
Roodezand
Toppresterende Alpine-blok wys hoe 2009 se nuwe tegnologie gelei het tot 2025 se winsgewendheid.
Deur Anna Mouton
Hortgro Science het die Konsepboordprogram vir steenvrugte geloods om innoverende en volhoubare pruim- en nektarienboorde aan die bedryf bekend te stel. Een so ’n uitblinker nektarienblok is by Roodezand net buite Tulbagh deur landbou-ekonomiese maatskappy FruData geïdentifiseer.
Jan-Stephan Lombard is die vyfde generasie vrugteprodusent op Roodezand. Hy vertel dat sy pa die 2.75-hektaar Alpine-blok in 2009 teen 4.0 x 1.5 meter geplant het. Dit was een van die bedryf se eerste boorde op Flordaguard en ook een van die eerste in Tulbagh onder nette. Daarby was dit Roodezand se eerste (en laaste) boord op drupbesproeiing.
Flordaguard staan sterk
Flordaguard was destyds relatief nuut en daar was slegs genoeg plantmateriaal om twee-derdes van die blok te vestig. Die res is op Kakamas-saailing. “Jy kan definitief die verskil sien,” sê Lombard. “Die Kakamas is besig om uit te sak, maar die Flordaguard gaan aan.”
Soos meeste steenvrugplase het Roodezand aalwurms. Die Alpine-blok is op grond waar perskes oorspronklik gegroei het. Die perskes was egter gevolg deur hawer wat vir vyf tot ses jaar deur beeste bewei was. Die grond is nie berook voordat die Alpines geplant is nie.
Lombard reken Flordaguard se laer vatbaarheid vir knopwortelaalwurms dra tot die boord se sukses by. Die blok is ook op klipperige sandgrond en Flordaguard vaar ongetwyfeld beter op sanderige gronde as Kakamas.
“Die ding van die Flordaguard is dat hy lekker hernuwe. Hy gee tot nou toe nog nuwe lote uit die hoofstam uit,” sê Lombard. “Nie alle onderstamme doen dit nie.”
Hy gebruik nog steeds Flordaguard vir alle nektariens op klipperige sandgronde en Viking vir swaarder gronde. “Party mense sê Flordaguard gee kleiner vrugte en sagte punte, maar ek kan nie dit staaf nie,” sê Lombard.
Drup teenoor mikrospuite
Die besproeiing is een aspek van die Alpine-blok wat Lombard sou verander as hy die boord vandag moes vestig. “Daar is kolle in die blok met ’n groter klipfraksie waar die waterhouvermoë nie so goed is nie,” sê hy. “Mikrospuite sou miskien beter daar gewerk het deur ’n groter wortelsone te skep.”
Die drupstelsel is dubbellyne wat 30 cm weerskante van die bome lê. Die druppers is 75 cm uitmekaar met ’n lewering van 1.6 liters per uur. Lombard het die drupperlyne aan drade vasgemaak om te verhoed dat werkers dit per ongeluk skuif.
Hy vind dat die drupbesproeiing baie fyn bestuur verg. Wanneer hy na sy grondvoglesing kyk, is dit vir hom opmerklik hoe vinnig die bome die water onttrek, veral wanneer hulle baie loof het en die wind waai. Die boord moet soms twee dae na mekaar besproei word.
“Alpine is ’n vroeë kultivar. Die drup werk daar omdat jy min water voor oes hoef te gee. Daar is net drie of vier weke wat jy hom intens moet dophou,” sê Lombard. “Maar as jy laat kultivars soos Angeleno het, dan sou jy dit die hele seisoen moet doen, so ek sou nie drup vir laat kultivars op sand en klip aanbeveel nie.”

Nette betaal hulself
Nette was nog baie nuut in die steenvrugbedryf toe die Alpine-blok destyds gevestig is. Lombard onthou hoe hy saam met ’n skeptiese bemarker na die boord gekyk het. “Hy het gevra, wie gaan hiervoor betaal?” glimlag Lombard. “Ek kan nou sê, met die eerste ysreën betaal jy die nette af.”
Die Alpines begin rondom 15 Julie bot. Volblom gebeur teen 1 Augustus en Roodezand begin met vruguitdunning om en by 1 September. Hulle kry gewoonlik einde September ysreën wat spikkeltjies op die vrugte laat. Alhoewel die merkies kosmeties is, verlaag dit die uitvoeruitpakke.
“Die mark soek ’n skoon vrug,” sê Lombard. “En in vandag se boerdery moet jy soveel vrugte as moontlik in ’n uitvoerboks kry. Vandat ons nette het, is ons uitpakke baie beter.”
Aangesien nektariens selfbestuiwend is, is bye nie ’n oorweging nie. Die nette oor die Alpines is ’n vaste struktuur wat die bome heeljaar bedek. Die kante is ook toe om wind te verminder. Roodezand is geneig om noordwestewind in September te kry wat skaafmerke op die jong vruggies veroorsaak.
“Die bome is gelukkig onder die nette,” sê Lombard. “Dit veroorsaak uitdagings met loofbestuur. Ons doen somersnoei as ons sien die boom raak te welig, sodat die binnevrugte mooi kan kleur.”
Snoei en uitdun
“Ons snoei agter goeie kwaliteit lote aan,” sê Lombard. “Ons sal eerder minder maar beter kwaliteit, potlooddikte lote met meer blaaroppervlakte hê as dun lootjies met klein vruggies wat daarop sit.”
Vruggrootte is ’n belangrike drywer van winsgewendheid by steenvrugte, veral gegewe die verwagte verhoogte nektarienvolumes.
Roodezand bevorder loot- en knopkwaliteit met genoegsame stikstofbemesting en naoesloofbestuur om goeie ligindringing te verseker. Daarby word die Alpines twee tot drie keer deur die somer gesnoei. Wanneer dit kom by oesladingbestuur, glo Lombard om al vroeg te begin met blomuitdunning. “Daar moet amper nie ’n blommetjie al oop wees nie,” sê hy. “Sodra die knoppies vet geswel is, maak ons die ruggies, puntjies en teen die stam skoon, sodat die boom al sy energie in die regte blomme kan sit.”
Hy doen vruguitdunning omtrent ’n maand na volblom. “Ons wag ’n bietjie langer, maar ons sit ’n klomp mense in, en maak binne twee dae klaar met die blok. En ons probeer om die eerste keer by die regte oeslading te kom.”
Lombard mik vir 30–35 ton per hektaar met ’n telling 23 piek. Hy vind dat die Alpines goed set en nie geneig is tot afspeen nie.
Bestendige Alpine
Die Alpine-blok se gemiddelde jaarlikse opbrengs vir 2020–24 was 9 013 uitvoerkartonne plus 2 343 plaaslike kartonne per hektaar. “Die produksies is baie konstant,” sê Lombard. Volgens Lombard is vinnige rypwording Alpine se een nadeel. Nuwer kultivars is geneig om hulle drukke beter te behou, maar Alpine kan maklik sagte punte ontwikkel of oorryp raak indien dit nie betyds gepluk word nie.
Aan die ander kant is dit ook belangrik om nie té haastig te wees met oes nie, omdat nektariens vinnig vergroot in die laaste paar dae aan die boom. “Daar is ’n groot verskil tussen ’n telling 20 en ’n telling 25,” sê Lombard. “By nektariens oes jy jou maklik uit tonne uit as jy die vrugte te vroeg pluk omdat jy bang is dit raak pap.” Roodezand pluk Maandae tot Donderdae die vrugte volgens grootte, met die oog geskat, en agtergrondkleur. Vrydae pluk hul egter met ’n ringetjie alles wat ’n telling 23 sal haal, omdat daardie vrugte waarskynlik teen Maandag oorryp sal wees.

Lombard is nie bang om plukkostes aan te gaan nie en sal ’n boord tot ses keer deurpluk. “My oeskoste is hoog. Ek kan nie stry nie,” erken hy. “Maar as jy die hele jaar gewerk het vir die vrugte om daar te kom, hoekom wil jy nou spaar op oeskoste?”
In vroeg November, tydens die onderhoud vir hierdie artikel, was die 16-jaar-oue Alpines sterk oppad om weereens ’n goeie oes te lewer. Dis maklik om te vergeet hoe onbekend en riskant klonale steenvrugonderstamme en oorhoofse nette in 2009 was. Maar hierdie innovasies het sedertdien hul waarde oor en oor bewys.
[\read]
