Oordeelkundige bestuur is noodsaaklik om Lady in Red op G.778 in toom te hou.
Deur Anna Mouton
Die 2022 Hortgro kernvrugvelddagboord by De Rust is nege hektaar Lady in Red op G.778 wat teen 3.5 x 1.25 meter in 2020 gevestig is. Die kumulatiewe opbrengs teen vierde blad was 206.5 ton per hektaar. “Ons mikpunt was 200 ton per hektaar teen die vyfde jaar,” sê produksiebestuurder Jacques van Dyk. “Maar ek is bietjie teleur-gesteld dat die boord nie hierdie seisoen 100 ton kon behaal nie – die storm in September het baie van die blomme afgewaai en dit was só koud dat die bye niegewerk het nie.” Die boord staan op ’n blootgestelde heuwelhang wat deur die suidoostewind in die groeiseisoen en die noordwestewind in die winter geteister word. Van Dyk vertel dat die nuwe blaartjies op die buitenste boomrye by tye al gelyk het asof hulle onder onkruiddoder deurgeloop het. Die uitdagende groeitoestande het bygedra tot De Rust se keuse van die groeikragtige G.778. Sover presteer die boord goed: 27.5 ton per hektaar in tweede blad, 85 in derde blad, en, ten spyte van die swak lente, 89 in vierde blad. Van Dyk is egter terdeë bewus van die gevare van G.778. “Die 89 ton het hom nie vasgehou nie,” sê hy. “Dis hoekom ek dink hierdie bome moet dra, anders gaan die groei weghardloop, en jy gaan dit nie gestop kry nie.”
Read MoreToppe teenoor tonne
Die boord is met uitstekende oopwortelkwekerybome van gemiddeld 2.2 meter gevestig. Van Dyk sê dat De Rust op gesertifiseerde bome aandring. “Jy kan nie daai klomp geld spandeer en dan nie weet wat jy kry nie,” beklemtoon hy. In konsultasie met hortoloog Piet Nieuwoudt is die veertjies op die bome gelos en aangemoedig om elkeen ’n terminale vruggie in tweede blad te dra. Van Dyk verduidelik dat die vruggie die tak rustiger – minder groeikragtig en meer vrugbaar – maak. Vere sonder vruggies is geneig om te sterk te word en sou dus teen derde blad waarskynlik verwyder moes word. Agterna beskou, is Van Dyk gelukkig met die besluit om die veertjies te hou, aangesien dit die vroeë hoë kumulatiewe opbrengs moontlik gemaak het. Hy vergelyk egter die toppe van die velddagboord met ’n soortgelyke aangrensende boord wat in 2021 gevestig is en aansienlik meer breke bo het. “Daardie boord se toppies is meer ingevul want daar is strenger op dikteverhoudings teen die leiers gewerk,” sê hy. “Met die 2020-boord het ons van die 1:2 dikteverhoudings behou,” voeg Nieuwoudt by, “omdat ons die gemiddelde lote sagter wou hou. Indien ons heelwat meer lote sou verwyder het, sou die oorblywende lote té sterk geraak het.” Alhoewel Van Dyk vorentoe moontlik dikteverhoudings strenger sal beoordeel, is sy ideale kwekeryboom een met sytakkies wat sag genoeg is, dat hulle nie weggesny hoef te word nie. “Ons paal glad nie meer ’n boom op G.778 nie,” voeg hy by. Benewens effens anders snoei, oorweeg hy om in die toekoms die rusbreek aan te pas om meer breke in die boomtoppe te kry. Waar die velddagboord slegs 3–4% waterstofsianamied gekry het, sou Van Dyk met ander rusbreekresepte sowel as die byvoeging van olie wou eksperimenteer.
Hou groeikrag onder beheer
Die De Rust velddagboord is volgens ’n solaxe-stelsel opgelei. Van Dyk glo dat buig onontbeerlik is om reproduktiewe eerder as vegetatiewe gedrag te bevorder. “Ons probeer by M.9 en meer dwergende onderstamme om nie te buig nie, maar jy gaan nie daarmee wegkom om G.778 nie te buig nie,” sê hy. “Jy moet maar dra-eenhede afbind. Die tonne sal opmaak vir die bietjie ekstra arbeid om toutjies in te sit.” In die eerste jaar het hy Nieuwoudt se aanbeveling toegepas waarby alle nuwe lootgroei uit die dikte-verhoudingsnitte rondom 15 Desember met die helfte teruggesny word. Nuwe groei word weer rondom 15 Januarie met die helfte teruggesny. Die loot behoort dan minimaal gedurende die res van die seisoen te groei voordat dit ’n terminale blomknop en hopelik ook ’n paar laterale blomknoppe vorm. Tans word die bome ’n week of twee na volblom gesnoei, hoofsaaklik vir takvernuwing. Nuwe lote word steeds gebuig soos nodig. Benewens buig is oeslading kritiek om te keer dat die bome in ’n siklus van sterk vegetatiewe groei en onvrugbaarheid beland. “Ons moes laas jaar einde Maart, terwyl die bome nog vol vrugte was, die water begin verminder om hergroei te keer,” sê Van Dyk. Die bome se stikstof word ook nog vanaf tweede blad elke seisoen verminder en hulle is in vierde blad drie maal met proheksadioon-kalsium behandel. Die boord is tot hede nog nooit geringeleer nie. Van Dyk reken dat die relatiewe nou plantafstand van 1.25 meter ook tot die beheer van groeikrag sal bydra. “Die interwortelkompetisie speel ’n groot rol by G.778,” sê hy. Dit kan help om geilheid in ’n mate te briek indien oeslading ondergemiddeld is.
Ander boordbesonderhede
Die velddagboord se kruisbestuiwers is hoofsaaklik Cripps Red maar sommige blokke van die totale nege hektaar het Granny Smith. Lady in Red set oor die algemeen maklik en Van Dyk rapporteer soortgelyke resultate met die twee kruisbestuiwers. In stede daarvan om kruisbestuiwers tussen die hoofkultivar in dieselfde ry te plant, beslaan kruisbestuiwers elke 10de ry. “Ons het besluit om weg te beweeg van daardie elke derde ry, elke derde boom patroon, want dis onbestuurbaar,” sê Van Dyk. De Rust kan die rye kruisbestuiwers makliker anders snoei en kan byvoorbeeld drapeernette op die rye Granny Smith sit. Alhoewel daar ’n mate van spuitdrifsel kan wees, kan die verskillende rye suksesvol apart chemies uitgedun word. “Dis nog vroeg – ons het nog net drie oesseisoene met hierdie stelsel gehad,” sê Van Dyk, “maar op hierdie stadium kan ons geensins sien dat dit nadelig vir bestuiwing is nie.” Nog ’n verbetering is hulle opleistelsel. Die vooruitsig van meer as 80 ton op ’n relatiewe jong boompie het daarop gedui dat versterkings wys sou wees. “Elke tweede draad is dubbel,” verduidelik Van Dyk, “sodat die boompie nie sal afbreek of platwaai nie, al is hy dalk nie reg vasgemaak nie.” Nette is nie ’n opsie vir die groeikragtige G.778 nie, so sonbrand is moeilik beheerbaar. In die jong bome word dit vererger deurdat hul takke deur die vrugte afgetrek word, en vrugte dus later in die seisoen skielik vir die eerste keer aan direkte son blootgestel word. Vorentoe sal goeie lighuishouding noodsaaklik wees om te verseker dat oorskaduwing nie rooi kleurontwikkeling kortwiek nie. Daarby sal oordeelkundige snoei deurslaggewend wees om die bome vrugbaar te hou. “Snoei is seker een van die belangrikste faktore wat volgende jaar se oes bepaal,” sê Van Dyk. Nieuwoudt stem saam. “Die snoeiers word goed opgelei en met snoeidemonstrasies geleer om die regte snitte te maak– dit is belangrik dat hulle geen stimulerende snitte maak nie,” sê hy. “Die snoeier het ook ’n baie groot impak op vrugkwaliteit vir volgende jaar, want as hy byvoorbeeld draers onder die dratakke los, sal die kleur swak wees en daar sal nie kwa- liteit blomknoppe vir die toekoms wees nie.” Tot en met 2023 het De Rust heelwat G.778 geplant, maar hulle huidige nuwe aanplantings is op M.9 omdat hulle Granny Smith onder nette wil vestig. Daarna reken Van Dyk gaan hulle waarskynlik G.890 oorweeg. Nieteenstaande die goeie vordering van die velddag se Lady in Red-boord, sien Van Dyk elke aanplanting as ’n geleentheid om te verbeter. “’n Mens leer elke jaar uit iets wat jy doen,” sê hy. “Dis al hoe jy vorentoe beweeg.”