
Hortgro Science demo-boorde in die Ceres-area
Beide Doornkraal en Lindeshof het in 2021 hoëdigtheidsaanplantings op M.9 gevestig. Hoe vaar die blokke in hul vyfde blad? Deur Anna Mouton
Hortgro Science het in 2021 hul dekade-lange Boord van die Toekoms-projek afgesluit. Hulle het dit in 2023 opgevolg met die Demo-boordprogram wat onder andere as ‘n platform dien om innoverende en suksesvolle boorde aan produsente bekend te stel.
Vorige uitgawes van die SA Vrugtejoernaal het twee van hierdie boorde op twee verskillende plase bespreek: Doornkraal in Oktober | November 2023 en Lindeshof in Junie | Julie 2024. Hoe lyk dié boorde met ‘n opvolgbesoek in vyfde blad?

Doornkraal
Die vyf hektaar Fuji Royal in die Witzenbergvallei was Doornkraal Agri se eerste kommersiële blok op M.9. “Ons doelwit was 80% Klas 1-uitvoeruitpakke aan boom,” sê Alexander Gibson, Hoof-Uitvoerende Beampte by Doornkraal Agri. “Sover wys die syfers dat ons dit behaal.”
Die eerste oes (in tweede blad in 2023) was 15 ton per hektaar. Daarna het die boord 57 ton per hektaar in 2024 en 33 ton per hektaar in 2025 gelewer. Gibson het gehoop dat Fuji minder sal alterneer op M.9. “Dit lyk nie so nie,” sê hy, “want vanjaar is ons op 100 ton.”
Hy is egter in sy skik met die vrugkwaliteit. In 2024 was die uitpakke 72% uitvoer waarvan 68% Red Fuji was en in 2025 was die uitpakke 89% uitvoer waarvan 82% Red Fuji was.
“Jy kan duidelik die verskil sien wanneer daai blok oor die paklyn kom,” sê Gibson. “En daardie vrugte verkoop dadelik en teen premium pryse.”
Hoë-digtheid is die antwoord
Die Fuji Royal-blok is teen 3.0 x 1.0 meter op baie goeie grond geplant. Die boord het nie bankies nie. Gibson vestig nog steeds nuwe appelboorde op hierdie plantafstand of selfs nader (3.0 x 0.8 meter) op swakker gronde of met minder groeikragtige bostamme.
Met baie swak grond waar daar bankies is, is 3.0 meter rywydtes bietjie nou vir boordtoerusting. In so ‘n geval sou Gibson eerder M.7 as M.9 kies. Maar hy verkies hoë-digtheidaanplantings ten spyte van die hoë vestigingskostes.
“Ek is relatief oortuig dis die antwoord,” sê hy. “Soveel so dat ek Doornkraal se pere aanpas na nouer – 3.5 x 1.25 meter – aanplantings op BA29 onderstamme. Al ons appel-aanplantings wat vir die volgende vier tot vyf jaar geskeduleer is, is 3.0 x 1.0 meter met vol netstrukture. Selfs ons kersies word op 3.0 x 1.0 meter geplant.”
Alhoewel Gibson verwag het dat sy Fuji Royals op M.9 nie baie geil sou wees nie, was dit nodig om takke te buig en plantgroeireguleerders toe te dien. Die bome het hierdie seisoen twee bespuitings proheksadioon-kalsium ontvang.
Sedert die Fuji Royal-blok het hy Cripps Pink en Cripps Red teen 3.0 x 1.0 op M.9 geplant. “Ek dink die Cripps Pink en Cripps Red gaan vir ons ‘n beter idee gee van die effek van M.9 op snoei en afbind,” sê Gibson. “Ek dink ons evalueer nou M.9 met Fuji en dis moeilik om ‘n tendens te bepaal.”
Fantastiese kleur sonder moeite
Ten spyte daarvan dat die bome geiler is as wat Gibson sou wou hê, is hulle darem relatief eenvoudig om te snoei. Daar word glad nie in die winter gesnoei nie, aangesien dit groei in die volgende seisoen stimuleer.
“Ons snoei minimaal in blomtyd,” sê Gibson. “En die bome is klein, so jy kry snoeitakke, nie saagtakke nie. Snoei is maklik en vinnig.”
Danksy die klein blaredak kry alle vrugte uitstekende blootstelling aan lig. Volgens Gibson kry hulle voortreflike kleur sonder om enige ekstra stappe te neem.
“Ons sal moet kyk wat die boord hier-vandaan doen, veral met die 100 ton wat nou daar sit,” sê hy. “Wat gaan sy uitpakke wees noudat die boom sy volle volume het?’
Daarby wonder hy oor die oes daarna. Was die lae opbrengs van 2025 ‘n frats of gaan afwisseling ‘n probleem wees ten spyte van M.9?
“As dit nie vir daai een jaar was nie, het ek gereken ons het Fuji op M.9 reggekry,” sê Gibson. “Maar ek dink M.9 is vir ons almal nog ‘n leerskool.”

Lindeshof
Volgens Willie Kotze, Bestuurder: Tegniese Ondersteuning by Dutoit Agri, het die Lady in Red-blok wat hulle in 2021 by Lindeshof gevestig het, twee doelwitte gehad. “Ons wou ‘n dubbelleiervrugmuur maak,” sê hy. “En ons wou oorgaan na drupbesproeiing toe, want Lindeshof het nie genoeg water nie.”
Die oorspronklike plan was om op G.969 te plant maar nuwe inligting het Dutoit Agri oortuig om eerder na M.9 oor te slaan. Hulle het dus spindels teen 3.0 x 1.0 meter geplant, en van die einde van tweede blad die helfte van die blok na ‘n formele vrugmuur begin oorskakel.
“Ons het ekstra drade ingetrek, en ons het nou al ses uit die nege drade gevul,” sê Kotze. “Soos wat ons die volume vul aan die bokant, haal ons ongewenste takke aan die onderkant uit. Sodoende beskerm ons ook ons tonne, want anders gaan die somme nie mooi lyk nie.”

Die verwydering van drahout tydens die opleiding van die vrugmuur is nietemin onvermydelik, so die vrugmuurstelsel se opbrengste is tans laer as dié van die spindels. In 2025 het die vrugmuur 65 ton en 2 400 uitvoerkartonne per hektaar gelewer, teenoor 71 ton en 3 000 uitvoerkartonne per hektaar vir die spindels. Uitpakpersentasies en vrugkwaliteit was soortgelyk vir die twee stelsels.
“Ons het ‘n hele paar van hierdie proewe,” sê Kotze. “Ons skakel boorde so gou as moontlik na vrugmure om en kyk wat ons kan leer, sodat ons vinniger ‘n besluit kan maak.”
Sover presteer vrugmure uitstekend. Kotze het byvoorbeeld data van ‘n ouer Cripps Red-blok wat na ‘n vrugmuur oorgeskakel is en gemiddeld 30% beter Klas 1-uitpakke lewer as ‘n standaard stelsel.
“Dit is wat ons opgewonde maak,” beaam hy. “Ons is op hierdie stadium baie positief oor vrugmure.”
Vir die formele vrugmuur word die bome se dratakke teen horisontale drade vasgetrek om uiteindelik ‘n tweedimensionele boom te vorm. “Ons boer hier met lopende meters drahout,” verduidelik Kotze. “In hierdie boord is veronderstel om 30 km drahout te wees.”
Alhoewel die Lady in Red-blok se bome 1.0 meter uitmekaar is, behoort die spasiëring eerder 1.25 of 1.5 vir ‘n vrugmuur te wees. Die idee is dat die horisontale takke van naburige bome nie oorvleuel nie. Elke boom moet in sy eie spasie bly. Formele vrugmure verg meer arbeid in die tweede en derde blad, maar nie daarna nie. “Ek het in verskillende lande na formele stelsels gekyk, en daar is baie min manipulasies as alles eers in plek is,” sê Kotze. “Die plukarbeid is ook minder.”
Hy reken hulle sal die Lady in Red-blok slegs twee keer hoef te pluk, eerder as die normale drie keer, wat ook geweldig help om die druk op arbeid tydens oestyd te verminder.
Dutoit Agri se hoofoorweging met die tweedimensionele stelsel is egter nie kostebesparing nie, maar eerder vrugkwaliteit en uitpakke. Kotze mik vir bome wat slegs 30-40 sentimeter diep is, sodat alle vrugte, asook die blare wat daardie vrugte voed, dieselfde ligblootstelling kry.
Deur vir alle vrugte dieselfde toestande te skep, verbeter die kanse dat hulle kwaliteit en oesrypheid eenvormig sal wees, wat die bestuur tydens en na oes vergemaklik, en die risiko van naoesdefekte aansienlik verminder. Daarby word rooi kleurontwikkeling bevorder, en meer vrugte kan dus in premium kategorieë bemark word.
Kleiner is soms beter
In die langtermyn moet die vrugmure dieselfde tonne maar beter Klas 1-uitpakke as konvensionele hoë-digtheidboorde lewer. Daarby glo Kotze dat nader plantafstande en kleiner boomvolumes heelwat voordele het.
“Ons kry die spasie makliker gevul met nader plantings, so hoef mens nie die bome met stikstof te jaag nie,” sê hy. “Onthou as daai stikstof eers in die grond is, dan vat dit twee of drie jaar om dit weer uit te kry. Intussen hou die boom aan reageer op dit wat in die grond is, so dit neem langer om ‘n kalm boom te kry.”
Indien oormatige stikstof en geil groei tot té digte loof lei, word vrugbaarheid, vrugkwaliteit en rooi kleurontwikkeling benadeel, wat uiteindelik tot laer uitvoerkartonne per hektaar lei.
Vir Kotze is die totale aantal uitvoerkartonne per hektaar die nommer een fokuspunt. Hy gee toe dat Klas 2- en Klas 3-vrugte ook inkomste genereer, en dat ‘n boord wat 180 ton per hektaar met 90 ton Klas 1-vrugte meer geld gaan maak as ‘n boord wat 100 ton per hektaar met 90 ton Klas 1-vrugte lewer.
“Jou probleem is dat, as jy dit oor jou hele plaas doen, gaan jy nie genoeg mense in oestyd hê nie. Jy gaan nog infrastruktuur moet skep en toerusting moet koop,” sê hy. “En dan moet jy alles betyds kan oes sonder om interne defekte te kry.”
Daarby moet pakhuise ekstra kapasiteit skep om Klas 2-vrugte te stoor en te verpak. Vir ‘n geïntegreerde besigheid soos Dutoit Agri maak dit meer sin om hulle koelkamers, paklyne, en bemarkers op Klas 1-vrugte toe te spits.
Die vrugmuurstelsels is dus ‘n stap in die regte rigting. “Plantstelsels is ‘n moeilike een, want waar jy ook al in die wêreld kom, sal elke ou beweer syne is die beste,” sê Kotze. “Maar ons weet dat 3.5 x 1.25 meter nie meer die antwoord is nie. En hoe meer ons met die vrugmure speel, hoe meer groei ons aptyt daarvoor.”
Related Posts
Underground effects
Can cover crops help to build nematode communities that support grapevine health?
Dekgewasse in wingerde
Langtermynbeleggings in grondvrugbaarheid en wingerdgesondheid lewer uitstekende dividende.


