Tyd is geld – Waarom optimale trekkerspoed tel
Suid-Afrikaanse appelprodusente skakel al hoe meer oor na hoëdigtheidsaanplantings wat beloof om winsgewendheid te verhoog. Deur Anna Mouton
Hoëdigtheidsaanplantings verbeter profyte deur meer effektiewe produksie. Maar is daar verdere moontlikhede vir besparings wat produsente nog nie ten volle benut nie?
Philip Rebel van ProCrop het die impak van doseringsmodelle op die koste van bespuitingsprogramme nagevors. Hy reken dat produsente beduidende besparings kan maak deur hulle benadering tot die bespuiting van hoëdigtheidsaanplantings te verander.
Read MoreDie boomry-volume-model
Die doel van doseringsmodelle is om uit te werk hoeveel oppervlak daar is om te bespuit, en daarvolgens te bepaal hoeveel water en spuitproduk gebruik moet word. Die boomry-volume-model is die mees algemene doseringsmodel vir Suid-Afrikaanse appelboorde.
Die boomry-volume-model bereken die driedimensionele volume van die lower per hektaar, en skakel dit om na die watervolume nodig om daardie lower te spuit tot die punt van afloop. Hierdie volume staan as die hoëvolume-behoefte bekend.
Produsente wat die boomry-volume-model gebruik sal hulle spuitmasjiene en tenkmengsels moet aanpas vir boorde met verskillende lowervolumes. In praktyk is dit soms makliker om boorde in groepe te verdeel volgens hulle boomry-volume, en dan spuitmasjiene aan die groepe toe te ken, selfs al beteken dit dat ekstra spuittoerusting aangekoop moet word.
‘n Moderne model vir moderne boorde
Rebel het die MABO – kort vir Marktgemeinschaft Bodenseeobst – doseringsmodel evalueer as ‘n alternatiewe doseringsmodel vir bespuiting van hoëdigtheidsaanplantings. Hy wou sien of die MABO-model vir produsente tyd en geld kan spaar sonder dat hulle die effektiwiteit van hulle spuitprogramme hoef prys te gee.
Die MABO-model is verwant aan die boomry-volume-model, maar pas die dosering van verskillende boorde aan deur die trekkerspoed volgens lowervolume te wysig. Produsente hoef dus nie hulle spuitmasjiene te verstel of hulle spuitmengsel te verander tussen boorde nie.
Stadige trekkerspoed tesame met lae-profielspuitmasjiene gee beter lowerpenetrasie in ouer boorde met groot oopkelkbome. In sulke boorde is daar waarskynlik nie veel voordeel te trek uit die MABO-model teenoor konvensionele doseringsmodelle nie. Maar in moderne hoëdigtheidsaanplantings kan die MABO-model die werkstempo opstoot deur die trekkerspoed aan te pas en dus meer effektiewe bespuiting te bevorder.
Die MABO-model verskil van meeste ander doseringsmodelle deur nie boomhoogte in ag te neem nie. Verskille in boomhoogte word ingereken deur die aantal oop spuitkoppe op die spuitmasjien te verstel.
Rebel het gekyk na deposisie in hoë-digtheidsaanplantings wat doseer is volgens die boomry-volume-model teenoor die MABO-model. Sy proefboorde het rywydtes van 3.5 en 4.0 meter gehad. Hy het soortgelyke of selfs beter deposisie gekry met die MABO-model teenoor die boomry-volume-model.
Rebel het ook waaierspoed ondersoek. Met ‘n hoëprofielspuitmasjien het ‘n waaierspoed wat lugvolumes van 28 000 kubieke meter per uur lewer nie swakker deposisie gegee as ‘n waaierspoed wat lugvolumes van 36 000 kubieke meter per uur lewer nie.
Slaan munt uit MABO
Trekkerspoed in die sagtevrugtebedryf neig om laer te wees as dié wat die MABO-model voorstel. Stadige trekkerspoed kan lei tot oorbespuiting van die nou lower van hoëdigtheidsaanplantings. Dit het ook ‘n ander nadeel – dit mors tyd.
Rebel het die koste van bespuiting gegrond op die boomry-volume-model bereken vir ‘n denkbeeldige plaas met hoëdigtheidsboorde. Trekkerspoed was konstant teen 4.2 kilometer per uur. Gevolglik was die werkstempo 1.33 hektaar per uur, insluitende tyd vir tenkvolmaak. Rebel het hierdie waarde gebruik om somme te maak oor die gemiddelde spuitkoste per hektaar, gegewe al die kostes verbonde aan die toerusting en operateur. Hy het by R576.44 per hektaar uitgekom.
Hierna het Rebel weer die somme gemaak, maar met trekkersnelhede en watervolumes soos deur die MABO-model bepaal – dus enigiets tussen 5.0 en 9.6 kilometer per uur. Gevolglik was die werkstempo 2.09 hektaar per uur en die koste R366.23 per hektaar.
Die koste van bespuiting in hierdie oefening sluit nie die prys van spuitmiddels in nie. Bespuiting gegrond op die MABO-model was goedkoper omdat dit doodeenvoudig vinniger was – en ons weet almal tyd is geld. Dit kan tot aansienlike besparings lei wanneer mens die aantal hektare en die aantal bespuitings per seisoen in ag neem.
Die MABO-model kan moontlik verdere kostes spaar deurdat dit lei tot die gebruik van laer watervolumes en laer waaierspoed, wat energie-insette verlaag.
Rebel beklemtoon dat hierdie navorsing spesifiek gekyk het na die MABO-model in die konteks van hoëdigtheidsaanplantings, en dat sy berekeninge gegrond is op ‘n denkbeeldige boord. Die volgende stap vir hierdie projek is om die model in werklike boorde te implementeer, en te sien hoe goed die berekeninge in die regte wêreld vaar.
Hierdie navorsing is deur Rebel uitgevoer onder die leierskap van dr. Gideon van Zyl en Bekker Wessels van ProCrop, en prof. Adele McLeod van die Departement van Plantpatologie by Universiteit Stellenbosch. Die werk is deur Hortgro befonds.
Related Posts
Citrus biosecurity threats
This is the fourth instalment in our series on citrus biosecurity threats. By CRI Biosecurity…
Table-grape breeding in the genomic era
Genome editing has the power to revolutionise cultivar development, but South African growers are at…