
Basiese beginsels van blaaspootjies
Blaaspootjies veroorsaak ekonomiese skade in alle Suid-Afrikaanse tafeldruifproduksie-areas.
Deur Anna Mouton
Hierdie artikel beskryf blaaspootjiebiologie en die verskillende soorte skade wat vir produsente hoofbrekens gee.
Blaaspootjies is ’n groep van ongeveer 7 700 spesies insekte waarvan relatief min betekenisvolle peste is. Ongeveer die helfte van alle blaaspootjiespesies vreet swamme en party blaaspootjies vreet myteiers of jag klein insekte en myte. Daarby is heelwat van die blomblaaspootjies ook bestuiwers.
Sommige was so vroeg as 110–150 miljoen jaar gelede bestuiwers van een van die oudste plantfamilies – blaaspootjies was heel moontlik van die eerste insekte wat as plantbestuiwers opgetree het.
Ons fokus egter hier slegs op daardie blaaspootjiespesies wat van ekonomiese belang in tafeldruiwe is.
Read MoreBiologie
Meeste blaaspootjies is rondom 1.5–2.5 millimeter of minder lank. Hulle Afrikaanse naam kom van klein blaasvormige strukture op hulle pote wat as suiers dien en hulle toelaat om teen vertikale oppervlaktes te loop. Alle blaaspootjies wat plantskade veroorsaak val in die groep Terebrantia. Terebrantia-wyfies lê eiers net onder die oppervlak van plantorgane. Hulle saagvormige ovipositor is hiervoor aangepas.
Terebrantia-wyfies kan van die skadelose Tubulifera-wyfies onderskei word deurdat die Tubulifera-wyfies ’n buisvormige ovipositor het waarmee hulle eiers op die plantoppervlak plaas (Figuur 1). Blaaspootjielarwes lyk soos vlerklose volwassenes. Hulle vervel twee keer voordat hulle ’n rustende stadium soortgelyk aan ’n papie binnegaan.
Papies ontwikkel dikwels in die grond maar kan ook op die plant bly. Blaaspootjies het suigende-stekende monddele waarmee hulle op die inhoud van plantselle voed. ’n Blaaspootjie sal een sel op ’n slag leeg suig. Die larwes veroorsaak meeste van die voedingskade. Volwasse blaaspootjies kan vlieg, maar nie baie goed nie.
Hulle word ook deur die wind gedra. Meeste van die blaaspootjies van ekonomiese belang op wingerd is nie kieskeurig nie en voed op ’n wye reeks gashere, insluitende inheemse plante.
Dit is een rede waarom hulle so wydverspreid en suksesvol is. ’n Ander rede is dat hierdie blaaspootjies as volwassenes in SA kan oorwinter en selfs voortplant. Warmer en droër winters lei tot groter getalle wat oorleef en dus vinniger bevolkingsgroei in die lente. Blaaspootjies plant ook vinniger voort gedurende warm, droë lentes, veral as kos volop is.
Spesies
Die mees algemene skadelike blaaspootjies in Suid-Afrikaanse tafeldruifwingerde word in Tabel 1 opgesom.
Almal behalwe die sitrusblaaspootjie en die koejawelblaaspootjie is uitheems maar nietemin wydverspreid in SA. Blaaspootjies is moeilik om te identifiseer omdat hulle so klein is en sommige spesies slegs op mikroskopiese kenmerke onderskei kan word.
Hulle kleur en grootte hang gedeeltelik van hul ouderdom en dieet af en kan dus slegs ’n aanduiding van spesie wees – korrekte identifikasie verg ’n deskundige.
Hou egter in gedagte dat blaaspootjies met ’n buisvormige agterste segment (Figuur 1) in die nie-skadelike Tubulifera-groep val.
Daarby is blaaspootjies met ligte en donker strepe oor die vlerke gewoonlik predatore. Predatoriese blaaspootjies help om skadelike blaaspootjies en myte te beheer.




Skade
Vroegseisoen
Wingerdbloeisels lok blomblaaspootjies wat op stuifmeel voed en hul eiers in die vrugbeginsels en -stingels lê. Die Westelikeblomblaaspootjie (Figure 1 en 2) is die mees algemene kwaaddoener maar kromnek- blaaspootjies (Figuur 3) en uieblaaspootjies (Figuur 2) kan medepligtiges wees.
Die wyfies sal binne-in bloeisels inklim sodra die kappies kraak. Skade kan dus al baie vroeg plaasvind. Die plekkie waar die eier gelê is sal uiteindelik as ’n witterige merk – die sogenaamde halo-kol – op die korrel vertoon (Figuur 4). Halo-kolle is oor die algemeen meer opsigtelik in wit as rooi of swart kultivars.
Die kolle is onooglik maar het geen invloed op vrugkwaliteit of -smaak nie. Eierdeposisie in vrugbeginsels of klein vruggies kan soms gaatjies veroorsaak wat saam met die vrug groei. Dit is meer algemeen in pruime as tafeldruiwe. Blaaspootjielarwes voed veral rondom die stingelaansluiting (Figuur 5) en op plekke waar korrels aan mekaar raak.
Aangetaste areas van die vrugoppervlak toon verruwing en verkurking wat soos skaafmerke lyk (Figuur 6). In erge gevalle kan dié areas bars soos wat die korrels vergroot. Die vroegseisoenblaaspootjies begin gewoonlik uit die wingerd verdwyn teen die tyd wat die druiwe ertjiekorrelgrootte bereik.


Laatseisoen
Laatseisoenskade word uitsluitlik deur blaaspootjievoeding veroorsaak. Sitrusblaaspootjies (Figuur 7) is die hoofskuldiges. Dié inheemse spesie verkies jong blare en sting- els en val nie sommer bloeisels of vrugte aan nie. Sitrusblaaspootjies voed gedurende die winter en lente op nuwe plantegroei in die veld asook in sitrusboorde.
Hierdie insekte het juis hulle naam te danke daaraan dat hulle vir die eerste keer as ’n probleem in sitrusboorde opgemerk is. Ongelukkig stoot wingerde hulle sekondêre lootgroei wanneer sitrus nie aktief groei nie en die natuurlike plantegroei in baie areas droog is. Sitrusblaaspootjies vind die vars wingerdlote onweerstaanbaar en kan wingerde in vlae inval.
Sitrusblaaspootjies is besonders klein – selfs vir blaaspootjies – en hou daarvan om in die voue van jong blaartjies weg te kruip. Voedingskade kan hierdie blare laat verskrompel (Figuur 8) en jong lote laat afsterf. Dit vertoon soortgelyk aan onkruiddoderskade. Beskadigde lote is nie geskik vir gebruik as halflang- of langdraers in die volgende seisoen nie.
Verminderde reserwes kan ook aangetaste stokke se prestasie in die volgende seisoen benadeel. Erge blaar- en lootskade kan rypwording en rooi kleurontwikkeling in veral laat kultivars vertraag.
Alhoewel sitrusblaaspootjies nie vrugte verkies nie kan hulle wel vreetskade aan druiwekorrels veroorsaak indien die bevolking só handuit ruk dat ’n gedeelte daarvan na trosse verskuif. Voedingskade geskied gewoonlik waar korrels aan mekaar raak.
Die risiko van korrelskade is groter in later kultivars en later areas omdat daar meer tyd is vir sitrusblaaspootjiegetalle om voor oes die hoogte in te skiet.






Blaarversilwering
Koejawelblaaspootjies (Figuur 9) en kasterblaaspootjies (Figuur 12) is relatiewe groot blaaspootjies wat later in die seisoen op ouer blare voed. Die oortreders asook hulle swart ontlasting is gewoonlik duidelik sigbaar. Kasterblaaspootjies het kenmer-kende rooi larwes (Figuur 10).
Voedingskade vertoon as silwergrys verkleuring (Figuur 11). Blaarversilwering is nie van ekonomiese belang nie en beheer is selde nodig. ’n Kontakmiddel kan wel in jong wingerde gebruik word indien blaaspootjiebevolkings ontplof en erge skade veroorsaak.
Related Posts
Volhoubare swamdodergebrui
Botritis is een van die mees algemene oorsake van naoesbederf in vars groente en vrugte wêreldwyd.
Research Outputs
The main goal of SATI’s Research and Technical Transfer Programme is to generate credible, impactful knowledge by funding relevant and targeted projects that align with industry needs and opportunities.