoordeel word. Sommige produsente meen dat blommende dekgewasse blaaspootjies lok en toelaat om in die wingerd aan te teel. Pionierplante op versteurde grond aangrensend tot wingerde kan ook blaaspootjiebroeiplekke wees. Stroke kraalbos (Aizoon africanum) langs wingerde in sommige areas kan byvoorbeeld tot erger sitrusblaaspootjieskade bydra. Blaaspootjies hou ook van bloubossies (Echium vulgare) en klawers. Navorsing in pruime het egter aangedui dat blomme van witklawer ’n trekpleister vir blomblaaspootjies kan wees wat sodoende getalle in die bome verminder. Ongeag watter tipe plantegroei in of om die wingerd voorkom, moet dit nie tydens blomtyd versteur word nie, want dan sal die blaaspootjies genoodsaak wees om in die wingerdstokke in te beweeg. Pas dekgewas- of onkruidbeheer voor bot of na ertjiekorrelgrootte toe. Produsente moet onthou dat gewasse soos bloubessies en nie-draende tafeldruifblokke verdere teelaardes vir blaaspootjies kan wees en dit in hulle bestuursplan insluit. Sekere tafeldruifkultivars blyk meer vatbaar as ander te wees. Wit kultivars wys vrugskade duideliker en laat kultivars is meer aan blaarskade blootgestel omdat blaaspootjiegetalle later in die seisoen hoër is. Dit is moontlik dat blaaspootjies sekere kultivars verkies. Produsente wat hoogs vatbare kultivars vestig mag vind dat die blaaspootjiedruk laer is as dié kultivars deur ander tafeldruifblokke omring word eerder as om aan natuurlike veld of goeie alternatiewe gashere soos sitrus te grens.
BOX Erkenning Dankie aan die volgende deskundiges vir hulle bydrae tot die blaaspootjie-artikels:
- Dr. Elleunorah Allsopp, Senior navorser, LNR Infruitec-Nietvoorbij.
- Dr. Jeanne de Waal, Wes-Kaapse Besigheidsbestuurder, Laeveld Agrochem.
- De Wet du Toit, Tegniese bemarkingspesialis, InteliGro.
- Robert Wilsdorf, Tegniese bestuurder, Viking.
Related Posts
Improved control of sour rot on citrus
Exploring potential fungicide solutions for improved control of sour rot on citrus. By Meagan van…
Extension briefs for February and March 2025
By Hannes Bester, MC Pretorius, Wayne Mommsen, Coenraad Fraenkel, André Combrink, Natasha Jackson, Jan Landman,…