
Organiese materiaal
Die noodsaaklike grondstof vir toppresterende boorde. Deur Anna Mouton



Meeste produsente sou saamstem dat grondtoestande ‘n boord kan maak of breek. Dit is waarom mense so baie moeite doen met grondvoorbereiding voordat ‘n boord gevestig word. Maar wat van die daaropvolgende 20 – 30 jaar? Behoort produsente meer aandag te skenk aan langtermyngrondgesondheid? En watter ingrepe sal die meeste impak hê? Hortgro het met twee grondkundiges gepraat oor hulle siening oor grondkoolstof, grondgesondheid, en waar die fokus behoort te lê.
Read MoreDie koolstofkonneksie
Organiese verbindings bevat per definisie koolstof omdat koolstof die basiese bousteen is van alle lewe op aarde. Grond-analises meet die hoeveelheid koolstof wat aan grondmikrobes beskikbaar is. Die hoeveelheid grondkoolstof word met ‘n faktor van 1.7 gemaal om die hoeveelheid organiese materiaal in die gronde te bereken.
“Grondkoolstof en organiese materiaal is gekoppel aan mekaar,” sê grondkundige Dr Pieter Raath, koördineerder van die voedings- en waterbestuursprogram by Citrus Research International, “en mense gebruik die terme afwisselend.”
Enigiets wat óf tans lewe óf gelewe het – van aktiewe mikrobes tot afgestorwe onkruide – kan bydra tot organiese materiaal in die grond. Grond kan ook inerte koolstof bevat – dink aan steenkool – maar dit word nie in grond-analises gerapporteer nie, want dit is nie beskikbaar vir gebruik deur grondmikrobes nie.
Uiteindelik is die koolstof in alle organiese verbindings afkomstig van koolstofdioksied in die atmosfeer. “Onthou plante is die verbinding tussen dit bo die grond en dit onder die grond,” sê Luan le Roux, grondkundige by landbouraadgewers Agrimotion. “Alle koolstof wat ons in die grond sien, het ontstaan deur fotosintese – of dit nou deur ‘n dier beweeg het of nie.”
Goeie dinge omtrent organiese materiaal
Grond het fisiese, chemiese en biologiese eienskappe, en organiese materiaal speel ‘n rol by al drie, volgens Le Roux. “Die ideale fisiese grondmedium is een wat water wat op die oppervlak val, laat intrek, en oortollige water laat deurbeweeg, maar ook genoeg water vashou sodat die plant dit kan gebruik soos wat hy dit nodig het. Grond met meer organiese materiaal gaan beter waterhouvermoë en -infiltrasie hê as grond met minder.”
Organiese materiaal verbeter die fisiese struktuur van die grond deur die vorming en stabiliteit van grond-aggregate te bevorder. Grond-aggregate is groepies gronddeeltjies wat deur organiese materiaal aan mekaar gebind word. Aggregaatvorming maak ruimtes oop vir water om deur die grond te beweeg, terwyl aggregaatstabiliteit daardie ruimtes oophou deur kompaksie teen te werk. Meer stabiele aggregate help ook om erosie te voorkom.
Wat betref grondchemie, verduidelik Le Roux dat organiese materiaal die grondvrugbaarheid verhoog deur katioon-uitruilingsvermoë te verbeter. “Katioon-uitruilingsvermoë is basies ‘n aanduiding van die negatiewe lading in ‘n grond wat verantwoordelik is om positiewe molekules – katione – vas te hou vir die plant om te onttrek. Organiese materiaal het ‘n ongelooflike hoë katioon-uitruilingsvermoë, so ‘n klein bietjie organiese materiaal kan ‘n groot verskil bewerkstellig.”
Nog ‘n effek van organiese materiaal is verbeterde buffering, wat beteken dat die grond meer weerstandbiedend is teen
pH-wisselinge. Le Roux wys daarop dat sterk buffering dit moeiliker maak om versuurde gronde met kalk reg se stel. Gronde wat hoog is in organiese materiaal sal baie kalk verg in vergelyking met gronde wat min organiese materiaal bevat.
Laastens voed organiese materiaal al die mikrobes en goggas in die grond. “Mikrobes is verantwoordelik vir al die biochemiese prosesse in die grond,” sê Le Roux, “dus alle voedingstofsiklusse, maar spesifiek stikstof, fosfaat en swael.”



Die ondergrondse beweging
“Die grootste bron van organiese materiaal in die grond is eintlik maar wortels,” sê Le Roux, en hy verwys nie net na dooie wortels wat ontbind nie. Lewende plantwortels skei suikers af wat die mikrobes voer waarvan die plant afhanklik is. Die koolstof in hierdie suikers word opgeneem deur die mikrobes, en lewendige en dooie mikrobes is deel van organiese materiaal.
“Die plant wil ‘n gesonde mikrobiologiese gemeenskap rondom sy wortels hê,” verduidelik Raath. “‘n Gesonde boom skep dit vir homself.” Bome het wortelmikrobiome, net soos wat mense dermmikrobiome het. Beide soorte mikrobiome verbeter voeding en voorkom siektes. Die dun lagie grond wat die wortelmikrobioom omvat, staan bekend as die rhisosfeer.
Grondbakterieë maak stikstof aan plante beskikbaar deur mineralisasie – die omskakeling van organiese stikstof na wateroplosbare, anorganiese stikstof. Dit is waar plante meeste van die stikstof kry wat hulle gebruik. Bemesting is slegs aanvullend. Hierso skuil egter ‘n moontlike nadeel van verhoogde mikrobiese aktiwiteit in die grond.
“Hoë koolstof-inhoude in grond kan lei tot onbeheerste stikstofvrystelling,” waarsku Raath, “en die piek van vrystelling is in die warm seisoen, wat dikwels jou laagste of geen toedieningsperiode sou wees in ‘n normale bemestingsprogram.” Raath glo dat oorywerige aanwending van organiese materiaal tot probleme met groeikragtigheid en vrugkwaliteit kan lei.
Le Roux stem saam en sê dat verskillende situasies verskillende benaderings verg. “As jy begin kompos neersit op ‘n geil Packham-boord moet jy weet jy gaan probleme hê. Daar kan jy miskien probeer om ‘n kompos met minder stikstof in te gebruik, of dalk eerder gaan vir ‘n deklaag.”
Grondkoolstof in praktyk
Die hoeveelheid organiese materiaal in die grond verander heeltyd. “Ek kan nie my gronde bou en dan wegstap nie. Dit werk nie so nie,” sê Le Roux. “Dit gaan altyd ‘n voortdurende proses wees.” Mikrobes in die grond verbruik organiese materiaal, so vlakke gaan ál laer raak tensy dit aangevul word.
Le Roux wys daarop dat mikrobiese aktiwiteit noodsaaklik is om baie van die voordele van organiese materiaal te ontsluit. Dit is dus ‘n goeie teken as die mikrobes besig is om organiese materiaal te verbruik, maar terselfdertyd is daar ook voordele daaraan om die organiese materiaal in die grond te behou. Die oplossing is om die grond aanhoudend te voer.
Die hoof-opsies op die organiese-materiaal-spyskaart is kompos, deklae, en dekgewasse. Elkeen het sy eie voor- en nadele, en die beste keuse sal afhang van die doel in ‘n gegewe situasie. Lees meer oor hoe sommige produsente die verskillende opsies gebruik in ons artikel op bladsye 89.
Die tempo waarteen grondkoolstof verlore gaan sal wissel na gelang van grondtipe – vinniger in sanderige as kleigronde – en klimaat – vinniger in warm en nat weer. Grondversteuring versnel die afbraak van organiese materiaal deur blootstelling aan mikrobes te verhoog en deur meer suurstof in die grond in te laat. Grondbewerking behoort dus slegs gedoen te word as dit absoluut noodsaaklik is, byvoorbeeld wanneer ‘n nuwe boord gevestig word.
“Produsente moet nie met hulle praktyke ‘n negatiewe impak op die grondkoolstof hê nie,” sê Raath, “maar dis nie nodig om koolstof in grond na te jaag met oormatige insette nie, of om te voel dat hulle by ‘n sekere persentasie grondkoolstof moet uitkom nie.”
Raath is bekommerd dat Suid-Afrikaanse produsente soms onrealistiese verwagtinge oor grondkoolstofvlakke kan hê omdat hulle na syfers van ander wêrelddele kyk. “In ons klimaatsomstandighede en omgewing is die hoeveelheid insette wat jy gaan moet maak om daarby uit te kom nie finansieel regverdigbaar nie, en dis ook nie volhoubaar vanuit ‘n omgewingsoogpunt nie.”
Le Roux stem saam dat produsente hulself nie moet blindstaar teen ‘n arbitrêre syfer nie. “Grondkoolstof is ‘n middel tot ‘n doel. Iemand wat met grond werk, soos ‘n produsent, moet besef dat hulle sekere prosesse in hulle grond nodig het. As daar nie organiese materiaal is nie, vind daai prosesse nie plaas nie, en dan gaan hulle dit op ‘n sintetiese manier moet probeer bewerkstellig.”
Related Posts
Volhoubare swamdodergebrui
Botritis is een van die mees algemene oorsake van naoesbederf in vars groente en vrugte wêreldwyd.
Research Outputs
The main goal of SATI’s Research and Technical Transfer Programme is to generate credible, impactful knowledge by funding relevant and targeted projects that align with industry needs and opportunities.