
Besies in kernvrugboorde
Wat het ons geleer oor suigende insekte in appels en pere? Deur Anna Mouton
Die orde Hemiptera bevat meer as 80 000 insekspesies wat hulle stekende-suigende monddele gebruik om organismes se liggaamsvog te onttrek. Sommige Hemiptera, soos weeluise, voed op bloed, en ander maak jag op onderskeie insekte en klein diertjies, maar meeste Hemiptera benut voedingryke plantsap.
Verskeie sap-suigende Hemiptera is belangrike landbouplae. Algemene skuldiges in kernvrugboorde sluit bloedluise, dopluise en witluise in. Hierdie artikel fokus egter op die tipiese besies in die groep Heteroptera, die onderwerp van ‘n onlangse Hortgro-befondsde studie onder leiding van dr. Minette Karsten, Gewasbeskermingprogrambestuurder by Hortgro Science.
Heteroptera word gekenmerk deur leeragtige voorvlerke, en sluit bladluise, katoenvlekbesies, roofwantse, stinkbesies en stinkluise in. Sommige van hierdie name is verwarrend, want ware luise (soos kopluise) is nie Hemiptera nie.

Skadesimptome
Heteroptera voed deur ‘n naaldagtige stilet in plantweefsel te steek. Hulle pomp ensiemryke speeksel in die plant in om die selle te verteer en ‘n plantskommel te vorm wat die insekte maklik kan opsuig.
Skadesimptome op vrugte hang af van die groeistadium waartydens die besies voed.
Indien voeding tydens selverdeling plaasvind, stop groei van die aangetaste weefsel terwyl selle in omliggende weefsel aanhou verdeel. Die gevolg is abnormale vrugontwikkeling. Hoe vroeër die voeding plaasvind, hoe erger is die vrugmisvorming, veral as daar veelvuldige wonde is (Figuur 1). Latere voeding veroorsaak oppervlakkige duike wat gepaardgaan met kurkagtige letsels direk onder die skil (Figure 2 en 3).
AC Kleynhans, die MSc-student op die Hortgro-befondsde projek, het op besies in kernvrugboorde in Elgin en die Langkloof gewerk. “In my studie het ons gesien dat die eksterne duike nie altyd sigbaar is as die besies baie laat voed nie,” sê hy. “Jy sien eers die skade as jy die vrugte skil. Daar kan dus later eise kom.”

Kleynhans het opnames gemaak in 12 kommersiële appel- en peerboorde gedurende die 2023/24 groeiseisoen. Hy het ook bome vir appelstamverpokkingsvirus (apple stem pitting virus) getoets, en bevestig dat die vrugmisvorming nie deur duikvleksiekte (pear stony pit disease) veroorsaak word nie.
Die studie het produsente se waarnemings gestaaf. Antestia-besie (Antestiopsis thunbergii thunbergii) is die primêre probleembesie in Elgin, terwyl die rooigogga, oftewel wamakertjie (Cenaeus carnifex), in die Langkloof sake doen. Alhoewel hierdie besies soortgelyke skade veroorsaak, het Kleynhans se navorsing verskille in hul biologie uitgewys wat implikasies vir beheer het.
Antestia-besies
Antestiopsis thunbergii thunbergii volwassenes is ongeveer 8 mm lank, met oranje, grys en geelgroen patrone op ‘n swart agtergrond. Hulle kan uitgeken word aan drie wit strepe op die kop, ‘n enkele oranje kol agter die kop en twee oranje kolle op die rug (Figuur 4).
Wyfies lê groepies van nege tot 15 eiers op plante. Na hulle uitbroei, bondel die eerste instars om die eierdoppe saam totdat hulle vervel. Daarna versprei die tweede instars op soek na kos.
Die besies ondergaan vyf instarstadiums waartydens hulle nie kan vlieg nie. Hulle vorm nie papies nie. Dit neem ongeveer drie maande by 25 °C om van eier na volwassene te ontwikkel. Die volwassenes is sterk vlieërs.

Antestiopsis thunbergii thunbergii is wydverspreid in Suider-Afrika en voed op ‘n groot verskeidenheid gashere. Die besies is lank reeds as sporadiese peste van sagtevrugte bekend, maar hulle is hoofsaaklik berug vir hulle impak op koffie, waar hulle opbrengste verlaag en die koffiebone na aartappels laat smaak.
“Antestia is geneig om skade te veroorsaak waar daar denneboomwindbreuke is,” sê Kleynhans. “Die hele blok sal nie noodwendig geaffekteer word nie, maar wel die rye naaste aan die windbreuke.” Antestia is ook lief vir elshout (Alnus cordata).
Kleynhans reken dat die onttrekking van verskeie aktiewe bestanddele uit spuitprogramme tot die toename in antestia-skade in Elgin bygedra het.
Wamakertjies of rooigoggas
Cenaeus carnifex volwassenes is ongeveer 9 mm lank en rooi. Hulle ontwikkel ‘n swart diamantvormige merk op hulle rug soos hulle volwasse raak. Wamakertjies word dikwels tydens paring gesien (Figuur 5) – vandaar hulle volksnaam.
Daar is min bekend oor rooigoggas se lewensiklus. Gebaseer op studies van naverwante spesies en Kleynhans se waarnemings, lê die besies waarskynlik ‘n paar eiers op ‘n slag in grondkrakies of plantreste. Daar is vyf instars, en ontwikkeling van eier tot volwassene neem een tot drie maande.

Volwasse rooigoggas kom as lang- en kortvlerktipes voor. Die langvlerktipes is veronderstel om te kan vlieg, maar dit lyk nie asof enige vlerktipe vlieg nie, selfs op warm dae of wanneer die goggas versteur word. “Ek het nog nooit een sien vlieg nie,” beaam Kleynhans.
Cenaeus carnifex is inheems aan die Wes-Kaap en voed op ‘n wye verskeidenheid plante, insluitende heelparty algemene boord-onkruide. Die goggas verkies egter malvas, veral kiesieblaar (Malva parviflora).
Oor die afgelope paar jaar het rooigoggas as sporadiese peste in die Langkloof na vore gekom. Om te bevestig dat hulle vrugskade veroorsaak, het Kleynhans vrugte in netsakkies toegemaak en besies, op verskillende stadiums van vrugontwikkeling, in sommige van die sakkies gesit. Hy het waargeneem dat pere meer skade as appels wys en dat die besies blyk om pere te verkies.
“Die ouer boere sê hulle sien al die rooigoggas vir 60 of 70 jaar, maar die goggas het nou skielik begin skade maak,” sê Kleynhans. “Ons dink dis as gevolg van die droogte. Hulle natuurlike voedingsbron is weg, so hulle het begin om in die boorde in te beweeg.”

Anders as antestia-besies, wat geneig is om vrugte aan die rand van die boord te beskadig, voed en teel rooigoggas op onkruide oral in en om die boord, en kan vrugte deur die hele boord beskadig.
Alhoewel Kleynhans se opnames nie die Ceres-area ingesluit het nie, word rooigoggas wel van daar berig. Gebaseer op DNA-analise kom dieselfde spesie in Ceres, die EGVV en die Langkloof voor.
Moeilike monitering
“Suigende insekte is moeilik om te moniteer,” sê toegepaste entomoloog dr. Schalk Schoeman. ‘En lae getalle kan baie skade aanrig.”
Schoeman het uitgebreide ervaring van suigende insekte in verskeie gewasse, maar hy spesialiseer in subtropiese gewasse soos avokado’s en makadamianeute, waar suigende insekte beduidende ekonomiese verliese veroorsaak. Hy lys ‘n klomp moniteringmetodes, insluitende verkenning, beroking en skadebepalings, maar bieg dat hulle nie wyd geïmplementeer word nie.
“Baie produsente het gevind dat hulle teen dieselfde frekwensie spuit of hulle nou moniteer of nie,” sê hy. “Ons het nog nie ‘n antwoord vir besies moniteer nie.”
Kleynhans het monitering in appels en pere ondersoek en tot dieselfde gevolgtrekking gekom. “Visuele verkenning werk nie vir antestia nie en beroking is onprakties,” sê hy. “Ek weet nie van ‘n produsent wat ‘n masjien gaan koop sodat hulle al hul boorde elke week vieruur in die oggend kan berook om te sien of hulle besies het of nie.”
Beide Schoeman en Kleynhans sou graag feromoonlokvalle wou hê, maar dit is nie tans beskikbaar nie. Kleynhans het met ‘n bruinmarmerskildbesie (Halyomorpha halys) lokmiddel geëksperimenteer, maar die resultate was teleurstellend.
In kontras met die paringferomone wat vir vrugtevlieg- en bladrollermotbestuur gebruik word, stimuleer besies se feromone hoofsaaklik aggregasie en voeding. Benewens monitering sou sulke feromone ook waardevol wees vir lok-en-doodprodukte.
Tans beveel Kleynhans vrugskade-bepalings aan in blokke met ‘n geskiedenis van antestia-skade, veral blokke met aangrensende dennebome. “Mense moet uitkyk vir onvolwasse besies, want hulle veroorsaak ook skade, soms meer as die volwassenes,” sê hy.
In teenstelling met die skaam antestia-besies, is die ongeïnhibeerde wamakertjies gewoonlik maklik in die boord sigbaar. “As jy weet jy het verlede seisoen skade gehad, dan kan jy ‘n ogie hou vir rooigoggas om te sien wanneer hulle op jou vrugte begin voed,” sê Kleynhans. “Ek beveel definitief nie beroking vir hulle aan nie.”
Nie-chemiese beheeropsies
Die verwydering van alternatiewe gashere sal waarskynlik besiebevolkings in die boord beïnvloed, maar nie altyd op ‘n goeie manier nie. “Dit mag wees dat hulle in jou gewas inbeweeg,” sê Kleynhans.
“In die geval van rooigoggas, spuit jy jou bankies skoon om kiesieblaar te verwyder, en dan klim die goggas in jou bome? Of los jy die kiesieblaar om die goggas op die grond te hou?”
Schoeman vertel van massiewe skade in makadamiaboorde langs sojalande. Soja is ‘n uitstekende gasheer vir suigende insekte. Die besies teel in die soja aan, en oorrompel die makadamiabome sodra die soja geoes word.
In kernvrugboorde sal loofbestuur spuitaanwendings vergemaklik. Daar is ook bewyse in ander gewasse dat minder digte blaredakke antestia-besies kan ontmoedig. Digter loof is beter habitat vir antestia omdat die besies koeler toestande verkies.
Korrek geïmplementeerde stambande kan amper ‘n alleenstaande beheermetode vir rooigoggas wees. Stambande help ook vir bloedluis- en kalanderbestuur. “Maar dan moet jou bankies skoon wees,” waarsku Kleynhans. “As jy onkruid het, klim die rooigoggas teen dit op, net soos kalanders.”
As deel van die Hortgro-befondsde projek het Kleynhans entomopatogeniese swamme in die laboratorium teen rooigoggas getoets. Hy het gevind dat sommiges effektief is, maar dit sal met veldproewe bevestig moet word. In sy eksperimente het Metarhizium anisopliae hoër mortaliteit as Beauveria bassiana veroorsaak.
Parasitoïedes is nie in hierdie projek ingesluit nie, maar kan uiteindelik ‘n wesenlike bydra tot geïntegreerde besiebestuur maak. Schoeman werk byvoorbeeld tans saam met Koppert om die parasitiese wesp Trissolcus basalis in makadamiaboorde te toets.
“Hierdie proewe is op kommersiële skaal, en loop al vir vier jaar,” sê hy. “Ons het in daardie tyd slegs twee keer konvensionele plaagdoders gespuit, en ons het soortgelyke beheer en neutkwaliteit gekry met die parasitoïede as met konvensionele spuitprogramme.”
Trissolcus basalis is ‘n nie-spesifieke eierparasitoïed, so kan moontlik help om verskeie besies te onderdruk. Daarby kan parasitiese vlieë soos Trichopoda pennipes en T. giacomellii hulle eiers in volwasse of groot onvolwasse besies lê. Die LNR Instituut vir Tropiese en Subtropiese Gewasse was besig om hierdie vlieë te ondersoek, maar die betrokke navorser het ongelukkig afgetree.
Schoeman sou graag ‘n groter belegging in die ontwikkeling van biologiese beheermaatreëls vir suigende insekte wou sien. Intussen raai hy produsente aan om die natuurlike parasitoïede te koester.
“As ons besies met breëspektruminsekdoders spuit, maak ons die parasitoïede dood, en ons is terug waar ons begin het,” sê hy. “Die parasitoïede is hier. Ons moet bewaringslandbou toepas om hulle uitwerking te optimaliseer, maar dis moeilik.”
Sucking insects
This article originally appeared in English in Fresh Quarterly, Hortgro Science’s technical magazine for growers. For more about sucking insects, including mealy bugs, thrips, and fruit-feeding moths, download your free issue on the Fresh Quarterly website.
Suigende insekte
Hierdie artikel het oorspronklik in Engels in Fresh Quarterly, Hortgro Science se tegniese tydskrif vir produsente, verskyn. Vir meer oor suigende insekte, insluitende witluise, blaaspootjies, en vrugvretende motte, laai die uitgawe gratis vanaf die Fresh Quarterly webwerf af.
Related Posts
Underground effects
Can cover crops help to build nematode communities that support grapevine health?
Dekgewasse in wingerde
Langtermynbeleggings in grondvrugbaarheid en wingerdgesondheid lewer uitstekende dividende.

