Wouter Visser van MBB Raadgewende Ingenieurs is deel van die span wat die nuwe FINIGAS-standaard vir netstrukture vir die vrugtebedryf saamgestel het. Visser het met ons gesels oor die redes waarom netstrukture in duie stort en die basiese beginsels wat mense in gedagte moet hou wanneer hulle nette oprig. Deur Anna Mouton
Hoe het MBB Raadgewende Ingenieurs betrokke geraak by hierdie projek?
Kaap Agri het, saam met Hortgro en CRI, landbou-ingenieurs gesoek, en ons het begin gesels, en besluit om die standaard saam te skryf. Ons het die land deurgery, van Ohrigstad bo in die noorde af, en ‘n paar weke gevat om inligting in te samel. Ons het gaan kyk na nette wat klaar platgeval het, wat besig is om plat te val, en wat nog nie platgeval het nie. En na ander wat hulle besig was om op te tel.
Ons het al daai inligting gevat en dit deur ‘n ontwerpsproses gesit. Die ontwerpsproses was geweldig moeilik, omdat ons ontwerpkodes [spesifikasies vir materiale] waarvolgens ons werk voorsiening maak vir strukture op vaste grond. Maar met nette werk ons spesifiek op grond wat gedol is om so los as moontlik te wees. So die hele struktuur is die hele tyd in versakking.
Ons het toe redelik investeer om ‘n model te ontwikkel wat hierdie beweging kan hanteer, en agtergekom hier’s ‘n baie groot probleem. Die ontwerpbeginsels wat ontwikkel is om strukture te laat staan, word nie huidiglik toegepas op netstrukture nie. Die nuwe FINIGAS-standaard ontwikkel toe daaruit.
Read MoreWat is na jou mening die hoof onderliggende rede vir nette wat plat val?
Die beweging binne die struktuur is sy Agilles-hiel. Ek dink die grootste probleem is dat die struktuur tot op sy maksimum geïnstalleer word, en dan begin jy al hierdie beweging kry omdat die grond konsolideer. Sommige kabels raak los, ander word oorspan, en dan kry jy ‘n breek.
Ons het gevind, wat tipies gebeur, is dat niemand die punt van mislukking bestuur nie. Alles word stot op sy maksimum geïnstalleer dat wanneer een element breek, het die ander nie die kapasiteit om hom te ondersteun nie en dan begin jy daai domino-effek kry, en dis wanneer jy daai groot hektare sien wat platval.
In ons ondersoeke het ons ook baie weinig gekry dat daar ‘n bestuursmeganisme is om te sê, kom ons maak hierdie struktuur hektaarblokke, wat individueel staan van mekaar, dat as een deel breek, is dit nie die hele struktuur nie. Ons het onderdeur strukture gery wat oor ‘n kilometer lank is, aaneen, so die risiko as iets verkeerd gaan in ‘n groot storm, is enorm.
En mense verstaan ook nie die impak van groot stormgeleenthede nie. Ons kry ‘n groot stormgebeurtenis en die struktuur kry seer. Maar niemand kyk eintlik wat daar gebeur het nie, want hy staan mos nog. Jou volgende gebeurtenis is nie naastenby so groot nie, en dan waai alles plat.
Waar pas wind in die prentjie?
Windlading is die grootste drywer van nette wat platval. Dink byvoorbeeld aan ‘n Boeing se vlerk – hy is nie langer as 30 meter nie -en as die vliegtuig op 180 kilometer per uur kom, dan tel die vlerke 300 ton op, en dan vlieg hy. Nou sit jy hektare onder net, en jy laat dieselfde winde oor hom. Daai ding wil opstyg.
Wat ons sien, is dat alle tipes nette op dieselfde struktuur opgerig word, en eintlik kan dit nie so wees nie. Verskillende nette gee verskillende persentasies skadu – 20% skadu beteken eintlik 20% van ‘n area is netvesels en 80% is nie. Daar is baie deurlaatbaarheid op ‘n 20% net. Maar as jy na ‘n 30% net toe gaan, verskil die houvas wat die wind op jou net het drasties. Die net se gewig self is niks. Dit tel nie by nie – dit gaan oor die wind.
Hael is die tweede grootste rede hoekom nette val.
Die wanpersepsie daarbuite is dat die wind ‘n struktuur tot niet blaas. Maar eintlik suig die wind ‘n struktuur tot niet. Die wind veroorsaak negatiewe druk bo-oor die net en tel die hele struktuur op. Jy kan jou kabels so styf trek as wat jy wil. As die wind kom, en hy bol die net boontoe, dan trek hy die pale uit die grond uit, en alles hang in die lug, en dan sit hy hulle weer neer. So begin ruk hy nou daai kabels al hoe harder, en op ‘n stadium dan breek iets.
Iets wat die standaard dus ook aanspreek is, as jy sekere grondprofiele het, moet jy byvoorbeeld binne-ankers insit. As jy byvoorbeeld deur ‘n vallei gaan, dan is die kabels eintlik klaar besig om jou pale uit die grond uit te trek. Nou kom die wind net ‘n bietjie verby, en hy help jou, en dan het jy moeilikheid.
Is daar ander klimaatsfaktore wat mense in ag moet neem?
Hael is die tweede grootste rede hoekom nette val. Hael gaan lê al hoe swaarder op die net en dan op ‘n stadium is die kragte te hoog. So hael benodig ook ‘n spesifieke netkeuse, sodat die net kan rek, en die hael kan keer, terwyl die struktuur nie beweeg nie.
Sneeu is natuurlik ook ‘n faktor. Nette kan nie sneeu hanteer nie, want sneeu skuif nie – dit pak vas. So nette moet oop en toe kan maak in sneeu.
Wat sien julle as die belangrikste probleme met oprigting van netstrukture?
Die een aspek is foutiewe oprigting, en met foutief bedoel ek foutiewe keuse van materiale – dis nie noodwendig dat die oprigter ‘n swak diens lewer nie. Dit gaan oor beginselbesluite wat verkeerd geneem word. Daar is gevolge as jy die verkeerde materiale gebruik omdat jy werk op die verkeerde beginsels.
Ek dink die tweede rede vir mislukking is dat daar nie ‘n plan is voordat daar begin word nie. Mense weet net hulle wil nette opsit en dan kom hulle op ‘n punt wat hulle sien, hier’s ons nou in ‘n rivier, en skielik is hier nie plek om ‘n anker te plant nie. Of hulle plant hom sommer daar in die wal, en hoop maar die rivier kom nie af nie. Dis werklikwaar wat gebeur.
So, ek dink gebrek aan beplanning is ook ‘n groot uitdaging. Want dan maak jy planne op kritiese punte, in ‘n kort tyd, en dit werk net nooit uit nie. ‘n Latere plan het effekte wat niemand raaksien nie.
Ek dink daar’s plek vir nog partye in hierdie strukture se oprigting. Ouens wat bietjie na beide die boer en die kontrakteur se belange kan kyk. So tipe van ‘n projekbestuurfunksie. En ek dink die oprigters gaan op ‘n stadium besluit om ‘n instansie te stig en dat kontrakteurs opleiding moet kry. Ek dink daar sal nog baie ontwikkeling gebeur – ten goede.