Finigas – Nuwe riglyne vir netstrukture
Produksie van vrugte onder nette is besig om die hoogte in te skiet. Die vraag vir baie produsente is nie meer of hulle nette moet opsit nie. Die vraag is eerder watter tipe nette. En wat is die beste manier om daardie nette op te sit. Deur Anna Mouton
Nuwe riglyne vir netstrukture mik om van die onsekerheid rondom die oprigting van vaste nette aan te spreek. Die riglyne spruit voort uit die FINIGAS-Fruit Industry Netting Structure Guidelines and Standards – projek wat gesamentlik deur CRI, Hortgro, en Kaap Agri befonds is.
Read MoreHoe het die projek ontstaan?
“Ons het begin om al hoe meer navrae te kry vir materiale,” vertel Jaimé Manuel, bestuurder van besigheidsontwikkeling by Kaap Agri. “Ons begin toe na die netbedryf kyk om te probeer verstaan wat besig is om te gebeur, en waar en hoe ons vir ons kliënte die nodige mandjie goedere en dienste kan bied.”
Kort voor lank het Kaap Agri die tekortkominge van netstrukture as ‘n risiko geïdentifiseer – nie net vir die produsent nie, maar ook vir verskaffers, kontrakteurs, finansiers en versekeraars. “Daar was duidelik ‘n gebrek aan goeie praktyke in hierdie sfeer. Ons het gevoel dat dit belangrik is om ‘n oplossing te ontwikkel wat die produsent of kontrakteur in staat stel om die regte vrae te vra oor ontwerpe, gegewe die faktore wat finansiële opbrengste en strukturele integriteit beïnvloed.”
Kaap Agri het vir Wiehann Steyn, algemene bestuurder van Hortgro Science en Paul Cronjé , portefeulje-bestuurder van sitruskultuur by CRI, genader om by die projek betrokke te raak. Die groep het vir MBB Raadgewende Ingenieurs betrek om die tegniese aspekte aan te spreek.
“Die aanslag tot nette verskil geweldig van streek tot streek,” sê Wouter Visser, direkteur van MBB Raadgewende Ingenieurs. “Ons kon gelukkig met die hulp van onder andere Kaap Agri en Hortgro by van die groter produsente uitkom en ‘n baie goeie oorsig oor die netbedryf kry.”
Wat is in die riglyne?
Die eerste weergawe van die FINIGAS.riglyne is verlede jaar voltooi. Die doel van die FINIGAS-projek is om spesifieke aspekte van netstrukture te identifiseer wat oorweeg moet word tydens oprigting -die dokument beslaan dus meer as slegs tegniese spesifikasies. Dit dek ook die implementeringsproses van ‘n netstruktuur, vanaf die bepaling van die produsent se behoeftes tot en met die uiteindelike onderhoudsvereistes.
“Ons taak as ingenieurs is van die begin af uiteengesit om sekere aspekte, soos byvoorbeeld die integrasie van die opleistelsel uit te sluit vir hierdie rondte,” sê Visser. “Daar was groeperings wat dit wou insluit omdat dit deel is van oprigting, maar daar is daarteen besluit.”
Die tegniese spesifikasies is gegrond op sekere basiese ontwerpsparameters en maak gebruik van twee generiese uitlegte. Die toepaslike paalspasiëring, nethoogte, nettipe, windlading, weerstoestande en jaarlikse instandhouding word beskryf.
Elemente soos kabels, pale, ankerpale, ankers, fondasies en koppelings word bespreek en tabelle gee die spesifikasies vir materiale onder verskillende toestande, insluitende verskillende grondtipes.
“Wat maak ‘n netstruktuur anders as die tipiese gebou?” vra Johan de Lange, afdelingshoof van kliëntedienste en -verhoudings by Kaap Agri. “Beide is strukture, en daarom is goeie beplanning en ontwerp belangrik, maar ‘n netstruktuur beweeg en word in ‘n versteurde medium geplant. So, faktore soos windspoed en die tipe grond moet in ag geneem word.”
Gehaltebeheer word ook in die FINIGAS-riglyne gedek. “Die dokument bevat verskeie opsies, wat na verskillende verantwoordelikhede kyk” verduidelik Visser.
“‘n Produsent kan besluit hy wil self die net oprig, dan is daar sekere stappe vir hom, hy gebruik ‘n kontrakteur, dan verander dit ‘n bietjie. Of hy gaan deur ‘n ontwerpsproses met ‘n ingenieursmaatskappy, dan skuif die verantwoordelikheid weer.”
Die vereistes van netstrukture eindig nie met oprigting nie. Gereelde onderhoud is krities om probleme te voorkom en word ook in die riglyne aangespreek. Met korrekte ontwerp, oprigting, en onderhoud behoort die struktuur sy boord te oorlewe.
Die tekortkominge van netstrukture is ‘n risiko vir die produsent, asook vir verskaffers, kontrakteurs, finansiers en versekeraars.
Die pad vorentoe
Die Suid-Afrikaanse Instituut vir Landbou.ingenieurs gaan toekomstig dien as bewaarder van die nuwe riglyne. “Die idee is dat niemand die intellektuele eiendom daarvan besit en vashou vir hulle eie kommersiële gewin nie,” sê Manuel. “Die bedryf moet die dokument besit, sodat, as iemand me wil begin boer, hulle na die dokument kan verwys om die basiese beginsels van netstrukture te kan verstaan.”
“Nie een van ons is ‘n ingenieur nie en hierdie was ‘n fantastiese geleentheid om ‘n standaard te skryf wat sê wat die minimum vereistes is,” sê Willie Kotze, tegniese raadgewer by Dutoit Agri en voorsitter van die Fieldmen’s Association, ‘n groep tegniese mense uit die steen- en kernvrugbedryf wat gereeld bymekaar kom om inligting te deel.
Die Fieldmen’s Association het reeds een geleentheid gehad om insette te lewer op die riglyne. Kotze hoop dat die volgende weergawe van hulle vrae sal aanspreek.
“Een van die groot probleme was dat die standaard gegrond is op ‘n losstaande struktuur – die opleistelsel is glad nie deel daarvan nie. Maar daar word nie ‘n appelblok geplant in die hele industrie waar die opleistelsel nie deel is van die netstelsel nie.”
Die Fieldmen’s Association het ook ander aspekte van die riglyne bevraagteken, soos die paalspasiëring. “Hierdie is ‘n lewendige dokument,” beklemtoon Manuel. “Ons voorsien dat die dokument met verloop van tyd sal verander gegrond op insette van die bedryf.”
Tans is die riglyne nog besig om deur die Instituut vir Landbou-ingenieurs goedgekeur te word. Die dokument sal in die tweede helfte van hierdie jaar vrylik beskikbaar wees.
Related Posts
Citrus biosecurity threats
This is the fourth instalment in our series on citrus biosecurity threats. By CRI Biosecurity…
Table-grape breeding in the genomic era
Genome editing has the power to revolutionise cultivar development, but South African growers are at…