
Die nuwe landbourevolusie
Innoveerders in die vrugtebedryf fokus op volhoubaarheid. Deur Anna Mouton
Landbouproduksie groei nou al vir ongeveer 200 jaar byna eksponensieel. Uitsette het in die periode 1960 – 2015 meer as verdrievoudig – die prestasies van die sogenaamde Groen Revolusie is so betekenisvol dat een van die grondleggers die Nobelvredesprys ontvang het.
Te danke aan die wetenskap het ons sintetiese kunsmis, swamdoders, plaagdoders, onkruiddoders en ander agrochemiese produkte. Vooruitgang in areas soos besproeiing, meganisasie en genetika het als bygedra tot die ontwikkeling van industriële landbou. As gevolg hiervan het landbou dit reggekry om die wêreld te bly voed soos wat die menslike bevolking onstuitbaar groei na agt miljard.
“Ons is bewaarders van die grond vir ‘n kort rukkie in die groter bestek van tyd.”
Maar kan ons vertrou dat ons huidige hulpbron-intensiewe manier van boer sal aanhou resultate lewer? Of is ons besig om ‘n strawwe omgewingsrekening op te loop?
Die fokus in landbou is stadig maar seker besig om van die huidige na die toekoms te skuif, met ‘n toenemende klem op verantwoordelikheid en volhoubaarheid. Hortgro het met sommige van die baanbrekers in hierdie beweging gesels, om meer te leer van nuwe benaderings tot boordbestuur, en om uit te vind waarom dit sin maak om in grondgesondheid te belê.
Read MoreToekomsgerigte landbou
Die volhoubaarheid van ‘n besigheid gaan oor meer as net ekologiese volhoubaarheid, volgens Hendrik Pohl, produksiebestuurder by Bokveldskloof in Ceres. “Ons moet ekonomies volhoubaar wees, ons moet ons sosiale kontrak nakom, en ons moet ons hulpbron in ‘n beter toestand laat as wat ons dit ontvang het. Vanuit ‘n produksie-oogpunt is die fokus op grondgesondheid.”
Pohl verwys hier na ‘n algemene kritiek van moderne landbou – die persepsie dat intensiewe verbouing die gesondheid van die grond vernietig. Grondgesondheid beteken verskillende dinge vir verskillende mense, maar meeste produsente sou saamstem dat gesonde gronde dié is wat landbou oor die langtermyn ondersteun. Gesonde gronde bevorder ook biodiversiteit, onderhou ekosisteme, en sekwestreer koolstof.
“Ek hou nie van die term grondgesondheid nie,” sê Angelique Pretorius, grondkundige en tegniese raadgewer by Kromco, “want hoe definieer jy ‘n ongesonde grond?” Sy dink dat grondvrugbaarheid die meer wetenskaplik-korrekte term is omdat daar norme is vir grondvrugbaarheid in die konteks van sekere gewasse. Grondgesondheid, daarenteen, is nie duidelik omskryf nie.
“Ek verkies die term volhoubaarheid – dit sluit in dat jy jou gronde bewaar vir die volgende generasie,” verklaar Pretorius. “Maar dit beteken ook om winsgewend en in samewerking met die omgewing te boer.” Om volhoubaar te boer verg ‘n balans tussen die dringende oes hierdie seisoen en al die oeste in die jare wat nog voorlê.
“Alles wat ons vandag doen het ‘n impak oor 20 – 30 jaar,” sê Ian Cunningham, produksiebestuurder by Fine Farms in Elgin. “Ons is bewaarders van die grond vir ‘n kort rukkie in die groter bestek van tyd.”
Cunningham sien die beweging na volhoubaarheid as ‘n herkalibrering na sommige van die beproefde metodes van vorige jare. Nou is die tyd om weer te kyk na praktyke soos die gebruik van kompos en deklae – solank die somme klop.
“Dit is moeilik om die ekonomiese aspekte te meet,” erken Keith Bradley, algemene bestuurder by Fruitways Agri Services. “Ek vertel vir produsente dat hulle nou die geld moet uitgee, maar eers later die finansiële voordele sal sien.”
“Die mikrobiologiese toestand van die grond bepaal wat goed daar sal groei.”
Deklae het wel hul waarde bewys, volgens Bradley. “Twintig jaar gelede, as mense ‘n boord uitgetrek het, het hulle dit verbrand, want dit is die goedkoopste opsie. Nou versplinter meeste mense soveel produk as wat hulle kan, en gebruik dit in die boord. Dit is ‘n addisionele koste, maar hulle sien die voordele daarin om die geld te spandeer.”
Gesondheidskos vir bome
“Die hoofrede hoekom ek begin deklae gebruik het, is vir waterretensie, toe ons deur ‘n droë tydperk gegaan het,” sê Craig Johnson, kernvrugprodusent op Nidderdale in die Hemel-en-Aarde-vallei.
Deklae verminder nie net verdampingsverliese nie, maar verbeter ook water-infiltrasie. Daarby word die deklaag mettertyd deel van die grond, wat die organiese inhoud en dus ook die waterhouvermoë verhoog.
Deur die grond te bedek kan Johnson wegkom met aansienlik minder besproeiing, en sodoende beide water en krag spaar. Om materiaal aan te ry vir deklae is egter baie duur, so hy beproef nou dekgewasse as ‘n moontlike alternatief tot deklae.
“Ons het ‘n werksry wat ons nie benut nie, so hoekom verbou ons nie iets daar nie, en dan hoef ons dit net ‘n halwe meter te skuif?” sê Johnson. “Jy kom by dieselfde eindpunt van beter waterretensie uit, plus jy het al die voordele van grondgesondheid.”
Of produsente nou kompos of deklae gebruik, of dekgewasse verbou, dit sal die organiese materiaal in die grond vermeerder, wat tot allerhande voordele kan lei, volgens Pretorius. “Met tyd, as jy organiese materiaal in die boomry plaas, gaan die pH-buffering verbeter.”
Op Bokveldskloof is kompos en deklae aanvanklik gebruik om kunsmis met organiese bronne van plantvoedingstowwe te vervang. Kompos word bo-op die grond in die boomry neergesit, en dan bedek met strooi of houtspaanders.
Die kompos dien as ‘n inokulum wat die biologiese prosesse in die grond versnel, en sodoende meer voedingstowwe aan die boom beskikbaar maak, verduidelik Pohl. Die deklaag beskerm en voed weer die mikrobes in die kompos.
Pohl glo dat bome die beste vaar in grond waarin die mikrobiese gemeenskap deur swamme oorheers word. “Die mikrobiologiese toestand van die grond bepaal wat goed daar sal groei. Pionierplante – wat ons nou sal ken as onkruid – hou van ‘n bakteries-georiënteerde grond. Bome se groei word deur ‘n fungus-georiënteerde omgewing bevorder omdat dit die tipe voedingstowwe sal vrystel waarvan bome hou, in die vorm waarvan hulle hou.”
Swamme verkies komplekse koolhidrate, so Pohl maak seker dat sy kompos genoegsame houtagtige materiaal bevat, en ‘n hoë verhouding van koolstof tot stikstof het.
Onkruid vergaan wel
Selfs al kyk mens na die korter termyn is daar steeds ‘n sterk argument te maak ten gunste van dekgewasse, volgens Daan Brink, grondkundige en tegniese raadgewer by FruitMax Agri. “Ons is onder reuse druk om minder landbou-chemikalieë te gebruik, so ons moet gaan kyk na ons alternatiewe.”
Onkruiddoders is onder andere besig om in onguns te raak. Brink glo dat dekgewasse ‘n al groter rol gaan speel in onkruidbeheer. “Oor ‘n tydperk bestuur jy die saadbank van onkruid af. Jy gaan nog steeds spuit, maar jy hoef soveel minder te spuit, en jy kan soveel ligter goed spuit.”
Behalwe dat onkruiddoders die omgewing nadelig kan beïnvloed, is daar ook ‘n bekommernis dat chemiese onkruidbeheer ‘n verlore stryd is. “Al wat jy doen met die chemiese middels is om te selekteer vir meer problematiese onkruide,” sê Bradley.
Cunningham verwys na volhoubare onkruidbeheer as biorasionaal. “Ons sluit normale spuitpraktyke in, maar ons gebruik ook biologie en die natuur.”
Buiten om onkruid te bekamp is dekgewasse en deklae ook moontlike medestryders teen siektes en peste. Deklae – hetsy houtspaanders of strooi – kan bloedluis onderdruk, moontlik omdat daar swamme in koolstofryke deklae is wat bloedluis aanval.
Biologiese beheer in boorde word aangehelp deur dekgewasse. ‘n Diverse bevolking dekgewasse wat breëblare insluit bied skuiling vir roofdiertjies wat plantvretende myte in toom hou.
As ‘n grondkundige stel Pretorius veral belang in die verhouding tussen grondgesondheid en appelherplantsiekte. Sy dink dat chemikalieë in die verlede gebruik is sonder ‘n goeie begrip vir hulle uitwerking op grond-ekologie. “Grond is nie ‘n steriele medium nie, en die wyse waarop ons geboer het, het ‘n wanbalans in die grondbiologie geskep. Nou sit ons met uitdagings soos herplantsiekte.”
Wanneer dit kom by siektes en peste kan die bedryf nie bekostig om te wag totdat veranderinge in markvereistes die bestaande chemiese beheermiddels uitgeput het nie, waarsku Pretorius. “Gaan ons hoop vir oplossings – soos ‘n weerstandbiedende onderstam? Of gaan ons proaktief wees en begin kyk na die grondbiologie?”
Opsies vir organiese materiaal
Al wat nodig is om grondgesondheid te verbeter, is om organiese materiaal by die grond te voeg. Kompos, deklae of dekgewasse sal werk, en sommige produsente gebruik al drie.
“Ons plaas ‘n bietjie kompos in die plantgate,” sê Pohl. “Daarvandaan plaas ons dit bo-op die grond, en ons bedek dit met strooi of houtspaanders, elke jaar.” Pohl verkry kompos van ‘n kommersiële verskaffer, en houtspaanders deur houtagtige materiaal afkomstig vanaf Bokveldskloof te versplinter. Hy produseer ‘n gedeelte van die strooi op die plaas en koop die res in.
Behalwe vir die koste van deklaagmateriaal aankoop is daar ook nog die koste daaraan verbonde om dit in die boord te plaas. Pohl strooi kompos meganies, maar houtspaanders word met die hand uitgesprei. Alhoewel Pohl nie sukkel om genoeg materiaal in die hande te kry nie, sou daar vinnig tekorte wees indien alle produsente kompos en deklae wou gebruik.
“As elke hektaar in die EGVV-area onder ‘n deklaag moes kom, sou ons produk moes aanry van so ver as die Suid- en Oos-Kaap,” skerts Bradley.
Terwyl Pohl aanvanklik kompos en deklae gebruik het om sy bome te voer, is die motivering vir meeste produsente eerder die dringende behoefte om water te bespaar. ‘n Laag kompos of strooi bo-op die grond sal vogverlies beperk, maar beide verdwyn vinnig soos wat die grondmikrobes dit verorber. Houtspaanders hou bietjie langer, maar dit kos ook meer.
“Ons het al gesien hoe houtspaanders binne 18 maande opgevreet word, wanneer ons kompos gebruik,” sê Cunningham. “Ons kan nie bekostig om aanmekaar houtspaanders in te bring nie, maar as ons sou ophou om die stelsel te voer gaan dit ineenstort – na ons soveel moeite gedoen het om dit te vestig.”
Dit is waar dekgewasse tot die redding kom – produsente kan hulle eie deklaag kweek. Dekgewasse het die potensiaal om genoeg biomassa te genereer sodat dit as ‘n deklaag kan dien, veral in die winterreënvalstreke van die Wes-Kaap. Net soos enige ander deklaag, kan dekgewasse water-infiltrasie verbeter, waterverliese verminder, onkruide onderdruk en organiese materiaal in die grond opbou.
“Wat my aantrek na die lewendige deklaag is dat die wortels organiese materiaal binne-in die grond plaas,” sê Pohl.
Sommige dekgewasse gaan selfs verder en voeg ook stikstof by die grond. Dit kan die behoefte aan kunsmis verminder, maar daar is ‘n risiko dat te veel stikstofvrystelling tydens kritieke tye van vrugontwikkeling die kwaliteit van vrugte nadelig kan beïnvloed.
“My einddoel is nie om my kunsmis te verminder nie, alhoewel minder kunsmis hopelik een gevolg sal wees,” sê Cunningham. “Ek voeg organiese materiaal by my grond omdat ek die verbetering sien in die grond, en gevolglik in die prestasie van my bome.”
Dekgewasse in praktyk
“Geskiedkundig, wanneer ons ‘n nuwe boord geplant het, het ons probeer om ‘n permanente dekgewas te vestig, gewoonlik fescue,” vertel Bradley. “So dit was ‘n monokultuur. Nou praat ons van die plant en herplant van mengsels van verskillende spesies op ‘n deurlopende basis.”
In die perfekte wêreld sou ‘n produsent ‘n dekgewas eenmalig kon saai, en daarna sou die dekgewas vanself voortplant. In die werklike wêreld moet dekgewasse gewoonlik gereeld hersaai word. Maar dit is teenproduktief om die grond in die werksry op te breek om dekgewasse te saai, want dit versnel die afbraak van dieselfde organiese materiaal wat produsente probeer opbou deur in die eerste plek dekgewasse te plant.
“Ek voeg organiese materiaal by my grond omdat ek die verbetering sien in die grond, en gevolglik in die prestasie van my bome.”
Dit neem veelvuldige aksies – ploeg, saai, bedek, en rol – om ‘n dekgewas te vestig, en elke aksie kompakteer die grond. Dan praat ons nog nie oor die frustrasies van hierdie aksies uitvoer tydens oes nie, veral as dit reën.
Om hierdie probleme te probeer oorkom het Johnson saamgespan met Stoney Steenkamp van Stoney Landboudienste en Carel van Niekerk van Piket Implemente, om ‘n geen-bewerkingsplanter te ontwikkel vir dekgewassaad.
“Die eerste jaar het ons geghrop en geploeg want daar was jare se kompaksie,” sê Johnson. “Hierdie is die eerste jaar wat ek glad niks gedoen het nie. Net met die geen-bewerkingsplanter gesaai – en die plantjies groei.”
Dekgewassaad is beskikbaar by verskeie maatskappye. Die verskaffers kan die beste mengsels aanbeveel vir saai op spesifieke grondtipes in die winter of somer. Hulle kan ook raad gee oor mengsels vir verskillende doelwitte, byvoorbeeld om stikstof te bind, biomassa te genereer, of kompaksie teen te werk.
In die winterreënvalstreke behoort dekgewasse min besproeiing gedurende die winter te benodig. ‘n Gebrek aan water kan egter lei tot swak ontkieming en groei, en gevolglik tot teleurstellende biomassa, so dit is raadsaam om gereed te staan met besproeiing indien nodig.
Daar is nog baie vrae rondom dekgewasbewerking, maar produsente is aktief besig om te eksperimenteer met oplossings vir hulle eie boorde. “Ons gaan die dekgewasspesies wat ons plant verander,” sê Brink, “maar ons gaan nie verander van ‘n dekgewas na geen dekgewas nie.”
As dit kom by volhoubare praktyke in die algemeen, sou Pohl graag wou sien dat dinge vinniger verander. “Ons sal ons grond moet begin versorg en op ‘n beter gesondheidsvlak kry. Mense moet dit op groter skaal doen. Ek dink as produsente dit op groot genoeg skaal doen sal hulle vinniger die voordeel daarvan sien.”
Related Posts
Improved control of sour rot on citrus
Exploring potential fungicide solutions for improved control of sour rot on citrus. By Meagan van…
Extension briefs for February and March 2025
By Hannes Bester, MC Pretorius, Wayne Mommsen, Coenraad Fraenkel, André Combrink, Natasha Jackson, Jan Landman,…