
Roodehoogte
Charl en Lani Marais se uitblinker African Delight-blok het die afgelope seisoen meer as 9 000 uitvoerkartonne per hektaar gelewer.
Deur Anna Mouton
Landbou-ekonomiese maatskappy
FruData het Roodehoogte se twee-hektaar African Delight-blok as een van die toppresterende pruimboorde in die bedryf geïdentifiseer. Die boord is ’n V-stelsel wat in 2008 teen 2 x 5 meter op Viking gevestig is.
Roodehoogte Plase in Robertson beslaan tans ongeveer 60 hektaar uitvoervrugte waarvan ongeveer 90% pruime en die res suurlemoene is. “Ons voorsien om hierdie jaar net so oor die 300 000 kartonne uit te voer,” sê eienaar Charl Marais.
Marais is die tweedegenerasie-vrugteboer op Roodehoogte en hy skryf baie van hulle sukses aan goeie tegniese raadgewers toe. “Daar is ’n groot verskil tussen ouens wat opinies het, en ouens wat rêrig kundig is,” sê hy. “Goeie tegniese adviseurs wat saam met jou plaas ’n pad stap help geweldig baie.”
Read More’n Unieke pruim-area
Roodehoogte kry ongeveer 350 Infruitec koue-eenhede en het gewoonlik koue lentes. “Ons kry suidooste-reën wat hier vanaf Oktober- of Novembermaand val,” sê Marais. “In ’n normale jaar het ons relatiewe droë winters.”
Hulle sukkel dus oor die algemeen nie met ongunstige hitte of reën gedurende bestuiwing nie. Donderweerreën in Februarie kan soms reënsensitiewe kultivars beskadig. Somers is warm en hittegolwe gebeur tipies rondom week vyf tot ses en dis juis wanneer African Delight geoes word. Sonbrandskade is egter nie ’n groot probleem nie. Marais reken die V-stelsel help om die vrugte teen oormatige son te beskerm.
Wind vanaf Oktober tot vroeg Desember is wel problematies, maar African Delight is nie uitermatig sensitief vir skaafmerke nie. Marais het in die verlede 25 hektaar van sy pruime onder wit en grys ooptrekbare nette gehad, maar hy het gevind dat produksies en suikervlakke stelselmatig oor ’n tydperk van drie tot vier jaar gedaal het. Tans gebruik hy nie nette nie.
Hoë suikervlakke is kenmerkend van Roodehoogte-pruime en Marais sê hulle African Delights het ook uitstekende kleur. “Ek dink ons het so ’n bietjie van ’n spesiale mikroklimaat hier waar ons boer,” sê hy. “Perskes en nektariens aard nie hier nie, maar hierdie is ’n unieke pruim-area.”
Piet Stassen gee raad
Oorlede steenvrugonderstamkenner dr. Piet Stassen was ’n tydgenoot en goeie vriend van Marais se pa, Braam. Stassen het vanaf 2007 baie van sy pruimonderstamproewe op Roodehoogte gedoen. Volgens Marais was dit hulle eerste geleentheid om ’n verskeidenheid onderstamme waar te neem. “Piet Stassen het vir my gesê Robertson is eintlik so ’n lekker area want jy het twee keuses. Jy plant óf op Atlas óf op GF 677. Jy kan Viking ook plant. Maar hoekom gaan jy Marianna gebruik?”
Op daardie stadium was Roodehoogte se African Delight-boord op Viking reeds gevestig. Tans verkies Marais om nuwe boorde op GF 677 te plant, maar hy glo dat Viking tot sy African Delights se voortreflike kleur bydra.
Roodehoogte neem elke drie jaar in alle boorde monsters vir aalwurmontledings. Hulle berook nie boorde voor vestiging nie en ondervind ook nie aalwurmprobleme na vestiging nie. Marais beklemtoon die belangrikheid van goeie kwekerybome. Hy vertel van ’n lelike stel wat hy met Ruby Sun afgetrap het. Hy het twee blokke gelyk gevestig. Die bome was op dieselfde onderstam, maar het vanaf twee kwekerye gekom.
“Ek moes die een boord na agt jaar al begin uithaal,” sê hy. “Die ander boord kom van Rosenhof Kwekery af, en daai boord is fantasties.” Ander produsente berig ook van Ruby Sun-boorde wat vroegtydig uitgetrek moet word.
“Wat is die duurste? ’n Duur boom of om tonne te verloor oor jare?” vra Marais.
“Hoekom betaal die bedryf nie eerder R100 in plaas van R60 vir ’n boom nie? Daai R40 is die beste belegging wat jy in jou lewe kan maak.”
Groter is nie altyd beter nie
“Ons probeer ons bome uit ’n natuurlike oogpunt bestuur,” sê Marais. “Ons kry só die beste resultate.”
Hy gebruik ’n sagte rusbreekkombinasie van plantolie en nitraatmiddels om die blomtydperk te konsentreer en meer uniforme vrugte te verkry. Die African Delights se eerste uitdun gebeur rondom Oktober, maar Roodehoogte dun dan slegs ongeveer die helfte van die vrugte uit.
Volgens Marais is African Delight geneig om van self teen einde November vrugte te speen. As die eerste uitdun te aggressief is, kan die tweede speen tot ’n lae oeslading lei, wat dan té groot vrugte tot gevolg het.
“African Delight het ’n baie kort stingel,” sê Marais. “As die vrugte té groot raak, druk hulle teen die takkie en jy sit met vrugbeserings. So, met African Delight wil jy nie op trippel-A’s boer nie, alhoewel daardie vrugte ’n goeie prys kry.”
Hy vind dat die African Delight-blok redelik konstante oeste lewer. “Ons gee baie goeie naoesbemesting,” sê hy, “want ’n boom set op sy naoesreserwes.”
Drie drupperlyne
Roodehoogte se pruime is op kleileemgronde. Alle boorde is opgeërd. Die hele plaas is reeds sedert die laat 90’s op drupbesproeiing. “Ons is beperk met water,” sê Marais. “Ons waterbronne kom uit die berg – ons het nie rivierwater nie.”
Hy vind dat die drupbesproeiingstelsel baie minder onderhoud verg as mikrospuitbesproeiing omdat dit nie nodig is om spuitjies gedurig vir verstoppings na te gaan nie. Daarby gee Roodehoogte alle bemesting deur die druppers.
In teenstelling met meeste drupbesproeiingstelsels het Roodehoogte drie drupperlyne. Dit het hulle drupperpunte van 16 000 na ongeveer 23 000 per hektaar opgestoot en vruggroottes verbeter. Die druppers is 0.6 meter uitmekaar met ’n lewering van twee liter per uur.
Alhoewel Marais ’n ten volle gerekenariseerde besproeiingstelsel en grondvogmeters in sy boorde het, steun hy sterk op profielgate. By Roodehoogte word daar in elke boord gereeld vier to vyf profielgate gemaak en die grondvogwaarnemings elektronies aangeteken. Hierdie inligting word met skedulering in ag geneem.
Omdat Robertson warm somers het, is dit belangrik dat die bome goed-ontwikkelde wortelstelsels het. Marais moedig diep wortelstelsels aan deur langer besproeiings minder gereeld te gee, veral na oes.
Hy neem besluite oor besproeiing en bemesting in konsultasie met grondkundige Nelius Kapp en hortoloog dr. Nigel Cook. “Nigel sê, wanneer bome geset het, dan kyk jy na daai bome soos jy na jou kinders kyk. Maar as daai bome klaar geoes is, dan kyk jy na hulle soos jy na jou skoonma kyk,” lag Marais.
Bestuiwing vanaf platforms
Effektiewe bestuiwing is onontbeerlik vir suksesvolle pruimproduksie. Roodehoogte gebruik agt korwe per hektaar en plaas baie klem op die kwaliteit van hulle bestuiwingskorwe. “Ons tel fisies die inkomende en uitgaande bye,” sê Marais. “Daar moet 40–50 per minuut in- en uitgaan. Twee jaar terug was die lente baie koud. Ons het agtergekom die bye was nie baie aktief nie en ons het ’n bietjie ligter set gehad.”
Deur met sy byeboer te gesels het Marais ’n blink gedagte gehad. Verlede jaar het hulle platforms buite die boorde getrek. Die byeboer het agt korwe op elke platform gesit en Roodehoogte het die platforms in die boorde ingetrek. Die korwe was dus op dieselfde hoogte as die boonste draad en het eerste ding in die oggend son gekry.
Marais het hierdie korwe vergelyk met korwe wat op buitebande langs die boord gestaan het. Die bye op die platforms was baie vroeër soggens aktief en het ook verder van die korwe af gewerk. “In jare met uitdagende weer het ons dit al gehad dat die set redelik goed is om die korf, maar nie verder weg nie,” sê hy. “Met die platforms het ons baie konstante oeste gehad, veral in groot blokke met lang rye.”
Monitering in aksie
Gewasbeskerming by Roodehoogte word deur sorgvuldige monitering ondersteun. Hulle opgeleide boordmoniteerders versamel weekliks data vanaf einde September totdat die naoesbemesting vir die hele plaas afgehandel is.
Alle inligting word elektronies in die Keyphase-toepassing ingevoer. Die toepassing hou rekord van die presiese ligging van lokvalle asook die roete wat moniteerders deur die boorde stap. Moniteerders kan foto’s van hulle waarnemings by Keyphase voeg.
Vrugskadebepalings word vanaf pitverharding gedoen en Roodehoogte stuur een tot twee weke voor oes vrugmonsters na die pakhuis.
Marais en sy gewasbeskermingskonsultante het altyd toegang tot die nuutste moniteringsresultate. “Ons gebruik vir ProCrop,” sê hy. “Dr. Gideon van Zyl is elke week gedurende die seisoen hier.” Die spuitprogram word dus heeltyd aangepas volgens boordgeskiedenis en moniteringsresultate. “Ons spuit nie net om te spuit nie,” sê Marais. “Ons spuit slegs indien nodig.” Vroeër jare het Roodehoogte hulle gewasbeskermingsadvies direk by ’n chemiese maatskappy gekry. Nie net was hulle kostes toe bykans 50% meer as die bedryfsnorm nie, sommige spuite het probleme veroorsaak eerder as voorkom.
“Ons het op hierdie plaas geweldig met rooispinnekop gesukkel, ook op African Delight. Ons kon dit later nie meer beheer nie,” onthou Marais. “Vandat ons opgehou het om daarvoor te spuit het ons glad nie meer rooispinnekop nie. Ek spuit al vir jare nie meer daarvoor nie.”
Sy ervaring stryk met deskundiges se opinie dat natuurlike predatore die beste manier is om rooispinnekop te beheer. Lees meer oor spinnekopmyte en monitering in die ander artikels in hierdie uitgawe.
By Roodehoogte lewer ’n meer natuurlike benadering die beste resultate, en nie net in terme van hulle huidige opbrengste en winsgewendheid nie. “My seun is in Graad 9. Hy het nou hierdie jaar vir die eerste keer gesê hy wil kom boer,” sê Marais. “Dis lekker om te hoor hy wil plaas toe kom – ek wil Roodehoogte vir hom in ’n volhoubare toestand los.”
Related Posts
Can pre-harvest sanitisers help control decay?
“The pre-harvest component is a critical phase for pathogen establishment,” says Dr Johan Fourie, postharvest pathologist at ExperiCo Agri-Research Solutions. “The source of inoculum is in the vineyard – that’s where the pathogen establishes.”
Fungi are responsible for most postharvest decay. Plant-pathogenic fungi can thrive on all sorts of organic material in the vineyard, producing spores that land on bunches. Growers mitigate the risk of postharvest decay by integrated management practices that include removing organic material, maintaining open canopies, and applying fungicides.
Piecing together the packaging puzzle
“The primary purpose of packaging is to maintain fruit quality – to deliver the best quality to our markets,” says Dr Johan Fourie, Postharvest Pathologist at ExperiCo Agri-Research Solutions. “We need to re-establish confidence in South African table grapes.”
To better understand how various packaging components and environmental conditions influence table-grape quality, the ExperiCo team has been running a three-year SATI-funded project. So far, they have studied the interactions between bunch carriers, liners, and SO2-release systems.



